Dag 63: Regina Luchtenstein

Regina

Ek het gister (Dag 62) vertel wie Ernst Luchtenstein, hoofkarakter van “Die Keiservoël Oor Namaland” was. Ek het redelik baie inligting oor hom gehad om my storie te fabriseer. Van sy vrou, Regina, kon ek minder inligting opspoor.

Sy was een van vyf dogters van Duitse immigrante, die Klube egpaar, vermoedelik ook van die Keetmanshoop omgewing. Op ‘n dag het die Klubes besluit hulle drie oudste dogters moet in Duitsland gaan skoolgaan. Die gesin het die lang reis, eers per ossewa tot op Lüderitz, en toe per skip na Duitsland, aangepak. Daar aangekom was dit skool toe. Toe die afskeid kom moes die onderwysers vir Regina en haar twee sussies letterlik van hulle ouers aftrek.

Die Klubes en hulle twee jongste dogters is terug Duits-Suidwes-Afrika toe met die skip, ‘n vaart wat seker so drie, vier weke sou duur. Toe is dit weer terug per ossewa, vanaf Lüderitz, maar die ongeluk tref: Albei die ouers en die twee jongste sussies word siek en sterf en word iewers in die Aus omgewing begrawe. In Duitsland is twee weeskinders.

Die mense van die omgewing kom daarvan te hore en stuur iemand om die drie kinders te gaan haal. Die drie kinders beland in pleegsorg, in verskillende huise. Regina woon by Hauptmann en Frau Göttiger in Haus Streitdam, Aroab, Ida word deur die Brandenburggesin aangeneem en Maragaret deur die bakker Busch.

Haus_Streitdam
Haus Streitdam op Aroab, waar Regina Klube as weeskind deur Hauptmann Bruno Göttiger en sy vrou Frieda grootgemaak is.

Regina kon baie goed perdry, ‘n feit wat ek in my storie uitgebuit het. Sy en Ernst ontmoet, trou, het vyf kinders en ‘n lang gelukkige lewe, so anders as die ongelukkige, tragiese verhaal van haar kinderjare.

Dag 62: Ernst Luchtenstein

Ernst

Hierdie blog oor “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne weke verskyn, beleef sy 62e dag, maar ek het lesers nog nie amptelik aan die hoofkarakter voorgestel nie.

Hy is Ernst Luchtenstein, gebore in Schmalkalden, Duitsland, ‘n dorpie waarvan min inligting aan my bekend is. Hy het skool gegaan in Tilsit, ‘n ewe onbekende dorpie en as jong seun het hy saam met sy gesin na Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) geïmmigreer. Sy ouers was Joseph, oor wie ek later meer sal vertel, en Therese wat kort na hulle aankoms in DSWA oorlede is. Sy suster was Charlotte en daar was ander broers, Ewald, en nog twee ander uit ‘n vorige huwelik van Joseph, maar hulle het in Duitsland agtergebly. Ek vergun hulle geen rol in Keiservoël nie omdat daar reeds te veel karakters is. Baie jare later met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Ernst gepoog om sy twee broers uit Duitsland te laat ontsnap, maar dit was te laat. Hulle is vermoedelik in die Joodse konsentrasiekampe oorlede. Ewald het self op Keetmanshoop gewoon.

Nadat Ernst se ma, Therese, oorlede is, is hy en sy suster in die sorg van ‘n Skot, Robert McKay en sy Nama-vrou, ek noem haar Gertruida, geplaas. Hulle het op die plaas Paradys noord van Keetmanshoop gewoon. Jare later skryf Ernst self hoe hy die Nama-taal by haar aangeleer het en altyd goed met die Namas oor die weg gekom het, ‘n feit wat ek goed kon gebruik.

Ernst beskryf self ook in die ou SWA Joernaal hoe hulle met die ossewaens tussen Lüderitz en Keetmanshoop getrek het en hoe hy eenkeer alleen, met net die geselskap van ‘n Nama, drie weke alleen in die woestyn moes oorleef. Dit was goeie materiaal om baie kleur aan die roman  te verleen.

