
Presies 20 jaar na die Britte se verskroeide aarde aksies tydens die Anglo Boere-oorlog, agtien jaar na generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel en die massamoord op die Herero’s, en agt jaar nadat die Bondelswarts, Namas van Suidwes-Afrika se diep suide, die SA Uniemagte gehelp het om die Duitsers te verslaan, het dieselfde SA se Uniemagte een van die vernietigendste veldtogte ooit uitgevoer en daarmee die Bondelswarts vir alle praktiese doeleindes vernietig.
Oorlog is oorlog, maar die wyse waarop hierdie oorlog gevoer is, was onmenslik wreed, soveel so dat die Volkebond, die voorloper van vandag se VVO, SA amptelik veroordeel het. ’n Mens kan seker dink en redeneer dat hierdie die begin was van die dekade-lange reeks van veroordelings en resolusies deur die VVO wat uiteindelik op die onafhanklikheid van Namibië uitgeloop het. Was dit nie daarvoor nie, kon die moontlikheid bestaan het dat SWA SA se vyfde provinsie kon geword het.
Die 1922 Bondelswarts opstand of soos dit bekend gestaan het, die Bondelswarts Affêre, “Bondelswarts Affair,” het begin met die terugkeer van een van die Nama-oorlog se helde en leiers, Abraham Morris, uit sy verbanning na oorkant die Garieprivier. Abraham se vrou is dood in 1921 en hy wou terugkeer na sy mense wat op Guruchas gebly het. Abraham se pa was ’n Skot en sy ma ’n Nama. In my boek, “Die Keiservoël oor Namaland” is daar benewens Abraham wat ook ’n rol speel, nog so ’n gesin, Robert en Gertruida McKay, ware mense van die plaas Paradys naby Keetmanshoop. Hulle het die jong Ernst Luchtenstein, my hoofkarakter en sy suster Charlotte grootgemaak. Dis hier waar Ernst leer Nama praat het en die kultuur leer ken het.
Die Nama-oorlog se begin word teruggespoor na vroeg in 1904 toe een van die Bondelswarts luitenant Walther Jobst doodgeskiet het, juis op ’n tydstip toe die Herero’s in die noorde baie moeilikheid gemaak het. Tydens dieselfde insident is die leier van die Bondels, Jan Christiaan ook doodgeskiet. Die vraag is natuurlik wie het eerste geskiet? Die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, majoor Theodor Leutwein, moes hom haas na die suide om die vrede te probeer bewaar, maar tydens sy afwesigheid het sy junior offisiere in die noorde miskien effens oorreageer op die Herero’s en so die Herero-oorlog aan die gang gesit.
Op ’n manier gebeur dit dat die Bondelswarts, onder andere Abraham Morris, en die Witboois, onder andere Cornelius Fredericks, toe met die Duitsers saamwerk om teen die Herero’s te veg, ’n oorlog wat op 12 Augustus 1904 ten einde kom met die slag van Waterberg waar duisende Herero’s insluitende vroue en kinders doodgeskiet is. Daarna is die oorlewende Herero’s in die Omaheke-woestyn ingedryf, tot in Betsjoeanaland. Party het tot by vandag se Bela-Bela in SA gevlug.
Skaars twee maande later verklaar die Namas oorlog teen die Duisters, dieselfde kamerade saam met wie hulle nou net geveg het. Dit is veelseggend om die minste te sê.
Abraham Morris tree na vore as die leier van die Bondelswarts en maak die suide baie warm vir die Duitsers. Na die oorlog gaan woon hy oorkant die rivier, terwyl sy mense op Guruchas hom as held beskou. ’n Relatiewe swakkeling, Jacobus Christiaanis die leier op Guruchas.
In die tydperk nadat SA die mandaat gekry het om SWA te bestuur, 1915-1922, vaardig die Unie verskeie dekrete uit wat die Bondelswarts se tradisionele leefwyse bedreig. Hulle grondgebied word drasties beperk, hulle moet hondebelasting betaal en hulle vee brandmerk. Hulle mor.
Abraham Morris se terugkeer in 1922 laat die hoop op ’n rewolusie opvlam, maar Abraham bly gedweë. Hy oorhandig selfs sy geweer aan die polisie. Hy word gedagvaar om voor die hof te verskyn vir onwettige immigrasie, maar sy mense vertrou nie die vrede nie. Almal meen die Unie se mense gaan hom in die tronk smyt en daar hou.
So begin die opstand.
Lees môre verder.