Dag 82: Die Keiservoël-Terug by die begin.

Gister was ‘n lekker dag. Sedert “Die Keiservoël Oor Namaland” gepubliseer is het ek al daarna uitgesien om weer by tannie Marge van Rooyen, dogter van Ernst Luchtenstein, die hoofkarakter, te gaan kuier. Sonder haar insette sou ek nooit kon verstaan wie hy regtig was nie.

MargevR

Ek het vroeër reeds vir tannie Marge ‘n boek gestuur, maar sy was lig “verontwaardig”  omdat ek dit nie geteken het nie. (Ek dink dit is bietjie voorbarig om ‘n boek te teken as iemand jou nie vra nie.) Gister het ek die geleentheid gehad om hierdie “foutjie” te gaan regstel, daar in Somerset-Wes waar sy woon.

Die storie het ‘n lang intrede. Ek het in 2007 begin skryf aan die merkwaardige verhaal van Ernst Luchtenstein, die jong seun wat in 1906, midde in die Nama-oorlog, by Lüderitz, Duits-Suidwes-Afrika, saam met sy gesin voet aan wal gesit het. Hy het ‘n ryk lewe gehad en ‘n reuse nalatenskap gelaat, maar ek het baie lank gesukkel om sy kinders op te spoor. Eendag het ek op my stoep gesit en skryf toe ‘n kennis verby stap en al die papiere sien. Hy vra toe nuuskierig waarmee ek besig was. Toe hy die naam “Luchtenstein” hoor rek sy oë. “Maar ons het langs hulle gebly in die Kaap!” roep hy uit. (Ernst en Regina Luchtenstein het later jare Kaap toe getrek, maar steeds groot belange in Suidwes-Afrika gehad.)

Op die manier het ek kontak gemaak met tannie Marge en oom Dennis van Rooyen en ek het spesiaal Kaap toe gevlieg om hulle te gaan besoek. Dit was die eerste van vele kuiertjies. Tannie Marge het my dosyne staaltjies vertel en ek kon stadig maar seker ‘n idee van die karakter van haar merkwaardige pa, die pionier Ernst Luchtenstein, vorm. Ongelukkig is oom Dennis ‘n paar jaar gelede oorlede voordat hy die finale produk kon sien.

Gister het ek gou by tannie Marge gaan kuier en haar boek geteken. Sy vertel my dat sy die boek 11 uur een oggend gekry het, huistoe gegaan het, en begin lees het. Drie-uur die volgende oggend het sy die laaste bladsy klaar gelees. Dit was ‘n reuse osriem onder my hart.

“Die Keiservoël Oor Namaland” kan bestel word by bestellings@kaiserbird.com Die koste is R400 wat koerierkoste binne Suid Afrika insluit. Die gewone poskantoor is te onbetroubaar. Die boek is ook by Graffiti Boekwinkel en alle toonaangewende boekwinkels in Namibië beskikbaar.