Dag 39: Die konsentrasiekamp op Aus in “Die Keiservoël oor Namaland”

Gister (Dag 38) het ek vertel hoe die Duitse krygsgevangenes op Aus self iets gedoen het aan die swak omstandighede en vir hulle netjiese huise gebou het.

Dit was nie al nie. Hierdie manne het hulleself besig gehou met sport, musiek, drama en briewe skryf. Hulle het so baie briewe geskryf dat die lui sensors (ou veteraan SA soldate) gekla het. Ironies.

Die krygsgevangenes het onder andere ‘n Sherlock Holmes drama opgevoer, ‘n blaasorkes bedryf, en selfs uitvoerings in Windhoek gaan hou en ‘n uitgebreide gimnastiekvertoning aangebied.

Toe die Duitse keiser verjaar het hulle ook ‘n netjiese monument ter ere van hom opgerig.

monument

Een van die mees merkwaardige verhale is die van sersant Lorenz Knapp wat eiehandig uit blik ‘n werkende klok gebou het en bo-op ‘n kloktoring aangebring het.

Sersant Knapp was een van die slagoffers van 1918 se griep.

Dag 38: Die konsentrasiekamp op Aus in “Die Keiservoël oor Namaland”

Die wakker leser sal vier konsentrasiekampe in “Die Keiservoël oor Namaland” besoek.

Die eerste een is net ‘n vlugtige verwysing na ‘n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boere-oorlog. Daarop volg die berugte konsentrasiekamp op Haai-eiland in Lüderitzbucht waar baie Namas en Hereros’s dood is. Die derde kamp is dan die een op Aus waar byna 2000 Duitse krygsgevangenes tydens die Eerste Wêreldoorlog aangehou is. Die vierde konsentrasiekamp(e) is dan weer slegs terloopse verwysings in die proloog en epiloog na die  kampe by Auschwitz en ander plekke waar miljoene Jode tussen 1939 en 1945 dood is.

Ek lewer nie direkte kommentaar nie, maar dit staan elke leser vry om sy eie beeld te vorm.

Vir die volgende paar dae wil ek in hierdie dagboek bietjie inligting oor die kamp in Aus, wat nie so direk in die teks staan nie, deel.

Na die oorgawe van die Duitse Weermag by Otavi in die verre noorde op 9 Julie 1915, voer die Uniemagte die Duitse krygsgevangenes na Aus in die suide per trein af. ‘n Paar honderd Duitse soldate wat al ‘n paar maande by Kimberley aangehou word kom ook per skip en trein via Lüderitz in Aus aan. Saam met laasgenoemde kom omtrent 600 ou, veteraan, SA soldate om as bewaarders op te tree.

Aus is bekend vir sy uiterste weerpatrone. Die terrein bied geen skuiling en die Duitse krygsgevangenes murmureer, want geen ordentlike Duitser sal lank in ‘n weermag klokkiestent wil bly nie. Hulle begin vir hulleself huisies bou. Hulle maak duisende ongebrande bakstene en bou in wat so half en half spottenderwys die Aus-kamp styl genoem word, vir hulleself gerieflike huisies. Hulle bring gewels en netjiese friese aan. Aanvanklik gebruik hulle die tentseile vir dakmateriaal, maar algaande timmer hulle leë paraffien-, konfyt- en boeliebiefblikke aanmekaar en vervang die seil met hierdie blikdakkies.

Hulle bewaarders, die ou Suid-Afrikaners, is ‘n lui klomp. Hulle bly maar in die tente. Wat sê dit nou eintlik vir ons?

 

Bron: Prisoner of War Camp Aus 1915-1919 Johann Bruwer, Namibian Scientific Society, 1985

Dag 37: Die Misgaarder in “Die Keiservoël oor Namaland”

Een van die mindere karakters in my boek is David Radford. In die boek sê hy net enkele sinne en roei sy bootjie vol guano vanaf die eiland na die strand toe. Verder verskaf hy onderdak aan die drie Duitsers, Vogelsang, Francke en Wagner wat deur Adolph Lüderitz gestuur is om grond te koop by Josef Fredericks. Dit is al wat hy doen in die boek, maar in werklikheid het hy ‘n kleurryke lewe gelei wat eintlik sy eie boek verdien. Die Namibiese Wetenskaplike Vereniging het in 2009 ‘n artikel deur Andreas en Peter Vogt in Volume 57 van hulle tydskrif gepubliseer.

