Dag 49: SA kry pak in die Volkebond as gevolg van die Bondelswarts

Abraham-Morris
Abraham Morris, leier van die Bondelswarts opstand, in die uniform van die Uniemagte tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die vernietigende lugaanval op Guruchas op 29 Mei 1922 wat ongeveer 100 Bondelswarts sterftes tot gevolg gehad het, lei tot ’n kort artikel in die Londense Times van 30 Mei. Ander internasionale koerante volg op en Generaal Jan Smuts word in die Suid-Afrikaanse parlement gepeper met vrae, wat hy weier om te antwoord. Ook die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen Sir Edgar Walton loop deur, veral onder die aanslae van die Anti-Slawerny Vereniging se JH Harris. Laasgenoemde skryf briewe aan die New Statesman koerant, besoek Sir Walton persoonlik, en laat ’n vraag in die Britse parlement vra. Hulle is vasbeslote om nie toe te laat dat die saak onder die mat gevee word nie. Die Anti-Slawerny Vereniging dring aan op ’n bespreking van die voorval deur die Permanente Mandaatskommissie van die Volkebond.

Die kommunistiese koerant The International in Suid-Afrika skryf dat die skynheilige imperialiste altyd die heilige plig van kerstening sal versaak en met die wapen sal reageer wanneer die inheemse bevolking in opstand kom. Smuts besef dat hy in die moeilikheid is en stel ’n kommissie van ondersoek aan, hoofsaaklik om sy kritici stil te kry. Hy gaan sover om sy vriend, Gysbert Hofmeyr, administrateur van SWA wat die ekspedisie na Guruchas gelei het vooraf te waarsku.

Die Volkebond is in 1920 na die Eerste Wêreldoorlog gestig met die doel om oorloë te voorkom. Sy grootste mislukking sou natuurlik die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 wees, maar in Julie 1923 in Geneva, tydens die Bond se derde sitting word die Bondelswarts Affair breedvoerig bespreek in twaalf van die Kommissie se drie-en-dertig sessies.

Suid-Afrika loop kwaai deur onder die afgevaardigdes se tonge, maar ’n snaakse ding gebeur: Die debat verval in ’n meningsverskil oor die aard van kolonialisme teenoor die beginsel van ’n mandaatgebied. Gaandeweg kom die afgevaardigdes onder die besef dat die blanke inwoners van SWA volledig oortuig is van die noodsaak om die inboorlinge te onderdruk. Tydens die Vierde vergadering in September 1922 word SA weereens veroordeel, maar in Desember van dieselfde jaar, tydens die Vyfde vergadering, word ’n sagter resolusie aanvaar.

Van daar af het die druk op Suid-Afrika egter net al hoe sterker geword. Die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke Organisasie sou uiteindelik sorg dat Namibië onafhanklik word.

Wat is die betekenis van die Bondelswarts-opstand in die algemeen, en spesifiek in die konteks van hierdie dagboek, “blog,” oor die “Die Keiservoël Oor Namaland”?

Die Nama-oorlog het in 1904 in die gebied van die Bondelswarts begin toe die Duitse offisier luitenant Walther Jobst en die Bondelswarts leier Jan Christiaan doodgeskiet is. ’n Formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi sou eers in Oktober 1904 volg, maar die skade was reeds met die dood van Jobst en Christiaan gedoen. Tydens die oorlog sou Witbooi, Marengo en Fredericks sterf en Simon Koper na Betsjoeanaland vlug. Die enigste noemenswaardige vegtende leier wat sou oorbly was Abraham Morris, ’n dapper en vernuftige krygsman. Dit is hy wat teruggekeer het en die opstand aangevuur en gelei het. Hy kon nooit gedink het dat hy die magtige Unie sou oorwin nie, maar hy het nogtans geveg, net vir een ding-vir vryheid. Die Bondelswarts se grond is nooit deur Duitsland of die Unie van Suid-Afrika gekoop nie. Na die Eerste Wêreldoorlog is hulle grond eenvoudig by wyse van dekreet weggevat en daarmee is hulle lewenswyse vernietig.

Die vernietigende lugaanval en afbrand van Guruchas in 1922 was in my oë die ware einde van die Nama-oorlog, wat in 1904 begin het. Die gees van die laaste oorblyfsels van die Namas, die Bondelswarts, was finaal gebreek.

Dit is maklik in vandag se tyd om krities te wees, maar destyds was dit aanvaarbaar om so te dink oor die lewe. Selfs in die Volkebond is hierdie mening deur sommiges gehuldig. Die blankes was die oorwinnaars en daarom moes die “Hottentotte” soos hulle genoem is, hulle slawe of bediendes wees. Die idee van grondbesit vir die “Hottentotte” was belaglik.

Vandag is die blankes in Suid-Afrika op ’n manier die slagoffers van die mag van die meerderheid. Vandag is dit die blankes en Afrikaners veral wat voel hoe dit voel om hulle grond te verloor. Die ironie is juis dat vandag se nuwe grondeisers minder regte as die Khoi-Khoin daartoe het. Die Khoi-Khoin is die oorspronklike grondeienaars  van suidelike Afrika, nie die Xhosas of Zoeloes nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie argument uitgebuit moet word in die gronddebat.