Ernst was ‘n jong man toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek. Alle weerbare mans in DSWA is opgekommandeer om teen Louis Botha se Uniemagte te veg. Die uiteinde was ‘n onvoorwaardelike oorgawe van die Duitsers en konsentrasiekampe, maar Ernst het ontsnap en vir 18 maande in die Karasberge oorleef deur met ‘n kettie en slingervel dassies en tarentale te jag. Op ‘n dag het hy ook ‘n luiperd met ‘n kierie doodgeslaan.

Tydens sy alleendae het hy die Karasberge goed leer ken en ook die reënpatrone bestudeer. Na die oorlog het hy ‘n suksesvolle ossewa-transportryer geword en begin boer. Hy was een van die pioniers van die karakoelbedryf in Suidwes-Afrika (SWA). Op een stadium was hy (of Sam Cohen?) die rykste man, of dan ten minste die grootste privaat grondbesitter in SWA.

Daar is min inligting oor hierdie enigmatiese man bekend. Ek het alles gelees wat daar oor hom geskryf is en onderhoude gevoer met tannie Marge en wyle oom Tudi, twee van sy kinders, maar die een storie wat sentraal tot die verhaal staan is deur Lawrence Green gedokumenteer. ‘n Effens ander weergawe daarvan is deur wyle oom Dicky Strauss, seun van Ernst se suster Charlotte aan my vertel.

Nadat die Luchtensteins per skip in Lüderitzbucht aangekom het, het hulle per ossewa vertrek binneland toe. Tydens hierdie tog het ‘n Nama-patrollie hulle oorval. Dit was midde in die Nama-oorlog van 1904-1908. Ernst se ma, Therese, het op haar knieë geval en die Nama-kaptein gesmeek om haar kinders nie kwaad aan te doen nie. Die Nama-kaptein het van sy perd afgeklim, sy hoed gelig, haar opgehelp en in perfekte Duits gesê: “Mevrou, kniel voor God alleen. Die Namas maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.”

Oorspronklik is hierdie insident aan Simon Koper of Hendrik Witbooi toegedig, maar ek kon met behulp van navorsing, ‘n proses van eliminasie en ‘n bietjie geluk tot die slotsom kom dat hierdie Nama-leier niemand anders as Cornelius Fredericks van Bethanië, kaptein van die !Aman was.

Ek het hierdie verhaal en Ernst se eie woorde in die SWA Joernaal gebruik om ‘n beeld te skep van ‘n goeie verhouding tussen Ernst en die Namas.

Tannie Marge, Ernst se jongste dogter, het my baie stories vertel wat ek nie kon gebruik nie, omdat dit eers in sy latere lewe gebeur het. Dit is egter duidelik dat hy ‘n ruimhartige man was wat nie gehuiwer het om liefdadigheid te doen nie. Hy het selfs ander kerke soos die Rooms-Katolieke kerk en die NG Kerk ondersteun, ten spyte daarvan dat hy Joods was.

Een van die ander gepubliseerde (SWA Joernaal) stories wat ek noodwendig uit die finale teks moes snoei, was toe hy as jong touleier in McKay se diens by ‘n Duitse kamp aangekom het en gaan kyk het hoe die soldate skyfskiet. Hyself was toe al ‘n uiters bedrewe skut, maar die soldate het nie daarvan geweet nie. Hulle gee hom toe ‘n paar lesse en laat hom skiet. Aldrie skote was kolskote. Toe sê die sersant, ewe verontwaardig, dat hy moet probeer om hom na te doen. Die sersant laat drie bottels in die lug ingooi en skiet hulle in die lug raak. Ernst sê goed, hulle kan maar gooi, hy sal sommer ‘n paar klippe gebruik. Hulle gooi die bottels en Ernst gooi aldrie bottels met die klippe raak, met die effens onwyse woorde: “Ek sal nie goeie koeëls op bottels mors nie.” Die sersant het nie daarvan gehou nie en het die einde van Ernst se kontrak om gras aan te ry beteken.