RadfordhuisRadford

Ek het hom gedoop of benaam met my eie woord, een van ‘n paar wat ek myself in die boek veroorloof het. Ek noem hom in die taal van die Namas die “misgaarder.” Vir die Namas moes dit seker vreemd gewees het om iemand te sien wat voëlmis bymekaar maak en ek het myself verbeel dat dit die soort term was waarmee hulle hom sou beskryf.

Die regte David Radford is in 1834 in Colchester in die graafskap Essex in Engeland gebore. Hy het in 1860 in Angra Pequena, vandag se Lüderitz aangekom as werknemer of miskien assosiaat/vennoot van die firma DePass en Spence. Hy het by die destydse Nama kaptein van Bethanië, David Christiaan, (voor die tyd van die Frederickse) in ‘n mondelinge kontrak die “eiendomsreg” van Lüderitz, of dan ten minste Radfordbaai, na hom vernoem, verkry.

Radford het in ‘n gehuggie op die strand gebly (sien foto) en ‘n lewe gemaak uit visvang, robbe jag, guano bymekaarmaak en handel dryf. In my boek verwys ek na die “twee walvisbene wat soos verwelkomingsboë voor sy huis staan” en “Cornelius Fredericks wat dink aan Jona in die walvis se maag.” Hierdie foto het my verbeelding op loop gesit.

Hou in gedagte dat vandag se Lüderitz so klein is dat ek min mense ken wat daar sal oorleef. Dink net hoe dit vir Radford moes wees om op daardie verlate stukkie strand te bly. In 1878 het hy in die Kaap gaan kuier en met ‘n mej. Powell getrou. Hy het haar teruggebring  Angra Pequena (Lüderitz) toe en daar het hulle agt kinders gehad. Hulle was aanvanklik die enigste blanke inwoners van daardie windverwaaide klein plekkie, maar baie gelukkig.

Die Amerikaanse burgeroorlog het ‘n snaakse verbintenis met Radford en die dorpie Lüderitz. Op daardie stadium het ‘n vennoot en vriend van hom, ene Griffiths, ook daar gewoon. ‘n Kruiser, die Alabama, van die Konfederasie, (suidelike state van die VSA) het in die baai kom skuil nadat hulle deur die Vanderbilt, oorlogskip van die Yankees verjaag is. Griffiths het een of ander klein transaksie met die kaptein van die Alabama aangegaan en daarvoor het die eerste offisier van die Vanderbilt hom wat Griffiths is summier doodgeskiet. Dit sou nie die eerste of laaste betrokkenheid van Lüderitz by ander groot oorloë wees nie.

Dit is verstommend dat Radford en sy gesin so lank op Angra Pequena/Lüderitz kon bly. Onthou daar is geen natuurlike water nie. Dit is op rekord dat hy water by verbygaande skepe geruil het vir volstruisvere.

In 1883 en 1884 koop Adolph Lüderitz die grond wat uiteindelik die hele Namaland sou insluit, by Joseph Fredericks. Hiermee was Radford nie tevrede nie. Hy het die saak uiteindelik tot in Berlyn gaan beveg en is wel daarvoor gekompenseer. Daar word vandag nog na die “Radfordproses” verwys. Die baai waar hy gewoon het staan vandag nog bekend as Radfordbaai.

Ek is nie die eerste persoon wat kom as karakter in ‘n roman gebruik nie. Die outeur, Hans Grimm beskryf in sy boek, “Volk ohne Raum” hoe die hoofkarakter, Cornelius Friebott vir ene Redford (sic) in Lüderitz ontmoet.

David Radford is in 1913 op sy plaas naby Bethanië oorlede.

Dag 36: “Die Keiservoël oor Namaland” Konflik in Bethanië

Wanneer mens ‘n roman oor ware gebeure in die geskiedenis skryf, loop jy noodwendig die gevaar om op tone te trap. Jy neem ‘n standpunt in, maar is jy reg? Daar is altyd ‘n ander kant. So was dit ook met die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.” Dit was op einste Bethanië waar ek diep bewus geraak het van die storie van die “ander kant.”

