
Die Bondelswarts-Namas het 1904-1908 se oorlog teen die Duitsers oorleef. Hulle was ook deel van 1914-1915 se veldtog van generaal Louis Botha wat die Duitse juk van hulle skouers afgeskud het. Tydens hierdie konflik werk Bondelswarts-leier Abraham Morris nou saam met kaptein Prinsloo van die Uniemagte. Hy, die kaptein, is ’n seun van ’n Boere-offisier wat in die Anglo-Boere-oorlog gesneuwel het en deur sy Britse opponente vereer is vir sy dapperheid. Prinsloo leer ken Morris as ’n dapper en eerbare man, “n man deur en deur.” Die Bondelswarts hoop dat hulle samewerking met die Uniemagte sou meebring dat sekere onregte van die Duitsers reggestel sou word, maar die teenoorgestelde het gebeur. Die Unie het eerder nog verdere laste op hulle gelê. Gaandeweg het dit duidelik geword dat die Unie van Suid-Afrika die Duitse filosofie gedeel het- hulle, die nasate van die Khoi-Khoin, die Namas, die oorspronklike grondbesitters van suidelike Afrika, was nou tweedeklas inwoners met mindere regte. Al waarvoor hulle goed genoeg geag was, was as arbeiders.
In Suid-Afrika was daar vroeg in 1922 soortgelyke ontevredenheid. Duisende verarmde Afrikaners en swartes moes ’n heenkome op die Witwatersrand se myne vind. Daar was hulle ook niks anders as goedkoop arbeid nie. Dit lei tot ontevredenheid, ’n staking, en geweld. Die onverbiddelike generaal Jan Smuts stuur sy masjiengewere en aanvalsvliegtuie om die stakers te verjaag en baie sterf. Dit is vreemd dat iemand wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog eerstehands die wreedhede van Kitchener se verskroeide aarde en konsentrasiekampe beleef het, nou dieselfde soort wreedheid teenoor sy eie mense sou pleeg.
In April 1922 keer Abraham Morris terug na sy mense, die Bondelswarts van Guruchas in die verre suide van Suidwes-Afrika. Kaptein Prinsloo, nou hoof van die Miltêre polisie op Keetmanshoop reis in opdrag van sy meerderes na Guruchas om Abraham Morris te vang, maar Abraham glip betyds oor die Garieprivier. Prinsloo volg hom en voer selfs ’n gesprek met hom. Hy waarsku Morris om nie na Guruchas terug te keer nie. ’n Paar dae later kruis Morris willens en wetens die rivier om permanent by sy mense aan te sluit. ’n Ander polisieman, ene van Niekerk gaan probeer om Morris te arresteer weens “onwettige immigrasie,” maar die oudstryder en sy troue volgelinge sit hulle teë.
Dit was nou die einde van Mei 1922 en die Bondelswarts onder leiding van Abraham Morris neem die wapen op. Daar was ongeveer 1200 weerbare manne met slegs ’n beraamde 200 gewere tussen hulle. Skaars 7 jaar tevore was hierdie einste Bondelswarts die ooggetuies van die reusagtige Uniemag, op een stadium 60 000 man, wat die Duitsers oorwin het. Hoe kon hulle ooit dink dat hulle enige kans teen die Unie sou staan? Sekere geskiedskrywers glo dat die Bondelswarts van die begin af geweet het dat hulle sou verloor, maar dat die rebellie ’n laaste, desperate en fatalistiese aksie van ’n klein groepie mense wat reeds alles verloor het, was. Hulle het slegs geveg ter wille van hulle trots.
In Windhoek besluit die administrateur, Gysbert Reitz Hofmeyr, ’n man met geen militêre ondervinding, om self die strafekspedisie te lei. Hy stel homself aan as kolonel, ’n stap wat later baie gekritiseer is. Die Uniemagte beweeg suid, per trein, tot by Kalkfontein, vandag se Karasburg. Een van die offisiere is ’n Windhoekse advokaat, CM (Toon) van den Heever, die latere beroemde digter en skrywer.
Op 29 en 30 Mei val die Uniemagte Guruchas aan. Dit is ’n slagting hoofsaaklik weens die twee bomwerpers, waarvan die een vlieënier ene Pierre van Ryneveld is. Die vliegtuie werp honderde bomme neer op die nedersetting Guruchas, waar baie vroue en kinders skuilhou. Die Unie-soldate steek al die hutte en geboue wat die bomaanvalle oorleef het aan die brand.
Meer as 100 Bondelswarts sterf en die meeste van die ander moes oorgee, maar Abraham Morris vlug met ongeveer driehonderd bittereinders die klowe en berge in. Hierdie wêreld is wild en onherbergsaam, selfs meer nog as die soortgelyke Richtersveld suid van die Garieprivier. Die vlugtende Bondelswarts het net een voordeel. Hulle ken die veld, geheime waterplekke en veldkos. Hulle word nou agtervolg deur die einste kaptein Prinsloo, hy wat so groot respek vir Abraham Morris, sy vyand, het. Die vliegtuie help baie want hulle verklap telkens Abraham en sy manne se beweging. Verskeie kere land die vlieëniers naby die agtervolgers om opdragte, kos en water te bring.
Na ’n paar verskriklike dae van hitte, koue, dors, honger, gevegte, vlug, agtervolg en pyn skiet Prinsloo Abraham op ’n lang afstand raak. Abraham, swaar gewond, laat sy manne sweer dat hulle hom self sou doodskiet, eerder as dat hy deur die Uniemagte gevange geneem sou word. Gelukkig beswyk Morris in die nag en sy verslae manne begrawe sy lyk onder ’n stapel klippe. Die volgende dag gee hulle hulleself ver van die graf af oor. Die Bondelswarts is finaal verslaan, maar Prinsloo besef dat hy nie sal rus voordat hy Morris se lyk gesien het nie. Hy neem twee gevange Bondelswarts en ’n paar uitgeruste soldate en gaan soek die graf. Hulle verwyder die klipstapel en sien dat dit werklik Morris is. Hulle pak die klippe netjies terug.
Later skryf Prinsloo in sy verslag dat geen voertuig nader as 30 myl aan die plek waar Morris begrawe is kan kom nie. Dit is hoogs waarskynlik dat Morris se graf vandag nog net so lê en dat daar nog nooit weer ’n mens was nie. Indien iemand wel weet waar die plek is, sal ek dit graag wil besoek.
Guruchas is vandag ’n verlate spikkel op die landkaart, suid van die M22 tussen Karasburg en Noordoewer en die Bondelswarts, soos die ander Namas, weet niks of baie min van hulle roemryke verlede. Die kultuur van die Khoi-Khoin, ook geminag deur die uiteindelike, huidige oorwinnaars, die Ovambos se SWAPO, kwyn.
Hierdie verhaal is verewig in James Ambrose Brown se roman, The Return.
Lees môre hoe die wêreld op hierdie treurige gebeure gereageer het.
