Dag 87: Die Keiservoël In Namaland

Oorhandiging aan Namas

Gister het die Keiservoël in Namaland neergestryk. Die geleentheid was iets waaroor ek baie jare gedroom het. Ek het hierdie Afrikaanse boek waaraan ek so lank gewerk het oorhandig aan die mense vir wie dit só belangrik is.

Danksy my uitgewer, Cordis Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Lithon Stigting kon ek 400 eksemplare van die boek aan die goewerneur van die Hardapstreek, haar edele Esme Isaacs, skenk. Die boek sal só sy weg vind na die skole, biblioteke, kerke en kantore van die mense van die suide van Namibië, vir wie ek so lief is.

oorhandiging

Die geleentheid het my oorweldig. Ek het lanklaas soveel passie, afwagting, dankbaarheid, en liefde ervaar. Ek kan eintlik nog ’n boek oor gister se gebeure skryf. Die teenwoordiges het ingesluit die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke, lede van die parlement, burgemeesters, tradisionele leiers, raadslede, geestelikes, amptenare en lede van die gemeenskap.

Ons is vermaak met wonderlike kulturele danse soos die Namastap en my vrou Ingrid en Marsia Reed van die Lithon Stigting het pragtige handvervaardigde geskenke ontvang.

 

Die geleentheid het plaasgevind teen die agtergrond van die huidige debat oor die volkslagting van 1904-1908 waaroor ek in die boek vertel. Juis gister het NBC se agtuur nuus berig dat die Nama- en Herero-afvaardigings uit die samesprekings met die Duitse afvaardiging uitgestap het. Na gister se seremonie verstaan ek baie goed hoekom hulle dit gedoen het. Duitsland wil vergoed vir hulle oortredings van destyds, maar hulle verstaan nie dat hulle eers na die regte mense moet luister nie. Een van hulle was by die oorhandiging en ek beskou myself as uiters bevoorreg om hom persoonlik te kon ontmoet. Hy is kaptein David Fredericks van Bethanië. Hy is ’n unieke bron van inligting, maar ook reeds provaat. Ek hoop om binnekort ’n baie lang gesprek met hom te voer.

Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs het toesprake gelewer. Deurgaans was die klem op die belang van onderwys en opvoeding, lees en kulturele trots.

Ek waag dit om dit te sê dat dit die eerste keer was wat ’n boek in Afrikaans verskyn het wat erkenning gee aan die geskiedenis en kultuur van die Namas, en dan veral aan die onregte wat teen hulle gepleeg is. Na die tyd moes ek baie boeke teken en het die Namas my persoonlik kom bedank. Hulle opregte dankbaarheid het my verskeie kere bewoë gelaat.

Ek glo onwrikbaar dat die Namas en die ander mense van Namibië Afrikaans se beste bondgenoot is. Ons moet aanhou om Afrikaanse projekte in Namibië te ondersteun. Die tyd loop uit.

Die geleentheid is deur die NBC verfilm en sal moontlik vanaand op hulle nuusprogram gebeeldsend word.

Ek plaas hieronder die volledige teks van my toespraak:

Baie dankie vir die uitnodiging om vandag hier te wees. Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg.
Die geskiedenis van die Namavolk en die Hereros is iets wat my die afgelope tien jaar betower. Soos so baie ander mense het ek tien jaar gelede niks daarvan geweet nie. Vandag is dit anders. Ek is vandag hier om ‘n boek wat ek oor die onderwerp geskryf het bekend te stel en aan julle, die mense van Namibië, te oorhandig. Die boek se titel is Die Keiservoël Oor Namaland. Die titel skree dadelik twee vrae: Wat is ‘n keiservoël en waar is Namaland? Wel, ‘n keiservoël is die rooiborslaksman en die naam keiservoël verwys na die ou kleure van die Duitse vlag, rooi en swart, en daarom is die ander naam van die rooiborslaksman dan ook die Duitse vlag. Hierdie ou name kom albei voor in die woordeboeke en dit is uniek tot die Namas. Met ander woorde, dit is die kontreitaal, kontreiname van die rooiborslaksman, soos julle mense dit gebruik. Ook die ou Duitsers het van der Reichsvogel gepraat as hulle ‘n rooiborslaksman sien.
Wat van Namaland? Waar is dit? Dit is presies hier waar ons vandag is, Van min of meer hiervandaan en verder suid, tot teen die Garieprivier. In die ou dae, voor 1883, het hierdie wêreld aan die Namavolk behoort. Maar een fout het hulle hierdie land gekos. Een verkeerde besluit het veroorsaak dat die Namas hulle grond verloor het. Dit is die storie van my boek en ek sal nou vertel wat gebeur het.
Ek het letterlik meer as agt jaar aan hierdie boek gewerk en baie mense vra my hoekom. Hoekom het jy dit gedoen? Ek wil vandag probeer om daardie vraag te antwoord.
Eintlik is dit maklik: dit is omdat ek lief is vir julle, die mense van hierdie land. My navorsing het my op baie paadjies laat loop. Ek was byvoorbeeld in 2010 vyf keer in Lüderitz om navorsing te doen. Ek was male sonder tal in Windhoek. Ek het in die argiewe gaan rondkrap en in die biblioteke. Uiteindelik het ek op ‘n ongelooflike en unieke verhaal afgekom, een wat tot vandag oor die hele wêreld ‘n belangrike invloed uitgeoefen het. Julle dink miskien dat plekke sos Maltahöhe, Keetmanshoop, Lüderitz, Aus en Bethanië klein onbelangrike plekkies is, plekkies wat sommer maar net bestaan, maar dit is nie waar nie. Meer as honderd jaar gelede het daar goed hier gebeur wat tot vandag toe uiters belangrik is.
Kom ek noem net eers een ding. In 1906 is daar wrede eksperimente op die Nama krygsgevangenes op Haai eiland in Lüderitz se hawe gedoen deur ‘n Duitse dokter. Uiteindelik het hy boeke geskryf waarin hy gesê het dat die Namas ‘n minderwaardige ras is. Dit het beteken dat hy gereken het dat dit nie verkeerd is om sy wrede eksperimente te doen nie. Hy het onder andere die krygsgevangenes se koppe afgesny en vir hulle vrouens gegee om skoon te maak. Hierdie skedels het hulle Duitsland toe gestuur en daar verdere navorsing gedoen. Die meeste van daardie skedels is vandag nog daar. Duitsland het vanjaar erken dat dit ‘n fout was.
Die belangrike ding is dat hierdie dokter se werk die begin was van wat 33 jaar later die sogenaamde Jodeslagting of Holocaust sou wees. Ses miljoen Jode is wreed vermoor. En dit het alles op Haai eiland, Shark Island in Lüderitzbaai begin.
Maar kom ons gaan net eers terug na die begin. Hoe het dit alles gebeur? Hoekom? En wat was die fout wat die Namas gemaak het? Wat het hulle verkeerd gedoen? Dit is die storie van Die Keiservoël Oor Namaland.
Op ‘n dag in 1883 het drie Duitse manne wat vir ‘n ryk handelaar Adolph Lüderitz gewerk het by kaptein Joseph Fredericks op Bethanië aangekom. Hulle wou grond koop by kaptein Fredericks. Hulle wou net Lüderitz koop met nog vyf myl rondom Lüderitz. ‘n Paar maande later was hulle terug. Hulle wou nog 25 myl se grond hê. Ook hierdie keer het kaptein Fredericks die papier geteken, maar op die papier het iets gestaan wat hy nie geken het nie. Die woord was geografiese myl. Kaptein Fredericks het 30 geografiese myl se grond verkoop, maar hy het nie geweet wat dit is nie. Ek ook nie, totdat ek dit gaan bestudeer het. ‘n Geografiese myl is baie baie groter as ‘n gewone myl, ses keer groter. Dit het beteken dat kaptein Fredericks eintlik al sy grond verkoop het, vir ‘n appel en ‘n ei. Hy was baie kwaad maar toe was dit te laat. Hy het alles wat hy gehad het verloor omdat hy een woord nie geken het nie.
Ek is vandag hier omdat ek vir julle 400 boeke wil persent gee. Die Keiservoël Oor Namaland is die verhaal van hierdie bedrogspul, die Herero oorlog, die Nama oorlog en die uiteindelike oorname deur SA.
Hierdie boek vertel die storie van die Herero helde en die Nama helde, van Hendrik Witbooi, Cornelius Fredericks, Simon Koper, Abraham Morris, Jakob Morenga en ander. Ek wil hê dat die mense van hierdie land moet lees van hulle eie helde, mense wat baie opgeoffer het, eintlik alles verloor het. Ek wil hê julle moet trots wees op julle helde, julle moet hulle nagedagtenis vereer, julle moet trots wes op julle kultuur, julle taal en julle Afrikaans. Bo alles wil ek hê julle moet lees. Om te lees is om mag te hê. Om woorde te ken maak jou sterk. Lees elke dag ‘n paar bladsye, vir die res van jou lewe, want dit maak jou sterk en slim. As kaptein Fredericks geweet het wat daardie een woord beteken, dan was hierdie wêreld dalk vandag nog steeds Namaland.

In die Bybel lees ons in Spreuke 12:14 “‘n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik, of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen.” Daar is niks mee fout om met jou hande te werk nie. Dit is goed en reg so, maar my boodskap vandag hier aan julle is dat woorde altyd vir jou ‘n pad kan oopkap. Ek pleit by julle, lees elke dag iets en leer dit vir julle kinders. Deur te lees brei jy jou woordeskat en jou kennis uit. Daardeur word jy sterk en voorspoedig. Lekker lees!

Dag 86: Die Keiservoël En Hemingways

cuanelgin
Cuan Elgin, skrywer van Bulala, links, en die uwe regs. Ons staan in Hemingway’s, bekende boekwinkel in Hermanus, waar ek jare gelede op “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” afgekom het. Hierdie boekie het ‘n groot rol in my navorsing gespeel.

