Dag 91: Gesprek met Kaptein David Fredericks van Bethanië

Die geskiedenis van die Nama-oorlog waarteen “Die Keiservoël Oor Namaland”  afspeel, is in newels gehul, omdat die Namas self baie min geskrewe dokumente daaroor nagelaat het. Die verhaal is dus slegs uit die Duitse perspektief vertel.

Twee weke gelede het ek die voorreg gehad om met ’n belangrike bron, kaptein David Fredericks, leier van die !Aman op sy tuisdorp, Bethanië te gesels. Dit het nuwe insigte gebring, ou kennis bevestig en my laat besef dat die tyd min raak om mense soos oom David se kennis op te teken.

Kaptein

Oom David is gebore op 14 September 1932. Sy oupa Timotheus was die broer van Cornelius, een van die twee hoofkarakters in my boek wat wreed tot sy einde gekom het op Haai-eiland in Lüderitz se baai. As kind het oom David gereeld na die stories van die ou mense geluister en hy kan met groot gesag oor die oorlog gesels. Ek het ’n kort video van sy vertellings gemaak. Dit kan op Youtube by https://youtu.be/yDuSxEHTDO8 besigtig word.

Hy vertel dat die waarheid oor Cornelius se gevangesetting wat ek doelbewus anders in die boek geskets het, steeds ’n sensitiewe saak is, omdat dit onmin in die gemeenskap kan veroorsaak. Kortliks is Cornelius in ’n lokval gelei met kastige praatjies oor vrede. Cornelius het in goedertrou na die samesprekinge gegaan terwyl sommige van sy mense omgedraai het en na Suid-Afrika gevlug het. Só kon hulle jare later vertel wat gebeur het.

Dit is volgens kaptein Fredericks inderdaad so dat Cornelius op Haai-eiland vergiftig is en hy bevestig ook dat daar honderde indien nie duisende Namas op Haai-eiland dood is.

Aan die ligter kant vertel hy ook hoedat oupa Timoteus so opgewonde kon raak wanneer hy vertel het van Cornelius se skiet- en vegopleiding. Cornelius se strategie was verrassing en hy het altyd probeer dat sy troepe die indruk van groot getalle skep. Hy het sy manne gedril totdat hy tevrede was.

Cornelius het daarvan gehou om die Duitse verkenners by die watergate voor te lê en dan dood te skiet en hulle ammunisie te buit.

Edward Fredericks, ’n familieliden transportryer wat ook op Haai-eiland aangehou is,  is deur die Duitsers vertrou, min wetende dat hy wat Edward was, boekgehou het van elke sterfte. Nietemin is oom David oortuig daarvan dat die getal sterftes grootliks onderskat word.

Oom David bevestig ook die belangrike inligting dat Cornelius wel saam met Witbooi, sy skoonpa, in die Herero-oorlog aan die kant van die Duitsers geveg het. Dit bly besonder insiggewend dat Hendrik Witbooi twee maande na die Herero-oorlog self oorlog teen Duitsland verklaar het.

Kaptein Fredericks staan aan die spits van ’n internasionale hofsaak teen Duitsland waarin reparasie ge-eis word. Hy reken die enigste oplossing is die herstel van grondregte, met behoud van huurpag vir die huidige eienaars.

Advertisements

Dag 90: Op Witbooi se spoor, saam met Piet van Rooyen

Die Keiservoël Oor Namaland is my beskeie bydrae tot Namibië se Afrikaanse literatuur. Op die eerste bladsy kwalifiseer ek hierdie roman as volg:

“Alhoewel talle onwaarskynlikhede oral in hierdie verhaal soos geraamtes in die Namib begrawe lê, is die ironie dat dit alles ligvoets op feitelike gebeurtenisse – vreemder as fiksie – geskoei is.”

Daarmee probeer ek reeds die genre van die werk aandui: fiksie gegrond op die waarheid. ’n Aantal lesers stoei daarmee en kritiseer my selfs. Die beste antwoord wat ek kan gee is dat ’n skrywer belangstel in die waarheid, nie noodwendig in die feite. Tydens die skryf van hierdie verhaal, wat meer as agt jaar geduur het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat ek nooit  by die waarheid sou uitkom sonder om ’n paar leuens te vertel nie. Die groot waarheid waarby ek wou uitkom is die temas van die wreedheid, gierigheid en uiteindelike selfvernietiging van die mens, in teenstelling met ’n lewe van opoffering, liefde, bewustheid en stilte. In besonder wou ek ook die ongelooflike wreedhede van sekere Duitse politici, wetenskaplikes aan die kaak stel. Ek wou die wêreld vertel van ’n tydperk in die geskiedenis wat vir meer as ’n eeu verswyg is, maar steeds uitskreeu om regverdigheid. Ek wou in die bres tree vir ’n volk en vir mense wat verontregting gely het, wat die hoogste prys betaal het, en wat tot vandag toe verdoem is om tweede klas burgers van Namibië te wees. Daarmee wil ek juis hoop bring, hoop dat hierdie waarhede uiteindelik vryheid, genesing en ’n nuwe era sal bring.

Ek het verlede week uiteindelik die geleentheid gehad om ’n besondere deel van hierdie waarheid te konfronteer en ek is gelaat met meer vrae as antwoorde. Hiervoor is ek dank verskuldig aan die bekende Windhoek skrywer, Piet van Rooyen, en sy vriend Andre du Pisani, beide professore aan die Universiteit van Namibië.

Hendrik Witbooi is ’n enigmatiese figuur in die geskiedenis van Namibië. Gebore in die Kaapkolonie as kind van Moses Witbooi in 1830, trek hy saam met die ander lede van die Nama-stam noord, oor die Garieprivier. Uiteindelik vestig hulle, die Khowesin-stam, in Gibeon. Hendrik volg sy pa op as leier en ontwikkel in ’n gedugte krygsman. Hy slaag daarin om ander Nama-stamme, almal Khoi-Khoin soos die Khowesin, maar veral ook die Herero’s, nie Khoi-Khoin, te onderdruk. Die ekonomie van die Khoi-Khoin en dié van die Herero’s was vee-gedrewe. Al die stamme en volke het gekompeteer vir vee en weiding en het niks daarvan gedink om strooptogte op mekaar se kuddes uit te voer nie. Dit was hoe hulle geleef het, onverstaanbaar in vandag se terme.

Die Duitse sendelinge het die Khoi-Khoin noord gevolg en hulle gekersten. Ook Hendrik Witbooi was ’n christen, met ’n sterk Ou Testamentiese teologie. Hy kon hom self  moontlik as ’n Moses/Dawid-figuur gesien het. Hy het altyd daarvan gedroom en geskryf om sy volk tot vryheid te lei, weg van die witmense se slawerny. Vir Hendrik was Gibeon nie die beloofde land nie. Hy wou verder noord, na beter weiding en onafhanklikheid. So ’n plek het hy gevind in die omgewing wes van Rehoboth en hy het dit Hornkrantz genoem. ’n Groot deel van die Khowesin het hom gevolg en hulle daar gevestig, op die walle van die Gaobrivier met sy standhoudende fontein en goeie weiding. Dit was bykans 200 km suid van die Herero’s op Okahandja en Otjimbingwe, maar 120 kilometer suidwes van ’n ander klein plekkie waar ’n paar Duitsers hulle tuis gemaak het, Windhoek. Dit was net ’n paar jaar nadat die Duitsers Lüderitz en omgewing in ’n bedrieglike transaksie bekom het, maar tot dusver het ’n relatiewe vrede tussen Witbooi en Duitsland bestaan. Hulle was darem almal christene, het Witbooi gereken.