Ernst het die liefde van sy lewe, Regina Klube, ‘n weeskind, ontmoet. Hulle het vyf kinders gehad. Die ander drie is Therese, Ilse (oorlede) en Bettie. As volwassene kry hy polio en slyt sy laaste jare in ‘n rolstoel. Hy gooi egter nie moed op nie en begin houtwerk doen. Hy maak pragtige meubels en skilde, een met die wapen van Keetmanshoop op. ‘n Paar voorbeelde is in die besit van sy kleindogter, Antoinette Oosthuysen van Koes en sy skoondogter, tannie Annatjie Luchtenstein van Bethal, Mpumalanga.

Ernst Luchtenstein sterf in 1972.

Dag 61: Simon Koper: ‘n Eis teen Brittanje in 2016?

1909 contract with Simon Kooper (00000003)

Op die vooraand van die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman waarran ek meer as 8 jaar werk, het ek afgekom op ‘n afskrif van ‘n dokument gedateer 20 Februarie 1909 wat die moontlikheid inhou om verrykende gevolge te hê. Om die dokument te lees kliek op die skakel bo.

Hierdie dokument is die ondertekende ooreenkoms tussen Simon Koper, (Kooper gespel) en die koloniale regering van Brittanje. In terme van hierdie kontrak onderneem Simon Koper, kaptein van die Nama-stam ook bekend as die Fransmanne, om nooit weer terug te keer na Duits-Suidwes-Afrika en om saam met sy volgelinge gehoorsame onderdane van die koning te wees. In ruil daarvan ontvang Simon Koper in die eerste jaar die som van eenhonderd pond, die tweede jaar 75 pond, die derde jaar en elke jaar daarna 60 pond tot en met sy dood. Daarby word ‘n spesifieke stuk grond vir hulle opsy gesit: padlangs van Ghukunse tot Chuchwa, ‘n reguit lyn van Chuchwa tot by Kwaai Pan, ‘n reguit lyn van Kwaai Pan tot by Mpa-a-thutlhoa, ‘n reguit lyn vanaf Mpa-a-thutlhoa to by Mahurutlhake Pan op die Kokong Ghukunsi pad, en die grootpad vanaf Mahurutlhake Pan tot by Ghukunsi via Tshane.

Ek het die geskiedenis rondom Simon Koper se doen en late, sy vlug na Betsjoeanaland, die finale veldslag en die uiteinde daarvan kortliks uiteengesit in Dag 41 tot by Dag 45 van hierdie dagboek.

Die hoofbron van my inligting was ‘n wetenskaplike artikel deur Wulf Haacke. Ek het ook ‘n gesprek gevoer met oom Elias le Riche, voormalige parkhoof van die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park. Hy het ‘n werker met die naam Johannes Koper, ‘n direkte afstammeling van Simon Koper, gehad. Dié het eendag na hom gekom met hierdie kontrak in sy hande. Oom Elias het dit aan ‘n professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria voorgelê vir oorweging van akkuraatheid en regsgeldigheid met die oog op restitusie. Die professor is oorlede en sy seun het die dokument saamgeneem na Kanada waar dit vandag nog is. Hy het dit deur middel van oom Elias se seun, dr Kabols le Riche, aan my gestuur.

Toe Botswana onafhanklikheid gekry het is alle voordele be-eindig. Die vraag is: Is Brittanje nie dalk steeds verantwoordelik nie? Ek is seker die nasate van Simon Koper sal baie bly wees as ‘n klein meevallertjie na hulle kant toe kom. Ek sal rede hê om ‘n klein bietjie trots te wees as dit sou gebeur.

Ek sluit ‘n paar foto’s van Simon Koper in, asook ‘n foto van ‘n man met die naam Simon Koper. Ek het hom op die grond van die Khomani San by Askham, baie naby aan die plek wat aan die oorspronklike Simon Koper/Kooper toegeken was, ontmoet.

 

Dag 60: “Die Holocaust moet verswyg word”

 

Ek is vandag ‘n baie tevrede man. Oor ‘n maand of wat sal my boek “Die Keiservoël Oor Namaland” verskyn, uitgegee deur ‘n gerespekteerde uitgewer.