Abraham Morris is ’n mindere karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland” en ek noem die Bondelswarts Affêre slegs in die epiloog. ’n Volledige relaas daaroor sou ’n vervelige herhaling van die pyn en swaarkry van mense soos Ernst, Fredericks en die Herero’s wees. Morris was egter ’n dapper en slim held, ’n intelligente man. Selfs die man wat hom agtervolg en uiteindelik doodgeskiet het, kaptein Prinsloo, het so gesê. Om Morris se nalatenskap te ignoreer sou verkeerd wees.

Dag 48: 1922 se skandvlek op SA: Die einde van ’n kultuur.

Guruchas
Guruchas. Op 29 Mei 1922 het Suid-Afrikaanse bomwerpers hierdie nedersetting vernietig, ‘n voorval wat vir jare later nog opspraak sou verwek.

Die Bondelswarts-Namas het 1904-1908 se oorlog teen die Duitsers oorleef. Hulle was ook deel van 1914-1915 se veldtog van generaal Louis Botha wat die Duitse juk van hulle skouers afgeskud het. Tydens hierdie konflik werk Bondelswarts-leier Abraham Morris nou saam met kaptein Prinsloo van die Uniemagte. Hy, die kaptein, is ’n seun van ’n Boere-offisier wat in die Anglo-Boere-oorlog gesneuwel het en deur sy Britse opponente vereer is vir sy dapperheid. Prinsloo leer ken Morris as ’n dapper en eerbare man, “n man deur en deur.” Die Bondelswarts hoop dat hulle samewerking met die Uniemagte sou meebring dat sekere onregte van die Duitsers reggestel sou word, maar die teenoorgestelde het gebeur. Die Unie het eerder nog verdere laste op hulle gelê. Gaandeweg het dit duidelik geword dat die Unie van Suid-Afrika die Duitse filosofie gedeel het- hulle, die nasate van die Khoi-Khoin, die Namas, die oorspronklike grondbesitters van suidelike Afrika, was nou tweedeklas inwoners met mindere regte. Al waarvoor hulle goed genoeg geag was, was as arbeiders.

In Suid-Afrika was daar vroeg in 1922 soortgelyke ontevredenheid. Duisende verarmde Afrikaners en swartes moes ’n heenkome op die Witwatersrand se myne vind. Daar was hulle ook niks anders as goedkoop arbeid nie. Dit lei tot ontevredenheid, ’n staking, en geweld. Die onverbiddelike generaal Jan Smuts stuur sy masjiengewere en aanvalsvliegtuie om die stakers te verjaag en baie sterf. Dit is vreemd dat iemand wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog eerstehands die wreedhede van Kitchener se verskroeide aarde en konsentrasiekampe beleef het, nou dieselfde soort wreedheid teenoor sy eie mense sou pleeg.

In April 1922 keer Abraham Morris terug na sy mense, die Bondelswarts van Guruchas in die verre suide van Suidwes-Afrika. Kaptein Prinsloo, nou hoof van die Miltêre polisie op Keetmanshoop  reis in opdrag van sy meerderes na Guruchas om Abraham Morris te vang, maar Abraham glip betyds oor die Garieprivier. Prinsloo volg hom en voer selfs ’n gesprek met hom. Hy waarsku Morris om nie na Guruchas terug te keer nie. ’n Paar dae later kruis Morris willens en wetens die rivier om permanent by sy mense aan te sluit. ’n Ander polisieman, ene van Niekerk gaan probeer om Morris te arresteer weens “onwettige immigrasie,” maar die oudstryder en sy troue volgelinge sit hulle teë.

Dit was nou die einde van Mei 1922 en die Bondelswarts onder leiding van Abraham Morris neem die wapen op. Daar was ongeveer 1200 weerbare manne met slegs ’n beraamde 200 gewere tussen hulle. Skaars 7 jaar tevore was hierdie einste Bondelswarts die ooggetuies van die reusagtige Uniemag, op een stadium 60 000 man, wat die Duitsers oorwin het. Hoe kon hulle ooit dink dat hulle enige kans teen die Unie sou staan? Sekere geskiedskrywers glo dat die Bondelswarts van die begin af geweet het dat hulle sou verloor, maar dat die rebellie ’n laaste, desperate en fatalistiese aksie van ’n klein groepie mense wat reeds alles verloor het, was. Hulle het slegs geveg ter wille van hulle trots.

In Windhoek besluit die administrateur, Gysbert Reitz Hofmeyr, ’n man met geen militêre ondervinding, om self die strafekspedisie te lei. Hy stel homself aan as kolonel, ’n stap wat later baie gekritiseer is. Die Uniemagte beweeg suid, per trein, tot by Kalkfontein, vandag se Karasburg. Een van die offisiere is ’n Windhoekse advokaat, CM (Toon) van den Heever, die latere beroemde digter en skrywer.

Op 29 en 30 Mei val die Uniemagte Guruchas aan. Dit is ’n slagting hoofsaaklik weens die twee bomwerpers, waarvan die een vlieënier ene Pierre van Ryneveld is. Die vliegtuie werp honderde bomme neer op die nedersetting Guruchas, waar baie vroue en kinders skuilhou. Die Unie-soldate steek al die hutte en geboue wat die bomaanvalle oorleef het aan die brand.

Meer as 100 Bondelswarts sterf en die meeste van die ander moes oorgee, maar Abraham Morris vlug met ongeveer driehonderd bittereinders die klowe en berge in. Hierdie wêreld is wild en onherbergsaam, selfs meer nog as die soortgelyke Richtersveld suid van die Garieprivier. Die vlugtende Bondelswarts het net een voordeel. Hulle ken die veld, geheime waterplekke en veldkos. Hulle word nou agtervolg deur die einste kaptein Prinsloo, hy wat so groot respek vir Abraham Morris, sy vyand, het. Die vliegtuie help baie want hulle verklap telkens Abraham en sy manne se beweging. Verskeie kere land die vlieëniers naby die agtervolgers om opdragte, kos en water te bring.