Op ’n dag, ’n paar maande nadat ek aan “Die Keiservoël Oor Namaland” begin skryf het, drentel ek in een van my gunsteling boekwinkels in die wêreld, Hemingway’s in Hermanus, en koop ek so klein, dun boekie met die titel, “The Lonely Grave in the Fish River Canyon.” Die Visriviercanyon is mos juis daar in die verlate suide van Namibië waar my verhaal hom afspeel.

Ek was besig om die wel en weë van Ernst Luchtenstein, soos oorspronklik aan my vertel deur oom Dickie Strauss van Kirriis-Wes, oos van Keetmanshoop, na te vors. Ernst en sy ouers, Duitse Joodse immigrante, was per ossewa van Lüderitz na Keetmanshoop op pad toe hulle deur ’n Nama-kommando oorval is. Frau Therese Luchtenstein, Ernst se ma, het op haar knieë geval voor die Namakaptein en om genade gesmeek, maar die kaptein het van sy perd geklim, sy hoed gelig, en verklaar, “Mevrou, staan op asseblief. Kniel voor God alleen. Ons maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.” Hierdie gebeurtenis is ’n onomstootlike geskiedkundige feit wat deur verskeie bronne bevestig is en bring balans na ’n geskiedenis wat redelik eensydig vertel is.

Die Namas het die ossewa geplunder (dit was aljimmers midde in die Nama-oorlog, 1904-1908)  maar die Luchtensteins ongedeerd laat wegkom, net om self die volgende dag in die hande van die Duitse Schutztruppe te val. Volgens oom Dicky is die Nama-kaptein in die tronk gestop, maar Ernst se pa, Joseph Luchtenstein het gereeld vir hom brandewyn in die sel gebring. Uiteindelik het die Schutztruppe hom opgehang, of so het oom Dicky geglo. Hy was nie seker wie die Nama-kaptein was nie. “Seker maar Sikon Koper of Jakob Morenga,” het hy gesê.

Ek het “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” bestudeer en so ook baie ander geskrifte. Uiteindelik het ’n persoonlike ontmoeting met iemand in Windhoek my vermoedens finaal bevestig: dit was Cornelius Fredericks, leier van die Khowesin Namas van Bethanië.

In die klein boekie kon ek lees hoedat die einste Cornelius Fredericks en sy manne eers saam met die Duitsers teen die Herero’s geveg het, en slegs twee maande na die vernietigende Slag van Waterberg téén die Duitsers geveg het, na ’n formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi.

Op ’n kol bevind Cornelius hom in die Visriviercanyon. Die Duitse soldaat onder wie hy teen die Herero’s geveg het, kom soek hom om vrede te praat, maar een van Cornelius se manne vermoor hom, Thilo von Trotha. Vandaar die graf in die Visriviercanyon, wat elke stapper wat hierdie roete al gestap het, ken.

Die inligting in “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” het nie net substansie aan my verhaal verleen nie, maar ook ’n pragtige sirkel van menslike emosies van liefde, verraad, eerbaarheid en hartseer voltooi. Ek is die skrywer CNL van Huyssteen ewig dankbaar.

Verlede week het ek spesiaal Hermanus toe gery om nog ’n sirkel te voltooi, die oorhandiging van my boek aan Hemingway’s. Groot was my verbasing toe ek Cuan Elgin agter die toonbank ontmoet, want sien hyself is passievol oor die geskiedenis en het ’n geskiedkundige roman, Bulala, die lig laat sien. Voortaan sal die mense van Hermanus en die Wes-Kaap “Die Keiservoël Oor Namaland” by Hemingway’s kan koop.

Die boek neem my op vreemde paaie in die volgende week of twee. Ek is uitgenooi om deel te hê aan ’n optog en opening van ’n uitstalling in Kaapstad se Kasteel, eerskomende Saterdag. Die uitstalling handel oor die verskriklike wreedhede wat gevolg het op die gebeure in my boek toe allerhande eksperimente op die Nama-krygsgevangenes op Haai-eiland in Lüderitz se hawe uitgevoer is. Een van die betrokke Duitse dokters het daarna twee boeke geskryf waarin hy die Namas as ’n minderwaardige ras beskryf het. Hitler het dit gelees, die dokter bevriend, en Mein Kampf geskryf. Net na die Nama-oorlog het Duitse psigiaters begin om hulle pasiënte te steriliseer en dood te maak, ’n direkte voorloper tot die Jodeslagting van 1939-1945. Die Duitse Psigiatriese Vereniging het eers in 2010 erken dat hulle voorgangers hieraan skuldig was.

Volgende week besoek ek Maltahöhe waar ek 400 van die boeke aan die Namibiese minister van kuns, kultuur en onderwys en die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke sal oorhandig. Hierdie skenking is moontlik gemaak deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Windhoek se Lithon Foundation en my uitgewer, Cordis Trust.

Laastens kan ek noem dat ek baie hard besig is met die Engelse vertaling. Ek het tot dusver die hulp van drie persone gehad en tans werk ek en die eerste redakteur nou weer deur die teks. Watch this space!