Windhoek se Duitsers was gering in getal, moontlik tussen 100 en 200, en hulle leier was Curt von Francois. Vroeg in 1893 besluit von Francois dat Witbooi se teenwoordigheid op Hornkrantz ongewensd is, heel moontlik omdat hy wat von Francois was ’n “beskermingsverdrag” met die Herero’s gehad het. Op 12 April, 19 Mei en uiteindelik weer op 2 Oktober 1893 val von Francois vir Witbooi en sy Khowesin aan. Tydens die laaste veldslag skiet die Duitsers ongeveer ’n honderd vroue en kinders dood, maar nie een Nama-man nie. Hoekom? Was dit doelbewus? Was dit ’n taktiese maneuver? Dit slaan mens dronk. As dit waar is verdien von Francois die berugtheid van sy volksgenote Lothar von Trotha, Heinrich Himmler, Josef Goebbels en Adolf Hitler.

Von Francois neem ’n aantal vroue en kinders krygsgevange en buit ook Hendrik Witbooi se dagboek en onder andere drie viole. Die Namas was geleerde mense wat van hulle musiek gehou het.

Witbooi stuur die vroue en kinders wat oorleef het na die veiligheid van Gibeon met sy Rynse sendelinge, terwyl hy en sy soldate na die Namib Naukluft terugval en vandaar hulle “oorlog” met von Francois voortsit.

Vir een of ander rede word von Francois vervang as goewerneur van die Duitse kolonie met ’n nuwe man, Leutwein. Leutwein neem gans ’n ander houding in, maak vrede met Witbooi en ontwikkels selfs ’n warm vriendskap met hom, op voorwaarde dat Witbooi op Gibeon bly en nie weer teruggaan Hornkrantz toe nie.

Vandag is dit maklik om te sien dat dit ’n taktiese skuif van Witbooi was. Hy sou nooit sy droom van Hornkrantz laat los nie.

Terwyl Leutwein goewerneur was het vrede geheers. Dit het meer as tien jaar geduur. Uiteindelik raak almal net te gierig en ontstaan die Herero-oorlog. Duitsland se Reichstag raak ongeduldig met die “sagte” Leutwein en vervang hom met die onverbiddelike Lothar von Trotha. Hy slaag byna daarin om die Herero’s geheel en al uit te delg en kort daarna volg die Nama-oorlog. Die wreedheid van hierdie twee oorloë weergalm tot vandag toe in die wêreld se raadsale en het op baie interessante wyse aanleiding gegee tot die Nazis se eksperimente op en uitwissing van die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Ek kon nog nooit voorheen Hornkrantz besoek nie. Groot was my verbasing toe ek by Piet van Rooyen, skrywer van vele boeke, onder andere ook “Op Witbooi se Spoor,” hoor dat hy die eienaar is van ’n deel van die oorspronklike plaas Hornkrantz. Piet wat my belangstelling (obsessie?) met Witbooi deel, het my uitgenooi om sy plaas te besoek en ek en Ingrid het die uitnodiging met dank aanvaar. Die plaas waar die Witboois gebly het en waar die veldslae plaasgevind het, is Piet se buurplaas.

Hornkrantz is inderdaad ’n pragtige plek van riviere, valleie, kranse, koppies en heuwels. Volgens oorlewering is die woonhuis op die plaas die oorspronklike woning van Hendrik Witbooi. Later het dit gedien as polisiestasie, maar vandag is dit net ’n woonhuis.

huis
Na oorlewering Hendrik Witbooi se huis wat later as polisiekantoor gedien het.

Reg voor die woonhuis is ’n klein monument wat die veldslag van 12 April 1893 herdenk aangebring en agter die woonhuis is nog ’n klein monument wat Witbooi se dood herdenk.

monument1
‘n Monument wat die eerste slag van Hornkrantz gedenk.
plaatjie
Inskripsie wat die eerste veldslag gedenk.

Hy is in 1905 ten tyde van die Nama-oorlog dood, maar sy volgelinge het hom in ’n geheime graf begrawe en tot vandag weet niemand waar dit is nie. Die soeke na hierdie graf was dan ook die sentrale tema in “Op Witbooi se Spoor,” Piet se roman.

monument2k
Die uwe by die gedenksteen wat die dood van Hendrik Witbooi gedenk.

Op Hornkrantz is ook vier grafte van Duitse soldate wat tydens die gevegte gesneuwel het.

koospietandre
Piet van Rooyen, beroemde skrywer van vele romans, Andre du Pisani, professor, filosoof en geskiedkundige, en die uwe.
grafte
Twee grafte van Duitse soldate by Hornkrantz, op twee verskillende dae, maande uit mekaar.

Hierdie grafte is netjies gemerk, soos alle Duitse oorlogsgrafte, maar van grafstene van die honderd vroue en kinders is daar geen duidelike teken nie. Daar is wel orals hopies grond wat heel moontlik Nama-grafte is, maar geeneen is gemerk met ’n grafsteen nie. Dit is ’n tragedie. Hoekom stel niemand daarin belang om hierdie geskiedenis te bewaar nie?

Die Gaobrivier vloei, as hy vloei, deur die plaas, maar die Hornkrantzfontein wat hom voed is standhoudend. Dit was natuurlik een van Witbooi se groot trekpleisters. Vandag is die fontein met ’n groot wal beskerm en loop steeds mooi.

fontein
Die Hornkrantz-fontein is standhoudend en was ‘n sleutel tot Hendrik Witbooi se strewe na onafhanklikheid.

Orals op Hornkrantz se hoogliggende koppies en spitse is vandag steeds skanse wat die Khowesin aangebring het. Vandaar kon bespieders die vyand van ver af sien aankom. Wat my verras het is dat al die skanse na die suide en weste gerig is.

skanse
Orals op Hornkrantz is skanse vanwaar verspieders op die uitkyk na die vyand was.
skanse2
Nog ‘n voorbeeld van ‘n skans.

Met ander woorde nie na die noorde en ooste vanwaar die Duitsers uit Windhoek se rigting sou kom nie. Hoekom sou dit wees. Een moontlike antwoord kan wees dat die Duitsers die skanse wat na Windhoek sou kyk juis na die laaste veldslag sou vernietig het, vir presies daardie rede. Niemand sal ooit weet nie.