Na ’n paar verskriklike dae van hitte, koue, dors, honger, gevegte, vlug, agtervolg en pyn skiet Prinsloo Abraham op ’n lang afstand raak. Abraham, swaar gewond, laat sy manne sweer dat hulle hom self sou doodskiet, eerder as dat hy deur die Uniemagte gevange geneem sou word. Gelukkig beswyk Morris in die nag en sy verslae manne begrawe sy lyk onder ’n stapel klippe. Die volgende dag gee hulle hulleself ver van die graf af oor. Die Bondelswarts is finaal verslaan, maar Prinsloo besef dat hy nie sal rus voordat hy Morris se lyk gesien het nie. Hy neem twee gevange Bondelswarts en ’n paar uitgeruste soldate en gaan soek die graf. Hulle verwyder die klipstapel en sien dat dit werklik Morris is. Hulle pak die klippe netjies terug.

Later skryf Prinsloo in sy verslag dat geen voertuig nader as 30 myl aan die plek waar Morris begrawe is kan kom nie. Dit is hoogs waarskynlik dat Morris se graf vandag nog net so lê en dat daar nog nooit weer ’n mens was nie. Indien iemand wel weet waar die plek is, sal ek dit graag wil besoek.

Guruchas is vandag ’n verlate spikkel op die landkaart, suid van die M22 tussen Karasburg en Noordoewer en die Bondelswarts, soos die ander Namas, weet niks of baie min van hulle roemryke verlede. Die kultuur van die Khoi-Khoin, ook geminag deur die uiteindelike, huidige oorwinnaars, die Ovambos se SWAPO, kwyn.

Hierdie verhaal is verewig in James Ambrose Brown se roman, The Return.

Lees môre hoe die wêreld op hierdie treurige gebeure gereageer het.

Kaart_Guruchas
‘n Kaart uit Richard Freislich se “The Last Tribal War.” Dit dui die area van Abraham se laaste gevegte teen Kaptein Prinsloo en sy manne aan.

Dag 47: 1922 se skandvlek op SA: Die einde van ’n kultuur.

Abraham-Morris
Abraham Morris. Sover bekend is dit die enigste foto van hom. Hier is hy in sy uniform as verkennersoldaat van die SA Uniemagte wat tydens die Eerste Wêreldoorlog teen die Duitsers geveg het. Tien jaar tevore het hy saam met dieselfde Duitsers teen die Herero’s geveg en toe teen hulle, die Duitsers. Foto ontleen aan Gordon McGregor en Manfred Goldbeck se boek, The First World War in Namibia. Die oorspronklike foto is vanaf die Nasionale Argief in Windhoek.

Presies 20 jaar na die Britte se verskroeide aarde aksies tydens die Anglo Boere-oorlog, agtien jaar na generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel en die massamoord op die Herero’s, en agt jaar nadat die Bondelswarts, Namas van Suidwes-Afrika se diep suide, die SA Uniemagte gehelp het om die Duitsers te verslaan, het dieselfde SA se Uniemagte een van die vernietigendste veldtogte ooit uitgevoer en daarmee die Bondelswarts vir alle praktiese doeleindes vernietig.

Oorlog is oorlog, maar die wyse waarop hierdie oorlog gevoer is, was onmenslik wreed, soveel so dat die Volkebond, die voorloper van vandag se VVO, SA amptelik veroordeel het. ’n Mens kan seker dink en redeneer dat hierdie die begin was van die dekade-lange reeks van veroordelings en resolusies deur die VVO wat uiteindelik op die onafhanklikheid van Namibië uitgeloop het. Was dit nie daarvoor nie, kon die moontlikheid bestaan het dat SWA SA se vyfde provinsie kon geword het.

Die 1922 Bondelswarts opstand of soos dit bekend gestaan het, die Bondelswarts Affêre, “Bondelswarts Affair,” het begin met die terugkeer van een van die Nama-oorlog se helde en leiers, Abraham Morris, uit sy verbanning na oorkant die Garieprivier. Abraham se vrou is dood in 1921 en hy wou terugkeer na sy mense wat op Guruchas gebly het. Abraham se pa was ’n Skot en sy ma ’n Nama. In my boek, “Die Keiservoël oor Namaland” is daar benewens Abraham wat ook ’n rol speel, nog so ’n gesin, Robert en Gertruida McKay, ware mense van die plaas Paradys naby Keetmanshoop. Hulle het die jong Ernst Luchtenstein, my hoofkarakter en sy suster Charlotte grootgemaak. Dis hier waar Ernst leer Nama praat het en die kultuur leer ken het.

Die Nama-oorlog se begin word teruggespoor na vroeg in 1904 toe een van die Bondelswarts luitenant Walther Jobst doodgeskiet het, juis op ’n tydstip toe die Herero’s in die noorde baie moeilikheid gemaak het. Tydens dieselfde insident is die leier van die Bondels, Jan Christiaan ook doodgeskiet. Die vraag is natuurlik wie het eerste geskiet? Die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, majoor Theodor Leutwein, moes hom haas na die suide om die vrede te probeer bewaar, maar tydens sy afwesigheid het sy junior offisiere in die noorde miskien effens oorreageer op die Herero’s en so die Herero-oorlog aan die gang gesit.