In my agterkop het ‘n brief wat ek lank gelede aan ‘n hoogs gerekende Namibiese instansie geskryf het egter aanhou dreun. Ek het hulle gevra om my te help om die boek uit te gee en het nie terugvoer ontvang nie, tot vanmiddag.

Die e-pos se strekking was dat ek sekere dele van die boek moet uitlaat omdat dit plofbare inligting is en die emosies in Namibië onnodig kan opsweep. Ek sou byvoorbeeld nie kon bewys dat die hoofskurk in my verhaal, dr Eugen Fischer, sekere moorde gepleeg het nie.

Ek glimlag nou nog. Die implikasie is so ironies. Hulle sal my help as ek hulle waarheid sou verkondig! Ek moet dit net bietjie minder erg maak, want ek kan nie bewys dat dit so erg was nie!

My antwoord leen ek by Frank Lloyd Wright: “I am more interested in the truth than the facts, en by Manning Clarke: “All writers are liars, and there is not the slightest chance that any writer will get into heaven.”

Die boek is fiksie, gegrond op ware gebeure, “ongemaklike waarhede.” Daardie ongemaklikheid leef voort selfs tot vandag op Woensdag 10 Februarie 2016. 

Die boek is nie ‘n geskiedenis-teksboek nie. Dit is ‘n roman, ‘n storie, wat ‘n paar groot temas het. Een daarvan is dat die gruweldade van die Joodse Holocaust sy oorsprong gedeeltelik op Haai-eiland in Lüderitzbucht se baai het. Dr Eugen Fischer was die mees geskikte kandidaat om die skurk te wees. Met sy werk en publikasies het hy feitlik gesmeek om my skurk te wees. Ek moes iemand vind om uit te beeld hoe erg dit was. Niks wat ek hom in die boek laat doen kon erger gewees het as wat hy en sy volgelinge, Hitler onder andere, gedoen het nie.

Ek verwag dat ek teenkanting sal kry. Die Nazi’s leef voort, maar so moet dit dan wees. Hier staan ek, ek kan nie anders nie, net soos Martin Luther. Ek bedoel nou eintlik ou Martin die stoomlokomotief in Swakop se sand!

:

Dag 59: Die Joodse Holocaust Museum in Kaapstad

Herero
‘n Groep Herero krygsgevangenes. Heel links is ‘n Nama-soldaat met sy geweer. Enkele maande later siou die Namas self in ‘n oorlog met Duitsland gewikkel gewees het.
Holocaust1
‘n Groepie krygsgevangenes. Langsaan verskyn generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel.
holocaust2
Die joodse Holocaustmuseum in Kaapstad is ‘n moet vir elke denkende mens.

holocaust3

holocaust4
Dr Joseph Mengele links onder.
holocaust5
Diettrich Bonhoefer het met sy lewe betaal vir sy teenkanting van die Nazi’s.

Nadat ek gister by tannie Marge Luchtenstein van Rooyen gehoor het van hierdie museum kon ek nie wag om vanoggend daar uit te kom nie.

Die bitter ironie druk jou vas as jy in Hatfieldstraat 88 die knoppie druk en die sekuriteitsdeure gly vir jou oop om by die Joodse Slagting (Holocaust) Museum in Kaapstad in te stap. Alles aan jou word geskandeer en ek moe tmy Switserse Leër knipmessie agterlaat voordat ek deur die volgende deur kan gaan. Eers met my vertrek kan ek weer die messie in ontvangs neem. Onwillekeurig dink mens aan ses miljoen mense wat teen hulle wil saamgehok word en stelselmatig van hulle besittings, menswaardigheid en uiteindelik van die lewe self gestroop word.

Binne heers ’n vreemde, vriendelike hartseer. Orals is Jode en ander mense stilweg aan die gang. Groepe skoolkinders, netjies aangetrek beweeg geruisloos en oopmond, vol ongeloof oor wat hulle hier sien. Kan mense regtig so wreed wees, lees ek die vrae in hulle gesigte.

Die tannie agter die toonbank is 85 en baie vriendelik. Later praat ons lekker Afrikaans. Sy verlos my van my swaar kamerasak op my rug en beduie my na die uitstallingsaal.