Nog iets waarop ek afgekom het was ’n groot aantal leë patroondoppies. Bartolomeus, ’n “Rooinasie” soos hy homself voorgestel het het met die doppies vorendag gekom. Dit is duidelik  dat dit deel was van die veldslag. Die grootste meerderheid van die doppies is duidelik gemerk “Westley Richards musket no2.” Wat besonder interessant is, is dat al die doppies vernietig is deur dit met ’n tang toe te knyp. Kan dit wees dat die Witboois hulle doppies kon herlaai en dat die Duitsers nie bruikbare doppies wou agterlaat nie? Ekself het in die Okavango gesien hoedat primitiewe jagters uit die plaaslike bevolking ou Martini Henry gewere se patrone self herlaai het. Dit is in swartkruitgewere eintlik ’n eenvoudige proses.

bartolomeusendoppies
Bartolomeus het hierdie doppies op Hornkrantz se slagveld opgetel. Dit bied oneindige materiaal vir navorsing.

Vandag is dié deel van Hornkrantz wat nie aan Piet behoort nie, die historiese deel, net ’n veeplaas wat aan ’n Baster van Rehoboth behoort. Die monumente en grafte word nie in stand gehou nie en niemand gee om nie. Piet en Andre het baie moeite gedoen om my al die besienswaardighede te wys en stories te vertel, maar ek het net al hoe meer intens bewus geraak van die feit dat daar niemand is wat ’n dooie duit omgee nie.

andreenkoos
Andre du Pisani beduie waarlangs Witbooi se mense moes vlug om van von Francois se kommando weg te kom.

Hendrik Witbooi was ’n ware leier, soldaat, politikus, gesinsman, vryheidsvegter en ’n gelowige mens. Sy gesig verskyn nog op party Namibiese geldnote, maar word ook gaandeweg vervang. Sy nalatenskap sal ook in die vergetelheid verdwyn.

’n Volk wat nie sy geskiedenis eer sal ook nie ’n toekoms hê nie.

Dag 89: Die Nazi verbintenis

In “Die Keiservoël Oor Namaland” vertel ek die verhaal van Die Luchtenstein-gesin wat in 1906 in die destydse Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) aangekom het om ‘n nuwe heenkome te vind. Dit gebeur teen die agtergrond van die Nama-oorlog waartydens wrede eksperimente en twee volkslagtings (“genocides”) plaasgevind het. Ek en baie ander beweer dat dit uiteindelik tot die Jode-volkslagting in Europa aanleiding gegee het.

Die hoof van die Luchtensteingesin was Joseph, of ou Joe, soos hy bekend gestaan het. Hy was ‘n baie suksesvolle transportryer n DSWA.

Hoofstuk-38

Joseph het ‘n broer Hugo gehad en Hugo was getroud met Hedwig Hertha, gebore Markowitz. Hulle het in Europa agtergebly terwyl Joseph en sy seun Ernst baie suksesvol in wat eers DSWA en later SWA was, geboer en sake gedoen het

Joseph se seun Ernst, die held in my verhaal, het voor die Tweede Wêreldoorlog probeer om sy oom Hugo en tannie Hedwig na Suidwes-Afrika te bring, maar het misluk. Die uieinde was dat hulle op 8 Mei 1942 deur die Nazis in Kulmhof (Chelmno in Pools) in Pole vermoor is, saam met 240 000-350 000 ander Jode. Kulmhof is nie so bekend  soos Auschwitz of Dachau nie, maar dit is hier waar massamoorde met gas vervolmaak was. Rudolph Hess het blykbaar ‘n studietoer daarnatoe onderneem om te sien hoe dit werk.

Die Jode is gewoonlik per trein soontoe vervoer. Hulle is dan by Kulmhof na ‘n warm vertrek geneem waar hulle al hulle klere moes uittrek en dan agterin ‘n spesiale vragmotor geboender waar hulle met die gas vermoor is. Hulle lyke is dan in ‘n opelugkrematorium verbrand.

Hier is ‘n video van Kulmhof en een van die krematorium.

Mag ons dit nooit vergeet nie.

Met opregte dank aan Steven Robins, skrywer van Letters of Stone wat my van die Berliner Gedenkbuch bewus gemaak het.

letters

 

Dag 88: Drie ander nuwe boeke

Nadat “Die Keiservoël Oor Namaland” in April 2016 deur Cordis Trust gepubliseer is, het ten minste nog drie boeke oor daardie donker tydperk in Namibië se geskiedenis die lig gesien. Ek was die afgelope tien dae vasgevang in die bladsye van hierdie drie voortreflike boeke, vir meer as een rede.

Ek was bang dat ek iewers ’n basiese feitefout of verkeerde interpretasie in “Die Keiservoël” begaan het, en het aldrie boeke verslind, net om seker te maak. Gaandeweg het ek begin ontspan en het elkeen van hierdie voortreflike boeke nesgeskop in my kop, sodat ek nie anders kan as hulle lof te besing en om my lesers aan te raai om self die boeke ook te lees nie.

opstand

Die eerste van die drie boeke is eintlik ’n 2016 Protea heruitgawe van die 1979 publikasie “Die Herero-opstand 1904-1907” deur Gerhardus Pool, historikus van die Universiteit van Stellenbosch. Dit is ’n volledige, feitelike verslag, vermoedelik oorspronklik as ’n tesis of verhandeling aangebied, van die Herero-oorlog. Dit gee ’n deeglike uiteensetting van die oorsake en verloop van die oorlog en ek was aangenaam verras om te lees dat my eie feite in die kol was. Pool vel geen oordeel nie, hy vertel net die storie soos dit was, maar uit die aard en noodgedwonge toon van die oorspronklike publikasie kommunikeer dit nie die menslike, emosionele aard van hierdie wrede volksmoord nie.

scattering

Die tweede boek, “The Scattering” deur Lauri Kubuitsile, uitgegee deur Penguin, is iets gans anders, ’n pragtige roman oor die wel en weë van ’n paar Herero slagoffers, en interessant genoeg een Afrikaanse vrou, slagoffer van die Anglo-Boere-oorlog. Die Hereros vlug in die Omahake woestyn in, draai om, gee hulleself oor aan die sendelinge, vlug weer, word weer gevang en en word op Haai Eiland by Lüderitz geïnterneer. Gedurende hierdie proses word die slagoffers se vernedering en vernietiging op dramatiese wyse uitgebeeld. Die twee hoofkarakters, Afrikaner en Herero, se paaie kruis uiteindelik in die Okavango Delta waar die noodwendige en onafwendbare finale verontmensliking van die siel sy hoogtepunt bereik.

letters

Derde op my lys, nie wat kwaliteit aanbetref nie, is nog ’n Penguin publikasie, “Letters of Stone” deur Steven Robins. Soortgelyk aan Elzabe Brits se “Geliefde Verraaier” is dit gebasseer op ’n aantal briewe, foto’s en dokumente van Robins se grootouers. Hy het in 2012 daarop afgekom na ’n begrafnis. In sy jeugdae was hy bewus daarvan dat sy voorouers in die Nazis se strafkampe omgekom het, maar dit het hom nooit werklik gepla nie, totdat hy die briewe begin lees en interpreteer het. Dit het hom op ’n speurtog na Duitsland en ander plekke geneem. Gaandeweg lees jy van sy oupa en ouma se groeiende onrus in Duitsland en desperate pogings om te ontsnap totdat die korrespondensie op ’n dag net ophou. Robins se werk is egter nie beperk tot sy eie familie nie. Sy speurtog het hom op eienaardige wyse bekend gestel aan die wrede en boosaardige dr Eugen Fischer, hoofskurk in my verhaal, “Die Keiservoël Oor Namaland.” Anders as in my boek verhaal Robins Fischer se werk onder die Rehoboth Basters, eerder as onder die Namas. Robins betoog, soos ek en baie ander, dat die Nazi wreedhede van 1939-1945 baie jare vroeër, ongeveer 1906-1908, in Duits-Suidwes-Afrika, vandag Namibië, begin het. Robins filosofeer vrymoedig oor die inhoud van die briewe en die beelde op die foto’s en neig daarna om apartheid met die Nazis te vergelyk, iets waarmee hy nie oortuig nie. Tog kan ons nie ontken dat daar destyds seker Nazis baie aktief in Suid-Afrika was nie.