Eerstens moet ek sê dat ek juis probeer het om vir ‘n slag die storie van die “ander, ander kant” te vertel. Oorlog is nooit mooi nie, en die Nama-oorlog van 1904-1908 was geen uitsondering nie. Dit het uiteindelik neerslag gevind in wrede eksperimente en navorsing op Haai-eiland in Lüderitz en jare later in Hitler se volksmoord op die Jode. Ten tye van hierdie Nama-oorlog was daar goed gedokumenteerde  insidente waar die Namas met eer en waardigheid teenoor hulle vyande se vroue en kinders opgetree het, onder andere teenoor die Luchtensteins. Dit was die storie wat ek wou vertel. Dit het die gevaar geskep dat ek die Namas sou ophemel en die Duitsers sou beswadder, wat ook nie die volle waarheid sou wees nie. Ek wou net by die waarheid uitkom.

Bethanië is klein en daar is baie min om te doen, maar die gastehuis, die oudste hotel in Namibië, is ‘n heerlike oase waar ek die heel koudste Windhoek Lager ooit gedrink het, lekker wildsbiefstuk geëet het, en diep gedink het.

Soos mens maak in Namibië raak ek incognito aan die gesels met die eienaar van die gastehuis. Sy vertel my baie heftig en driftig hoe Witbooi haar voorvaders, die Smitte, uitgemoor het. Sy wys my ook die koerantuitknipsel wat vertel hoedat die een oorlewende, ene Dirk Smit, as klein seuntjie, ontkom het aan die wrede moordenaars. Dit is honderd jaar later, maar ek bespeur dieselfde emosies by haar wat vandag nog loop in sekere Boere-kringe oor die “verdomde Ingilse.”

koerantberig

Sy wys vir my die netjiese uitstalling van tonteldose, Bybels en Psalmboeke, stiebeuels en ander goed wat die vrouens van die vermoorde manne maande later by die plaasopstal kom optel het.

artefakteuitstalling

By die lees van die berig, deur die bekende Jan Spies, van Spies en Plessis-faam, kon ek nie anders as om te wonder oor die akkuraatheid van die inligting nie. Spies se opsomming van die oorsake van die Nama-oorlog is simplisties ten beste en verkeerd, ten slegste. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Hendrik Witbooi persoonlik by hierdie moorde betrokke was. Dit het my net meer vasbeslote gemaak om my verhaal die lig te laat sien.

Wat ek nie kon verstaan is hoekom die Namas hierdie mans, burgerlikes wat nie Duitsers was nie, dan vermoor het. Die antwoorde, dink ek het ek net daar teen die muur gekry.

Eerstens, die insident het plaasgevind reg aan die begin van die uitbreek van die oorlog. Dit is bekend dat die Namas aanvanklik wyd geroof en gemoor het, tot Hendrik Witbooi se ergernis. Die Smitmoorde het op 10 Oktober 1904 plaasgevind, enkele dae na Witbooi se oorlogsverklaring. Daarna sou dit nie weer op groot skaal gebeur nie.

Tweedens, op die een foto staan die drie Smitte, netjies uitgedos in militêre uniforms. Hoekom? Was hulle nie soldate, miskien in die reserwemag nie? Het dit hulle nie juis wettige teikens in ‘n oorlog gemaak nie.

Smitbroers

Wat wel onverskoonbaar is, is die moord op die seuntjies, maar dit onderstreep ook op snaakse wyse die menslikheid van die Namas wat ten minste die vrouens en dogtertjies laat wegkom het.

Oorlog is altyd verkeerd.

Dag 35: Bethanië in “Die Keiservoël in Namaland,” Die Fredericks dinastie

Die Namas het in die suide van Namibië, voorheen Suidwes-Afrika, voorheen Duits-Suidwes-Afrika gewoon en woon steeds daar. Voor die Duitse tydperk het hierdie suidelike streek bekend gestaan as Namaland. Daar was verskeie stamme, onder andere Hendrik Witbooi van Gibeon se Khowesin, die Bondelswarts van Warmbad, die Topnaars van Walvisbaai en omstreke, en dan ook die !Aman van Bethanië, onder die Frederickse.

