Dag 47: 1922 se skandvlek op SA: Die einde van ’n kultuur.

Abraham-Morris
Abraham Morris. Sover bekend is dit die enigste foto van hom. Hier is hy in sy uniform as verkennersoldaat van die SA Uniemagte wat tydens die Eerste Wêreldoorlog teen die Duitsers geveg het. Tien jaar tevore het hy saam met dieselfde Duitsers teen die Herero’s geveg en toe teen hulle, die Duitsers. Foto ontleen aan Gordon McGregor en Manfred Goldbeck se boek, The First World War in Namibia. Die oorspronklike foto is vanaf die Nasionale Argief in Windhoek.

Presies 20 jaar na die Britte se verskroeide aarde aksies tydens die Anglo Boere-oorlog, agtien jaar na generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel en die massamoord op die Herero’s, en agt jaar nadat die Bondelswarts, Namas van Suidwes-Afrika se diep suide, die SA Uniemagte gehelp het om die Duitsers te verslaan, het dieselfde SA se Uniemagte een van die vernietigendste veldtogte ooit uitgevoer en daarmee die Bondelswarts vir alle praktiese doeleindes vernietig.

Oorlog is oorlog, maar die wyse waarop hierdie oorlog gevoer is, was onmenslik wreed, soveel so dat die Volkebond, die voorloper van vandag se VVO, SA amptelik veroordeel het. ’n Mens kan seker dink en redeneer dat hierdie die begin was van die dekade-lange reeks van veroordelings en resolusies deur die VVO wat uiteindelik op die onafhanklikheid van Namibië uitgeloop het. Was dit nie daarvoor nie, kon die moontlikheid bestaan het dat SWA SA se vyfde provinsie kon geword het.

Die 1922 Bondelswarts opstand of soos dit bekend gestaan het, die Bondelswarts Affêre, “Bondelswarts Affair,” het begin met die terugkeer van een van die Nama-oorlog se helde en leiers, Abraham Morris, uit sy verbanning na oorkant die Garieprivier. Abraham se vrou is dood in 1921 en hy wou terugkeer na sy mense wat op Guruchas gebly het. Abraham se pa was ’n Skot en sy ma ’n Nama. In my boek, “Die Keiservoël oor Namaland” is daar benewens Abraham wat ook ’n rol speel, nog so ’n gesin, Robert en Gertruida McKay, ware mense van die plaas Paradys naby Keetmanshoop. Hulle het die jong Ernst Luchtenstein, my hoofkarakter en sy suster Charlotte grootgemaak. Dis hier waar Ernst leer Nama praat het en die kultuur leer ken het.

Die Nama-oorlog se begin word teruggespoor na vroeg in 1904 toe een van die Bondelswarts luitenant Walther Jobst doodgeskiet het, juis op ’n tydstip toe die Herero’s in die noorde baie moeilikheid gemaak het. Tydens dieselfde insident is die leier van die Bondels, Jan Christiaan ook doodgeskiet. Die vraag is natuurlik wie het eerste geskiet? Die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, majoor Theodor Leutwein, moes hom haas na die suide om die vrede te probeer bewaar, maar tydens sy afwesigheid het sy junior offisiere in die noorde miskien effens oorreageer op die Herero’s en so die Herero-oorlog aan die gang gesit.

Op ’n manier gebeur dit dat die Bondelswarts, onder andere Abraham Morris, en die Witboois, onder andere Cornelius Fredericks, toe met die Duitsers saamwerk om teen die Herero’s te veg, ’n oorlog wat op 12 Augustus 1904 ten einde kom met die slag van Waterberg waar duisende Herero’s insluitende vroue en kinders doodgeskiet is. Daarna is die oorlewende Herero’s in die Omaheke-woestyn ingedryf, tot in Betsjoeanaland. Party het tot by vandag se Bela-Bela in SA gevlug.

Skaars twee maande later verklaar die Namas oorlog teen die Duisters, dieselfde kamerade saam met wie hulle nou net geveg het. Dit is veelseggend om die minste te sê.

Abraham Morris tree na vore as die leier van die Bondelswarts en maak die suide baie warm vir die Duitsers. Na die oorlog gaan woon hy oorkant die rivier, terwyl sy mense op Guruchas hom as held beskou. ’n Relatiewe swakkeling, Jacobus Christiaanis die leier op Guruchas.