Die lees van hierdie drie boeke, aan die einde van ’n jaar waarin ek self “Die Keiservoël Oor Namaland” die lig laat sien het, laat my met baie stof tot nadenke. Die wreedhede waaraan die Herero’s en Namas blootgestel was net so erg as dit waaraan die Duitsers die Jode, Roma, Sinti, Jehovas en homoseksueles blootgestel het, met een groot verskil: niemand weet (of het geweet) van Namibië se Namas en Herero’s nie. Nou weet die wêreld. Op ’n beskeie manier kon ek deel hê aan hierdie openbaring.

Op ’n meer persoonlike noot dink ek dat, as ek vooraf (voor 2007) hierdie drie boeke moes lees, ek nie die moed sou gehad het om die taak aan te pak nie. Aldrie boeke is uitstekend geskryf en gee saam ’n redelik volledige prentjie, maar ek kan met ’n mate van trots sê dat “Die Keiservoël Oor Namaland” se fokus vele ander aspekte belig.

Nou sit ek ongeduldig en wag op James Ambrose Brown se “The Return,” ’n baie ou boek wat ek deur middel van Bidorbuy gekoop het. Dit handel oor die lewe van Abraham Morris, Bondelswarts Nama-held.

Dag 87: Die Keiservoël In Namaland

Oorhandiging aan Namas

Gister het die Keiservoël in Namaland neergestryk. Die geleentheid was iets waaroor ek baie jare gedroom het. Ek het hierdie Afrikaanse boek waaraan ek so lank gewerk het oorhandig aan die mense vir wie dit só belangrik is.

Danksy my uitgewer, Cordis Trust, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en die Lithon Stigting kon ek 400 eksemplare van die boek aan die goewerneur van die Hardapstreek, haar edele Esme Isaacs, skenk. Die boek sal só sy weg vind na die skole, biblioteke, kerke en kantore van die mense van die suide van Namibië, vir wie ek so lief is.

oorhandiging

Die geleentheid het my oorweldig. Ek het lanklaas soveel passie, afwagting, dankbaarheid, en liefde ervaar. Ek kan eintlik nog ’n boek oor gister se gebeure skryf. Die teenwoordiges het ingesluit die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke, lede van die parlement, burgemeesters, tradisionele leiers, raadslede, geestelikes, amptenare en lede van die gemeenskap.

Ons is vermaak met wonderlike kulturele danse soos die Namastap en my vrou Ingrid en Marsia Reed van die Lithon Stigting het pragtige handvervaardigde geskenke ontvang.

 

Die geleentheid het plaasgevind teen die agtergrond van die huidige debat oor die volkslagting van 1904-1908 waaroor ek in die boek vertel. Juis gister het NBC se agtuur nuus berig dat die Nama- en Herero-afvaardigings uit die samesprekings met die Duitse afvaardiging uitgestap het. Na gister se seremonie verstaan ek baie goed hoekom hulle dit gedoen het. Duitsland wil vergoed vir hulle oortredings van destyds, maar hulle verstaan nie dat hulle eers na die regte mense moet luister nie. Een van hulle was by die oorhandiging en ek beskou myself as uiters bevoorreg om hom persoonlik te kon ontmoet. Hy is kaptein David Fredericks van Bethanië. Hy is ’n unieke bron van inligting, maar ook reeds provaat. Ek hoop om binnekort ’n baie lang gesprek met hom te voer.

Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs het toesprake gelewer. Deurgaans was die klem op die belang van onderwys en opvoeding, lees en kulturele trots.

Ek waag dit om dit te sê dat dit die eerste keer was wat ’n boek in Afrikaans verskyn het wat erkenning gee aan die geskiedenis en kultuur van die Namas, en dan veral aan die onregte wat teen hulle gepleeg is. Na die tyd moes ek baie boeke teken en het die Namas my persoonlik kom bedank. Hulle opregte dankbaarheid het my verskeie kere bewoë gelaat.

Ek glo onwrikbaar dat die Namas en die ander mense van Namibië Afrikaans se beste bondgenoot is. Ons moet aanhou om Afrikaanse projekte in Namibië te ondersteun. Die tyd loop uit.

Die geleentheid is deur die NBC verfilm en sal moontlik vanaand op hulle nuusprogram gebeeldsend word.

Ek plaas hieronder die volledige teks van my toespraak:

Baie dankie vir die uitnodiging om vandag hier te wees. Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg.
Die geskiedenis van die Namavolk en die Hereros is iets wat my die afgelope tien jaar betower. Soos so baie ander mense het ek tien jaar gelede niks daarvan geweet nie. Vandag is dit anders. Ek is vandag hier om ‘n boek wat ek oor die onderwerp geskryf het bekend te stel en aan julle, die mense van Namibië, te oorhandig. Die boek se titel is Die Keiservoël Oor Namaland. Die titel skree dadelik twee vrae: Wat is ‘n keiservoël en waar is Namaland? Wel, ‘n keiservoël is die rooiborslaksman en die naam keiservoël verwys na die ou kleure van die Duitse vlag, rooi en swart, en daarom is die ander naam van die rooiborslaksman dan ook die Duitse vlag. Hierdie ou name kom albei voor in die woordeboeke en dit is uniek tot die Namas. Met ander woorde, dit is die kontreitaal, kontreiname van die rooiborslaksman, soos julle mense dit gebruik. Ook die ou Duitsers het van der Reichsvogel gepraat as hulle ‘n rooiborslaksman sien.
Wat van Namaland? Waar is dit? Dit is presies hier waar ons vandag is, Van min of meer hiervandaan en verder suid, tot teen die Garieprivier. In die ou dae, voor 1883, het hierdie wêreld aan die Namavolk behoort. Maar een fout het hulle hierdie land gekos. Een verkeerde besluit het veroorsaak dat die Namas hulle grond verloor het. Dit is die storie van my boek en ek sal nou vertel wat gebeur het.
Ek het letterlik meer as agt jaar aan hierdie boek gewerk en baie mense vra my hoekom. Hoekom het jy dit gedoen? Ek wil vandag probeer om daardie vraag te antwoord.
Eintlik is dit maklik: dit is omdat ek lief is vir julle, die mense van hierdie land. My navorsing het my op baie paadjies laat loop. Ek was byvoorbeeld in 2010 vyf keer in Lüderitz om navorsing te doen. Ek was male sonder tal in Windhoek. Ek het in die argiewe gaan rondkrap en in die biblioteke. Uiteindelik het ek op ‘n ongelooflike en unieke verhaal afgekom, een wat tot vandag oor die hele wêreld ‘n belangrike invloed uitgeoefen het. Julle dink miskien dat plekke sos Maltahöhe, Keetmanshoop, Lüderitz, Aus en Bethanië klein onbelangrike plekkies is, plekkies wat sommer maar net bestaan, maar dit is nie waar nie. Meer as honderd jaar gelede het daar goed hier gebeur wat tot vandag toe uiters belangrik is.
Kom ek noem net eers een ding. In 1906 is daar wrede eksperimente op die Nama krygsgevangenes op Haai eiland in Lüderitz se hawe gedoen deur ‘n Duitse dokter. Uiteindelik het hy boeke geskryf waarin hy gesê het dat die Namas ‘n minderwaardige ras is. Dit het beteken dat hy gereken het dat dit nie verkeerd is om sy wrede eksperimente te doen nie. Hy het onder andere die krygsgevangenes se koppe afgesny en vir hulle vrouens gegee om skoon te maak. Hierdie skedels het hulle Duitsland toe gestuur en daar verdere navorsing gedoen. Die meeste van daardie skedels is vandag nog daar. Duitsland het vanjaar erken dat dit ‘n fout was.
Die belangrike ding is dat hierdie dokter se werk die begin was van wat 33 jaar later die sogenaamde Jodeslagting of Holocaust sou wees. Ses miljoen Jode is wreed vermoor. En dit het alles op Haai eiland, Shark Island in Lüderitzbaai begin.
Maar kom ons gaan net eers terug na die begin. Hoe het dit alles gebeur? Hoekom? En wat was die fout wat die Namas gemaak het? Wat het hulle verkeerd gedoen? Dit is die storie van Die Keiservoël Oor Namaland.
Op ‘n dag in 1883 het drie Duitse manne wat vir ‘n ryk handelaar Adolph Lüderitz gewerk het by kaptein Joseph Fredericks op Bethanië aangekom. Hulle wou grond koop by kaptein Fredericks. Hulle wou net Lüderitz koop met nog vyf myl rondom Lüderitz. ‘n Paar maande later was hulle terug. Hulle wou nog 25 myl se grond hê. Ook hierdie keer het kaptein Fredericks die papier geteken, maar op die papier het iets gestaan wat hy nie geken het nie. Die woord was geografiese myl. Kaptein Fredericks het 30 geografiese myl se grond verkoop, maar hy het nie geweet wat dit is nie. Ek ook nie, totdat ek dit gaan bestudeer het. ‘n Geografiese myl is baie baie groter as ‘n gewone myl, ses keer groter. Dit het beteken dat kaptein Fredericks eintlik al sy grond verkoop het, vir ‘n appel en ‘n ei. Hy was baie kwaad maar toe was dit te laat. Hy het alles wat hy gehad het verloor omdat hy een woord nie geken het nie.
Ek is vandag hier omdat ek vir julle 400 boeke wil persent gee. Die Keiservoël Oor Namaland is die verhaal van hierdie bedrogspul, die Herero oorlog, die Nama oorlog en die uiteindelike oorname deur SA.
Hierdie boek vertel die storie van die Herero helde en die Nama helde, van Hendrik Witbooi, Cornelius Fredericks, Simon Koper, Abraham Morris, Jakob Morenga en ander. Ek wil hê dat die mense van hierdie land moet lees van hulle eie helde, mense wat baie opgeoffer het, eintlik alles verloor het. Ek wil hê julle moet trots wees op julle helde, julle moet hulle nagedagtenis vereer, julle moet trots wes op julle kultuur, julle taal en julle Afrikaans. Bo alles wil ek hê julle moet lees. Om te lees is om mag te hê. Om woorde te ken maak jou sterk. Lees elke dag ‘n paar bladsye, vir die res van jou lewe, want dit maak jou sterk en slim. As kaptein Fredericks geweet het wat daardie een woord beteken, dan was hierdie wêreld dalk vandag nog steeds Namaland.

In die Bybel lees ons in Spreuke 12:14 “‘n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik, of hy kan die vrug geniet van wat hy met sy hande doen.” Daar is niks mee fout om met jou hande te werk nie. Dit is goed en reg so, maar my boodskap vandag hier aan julle is dat woorde altyd vir jou ‘n pad kan oopkap. Ek pleit by julle, lees elke dag iets en leer dit vir julle kinders. Deur te lees brei jy jou woordeskat en jou kennis uit. Daardeur word jy sterk en voorspoedig. Lekker lees!

Dag 86: Die Keiservoël En Hemingways

cuanelgin
Cuan Elgin, skrywer van Bulala, links, en die uwe regs. Ons staan in Hemingway’s, bekende boekwinkel in Hermanus, waar ek jare gelede op “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” afgekom het. Hierdie boekie het ‘n groot rol in my navorsing gespeel.

Op ’n dag, ’n paar maande nadat ek aan “Die Keiservoël Oor Namaland” begin skryf het, drentel ek in een van my gunsteling boekwinkels in die wêreld, Hemingway’s in Hermanus, en koop ek so klein, dun boekie met die titel, “The Lonely Grave in the Fish River Canyon.” Die Visriviercanyon is mos juis daar in die verlate suide van Namibië waar my verhaal hom afspeel.

Ek was besig om die wel en weë van Ernst Luchtenstein, soos oorspronklik aan my vertel deur oom Dickie Strauss van Kirriis-Wes, oos van Keetmanshoop, na te vors. Ernst en sy ouers, Duitse Joodse immigrante, was per ossewa van Lüderitz na Keetmanshoop op pad toe hulle deur ’n Nama-kommando oorval is. Frau Therese Luchtenstein, Ernst se ma, het op haar knieë geval voor die Namakaptein en om genade gesmeek, maar die kaptein het van sy perd geklim, sy hoed gelig, en verklaar, “Mevrou, staan op asseblief. Kniel voor God alleen. Ons maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.” Hierdie gebeurtenis is ’n onomstootlike geskiedkundige feit wat deur verskeie bronne bevestig is en bring balans na ’n geskiedenis wat redelik eensydig vertel is.

Die Namas het die ossewa geplunder (dit was aljimmers midde in die Nama-oorlog, 1904-1908)  maar die Luchtensteins ongedeerd laat wegkom, net om self die volgende dag in die hande van die Duitse Schutztruppe te val. Volgens oom Dicky is die Nama-kaptein in die tronk gestop, maar Ernst se pa, Joseph Luchtenstein het gereeld vir hom brandewyn in die sel gebring. Uiteindelik het die Schutztruppe hom opgehang, of so het oom Dicky geglo. Hy was nie seker wie die Nama-kaptein was nie. “Seker maar Sikon Koper of Jakob Morenga,” het hy gesê.