Josef Fredericks, of soos hy ook in Nama genoem was, !Korebeb//Naixab, was die leier in 1883. Sy huis staan vandag nog daar, digby die kerk en die sendelinge se huis, die Schmelen-huis (Sien Dag 33).

Fredericks-huis Josef_Fredericks

Die Fredericks huis, links, en regs, Josef Fredericks.

Dit was presies hier wat hy, Josef Fredericks, in twee transaksies die dokumente onderteken het waarvolgens hy Angra Pequena, vandag se Lüderitz, en ‘n kusstrook plus nog 25 geografiese myl binneland toe aan Adolph Lüderitz verkoop het. Min het Fredericks geweet dat ‘n geografiese myl gelyk is aan 4,6 Engelse myl. In ‘n brief wat vandag nog in die Namibiese argiewe bewaar word, skryf Adolph Lüderitz aan Heinrich Vogelsang dat dit beter is om “die Namas se wanpersepsie te laat voortleef.”

In terme van die transaksies het plekke soos Bethanië skielik aan Lüderitz behoort. Dit was die begin van die einde. Na Josef se dood het Cornelius Fredericks die leisels oorgeneem.

Dag 34: Bethanië in “Die Keiservoël oor Namaland” Die Sendelinge

Bethanië is ‘n baie klein nedersetting, oënskynlik nutteloos, maar die dorp dra swaar aan simboliek.

Behalwe vir Warmbad in die verre suide was dit een van die eerste vastrapplekke van die Duitse sendelinge. Eers was daar eerwaarde Schmelen, wat in Bethanië kom probeer het. Hy het selfs met ‘n Nama, Zara, getrou. Aanvanklik was sy oogmerke baie suiwer, of onsuiwer. Dit hang net af hoe jy daarna kyk. Schmelen was naamlik bang om alleen met enige vrou te verkeer, want hy wou nie aanstoot gee nie. Toe trou hy maar met Zara. Sy het hom gehelp om dele van die Bybel en die kategismus in Nama te vertaal.

Uiteindelik het die Oorlams Afrikaners van Bethanië moeg geword vir die sendeling en het hy Bethanië verlaat. Zara is dood en toe trou hy met ‘n boorling van die Kaap, ene nooi Bam. In haar voorgeslagte was daar ‘n slaaf, ene Catharina van de Caab. Sy het ook broers gehad en een van hulle was Johannes Heinrich Bam. Hy het jare na Schmelen sendeling op Bethanië geword en ‘n eeu en ‘n half later het hy ook ‘n karakter in my boek geword. Let daarop dat Schmelen met ‘n gekleurde getrou het en dat Bam self gekleurd was vanweë sy Catharina van de Caab bloed. Dit sou Bam probleme gee om gelegitimeer te word

Eerwaarde of pastoor Bam was teenwoordig toe Vogelsang die gewraakte ooreenkoms met Josef Fredericks onderteken het. Hierdie ooreenkoms was uiteindelik die doodsteek van die Namas. In terme van die ooreenkoms het Adolph Lüderitz Angra Pequena (vandag se Lüderitz) by Fredericks gekoop. Sonder daardie baai, later ‘n hawe, in die Schutztruppe se hande sou dit gesukkel het om Namaland militêr te verower.

Bam se rol word op verskillende wyses vertolk. Sommiges wil dit hê dat hy heimlik met Vogelsang, Lüderitz se agent, saamgewerk het. Ander dink dat hy dalk probeer keer het. Ek het laasgenoemde rol vir hom gekies.

Bam_grafDie bekende tweetoringkerk op Bethanië is in 1860 onder leiding van eerwaarde Kreft opgerig. Vandag is die kerk leeg. Al wat binne is is ‘n kateder en ‘n stukkende orrel. Dit het baie emosies by my ontketen om die orrel te sien want ek het die transaksie beskryf teen die agtergrond van die kerk, kompleet met die “trapmesiek” (Nama-Afrikaans vir traporrel) op sy plek.kerk_Bethaniekerk_binne

Daar is baie interpretasies vir die val van Namaland. Een daarvan is die ironie dat die sendelinge onbewustelik die versoekings van die Westerse beskawings aan die Namas bekendgestel het, terwyl hulle veronderstel was om die teenoorgestelde te doen. Iets hiervan vertel Andre P Brink ook in Bidsprinkaan.