In die tydperk nadat SA die mandaat gekry het om SWA te bestuur, 1915-1922, vaardig die Unie verskeie dekrete uit wat die Bondelswarts se tradisionele leefwyse bedreig. Hulle grondgebied word drasties beperk, hulle moet hondebelasting betaal en hulle vee brandmerk. Hulle mor.

Abraham Morris se terugkeer in 1922 laat die hoop op ’n rewolusie opvlam, maar Abraham bly gedweë. Hy oorhandig selfs sy geweer aan die polisie. Hy word gedagvaar om voor die hof te verskyn vir onwettige immigrasie, maar sy mense vertrou nie die vrede nie. Almal meen die Unie se mense gaan hom in die tronk smyt en daar hou.

So begin die opstand.

Lees môre verder.

Dag 46: ‘n Vreemde toeval. Ernst, Regina, en kolonel Berrangé

Haus_Streitdam
Haus Streitdam op Aroab, waar Regina Klube as weeskind deur Hauptmann Bruno Göttiger en sy vrou Frieda grootgemaak is.

 

 

Kiriis_Wes
Die plaas Kiriis Wes, 80 kilos oos van Keetmanshoop, wat behoort het aan oom Dicky Strauss en waar ek die eerste keer van Ernst Luchtenstein gehoor het.

Die speurwerk verbonde aan die skryf van “Die Keiservoël Oor Namaland” laat die bloed in my are kabbel. Die skryf- en redigeer- en uitgeeproses is feitlik verby, maar die opwinding bly.

Onlangs het ek twee boeke oor die verloop van die Eerste Wêreldoorlog in die destydse Duits Suidwes-Afrika gelees en op ‘n baie interessante, indirekte verband tussen twee hoofkarakters afgekom. Die een was Ernst Luchtenstein en die ander Regina Klube.

Die twee het albei as kinders in Duitswes aangekom, mekaar later ontmoet, getrou en ‘n lang gelukkige lewe gehad. Ernst het op ‘n stadium 500 000 hektaar grond besit.

Ernst het ‘n suster, Charlotte gehad. Charlotte is ook ‘n karakter in my boek. Sy was later die ma van oom Dicky Strauss, wat my tydens ‘n jagtog in 2007 van Ernst Luchtenstein vertel het. Oom Dicky en tannie Memoirree het op sy ma Charlotte se plaas Kiriis Wes, 80 kilometer oos van Keetmanshoop gewoon. Dit was nie ver van hier af nie waar die seun Ampie Esterhuizen die “vlieënde slang” gesien het, soos ek vroeër vertel het.

Regina se ouers is albei aan tifoïedkoors dood. Sy is toe deur Hauptmann (kaptein) Bruno Göttiger en sy vrou Frieda aangeneem.Göttiger was die Duitse polisiebeampte op Aroab. Hulle het in die bekende landmerk, Haus Streitdam op die dorp gebly.

Luitenant-kolonel Christian Anthony Lawson Berrangé was in beheer van die sogenaamde Oostelike mag van die invallende Union Defence Force van Suid-Afrika wat Duits Suidwes-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog ingeval het. Hy en sy troepe het Duitswes vanaf Kuruman, deur Rietfontein naby Askham, ingeval. Die eerste dorp op hulle pad was Aroab waar die Göttigers gewoon het. Die kaptein, Göttiger, is gevange geneem en die vroue, Frieda en Regina is verplig om die plaas te verlaat. Hulle sou geïnterneer word vir die duur van die oorlog, maar die opperbevelhebber van die Uniemagte, generaal Louis Botha, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika wou hê die vroue moes ordentlik behandel word en wel in die publieke oog, uiteindelik Windhoek. Hy het ‘n weersin gehad in wat 12 jaar tevore in die Engelse konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog gebeur het.

Hulle is almal baie haastig van Haus Streitdam af weg en in die warboel het die Göttigers se Bybel agtergebly. Maande later sou die Unie-soldate die Bybel persoonlik by mevrou Göttiger in Windhoek kom aflewer.

Ry mens verder vanaf Aroab met die grondpad weswaarts rigting Keetmanshoop, dan kom jy uiteindelik by Kiriis Wes op regterkant uit, 80 kilos duskant Keetmanshoop. Net so het kolonel Berrangé se Oostelike mag ook by dieselfde Kiriis Wes uitgekom, waar die Duitse Schutztruppe vir hulle gewag het. Op 16 April 1915 val Berrangé hulle aan. Die Uniesoldate skiet vier soldate dood en vang nog agt, maar die Duitsers ontsnap met al hulle artillerie.