Ek het “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” bestudeer en so ook baie ander geskrifte. Uiteindelik het ’n persoonlike ontmoeting met iemand in Windhoek my vermoedens finaal bevestig: dit was Cornelius Fredericks, leier van die Khowesin Namas van Bethanië.

In die klein boekie kon ek lees hoedat die einste Cornelius Fredericks en sy manne eers saam met die Duitsers teen die Herero’s geveg het, en slegs twee maande na die vernietigende Slag van Waterberg téén die Duitsers geveg het, na ’n formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi.

Op ’n kol bevind Cornelius hom in die Visriviercanyon. Die Duitse soldaat onder wie hy teen die Herero’s geveg het, kom soek hom om vrede te praat, maar een van Cornelius se manne vermoor hom, Thilo von Trotha. Vandaar die graf in die Visriviercanyon, wat elke stapper wat hierdie roete al gestap het, ken.

Die inligting in “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” het nie net substansie aan my verhaal verleen nie, maar ook ’n pragtige sirkel van menslike emosies van liefde, verraad, eerbaarheid en hartseer voltooi. Ek is die skrywer CNL van Huyssteen ewig dankbaar.

Verlede week het ek spesiaal Hermanus toe gery om nog ’n sirkel te voltooi, die oorhandiging van my boek aan Hemingway’s. Groot was my verbasing toe ek Cuan Elgin agter die toonbank ontmoet, want sien hyself is passievol oor die geskiedenis en het ’n geskiedkundige roman, Bulala, die lig laat sien. Voortaan sal die mense van Hermanus en die Wes-Kaap “Die Keiservoël Oor Namaland” by Hemingway’s kan koop.

Die boek neem my op vreemde paaie in die volgende week of twee. Ek is uitgenooi om deel te hê aan ’n optog en opening van ’n uitstalling in Kaapstad se Kasteel, eerskomende Saterdag. Die uitstalling handel oor die verskriklike wreedhede wat gevolg het op die gebeure in my boek toe allerhande eksperimente op die Nama-krygsgevangenes op Haai-eiland in Lüderitz se hawe uitgevoer is. Een van die betrokke Duitse dokters het daarna twee boeke geskryf waarin hy die Namas as ’n minderwaardige ras beskryf het. Hitler het dit gelees, die dokter bevriend, en Mein Kampf geskryf. Net na die Nama-oorlog het Duitse psigiaters begin om hulle pasiënte te steriliseer en dood te maak, ’n direkte voorloper tot die Jodeslagting van 1939-1945. Die Duitse Psigiatriese Vereniging het eers in 2010 erken dat hulle voorgangers hieraan skuldig was.

Volgende week besoek ek Maltahöhe waar ek 400 van die boeke aan die Namibiese minister van kuns, kultuur en onderwys en die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke sal oorhandig. Hierdie skenking is moontlik gemaak deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Windhoek se Lithon Foundation en my uitgewer, Cordis Trust.

Laastens kan ek noem dat ek baie hard besig is met die Engelse vertaling. Ek het tot dusver die hulp van drie persone gehad en tans werk ek en die eerste redakteur nou weer deur die teks. Watch this space!

Dag 85: Damaraland vertel iets van die Keiservoël

Damaraland se gesig van gierigheid

Bergsebralandskap

Damaraland se landskappe en sy mense is hard, mooi, vreemd en eensaam. Groot dele is ongerep en selfs onbeskaaf, maar mense was nog altyd teenwoordig. Sommiges beskou die Damaras as die oudste, eerste, ware inwoners van Namibië. Die Namas en Hereros was laatkommers, sê hulle. Hierdie laatkommers het hulle baie min aan die Damaras gesteur, hulle as minderwaardig beskou, en selfs verkneg. Tot vandag is die Damaras se gelate aanvaarding van hulle dorre lot opvallend. Dit maak hulle spesiale mense, maar ongelukkig ook dikwels slagoffers.

Tydens ons onlangse reis deur Damaraland het ek die goed en die sleg gesien, van die mens en sy doen en late, veral van sy gierigheid, maar ek het ook ’n vonkie hoop gesien.

Damaraland is, saam met Kaokoland, die laaste tuiste van wilde olifante, swartrenosters en leeus, buite die grense van geproklameerde wildtuine. Jy klim in jou kar, ’n goeie viertrek met sterk nuwe bande moet dit wees, en jy ry soontoe. Daar is nie ’n hek of ’n grens waar jy moet betaal nie. Daar is nie ’n bordjie wat sê hoe stadig jy moet ry nie, die klippe sorg self daarvoor, en daar is nie ’n reël wat sê jy mag nie uit jou kar klim nie of hout optel nie. Damaraland is nog vry, en redelik verniet. Jy kan daarmee maak wat jy wil, en baie mense buit dit uit, ten koste van Damaraland, en op die ou einde hulleself.

Volg jy die droë bedding van die Ugabrivier kom jy uiteindelik by die Ugab Rhino Kamp uit, waar ’n sestal aparte basiese kampplekke op jou wag. Jy moet wel betaal, ’n volle R80 per persoon, maar daarvoor kry jy elke aand ’n warm stort en hou die personeel die opelugtoilette, goed afgeskort, netjies en skoon. Jy kan nie bespreek nie, en meestal hoef jy nie, want die eensaamheid en afgesonderdheid is te veel vir die meeste toeriste. Jy daag net op en besluit op een van die kampplekke. Daarna kan jy begin ontspan, foto’s neem, wild kyk, sterre kyk, en ontspan, altyd op jou hoede vir ’n onverwagse besoeker met groot voete of skerp tande en ’n groot brul.

Ugabkamp

Damaraland is soos ek reeds gesê het grootliks ongerep. Mens kan honderde kilometers ry sonder om enige tekens van mense te sien. Dit is ’n mooi en ruwe wêreld en oor elke bult wag ’n nuwe landskap wat jou asem wegslaan. Die mooi word oortref alleen deur die oënskynlike afwesigheid van plante.

landskap

Dit lyk letterlik of daar niks, maar absoluut niks groei nie, maar tog beur en stoei die enkele bossies en boompies hier en daar vir hulle ’n lewe oop in die woestyn. Daarvan is die enkele gemsbokke, volstruise, bergkwaggas en springbokke die getuies. Mens staan in stomme verwondering oor die wonder van hierdie geharde diere se oorlewingsvermoë in hierdie barre klipwoestyn.