Dag 33: Bethanië in “Die Keiservoël oor Namaland” Die Schmelenhaus

Vanoggend het ek met groot heimweë na Ontbytsake op Kyknet gekyk . Die program is gewy aan Namibië en die bekende egpaar, Rudi en Marlice van Vuuren, hulle van N/a’an ku sê  en die VW jagluiperd-advertensie faam was die gaste. Marlice het die aanbieder, Eloise Cupido, in trane gehad met haar deernis oor die Boesmans. Marlice het vertel hoe onderdaning en vertrap die Boesmans is, hoe sy en haar twee seuns die Boesmans se taal praat, omdat hulle die Boesmans wil help en hulle kultuur wil beskerm.

Iets daarvan het my gedryf om “Die Keiservoël oor Namaland” te skryf, maar in my geval gaan dit oor die Namas se taal en kultuur, en uiteindelik oor my eie Afrikaanse taal en kultuur. Die parallelle is ontstellend, om die minste te sê. (Ek het wel een Boesman karakter, ou !Xam gebruik om die ooreenkoms en verskille tussen die Khoi-San (Boesmans) en Khoi-Khoin aan te dui.)

Ek weet dit is nie baie gewild onder sekere ou Suidwesters om met deernis oor die Namas te praat nie, maar ek kan nie anders nie. Hierdie volk is besig om dieselfde pad as die Boesmans te loop. En as ons Afrikaners nie oppas nie, is ons volgende. Ek is deeglik bewus dat daar “‘n ander kant” van die verhaal is, maar daardie kant is al effens holrug. Ek sal later iets daarvan vertel, want op Bethanië is ek juis daarmee gekonfronteer.

Bethanië is ‘n klein gehuggie, ‘n nietige plekkie, “waar Goliat begrawe lê,” soos die Namas sê, wat nie ‘n tweede kyk werd is nie, wil mens dink. Tog is dit die plek waar dit alles op ‘n manier begin het.

By Goageb draai mens noord en na ‘n halfuur se ry sien jy die plek. Aanwysings is nie belangrik nie, want die bietjie wat daar is, is alles bymekaar. In die strate lê en staan ‘n paar dosyn Namas rond. Daar is nie werk in Bethanië nie, want die enigste bedrywigheid is die gastehuis.

Bethanië se eerste aanspraak op roem is die feit dat die dorp die oudste gebou in Namibië huisves. Hierdie eer behoort volgens ingeligtes aan die einste gastehuis, maar miskien is hulle verkeerd. Die bekende Schmelen Haus is in 1814 opgerig as Schmelen Schmelen2woonplek vir die sendeling, eerwaarde Schmelen. Tydens my besoek was die huis gesluit, maar ek kon rondom die gebou stap.

Bethanië was en is die tuiste van die !Aman stam van die Namas, onder die leierskap van die Fredericks-dinastie. Een verkeerde besluit deur !Korebeb//Naixab, Josef Fredericks, in 1883, was die begin van die einde. 

Dag 32: Die ander skildery van die Karasberge

Karasberge-skildery-2

Soos ek in Dag 31 geskryf het, het Ernst Luchtenstein vir Johann Blatt opdrag gegee om twee skilderye te maak. In die vorige inskrywing het ek die een skildery wat tans in Bethal, Mpumalanga hang gewys.

Hierbo is die ander skildery. Hierdie skildery se ligging/posisie is aan my bekend, maar die eienaar wil nie hê dat dit wêreldkundig moet wees nie.

In elk geval die verhaal van die twee skilderye is dat dit tonele op die plaas Kraaikloof (Kraaikluft) uitbeeld; die een (Dag 31) is die uitsig op die plaashuis en die een hierbo is die uitsig vanaf die plaashuis.

Dit is in hierdie geweste wat Ernst Luchtenstein  vir agtien maande weggekruip het vir Louis Botha se Uniemagte, tydens die Eerste Wêreldoorlog. Gedurende hierdie tydperk het hy die veld baie intiem leer ken, en gesien waar reën dit dikwels en waar nie. Met hierdie kennis het hy na die oorlog baie oordeelkundig grond gekoop en suksesvol begin boer.