Op ’n manier gebeur dit dat die Bondelswarts, onder andere Abraham Morris, en die Witboois, onder andere Cornelius Fredericks, toe met die Duitsers saamwerk om teen die Herero’s te veg, ’n oorlog wat op 12 Augustus 1904 ten einde kom met die slag van Waterberg waar duisende Herero’s insluitende vroue en kinders doodgeskiet is. Daarna is die oorlewende Herero’s in die Omaheke-woestyn ingedryf, tot in Betsjoeanaland. Party het tot by vandag se Bela-Bela in SA gevlug.

Skaars twee maande later verklaar die Namas oorlog teen die Duisters, dieselfde kamerade saam met wie hulle nou net geveg het. Dit is veelseggend om die minste te sê.

Abraham Morris tree na vore as die leier van die Bondelswarts en maak die suide baie warm vir die Duitsers. Na die oorlog gaan woon hy oorkant die rivier, terwyl sy mense op Guruchas hom as held beskou. ’n Relatiewe swakkeling, Jacobus Christiaanis die leier op Guruchas.

In die tydperk nadat SA die mandaat gekry het om SWA te bestuur, 1915-1922, vaardig die Unie verskeie dekrete uit wat die Bondelswarts se tradisionele leefwyse bedreig. Hulle grondgebied word drasties beperk, hulle moet hondebelasting betaal en hulle vee brandmerk. Hulle mor.

Abraham Morris se terugkeer in 1922 laat die hoop op ’n rewolusie opvlam, maar Abraham bly gedweë. Hy oorhandig selfs sy geweer aan die polisie. Hy word gedagvaar om voor die hof te verskyn vir onwettige immigrasie, maar sy mense vertrou nie die vrede nie. Almal meen die Unie se mense gaan hom in die tronk smyt en daar hou.

So begin die opstand.

Lees môre verder.

Dag 46: ‘n Vreemde toeval. Ernst, Regina, en kolonel Berrangé

Haus_Streitdam
Haus Streitdam op Aroab, waar Regina Klube as weeskind deur Hauptmann Bruno Göttiger en sy vrou Frieda grootgemaak is.

 

 

Kiriis_Wes
Die plaas Kiriis Wes, 80 kilos oos van Keetmanshoop, wat behoort het aan oom Dicky Strauss en waar ek die eerste keer van Ernst Luchtenstein gehoor het.

Die speurwerk verbonde aan die skryf van “Die Keiservoël Oor Namaland” laat die bloed in my are kabbel. Die skryf- en redigeer- en uitgeeproses is feitlik verby, maar die opwinding bly.

Onlangs het ek twee boeke oor die verloop van die Eerste Wêreldoorlog in die destydse Duits Suidwes-Afrika gelees en op ‘n baie interessante, indirekte verband tussen twee hoofkarakters afgekom. Die een was Ernst Luchtenstein en die ander Regina Klube.

Die twee het albei as kinders in Duitswes aangekom, mekaar later ontmoet, getrou en ‘n lang gelukkige lewe gehad. Ernst het op ‘n stadium 500 000 hektaar grond besit.

Ernst het ‘n suster, Charlotte gehad. Charlotte is ook ‘n karakter in my boek. Sy was later die ma van oom Dicky Strauss, wat my tydens ‘n jagtog in 2007 van Ernst Luchtenstein vertel het. Oom Dicky en tannie Memoirree het op sy ma Charlotte se plaas Kiriis Wes, 80 kilometer oos van Keetmanshoop gewoon. Dit was nie ver van hier af nie waar die seun Ampie Esterhuizen die “vlieënde slang” gesien het, soos ek vroeër vertel het.

Regina se ouers is albei aan tifoïedkoors dood. Sy is toe deur Hauptmann (kaptein) Bruno Göttiger en sy vrou Frieda aangeneem.Göttiger was die Duitse polisiebeampte op Aroab. Hulle het in die bekende landmerk, Haus Streitdam op die dorp gebly.

Luitenant-kolonel Christian Anthony Lawson Berrangé was in beheer van die sogenaamde Oostelike mag van die invallende Union Defence Force van Suid-Afrika wat Duits Suidwes-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog ingeval het. Hy en sy troepe het Duitswes vanaf Kuruman, deur Rietfontein naby Askham, ingeval. Die eerste dorp op hulle pad was Aroab waar die Göttigers gewoon het. Die kaptein, Göttiger, is gevange geneem en die vroue, Frieda en Regina is verplig om die plaas te verlaat. Hulle sou geïnterneer word vir die duur van die oorlog, maar die opperbevelhebber van die Uniemagte, generaal Louis Botha, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika wou hê die vroue moes ordentlik behandel word en wel in die publieke oog, uiteindelik Windhoek. Hy het ‘n weersin gehad in wat 12 jaar tevore in die Engelse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog gebeur het.

Hulle is almal baie haastig van Haus Streitdam af weg en in die warboel het die Göttigers se Bybel agtergebly. Maande later sou die Unie-soldate die Bybel persoonlik by mevrou Göttiger in Windhoek kom aflewer.