Een of ander tyd gaan jy agterkom dat al jou kamptakies afgehandel is en dat jy bietjie tyd het om die omgewing te verken. Dan mag dit gebeur dat jy die pad vat en by die ou tinmyn uitkom. Aanvanklik sien jy net die omgedolwe grond met hier en daar geroeste blikke en gebreekte bottels, maar dan slaan jou asem weg as jy skielik met die groot verlate myn gekonfronteer word. Die eensaamheid en die volledige afwesigheid van enige teken van lewe tref jou tussen die oë, maar die oorheersende indruk is die skade wat die mens op die omgewing gelaat het. Dit staar jou in die gesig, sonder skroom, sonder apologie. Jy sien die diep kwarries, jy sien die reusagtige tonnel wat amper ’n kilometer onderdeur die berg loop, jy sien die groot betonstrukture wat gebou is om die grond te stut, jy sien die ruïnes van die kantore, die bourommel, die omgevalle mure, die ongebruikte stormwaterpype, die paaie en die lelike krapmerke van grondverskuiwing op die gesig van Damaraland.

myn

Dan volg jy die pad en kom jy op die perseel van die werkers se dorp af. Daar staan nie meer een muur nie, maar in netjiese rye lê die betonfondamente en vloere van die huise met stukkies gebreekte glas en selfs ’n paar vloerteëls tussenin. Voor die grootste huis staan twee stamme van wat eens metershoë palms was, morsdood, gereed om te vergaan.

myndorp

Eens op ’n tyd, besef jy het hier mense gewoon en gewerk. Hulle het braaivleis gehou, geleef, gekuier, baklei, liefde gemaak, af en toe het een doodgegaan of is ’n egpaar geskei. Skielik het iets gebeur en het die myn eenvoudig toegemaak. Almal het die plek verlaat. Agterna moes ’n paar menslike aasvoëls die sinkplate, bakstene, deurkosyne en vensters kom verwyder vir verdere gebruik. Al wat oorgebly het is een reusagtige litteteken van die mense se gierigheid. Dit sal duisende jare neem voordat die laaste spoor daarvan verdwyn het, maar intussen moet besoekers dit aanvaar, of vermy. Die Ugabmyn se ontwikkelaars se nalatenskap is onuitwisbaar, ’n ewige skandvlek. Die bietjie geld wat die myn destyds geskep het is lankal weg, soos ’n voëltjie wat weggevlieg het. Al wat oorbly is die letsels van gierigheid.

Sou mens ’n halwe dag hê kan jy jou viertrek se neus terugdraai na die ooste, na die binnelandse hart van Damaraland, waar die Brandberg soos ’n troon bokant die plat omgewing toring. Die hoogste punt van die Brandberg heet die Königstein, wat die hoogste punt in gans Namibië is. Die Brandberg heet so omdat hy soos ’n brandende vuur vertoon wanneer die son se strale reg val.

Die Brandberg is die tuiste van 50 000 boesmanrotstekeninge, maar die bekendste is die sogenaamde “White Lady” wat alles behalwe ’n vrou verteenwoordig. Daarvoor is die penisskede die bewys. Die oorspronklike ontdekker het dit misgekyk.

Met ons aankoms in die hitte van die dag, word ons vriendelik begroet deur ’n Damara wat homself voorstel as professor Markus van die Brandberg. Hy is ’n amptelike gids. Toeriste mag nie die “White Lady” op hulle eie besoek nie, iets wat later baie sin sal maak. Ons wil betaal, maar “prof” Markus wil niks daarvan weet nie.

markus
“Professor” Markus van die Brandberg vertel ons die storie van die White Lady.

“Nee, Menere en Mevroue. Die olifante pla vandag. Ons moet eers gaan kyk of ons vir julle die White Lady kan wys. As die olifante ons keer dan kan ons mos nie julle geld vat nie.”

Geen sprake van gierigheid hier nie. “Professor” Markus weet nie hoe graag ons sal betaal net vir die voorreg om die olifante te sien nie.

Ons begin stap, onder “Prof Markus” se leierskap, sonder water. Die son brand in die diep kloof wat na die “White Lady” lei. Om elke draai verwag ons die olifante of dan ten minste die “White Lady” maar die paadjie kronkel al verder en die son brand al warmer tot dit later voel asof jy nie meer kan nie. Die amptelike inligting is dat dit ’n 2,5 kilometer stappie is, maar dit voel oneindig verder.

Ons kom groepe toeriste van vooraf teë. Die eerste groep se gids, ’n jong Damaravrou, sê dat hulle by die olifante moes omdraai, sonder om die “White Lady” te sien. Die olifante het die pad versper en daar was niks wat hulle daaraan kon doen nie.

’n Ent verder kom ons nog ’n groep teë. Hulle het die olifante suksesvol omseil, maar is toe vir ’n uur lank soort van omsingel deur die groep grootvoete sodat hulle net morsdoodstil moes sit, in die son totdat die olifante eindelik eenkant toe geskuif het.

“Prof” Markus stryk aan, maar aan sy lyftaal sien ons dat hy gespanne is. Skielik sien ons die grys kolos deur die gras. Markus huiwer en begin toe die wal aan ons linkerkant uitklim. Soos bobbejane klouter ons bo-oor groot granietrotse en onderdeur gleuwe en skuifel stil by die olifante verby, maar nie voordat ek ’n paar foto’s geneem het nie. Damaraland se olifante is berug vir hulle kort humeure, maar die groepie van vier koeie is rustig.

Olifant-by-white-lady
Hierdie troppie koeie het die toeriste van die White Lady af weggehou, maar “pof” Markus het hulle om die bos gelei.

Eindelik bereik ons die stel trappies wat na ons doelwit lei. ’n Eenvoudige teken sê dat mens al jou eet- en drinkgoed daar moet laat. Jy neem slegs jou kamera na haar hoogheid se teenwoordigheid. ’n Ander inligtingbord vertel die komplekse verhaal van die ontdekking en interpretasie van die rotstekeninge. Genoeg om te sê dat die destydse toordokters ’n groot rol gespeel het en dat die Boesmans se rituele danse waartydens hulle selfs in ’n beswyming gegaan het deeglik uitgebeeld is. Die toordokter se sweet was beskou as besonder kragtig, as ’n soort van simbool van reën. Die afleiding word gemaak dat die stamlede selfs die sweet opgevang en gedrink het as moetie. Gelukkig was ons dors nog nie so groot nie.

white-lady

Van veel groter belang is die wyse waarop die “White Lady” aan die toeriste vertoon word. In ’n moderne, gierige wêreld sou mens verwag dat daar lankal ’n pad vir voertuie tot by die “White Lady” geskraap sou wees. Dan kon mens sommer vinnig daar aandoen en die rotstekening sien, jou foto neem en weer die pad vat. Gelukkig het wysheid geseëvier. Dit kos werklik inspanning om daar te kom. Op die manier bly onge-ergde toeriste weg. Die rotstekening is ook met tralies afgeskort sodat mens nie daaraan kan raak nie. Die grondoppervlak is met gruis bedek sodat die stof nie kan opstuif en die tekeninge beskadig nie. “Professor Markus” se rol is onder andere om toe te sien dat onverskillige toeriste die reëls gehoorsaam en dat die tekeninge behoue bly. Daarvoor verdien die nederige Damara ’n karige salaris wat toeriste gelukkig aanvul met fooitjies.

Markus lei ons weer veilig by die olifante verby en ons stap gemaklik terug in die stille wete dat ons slegs ons voetspore agtergelaat het. Terug by die ontvangskantoor wag daar yskoue water en bier (laasgenoemde in ons karre se yskaste). Ons betaal met groot graagte ons fooie en geen ook aan Markus ’n fooitjie waarvoor hy opreg dankie sê.