Dit is interessant dat Berrangé se inval op ‘n manier beide Ernst en Regina se lewenswêreld aangeraak het. Natuurlik is Ernst ook opgeroep om saam met die Schutztruppe te veg, iets wat eindelik tot sy eensame 18 maande in die Karasberge sou lei.

 

Dag 45: Die betekenis van die veldslag teen Simon Koper.

SimonKoperAskham
Ek het Simon Koper, ‘n afstammeling van die bekende Nama-leier in 2012 op die plaas van die Khomani-San, Erin, digby Askham, ontmoet. Hy was onbewus van die geskiedenis van sy beroemde voorsaat.

 

_DSC3830
Oom Elias le Riche (links) voormalige parkhoof van die Kgalagadi Oorgrens Park. Ek het hom verlede week ontmoet. Hy is een van die laaste mense wat die grafte van Kaptein von Erckert, luitenant Ebinger en die ander Duitse Schutztruppe met sy eie oë gesien het. Die houtkruise is deur veldbrande vernietig en hy glo nie dat die presiese plek ooit weer opgespoor sal word nie.

Die verhaal van Simon Koper en sy !Kara-geikhoen, die Fransmanne, is vandag steeds relevant. Hulle was Namas, Khoi-Khoin, die eerste inwoners van Suidelike Afrika. Hulle het ‘n bestaan gemaak deur oor wat vandag se landsgrense is te trek, te jag, met kleinvee te boer, en van die opbrengs van die veld te lewe. Die besluit wat ‘n ander Nama-stam, die !Aman van Bethanië, geneem het, om sekere grond te verkoop, en die daaropvolgende doelbewuste manipulering van die konsep van die geografiese myl, het gelei tot ‘n oorlog waarin verskriklike wreedhede aan beide kante gepleeg is, soos in alle oorloë.

Uiteindelik het Simon Koper met die meeste van sy mense ontsnap en hulle laaste dae in Betsjoeanaland deurgebring. Hoe vreemd is dit dat hulle steeds ‘n pensioen van hulle veroweraars ontvang het, in ruil daarvoor dat hulle nooit weer terug sou gaan na hulle eie land nie? Is dit nie juis’n soort van erkenning van hulle reg om wel daar te mag wees nie? As hulle geen reg tot verblyf gehad nie, was daar geen nodigheid om enigiets te betaal nie. Is dit hoekom die oorwinnaars van ‘n middelman (die Britse koloniale owerheid) gebruik gemaak het om die betalings te doen?

Daar woon vandag steeds nasate van die !Kara-geikhoen in die omgewing van Bokspits en Askham. Ek het ‘n paar gelede juis op die grond wat die SA regering aan die Boesmans (Khomani-San) oorgedra het, gejag en ene Simon Koper, ‘n direkte nasaat, ontmoet, maar hy het absoluut niks geweet van sy voorsate se geskiedenis nie. Ek was baie teleurgesteld, want dit het my laat dink aan my eie mense, die Afrikaners. Ons beleef vandag ook bedreigings, net soos die Namas van destyds. Hulle taal en kultuur is feitlik vernietig. Gaan ons nasate ook oor ‘n honderd jaar niks weet van Afrikaans en die Groot Trek en die Anglo-Boere-oorlog nie?

Die presiese plek waar die veldslag op 16 Maart 1908 plaasgevind het, is vandag verlore. Oom Elias le Riche, een van die beroemde geslag le Riche’e wat die Kgalagadi Oorgrens Park, voorheen die Kalahari Gemsbok Nasionale Park, gevestig en bestuur het, onthou hoe sy pa hom die plek en die grafte gaan wys het. Toe hy later jare weer daar kom het die veldbrande en weer alle tekens van die plek vernietig. Hy glo nie dat mens ooit weer met sekerheid hierdie historiese plek sal opspoor nie.

Wulf Haacke beskryf in sy uitstekende artikel in die Namibiese Wetenskaplike Vereniging se Joernaal hierdie insident op 16 Maart 1908 as die finale veldslag van die Nama-oorlog, maar die mag van die Bondelswarts, die Namas van Warmbad in die suide van Namibië, is eers in 1922 gebreek. Ek vertel graag later van hierdie sogenaamde “Bondelswarts Affêre,” “the Bondelswarts Affair,” wat dekades later steeds vir SA internasionale probleme veroorsaak het en selfs op ‘n manier ‘n rol in die Grensoorlog gespeel het.

As mens ‘n toekoms wil hê, moet jy nie jou verlede vergeet nie.