Ry mens verder vanaf Aroab met die grondpad weswaarts rigting Keetmanshoop, dan kom jy uiteindelik by Kiriis Wes op regterkant uit, 80 kilos duskant Keetmanshoop. Net so het kolonel Berrangé se Oostelike mag ook by dieselfde Kiriis Wes uitgekom, waar die Duitse Schutztruppe vir hulle gewag het. Op 16 April 1915 val Berrangé hulle aan. Die Uniesoldate skiet vier soldate dood en vang nog agt, maar die Duitsers ontsnap met al hulle artillerie.

Dit is interessant dat Berrangé se inval op ‘n manier beide Ernst en Regina se lewenswêreld aangeraak het. Natuurlik is Ernst ook opgeroep om saam met die Schutztruppe te veg, iets wat eindelik tot sy eensame 18 maande in die Karasberge sou lei.

 

Dag 45: Die betekenis van die veldslag teen Simon Koper.

SimonKoperAskham
Ek het Simon Koper, ‘n afstammeling van die bekende Nama-leier in 2012 op die plaas van die Khomani-San, Erin, digby Askham, ontmoet. Hy was onbewus van die geskiedenis van sy beroemde voorsaat.

 

_DSC3830
Oom Elias le Riche (links) voormalige parkhoof van die Kgalagadi Oorgrens Park. Ek het hom verlede week ontmoet. Hy is een van die laaste mense wat die grafte van Kaptein von Erckert, luitenant Ebinger en die ander Duitse Schutztruppe met sy eie oë gesien het. Die houtkruise is deur veldbrande vernietig en hy glo nie dat die presiese plek ooit weer opgespoor sal word nie.

Die verhaal van Simon Koper en sy !Kara-geikhoen, die Fransmanne, is vandag steeds relevant. Hulle was Namas, Khoi-Khoin, die eerste inwoners van Suidelike Afrika. Hulle het ‘n bestaan gemaak deur oor wat vandag se landsgrense is te trek, te jag, met kleinvee te boer, en van die opbrengs van die veld te lewe. Die besluit wat ‘n ander Nama-stam, die !Aman van Bethanië, geneem het, om sekere grond te verkoop, en die daaropvolgende doelbewuste manipulering van die konsep van die geografiese myl, het gelei tot ‘n oorlog waarin verskriklike wreedhede aan beide kante gepleeg is, soos in alle oorloë.

Uiteindelik het Simon Koper met die meeste van sy mense ontsnap en hulle laaste dae in Betsjoeanaland deurgebring. Hoe vreemd is dit dat hulle steeds ‘n pensioen van hulle veroweraars ontvang het, in ruil daarvoor dat hulle nooit weer terug sou gaan na hulle eie land nie? Is dit nie juis’n soort van erkenning van hulle reg om wel daar te mag wees nie? As hulle geen reg tot verblyf gehad nie, was daar geen nodigheid om enigiets te betaal nie. Is dit hoekom die oorwinnaars van ‘n middelman (die Britse koloniale owerheid) gebruik gemaak het om die betalings te doen?

Daar woon vandag steeds nasate van die !Kara-geikhoen in die omgewing van Bokspits en Askham. Ek het ‘n paar gelede juis op die grond wat die SA regering aan die Boesmans (Khomani-San) oorgedra het, gejag en ene Simon Koper, ‘n direkte nasaat, ontmoet, maar hy het absoluut niks geweet van sy voorsate se geskiedenis nie. Ek was baie teleurgesteld, want dit het my laat dink aan my eie mense, die Afrikaners. Ons beleef vandag ook bedreigings, net soos die Namas van destyds. Hulle taal en kultuur is feitlik vernietig. Gaan ons nasate ook oor ‘n honderd jaar niks weet van Afrikaans en die Groot Trek en die Anglo-Boere-oorlog nie?

Die presiese plek waar die veldslag op 16 Maart 1908 plaasgevind het, is vandag verlore. Oom Elias le Riche, een van die beroemde geslag le Riche’e wat die Kgalagadi Oorgrens Park, voorheen die Kalahari Gemsbok Nasionale Park, gevestig en bestuur het, onthou hoe sy pa hom die plek en die grafte gaan wys het. Toe hy later jare weer daar kom het die veldbrande en weer alle tekens van die plek vernietig. Hy glo nie dat mens ooit weer met sekerheid hierdie historiese plek sal opspoor nie.

Wulf Haacke beskryf in sy uitstekende artikel in die Namibiese Wetenskaplike Vereniging se Joernaal hierdie insident op 16 Maart 1908 as die finale veldslag van die Nama-oorlog, maar die mag van die Bondelswarts, die Namas van Warmbad in die suide van Namibië, is eers in 1922 gebreek. Ek vertel graag later van hierdie sogenaamde “Bondelswarts Affêre,” “the Bondelswarts Affair,” wat dekades later steeds vir SA internasionale probleme veroorsaak het en selfs op ‘n manier ‘n rol in die Grensoorlog gespeel het.

As mens ‘n toekoms wil hê, moet jy nie jou verlede vergeet nie.

 

Dag 44: Die veldslag: Simon Koper en die Fransmanne vs Duitsland in “Die Keiservoël oor Namaland”

_DSC3838
Kaptein Friedrich von Erckert, regs voor. Hy sou met sy lewe boet vir sy obsessie.
_DSC3845
Kaptein Von Erckert se graf links agter en Luitenant Ebinger regs agter. Voor is die massagraf vir die gewone troepe.

