

Die speurwerk verbonde aan die skryf van “Die Keiservoël Oor Namaland” laat die bloed in my are kabbel. Die skryf- en redigeer- en uitgeeproses is feitlik verby, maar die opwinding bly.
Onlangs het ek twee boeke oor die verloop van die Eerste Wêreldoorlog in die destydse Duits Suidwes-Afrika gelees en op ‘n baie interessante, indirekte verband tussen twee hoofkarakters afgekom. Die een was Ernst Luchtenstein en die ander Regina Klube.
Die twee het albei as kinders in Duitswes aangekom, mekaar later ontmoet, getrou en ‘n lang gelukkige lewe gehad. Ernst het op ‘n stadium 500 000 hektaar grond besit.
Ernst het ‘n suster, Charlotte gehad. Charlotte is ook ‘n karakter in my boek. Sy was later die ma van oom Dicky Strauss, wat my tydens ‘n jagtog in 2007 van Ernst Luchtenstein vertel het. Oom Dicky en tannie Memoirree het op sy ma Charlotte se plaas Kiriis Wes, 80 kilometer oos van Keetmanshoop gewoon. Dit was nie ver van hier af nie waar die seun Ampie Esterhuizen die “vlieënde slang” gesien het, soos ek vroeër vertel het.
Regina se ouers is albei aan tifoïedkoors dood. Sy is toe deur Hauptmann (kaptein) Bruno Göttiger en sy vrou Frieda aangeneem.Göttiger was die Duitse polisiebeampte op Aroab. Hulle het in die bekende landmerk, Haus Streitdam op die dorp gebly.
Luitenant-kolonel Christian Anthony Lawson Berrangé was in beheer van die sogenaamde Oostelike mag van die invallende Union Defence Force van Suid-Afrika wat Duits Suidwes-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog ingeval het. Hy en sy troepe het Duitswes vanaf Kuruman, deur Rietfontein naby Askham, ingeval. Die eerste dorp op hulle pad was Aroab waar die Göttigers gewoon het. Die kaptein, Göttiger, is gevange geneem en die vroue, Frieda en Regina is verplig om die plaas te verlaat. Hulle sou geïnterneer word vir die duur van die oorlog, maar die opperbevelhebber van die Uniemagte, generaal Louis Botha, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika wou hê die vroue moes ordentlik behandel word en wel in die publieke oog, uiteindelik Windhoek. Hy het ‘n weersin gehad in wat 12 jaar tevore in die Engelse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog gebeur het.
Hulle is almal baie haastig van Haus Streitdam af weg en in die warboel het die Göttigers se Bybel agtergebly. Maande later sou die Unie-soldate die Bybel persoonlik by mevrou Göttiger in Windhoek kom aflewer.
Ry mens verder vanaf Aroab met die grondpad weswaarts rigting Keetmanshoop, dan kom jy uiteindelik by Kiriis Wes op regterkant uit, 80 kilos duskant Keetmanshoop. Net so het kolonel Berrangé se Oostelike mag ook by dieselfde Kiriis Wes uitgekom, waar die Duitse Schutztruppe vir hulle gewag het. Op 16 April 1915 val Berrangé hulle aan. Die Uniesoldate skiet vier soldate dood en vang nog agt, maar die Duitsers ontsnap met al hulle artillerie.
Dit is interessant dat Berrangé se inval op ‘n manier beide Ernst en Regina se lewenswêreld aangeraak het. Natuurlik is Ernst ook opgeroep om saam met die Schutztruppe te veg, iets wat eindelik tot sy eensame 18 maande in die Karasberge sou lei.