Die heel eerste uitstalling is ’n plakkaat met foto’s en ’n kort verwysing na die Herero-oorlog en generaal Lothar Von Trotha se berugte uitwissingsbevel. Ek is grimmig bly, want dit bevestig een van die temas in “Die Keiservoël Oor Namaland,” dat die Jodeslagting van 1939-1945 eintlik in Duits-Suidwes-Afrika begin het, tydens die Nama en Herero-oorloë van 1904-1908.

Ek stap stadig deur die uitstalling en neem foto’s, maar later haas ek myself al meer. Hierdie wreedhede is oorweldigend. Mens weet daarvan, maar niks kan jou voorberei vir die gewetenloosheid, boosheid, en aakligheid van hierdie stelselmatige uitwissing van ’n groep gewone mense.

In “Die Keiservoël Oor Namaland” vertel ek van vader Laaf, Roomse priester van Lüderitzbucht se geringe poging om die destydse wreedhede op Haai-eiland teen te gaan, en ook van Griffiths, koerantman van die Cape Times se pogings om dit aan die lig te bring. Dietrich Bonhoeffer was nie so gelukkig om sy weerstand teen die Nazi’s 40 jaar later te oorleef nie.

In die biblioteek help die mense my gou en kom ek op wonderlike bronne af. Ek vind die bevestiging van baie van die bewerings wat ek en ander bronne maak, bewerings wat nie maklik getoets kan word deur ’n Google-soektog nie. In my hande hou ek ’n Engelse kopie van Hitler se Mein Kampf en ek sit vir ’n paar minute en blaai deur die bladsye. Later voel ek vuil.

Ek betaal twee rand vyftig vir my kopiëerafdrukke, groet en stap in die sonlig uit, dankbaar vir die son, my land, die wind, vryheid, en genade. Die wag oorhandig my messie en ek stap deur die Kompanjiestuine. Om my sien ek mense, party baie snaaks, selfs potensieel gevaarlike mense, maar hulle is mense. Ek sien die standbeelde van mense wat vir vryheid geveg het en kom uiteindelik by die parlement aan. Voor die gebou waar Julius weer een van die dae vir arme JZ gaan verniel staan die standbeeld van ou koningin Victoria, rustig en ongestoord. Oorkant haar, ’n ent weg, sit ’n swart vrou en voer die duiwe.

Later, in die restaurant op die Waterfront is daar baie mense, vanoor die hele wêreld, minder as vyf kilometer vanaf die museum in Hatfieldstraat.

Dag 58: “Ek is ‘n Suidwester”

DSC_5082.jpg
Ek en tannie Marge van Rooyen vanoggend in ‘n hetige Somerset-Wes

Ons kuier in die Kaap. Ek kon nie nalaat om tannie Marge Luctenstein te gaan besoek nie. Sy is die jongste dogter van Ernst en Regina Luchtenstein, twee van die hoofkarakters in “Die Keiservoël Oor Namaland,” wat in Maart verskyn.

Soos altyd het sy mooi stories vertel. Een daarvan het my hart warm gemaak vir redes wat my lesers mettertyd sal agterkom. Haar pa, Ernst was ‘n vermoënde man, Joods van afkoms, uit Pruise. Aan die einde van sy lewe het die rabbi hom besoek en gesê dat hy nie moet vergeet om iets vir die Joodse gemeenskap na te laat nie. Hy het geantwoord dat sy geld sal gaan aan die mense van Suidwes, want hy was in die eerste plek ‘n Suidwester, en in die tweede plek ‘n Jood.

Ernst se ma, Therese is vroeg oorlede en sy pa, Joseph was ‘n moeilike man. Hy is grootgemaak deur ‘n Skot, Robert McKay en sy Nama-vrou, Gertruida. Wie was Ernst Luchtenstein? Jood, Duitser, Skot, Nama, Suidwester? Lees die boek, een van die dae, om uit te vind.

Behalwe tannie Marge, leef twee susters, Therese en Ilse nog, maar albei is erg verswak. Hulle broer George Herbert, oftewel Tudi, en suster Bettie is reeds oorlede.