Dag 91: Gesprek met Kaptein David Fredericks van Bethanië

Die geskiedenis van die Nama-oorlog waarteen “Die Keiservoël Oor Namaland”  afspeel, is in newels gehul, omdat die Namas self baie min geskrewe dokumente daaroor nagelaat het. Die verhaal is dus slegs uit die Duitse perspektief vertel.

Twee weke gelede het ek die voorreg gehad om met ’n belangrike bron, kaptein David Fredericks, leier van die !Aman op sy tuisdorp, Bethanië te gesels. Dit het nuwe insigte gebring, ou kennis bevestig en my laat besef dat die tyd min raak om mense soos oom David se kennis op te teken.

Kaptein

Oom David is gebore op 14 September 1932. Sy oupa Timotheus was die broer van Cornelius, een van die twee hoofkarakters in my boek wat wreed tot sy einde gekom het op Haai-eiland in Lüderitz se baai. As kind het oom David gereeld na die stories van die ou mense geluister en hy kan met groot gesag oor die oorlog gesels. Ek het ’n kort video van sy vertellings gemaak. Dit kan op Youtube by https://youtu.be/yDuSxEHTDO8 besigtig word.

Hy vertel dat die waarheid oor Cornelius se gevangesetting wat ek doelbewus anders in die boek geskets het, steeds ’n sensitiewe saak is, omdat dit onmin in die gemeenskap kan veroorsaak. Kortliks is Cornelius in ’n lokval gelei met kastige praatjies oor vrede. Cornelius het in goedertrou na die samesprekinge gegaan terwyl sommige van sy mense omgedraai het en na Suid-Afrika gevlug het. Só kon hulle jare later vertel wat gebeur het.

Dit is volgens kaptein Fredericks inderdaad so dat Cornelius op Haai-eiland vergiftig is en hy bevestig ook dat daar honderde indien nie duisende Namas op Haai-eiland dood is.

Aan die ligter kant vertel hy ook hoedat oupa Timoteus so opgewonde kon raak wanneer hy vertel het van Cornelius se skiet- en vegopleiding. Cornelius se strategie was verrassing en hy het altyd probeer dat sy troepe die indruk van groot getalle skep. Hy het sy manne gedril totdat hy tevrede was.

Cornelius het daarvan gehou om die Duitse verkenners by die watergate voor te lê en dan dood te skiet en hulle ammunisie te buit.

Edward Fredericks, ’n familieliden transportryer wat ook op Haai-eiland aangehou is,  is deur die Duitsers vertrou, min wetende dat hy wat Edward was, boekgehou het van elke sterfte. Nietemin is oom David oortuig daarvan dat die getal sterftes grootliks onderskat word.

Oom David bevestig ook die belangrike inligting dat Cornelius wel saam met Witbooi, sy skoonpa, in die Herero-oorlog aan die kant van die Duitsers geveg het. Dit bly besonder insiggewend dat Hendrik Witbooi twee maande na die Herero-oorlog self oorlog teen Duitsland verklaar het.

Kaptein Fredericks staan aan die spits van ’n internasionale hofsaak teen Duitsland waarin reparasie ge-eis word. Hy reken die enigste oplossing is die herstel van grondregte, met behoud van huurpag vir die huidige eienaars.