Die Duitse mag het drie dae noord-ooswaarts getrek in die rigting van die Rambukas en die Boerekoppe tot hulle verkenners die Fransman Namas opgespoor het. Teen daardie tyd het laasgenoemde lankal geweet van die agtervolgers, maar hulle was nie oormatig bekommerd nie. Op die middag van 15 Maart het Simon Koper met ‘n groot kontingent vertrek om na tsammavelde verder ooswaarts te gaan soek. Hulle het ‘n groep vegters met die vroue en kinders agtergelaat. Sy opdrag was om ‘n hinderlaag te stel en die Duitse Schutztruppe gevange te neem. Sodra die Duitsers die wit vlag hys moes hulle vuur staak, het hy beveel. Hy het die grootte van die Duitse mag onderskat, aldus Wulf Haacke.

Die drie kapteins, Von Erckert, Willeke en Grüner het die Namas se kamp gedurende die nag van 15-16 Maart van drie kante omsingel. Om 05h15, teen eerste lig het die Duitsers die finale bekruipfase begin en begin skiet. Die Namas het vuur met vuur beantwoord. Binne minute was die leier van die veldtog, die man met die obsessie, kaptein Friedrich von Erckert dood. Grüner het bevel oorgeneem. Teen 06h30 het die Duitsers ‘n bajonetstormloop geloods en die veldslag was verby. Benewens Von Erckert en luitenant Ebinger het nog elf Schutztruppe met hulle lewens geboet. 58 Namas waaronder Simon se broer Isaak het gesterf, maar ‘n onbekende aantal het ontsnap. Simon Koper se vrou is gevang en as gyselaar Windhoek toe geneem.

Die gevalle Duitse soldate en offisiere is begrawe soos aangedui op die foto bo. Vandag is die presiese ligging van hierdie grafte onbekend, maar meer daaroor in ‘n volgende aflewering.

Simon Koper en sy oorlewende vegters het ooswaarts tot in die omgewing van Lokwabe diep in Betsjoeanaland gevlug waar hulle politieke asiel van die Britse regering gekry het.

Simon is op 31 Januarie 1913 vanweë ouderdomsoorsake op Lokwabe oorlede. Die Fransmanne ontvang ‘n geheime staatspensioen van die Britse en Duitse regerings tot en met onafhanklikheid van Botswana.

Een van die voorwaardes van die pensioen was dat dit nie openbaar gemaak sou word nie. Die feit dat die Duitsers Simon Koper nooit kon vang of doodskiet nie, anders as al die ander Nama-kapteins, was en is eintlik steeds ‘n bron van verleentheid.

Dit is vir my altyd mooi en lekker as groot en belangrike regerings die knie moet buig voor ‘n dapper en slim individu, soos Simon Koper.

 

Dag 43: Simon Koper en die Fransmanne vs Duitsland in “Die Keiservoël oor Namaland

_DSC3843
Inspekteur Attwood, ‘n polisieman van die Britse polisie op Rietfontein aan die SA kant het hierdie foto geneem, ‘n jaar of wat voor die groot veldslag. Dit toon die mense van Simon Koper by Grootkolk in die noorde van vandag se Kgalagadi Oorgrenspark.
_DSC3841
‘n Draagbaar tussen twee kamele. Na die veldslag het een gewonde van een van hierdie draagbare geval en as gevolg van sy verdere beserings gesterf.

Vroeg in Maart 1907 het Simon Koper en sy mense hulle weer in Duits-Suidwes-Afrika bevind, by Kowise Kolk. Daar het majoor Pierer hulle probeer ompraat om na Gochas te trek waar vredesonderhandelinge sou plaasvind. Instede daarvan het Koper en sy mense terug na die Britse gebied getrek, oor die 20e lengtegraad, tot by Geinab, digby Grootkolk, vandag ‘n bekende baken in die noorde van die Kgalagadi Oorgrenspark.

Net daarna op 31 Maart 1907 het die Nama-oorlog ge-eindig, of so het Keiser Wilhelm die tweede gedink.

Koper en sy mense was Duitse onderdane wat hulle op Britse grondgebied bevind het. Boonop was hulle gewapen en het geweier om hulle wapens op te gee. Die ding was dat hulle so ver van die beskawing en veral vanaf water was dat die paar SA polisiemanne wat op Rietfontein gestasioneer was dit onmoontlik gevind het om hulle op te spoor, wat nog te sê ontwapen of arresteer.

In Junie 1907 kry kaptein Friedrich von Erckert, bevelvoerder van die Schutztruppe in noordelike Namaland, opdrag om die probleem van Simon Koper op te los deur hulle te vang of dieper in Betsjoeanaland in te dryf. Hy besluit om sy troepe met kamele te voorsien. Dit het geweldige beplanning en voorbereiding gekos.

Luitenant Oberg word getaak om die kamele op te lei en spesiale saals te maak. Hy bestel nog ekstra kamele en lei die diere op. Ondertussen vreet die spul woestynskepe baie gras. Dit gee my honderd jaar later die kans om die hoofkarakter van my drama by die ekspedisie betrokke te laat raak.

Op 24 Oktober 1907 skryf die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, von Lindequist aan die Britse kommissaris Lord Selborne oor die teenwoordigheid van die Namas en die konstante probleem met oorgrens insurgensie. Eers op 4 Desember antwoord Selborne sonder om toestemming te gee vir ‘n Duitse inval. Die Duitsers besluit om eerder langs diplomatieke kanale verskoning te vra, as om verder te sukkel om toestemming te kry. Von Erckert ontwikkel ‘n obsessie. Hy wil Simon Koper te alle koste in die hande kry.

