Dag 88: Drie ander nuwe boeke

Nadat “Die Keiservoël Oor Namaland” in April 2016 deur Cordis Trust gepubliseer is, het ten minste nog drie boeke oor daardie donker tydperk in Namibië se geskiedenis die lig gesien. Ek was die afgelope tien dae vasgevang in die bladsye van hierdie drie voortreflike boeke, vir meer as een rede.

Ek was bang dat ek iewers ’n basiese feitefout of verkeerde interpretasie in “Die Keiservoël” begaan het, en het aldrie boeke verslind, net om seker te maak. Gaandeweg het ek begin ontspan en het elkeen van hierdie voortreflike boeke nesgeskop in my kop, sodat ek nie anders kan as hulle lof te besing en om my lesers aan te raai om self die boeke ook te lees nie.

opstand

Die eerste van die drie boeke is eintlik ’n 2016 Protea heruitgawe van die 1979 publikasie “Die Herero-opstand 1904-1907” deur Gerhardus Pool, historikus van die Universiteit van Stellenbosch. Dit is ’n volledige, feitelike verslag, vermoedelik oorspronklik as ’n tesis of verhandeling aangebied, van die Herero-oorlog. Dit gee ’n deeglike uiteensetting van die oorsake en verloop van die oorlog en ek was aangenaam verras om te lees dat my eie feite in die kol was. Pool vel geen oordeel nie, hy vertel net die storie soos dit was, maar uit die aard en noodgedwonge toon van die oorspronklike publikasie kommunikeer dit nie die menslike, emosionele aard van hierdie wrede volksmoord nie.

scattering

Die tweede boek, “The Scattering” deur Lauri Kubuitsile, uitgegee deur Penguin, is iets gans anders, ’n pragtige roman oor die wel en weë van ’n paar Herero slagoffers, en interessant genoeg een Afrikaanse vrou, slagoffer van die Anglo-Boere-oorlog. Die Hereros vlug in die Omahake woestyn in, draai om, gee hulleself oor aan die sendelinge, vlug weer, word weer gevang en en word op Haai Eiland by Lüderitz geïnterneer. Gedurende hierdie proses word die slagoffers se vernedering en vernietiging op dramatiese wyse uitgebeeld. Die twee hoofkarakters, Afrikaner en Herero, se paaie kruis uiteindelik in die Okavango Delta waar die noodwendige en onafwendbare finale verontmensliking van die siel sy hoogtepunt bereik.

letters

Derde op my lys, nie wat kwaliteit aanbetref nie, is nog ’n Penguin publikasie, “Letters of Stone” deur Steven Robins. Soortgelyk aan Elzabe Brits se “Geliefde Verraaier” is dit gebasseer op ’n aantal briewe, foto’s en dokumente van Robins se grootouers. Hy het in 2012 daarop afgekom na ’n begrafnis. In sy jeugdae was hy bewus daarvan dat sy voorouers in die Nazis se strafkampe omgekom het, maar dit het hom nooit werklik gepla nie, totdat hy die briewe begin lees en interpreteer het. Dit het hom op ’n speurtog na Duitsland en ander plekke geneem. Gaandeweg lees jy van sy oupa en ouma se groeiende onrus in Duitsland en desperate pogings om te ontsnap totdat die korrespondensie op ’n dag net ophou. Robins se werk is egter nie beperk tot sy eie familie nie. Sy speurtog het hom op eienaardige wyse bekend gestel aan die wrede en boosaardige dr Eugen Fischer, hoofskurk in my verhaal, “Die Keiservoël Oor Namaland.” Anders as in my boek verhaal Robins Fischer se werk onder die Rehoboth Basters, eerder as onder die Namas. Robins betoog, soos ek en baie ander, dat die Nazi wreedhede van 1939-1945 baie jare vroeër, ongeveer 1906-1908, in Duits-Suidwes-Afrika, vandag Namibië, begin het. Robins filosofeer vrymoedig oor die inhoud van die briewe en die beelde op die foto’s en neig daarna om apartheid met die Nazis te vergelyk, iets waarmee hy nie oortuig nie. Tog kan ons nie ontken dat daar destyds seker Nazis baie aktief in Suid-Afrika was nie.

Die lees van hierdie drie boeke, aan die einde van ’n jaar waarin ek self “Die Keiservoël Oor Namaland” die lig laat sien het, laat my met baie stof tot nadenke. Die wreedhede waaraan die Herero’s en Namas blootgestel was net so erg as dit waaraan die Duitsers die Jode, Roma, Sinti, Jehovas en homoseksueles blootgestel het, met een groot verskil: niemand weet (of het geweet) van Namibië se Namas en Herero’s nie. Nou weet die wêreld. Op ’n beskeie manier kon ek deel hê aan hierdie openbaring.

Op ’n meer persoonlike noot dink ek dat, as ek vooraf (voor 2007) hierdie drie boeke moes lees, ek nie die moed sou gehad het om die taak aan te pak nie. Aldrie boeke is uitstekend geskryf en gee saam ’n redelik volledige prentjie, maar ek kan met ’n mate van trots sê dat “Die Keiservoël Oor Namaland” se fokus vele ander aspekte belig.

Nou sit ek ongeduldig en wag op James Ambrose Brown se “The Return,” ’n baie ou boek wat ek deur middel van Bidorbuy gekoop het. Dit handel oor die lewe van Abraham Morris, Bondelswarts Nama-held.