My dagboekskrywery moes die afgelope paar dae plek maak vir werk aan “Die Keiservoël oor Namaland.” Ek het hard gewerk om die 49 illustrasies en vier kaarte persklaar te kry. Nou lê die agterblad nog voor. Die voorblad is amper reg. Hou hierdie spasie dop. 😄

Dag 31: “Die Keiservoël oor Namaland,” ‘n Skildery en ‘n sterfbed

In een van die enkele artikels oor Ernst Luchtenstein wat ek kon opspoor vertel hy hoe hy, naby aan die einde van sy lewe, in sy huis in Seepunt na ‘n skildery sit en staar het.

Blatt1

Hierdie skildery is een van twee wat die bekende skilder Johann Blatt spesiaal vir hom geskilder het. Dit is ‘n toneel van een van Ernst se plase in die Karasberge, Kraaikluft, en in die agtergrond is die bekende Lordheuwel waar Ernst vir 18 maande tydens die Eerste Wêreldoorlog vir die Uniemagte weggekruip het en van die veld geleef het. Dit is ook daar waar hy die luiperd met ‘n kierie doodgeslaan het.

Ek het die voorreg gehad om hierdie skildery te besigtig tydens my besoek aan oom Tudi en tannie Annatjie Luchtenstein, soos ek gister vertel het.

Tudi

Dit is na hierdie skildery wat Ernst in Seepunt gestaar het toe hy naby sy einde was, en met ‘n sug vir Regina gevra het, “Kan ons nie maar huistoe gaan nie?” Net daar het sy geantwoord dat dit goed is. Hulle is terug Suidwes toe waar hy kort daarna oorlede is.

In Maart vanjaar het ek by oom Tudi en tannie Annatjie se dogter, Antoinette, die laaste Luchtenstein-nasaat in Namibië op hulle plaas op die Gamib-pan noord van Aroab, gekuier. Toe vertel sy my dat haar pa ook na sy heimat teruggekeer kort voor sy dood. Soos sy pa voor hom het hy verkies om nie in die vreemde te sterf nie.

Die skildery hang nog in tannie Annatjie se huis in Bethal, Mpumalanga.

Dag 30: Tudi Luchtenstein, seun van Ernst van “Die Keiservoël oor Namaland.”

Nadat ek vir oom Dennis en tannie Marge van Rooyen, dogter van Ernst en Regina Luchtenstein, in Somerset Wes gaan kuier het, was dit maklik om by haar broer, George Herbert (Tudi) Luchtenstein uit te kom. Vroeër was hy nie gemaklik om met my te praat nie, want het hy gesê, sy pa het toe hy nog gelewe het nooit publisiteit gesoek nie. Tannie Marge het ‘n goeie woordjie vir my gedoen en ek het die pad vol slaggate Bethal toe gevat.

Dit was ‘n vreemde gewaarwording om oom Tudi , sy ouers se enigste seun, te ontmoet. Hy en sy vrou tannie Annatjie het by hulle dogter gewoon. Ek was verbaas om te hoor dat sy met ‘n ou kennis van my getroud was.

Tudi

Weereens het ek lekker gekuier en is bederf met ‘n heerlike bord boerekos. En die stories het nie uitgebly nie. Tannie Annatjie het ‘n lêer met koerantuitknipsels, almal ouer as 50 jaar, opgediep. Een van die uitknipsels het die verhaal vertel wat ek toe al ‘n paar maal uit verskillende oorde gehoor het, die storie van Namaland se vlieënde slang, soos vertel deur die ooggetuie Ampie Esterhuizen. Dit sou my die moed van my oortuiging gee om hierdie mitologie deeglik te ontgin en in my verhaal in te weef.

Daar was ook baie ander stories, die meeste wat ek nie sou gebruik nie, maar dit het my ‘n dieper insig in die karakters, Ernst en Regina Luchtenstein gegee. Ek het ook onder andere gehoor dat oom Tudi langs Manie Maritz geboer het en dat die Luchtensteins die eerste boere was wat Brahmane na Suidwes-Afrika toe gebring het.

Teen die muur het ‘n skildery gehang. Hierdie skildery was een van twee wat saam hulle eie diep storie het. Daarvan vertel ek graag volgende keer.