Laat in 1907 en vroeg in 1908 bevestig verskeie verspieders die teenwoordigheid van die Fransmanne in die omgewing van Grootkolk, Geinab en Lijersdraai.

Op die 4e Maart 1908 kom die bevel om te marsjeer. 373 Duitse troepe, 23 offisiere, 120 nie-blanke bediendes en 4 mediese beamptes trek met 710 kamele en hulle spesiale saals in die rigting van Geinab. Op 7 Maart drink die kamele hulle laaste water vir die volgende 9 dae.

Op 11 Maart bereik hulle Geinab waar hulle kamp opslaan en ‘n tydelike hoofkwartier inrig. In hulle spoor, al die pad tot by Arahoab (vandag se Aranos) lê ‘n telegraaflyn wat hulle afgerol het om met die owerheid in Windhoek te kan kommunikeer.  Hulle het ook 4 masjiengewere.

Op die middag van 12 Maart 1908, op Geinab, ontvang dokter Ohlemann, die hoof van die mediese seksie, besoek van ‘n aantal offisiere. Hulle glo dat hulle leier, kaptein von Erckert van lotjie getik is oor sy obsessie met hierdie gevaarlike ekspedisie en vra hom, dokter Ohlemann, om von Erckert as sodanig te sertifiseer sodat hulle dan die ekspedisie kan afgelas. Die dokter weier, maar onderneem om hierdie daad van muitery nie te rapporteer nie.

Agtuur daardie aand trek die Duitse mag noordoos, op soek na Simon Koper en sy mense.

Dag 42: Simon Koper en die Fransmanne vs Duitsland in “Die Keiservoël oor Namaland

_DSC3840
‘n Kaart wat die bewegings van Simon Koper en sy stam voor en na die veldslag aandui. Let daarop dat dit oor drie van vandag se landsgrense heen strek.
_DSC3844
Die grafsteen wat opgerig is ter nagedagtenis van Kaptein von Erckert en luitenant Ebinger. Die grafsteen is op Gochas opgerig, meer as ‘n honderd kilometer van die werklike grafte. Niemand weet vandag waar daardie grafte is nie.

Die laaste veldslag van die Nama-oorlog is relevant vir baie redes wat ek mettertyd sal aandui. Ek wil eers verduidelik wat gebeur het. In Dag 41 van hierdie dagboek het ek ’n opsomming gegee van die gebeure. My bron was hoofsaaklik die artikel, “Simon Kopper and the Kalahari Expedition of 1908. The Forgotten Story of the Final Battle of the Nama War and its Results,” deur Wulf D Haacke, (groot herpetoloog, slangkenner) wat in Volume 44 van die Joernaal van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in 1993/1994 verskyn het op bladsye 41-65.

Verskeie ander outeurs het polities gekleurde, geromantiseerde, of fabelagtige/leuenagtige weergawes oor die gebeure geskryf, maar Haacke het noukeurige navorsing gedoen en probeer om ’n ware beeld daar te stel. Op bladsy 95-120 van Hannes Kloppers se “Gee my ’n man” vertel Kloppers juis sy polities gekleurde relaas. Dit is jammer dat dit dramaties verskil van Haacke se wetenskaplike artikel. Kloppers vertel byvoorbeeld dat Simon Koper self aan die veldslag deelgeneem het terwyl Haacke skryf dat Simon Koper ure voor die veldslag reeds vertrek het en nie self deelgeneem het nie. Kloppers begin sy weergawe ook met ’n redelik simplistiese, en ten dele heeltemal valse verduideliking van die oorsaak van die Nama-oorlog. Kloppers se verkeerde spelling van die name van verskeie offisiere werp nog ’n skadu op die akkuraatheid van sy navorsing.

Ekself het natuurlik in “Die Keiservoël oor Namaland” die gebeure romanmatig aangebied en heelwat fiksie ingeweef, let wel in my eie soeke na die waarheid. Ek weet van ten minste een klein “onakkuraatheid” wat ek doelbewus gelaat het.

Haacke begin sy artikel deur te skryf dat die presiese ligging van die veldslag en die grafte vandag onbekend is. Dit is juis een van die punte wat die storie relevant maak. Duitsland eer sy gevalle krygers, maar in hierdie geval is die grafstene van die gevalle offisiere vandag nog op Gochas, meer as honderd kilometer vanaf die verlore slagveld. Dit is redelik insiggewend dat Duitsland destyds nie die moeite gedoen het om die grafsteen op die regte plek te gaan oprig nie. Die veldslag het op 16 Maart 1908 plaasgevind en die Eerste Wêreldoorlog het eers in 1914 begin, ses jaar later. In daardie ses jaar was daar nog baie oorlewendes wat maklik by die slagveld en grafte sou kon uitkom. Die eerste dilemma was natuurlik dat die Duitse Schutztruppe baie ver in Britse grondgebied in moes trek agter Simon Koper aan, moontlik sonder Britse goedkeuring. Dit was dus ’n politieke verleentheid.

  Simon Koper se van se spelling word ook as Kopper, Kooper of Cooper aangedui. Ek het die eenvoudige Koper gekies. Soos in Dag 41 vermeld het hy en sy stam, die sogenaamde Fransmanne in die Kalahariwoestyn rondgeswerf as nomade. Kloppers vertel dat die Fransmanne voor die Nama-oorlog naby Gochas gewoon het, wat as dit waar is, my vertelling dat hulle nomade was verkeerd kan maak.