Om eerlik te wees moet mens erken dat die “White Lady” nie jou asem wegslaan nie. Dit is eintlik die omgewing en die agtergrondsverhaal wat mens aangryp. Vir my is die manier waarop die mense van die Brandberg hierdie kosbare skat bewaar, maar gebruik, sonder om letsels te laat, wat die mooiste van die eenvoudige Boesmantekening is. Hulle gebruik hulle enigste bate om ’n inkomste te genereer. Duisende toeriste besoek elke jaar die “White Lady” en daardeur verseker hulle ’n inkomstestroom vir die werkers en hulle afhanklikes. Hulle doen dit sonder om een klip te verwyder of ’n graaf grond om te dolwe, heel anders as die “beskaafde” myners van die Ugabmyn. “Professor Markus” en die ander personeel voeg waarde toe aan iets wat op sy eie nie sensasioneel is nie. Dit lok die toeriste vanoor die hele wêreld. Doen jy 10 kilometer verder by die pragtige “White Lady Lodge” aan vir ’n middagete, of bly jy selfs daar oor, besef jy hoe groot die impak van die rotstekening regtig is. Tot ’n baie groot mate bestaan die grote lodge slegs omdat die toeriste na die “White Lady” kom kyk. Op dié manier verskaf die “White Lady” indirek werk en kos aan ’n horde ander mense. Dit sal aanhou solank mense die “White Lady” beskerm, bewaar en oppas, soos hulle dit tans doen.

Heelwat later, suid van Hentiesbaai, by die wrak van die Zeila, kom ek weer ’n paar Damaras teë. Die Zeila het agt jaar gelede hier gestrand en sedertdien kom kyk duisende toeriste na die onaardige gesig. Met my eerste poging kom ek tot minder as 200 meter van die wrak, maar sien dit nie deur die digte misgordyn nie. Toe ek ’n paar uur later, na ’n Henties-ontbyt, terugkom, lê die wrak daar in al sy onglorie.

Die Damaras sak op ons toe, beleefd, maar tog dringend. Hulle verkoop kristalle, wat hulle sê hulle self gemyn het in Damaraland se ruwe vlaktes en berge. Aha! Op hulle beskeie manier doen hulle wat die Ugabmyners gedoen het, maar sonder tegnologie. Met hamer en beitel kap hulle die ametis, die toermalyn, rooskwarts, jaspis en ander stene uit Damaraland se lyf uit. Dan kom verkwansel hulle dit hier aan die toeriste wat na die Zeila kom staar.

damaras-op-strand

Veral een Damara kan my nie uitlos nie. Hy hou aan en aan. “Aag Meneer, my Baas. Help tog hierdie arme ou Damaratjie om terug te gaan. Ek het my ma so lanklaas gesien. Vat sommer die hele boks klippe vir R500.”

Voor hom hou hy ’n bierkarton met ’n dosyn en ’n half van Damaraland se kristalle wat hyself, so sê hy, uit die grond gekap en gegrawe het. Hy wil net terug Damaraland toe. Ek ook, dink ek heimlik, maar vir ander redes as hy. Hy smeek, pleit, hou aan, gaan feitlik op sy knieë. Ek moet net die boks koop sodat hy kan teruggaan, na sy ma toe.

Ek kyk diep in die “Damaratjie” se oë, soekend vir die tekens van gisteraand se drank, spiritus, dagga of wat ookal, maar al wat ek sien is ’n mens wat iets van my vra. Dis soveel makliker om net om te draai en weg te loop, maar ek kan nie. Iewers skuil daar, vertel ek myself, iets opregs. Maar is dit op die ou einde nie ook maar net die “Damaratjie” se eie gierigheid, weliswaar op ’n ander skaal as die Ugabmyners s’n wat hom hier laat beland het nie? Het hy nie daar doer in Damaraland gesit en drome droom terwyl sy hamer en beitel werk nie? Het hy nie die stories van maklike geld geglo, soos ’n gouddelwer van ouds toe hy sy kristalle uitgegrawe het nie? Nou sit hy hier, volgens sy eie getuienis, as mens dit kan glo, en wens hy kan huistoe gaan. Of miskien lieg hy net, en probeer hy maar net die klomp klippe wat hy wie weet waar gekry het, verkwansel vir nog ’n aand se drank. Gierigheid van ’n ander aard.

Om my gewete te sus koop ek ’n paar van die nuttelose klippe, maar ek bly onrustig oor die man se lot. Eintlik is dit die vae onrus oor die hopeloosheid van soveel ander “Damaratjies,” ook dié met wit velle, in Pretoria, miskien Londen en New York en soveel ander plekke wat die slagoffers van hulle eie gierigheid, moontlik ’n baie gesofistikeerde vorm daarvan, is. Hoeveel mense is daar wat tevrede is met hulle lot? Wat in harmonie met hulle omgewing kan saamleef? Soos professor Markus van die Brandberg.

Iets wat ek in “Die Keiservoël Oor Namaland” geskryf het, en waarvan Marsia Reed so baie hou, meld hom weer by my aan:

“Regina, hierdie land is ’n land van bloed, woede en jaloesie, ’n plek wat nie met hom laat mors nie, maar as jy hom respekteer dan is dit ’n land van liefde en genade. As jy saggies leef en liggies trap, dan maak die land sy hart vir jou oop en druk jou teen sy bors. Dis ’n land wat vir sy mense sorg. Die Namas verstaan dit mooi. Die Topnaars kry elke jaar hulle narra-oes verniet en dis genoeg vir hulle. Simon Koper se Fransman-mense het elke seisoen hulle tsammas gekry en dit was vir hulle genoeg. Partykeer kry jy selfs ’n stukkie heuningkoek.

  “Toe ek in die Karasberge gewoon het, was daar altyd genoeg kos en selfs in die woestyn, al was dit eenkeer ’n skubberige horingsman. Hierdie land het nog altyd vir my gesorg omdat ek lief is vir hom. In die berge het hy my toegedraai in sy bergkaros en in die woestyn in sy wit laken.

  “Ander mense verstaan dit nie, Regina. Vir hulle is dit net ’n plek om geld te maak, om ryk te word en om op te gebruik. Maar dan staan hierdie land op en hy hang jou op soos die keiservoël ’n akkedis aan ’n doring ophang om uit te droog. As jy hierdie land se gesig met jou gulsigheid krap, sal hy jou laat vrot soos ’n dooie hasie in die veld. Dit is wat met my pa, Joseph Luchtenstein, gebeur het. En met Josef Fredericks. En met Adolph Lüderitz. En die Wandelende Jood, Moses Rosenstein. En al die ander fortuinsoekers wat net vir hulleself wil hê en vat en steel.”

En toe verstaan ekself weereens waaroor die lewe gaan: om te gee en nie om te neem nie. Ek het twee dae later teruggery na die wrak van die Zeila en vir die ou “Damaratjie” nog ’n paar rand in die hand gestop, om te maak daarmee wat hy wil.

Professor Markus en die ander mense van die Brandberg leef saggies, in die teenwoordigheid van hulle Wit Dame. Hulle het genoeg om van te lewe, anders as die spul Damaras by die wrak van die Zeila, soveel anders as die stropers wat besig is om Damaraland se renosters, olifante en leeus te vernietig. Wanneer sal die mens leer om tevrede te wees?