Ongelukkig is die een waarheid wat onteenseglik waar is, dat die Nama-oorlog die Namas se kultuur so vernietig of geknak het, dat sekere dele van hulle geskiedenis en kultuur volledig verdwyn het en vandag in misterie gehul is. Die ironie is dat hulle vandag meestal Afrikaans praat. As ’n groep is hulle moontlik die grootste groep inheemse Afrikaanstaliges, buite Suid-Afrika se landsgrense. Ek dink ons behoort hulle bydrae tot ons taal te koester.

In my volgende aflewering wil ek vertel van die voorbereiding vir die groot veldslag.

Dag 41: Simon Koper en die Fransmanne vs Duitsland in “Die Keiservoël oor Namaland

Duitsland het gemeen dat die oorlog teen die Namas op 31 Maart 1907 verby was, maar hulle het vergeet om vir Simon Koper, leier van die Fransman-stam die, !Khara-khoen, in te lig.

Die Fransmanne, was nomade wat rondgeswerf het oor wat vandag drie lande, SA, Namibië en Botswana, se grense was. Hulle kon onafhanklik van water oorleef, mits hulle genoeg tsammas gehad het. As mens baie tsammas eet, dan raak jy hardlywig en perde ontwikkel seer gewrigte, maar die Fransmanne was immuun daarteen. Dit was vir hulle dus moontlik om in die Kalahari te oorleef, want die agtervolgers (Duitse soldate) moes naby water wees.

Vir die duur van die ganse oorlog het Simon Koper die Duitsers frustreer met sy strooptogte en aanvalle en na 31 Maart 1907 het hy net eenvoudig voortgegaan. Hy en sy volgelinge het meestal in dit wat vandag die mees noordelike punt van die SA kant van die Trans Kgalagadi Oorgrenspark is, in die omgewing van Geinab en Grootkolk, beweeg. Destyds was dit en die naasliggende Betsjoeanaland Britse grondgebied, maar die grenslyne was nog nie eers opgemeet of aangedui nie.

Verskeie briewe is verwissel tussen die Britte, lords Selborne en Gladstone, en die Duitse konsul-generaals van Duits-Suidwes-Afrika, eers von Lindequist, later von Schuckman en Hintrager. Almal wou van die lastige Namas ontslae raak, maar laasgenoemde was net eenvoudig te slim.

Uiteindelik het die taak op die skouers van kaptein Friedrich von Erckert geval. Hy het die saak met fanatiese ywer aangepak. Hy het twee adjudante aangestel, kapteins von Willeke en Gruner. Die beplanning en voorbereiding van die groot ekspedisie sou meer as ‘n jaar duur. Uiteindelik was meer as 700 kamele nodig vir hierdie ekspedisie.

Von Erckert het geweet dat die Fransmanne van tsammas afhanklik was en hy moes sy aanval loods op ‘n tyd wanneer die tsammas in die veld min was, met ander woorde vroeg herfs, Maartmaand. Dan móét hulle, die Namas, naby water wees.

Dag 40: Die konsentrasiekamp op Aus in “Die Keiservoël oor Namaland”

Die lewe in Aus se konsentrasiekamp tydens die eerste Wêreldoorlog was draaglik vir die Duitse krygsgevangenes. Hulle het selfs hulle eie witblits of mampoer gestook, skelm natuurlik. Alles het goed gegaan totdat 1918 se berugte griep toegeslaan het.

Verreweg die meeste sterftes in die kamp, 109 (59 krygsgevangenes en 50 Unie-soldate)  vind plaas in die Oktober-November 1918 tydperk. Gedurende die hele 1915-1919 tydperk van die kamp se bestaan was daar 129 sterftes, 69 gevangenes en 60 soldate, dus slegs 20 sterfgevalle as gevolg van ander oorsake as die Groot Griep.

Vir my is die heel mooiste storie van Aus se kamp dié van Breeza Nelson, vrou van majoor Nelson, kamp-adjudant.  Alhoewel sy die eggenote van ‘n SA offisier in beheer van die Duitse krygsgevangenes was, het sy die siek gevangenes verpleeg en versorg, totdat sy self siek geword en gesterf het. Haar grafsteen in die Aus kampkerkhof getuig “She gave her life to others.”

Breeza Nelson is ‘n heldin, soos Emily Hobhouse, maar is nog nooit as sodanig vereer nie. Ek het haar as karakter gebruik om op beskeie manier hulde te bring.

Vandag is die terrein verlate met slegs hier en daar nog stukkies ruïnes van die krygsgevangenes se huisies. Ek het wel ‘n stukkie van die dak van een huisie opgetel. Mens kan nog sien hoe die paraffienblikkies of boeliebiefblikkies platgeslaan en aanmekaar gelas is om “dakplate” te vorm.

Dit is nodig dat hierdie terrein bewaar word en dat ‘n paar huisies herbou word om as blyplek vir toeriste te dien, maar meer daaroor later.

Auskamp
‘n Stukkie dakplaat, vervaardig uit platgeslaande boeiliebief- of paraffienblikkies.

 

Aus_se_veld
Die veld waar Aus se konsentrasiekamp tydens 1915-1919 gestaan het.
Breeza_graf
Breeza Nelson se graf. Sy is een van ons geskiedenis se vergete heldinne.
Breeza_grafsteen
Rus in vrede Breeza.
gedenkplaat_Aus
Die enigste amptelike erkenning van Aus se konsentrasiekamp