Dag 69: Annerlike Afrikaans se Keiservoël

Ek het in die laaste inskrywing vertel hoe ek ‘n antieke Nama-woordeboek gebruik het. Vandag wil ek vertel van wyle dr Anton Prinsloo se kosbare rol in die ontwikkeling van “Die Keiservoël Oor Namaland,” my historiese roman.

My doel met die Nama-woorde en sinsnedes was om aan te toon dat die Namas ‘n eie taal en kultuur, die van die Khoi-Khoin, gehad het. Met die koms van die witmense het hulle die witmense se kultuur aangeneem en uiteindelik begin Afrikaans praat. Vandag is hulle die grootste groep inheemse Afrikaanses buite die grense van die RSA. Desnieteenstaande geniet hulle as volk geen erkenning of ondersteuning van SA se Afrikaners nie. In hulle eie land, Namibië, is hulle ook ‘n minderheidsgroep, en soos die ander mense in Namibië word hulle feitlik gedwing om te verengels. Begin dit bekend te klink?

Vir die eerste paar jaar wat ek aan die boek gewerk het was die titel “Maar Ons Het Nie Geweet Nie,”‘n verwysing na ‘n sin van een van die Duitse offisiere na aanleiding van die gruweldade in die konsentrasiekamp op Haai-eiland tydens die Nama-oorlog. Dit is mos hoe baie mense hulleself verontskuldig het na die Tweede Wêreldoorlog se Joodse Holocaust. En moontlik ook na Vlakplaas en so aan. “Maar ons het nie geweet nie.”

Ek het dr Anton Prinsloo se woordeboek oor kontreitaal in die hande gekry en letterlik deurgelees. Die Namas van Namibië het hulle eie unieke dialek van Afrikaans. Prof Hans Du Plessis wat die Griekwa Psalms geskryf het, het ook vir ses maande navorsing oor die Namas se Afrikaans gedoen. Ek het na die Namas geluister en lief geword vir hulle annerlike Afrikaans.

En toe kom ek in dr Anton se woordeboek af op die duitsevlag oftewel die Keiservoël, die Namas se baie oorspronklike naam vir die rooiborslaksman, Laniarius atrococcineus. Die Namas is deur die Duitse Schutztruppe verslaan en baie het in die onmenslike konsentrasiekampe gesterf. Dit is een van die temas in die boek. Ek kon nie anders as om die titel te verander na “Die Keiservoël Oor Namaland” nie. Die ironie van die laksman en die Duitse vlag was oorweldigend. Die effek van die Duitse Ryk op Namaland was finaal.

My gedagtes het verder op loop gegaan en ek het die ander voëls van Namibië ook begin bestudeer. Dit het tot ‘n heel ander storie gelei; later meer daaroor.

Die Namas se Afrikaans is mooi en suiwer, want hulle ken (nog nie) so baie Engels soos Pretoria se kinders nie. Dr Anton se woordeboek bevat nog baie ander voorbeelde. Ek het baie daarvan gebruik. Wie weet dat ‘n kikvors ‘n padda is? Of dat kaveer en kewel stry  en protesteer beteken? Of dat hulle praat van ‘n gensbok in plaas van ‘n gemsbok? Of dat florsies flenterskoene is?

In die boek verklaar ek die moeiliker Nama Afrikaans , soos die Nama-woorde met voetnotas.

Dag 68: Die 100 Jaar oue Nama-woordeboek

Nama2Nama.jpg

‘n Glimlag so groot en wyd soos die Karasberge het hom tuisgemaak op my gesig. My opgewondenheid oor “Die Keiservoël Oor Namaland” hardloop weg, want oor bietjie meer as ‘n week sal lesers kan deel in die afgelope agt en ‘n half jaar se navorsing, skryf, herskryf en proeflees. Ek het vanoggend gesien hoe die finale produk gaan lyk…

Intussen deel ek nog ‘n paar stukkies interessante agtergrondinligting.

‘n Mens kan nie oor die Namas praat as jy nie iets van hulle taal weet nie, maar hoe maak mens as jy hierdie ou taal nie ken nie? Gelukkig het sendeling Johannes Olpp, daar was twee, senior en junior, meer as ‘n honderd jaar gelede ‘n Nama-Duits woordeboek opgestel en dit is later deur die “Inboorling-taalburo van die Departement van Bantoe-onderwys” in ‘n Nama-Afrikaanse woordeboek omgeskakel. Ek het hierdie woordeboek van Amazon se kantoor in Londen bestel en dit bestudeer. Dit het my bemagtig om verskeie Nama sinne en woorde in die teks van “Die Keiservoël Oor Namaland” te gebruik. Ek verklaar hierdie Nama-teks onderaan die bladsye met voetnotas. Kritici sal seker redeneer dat ek dit voor of agter in die boek met ‘n lang lys verklarings moes doen, maar ek het geredeneer dat dit makliker lees as mens net jou oog na die onderkant van die bladsy moet rig eerder as om elke keer vorentoe of agtertoe te blaai.

Die doel met die gebruik van die Nama-taal is om die boodskap dat die Namas nié kleurlinge is nie, maar ‘n afsonderlike, unieke volk, met hulle eie taal en kultuur, te beklemtoon. Ek het dit voorheen genoem, maar dit verduur herhaling om weer te sê dat die Namas afstammelinge van die Khoi-Khoin is; hulle is ook nie sogenaamde Khoi-San nie, ‘n wangebruik van ‘n skeldnaam, as daar al ooit een was. Die Khoi-San is Boesmans. Gaan vra hulle self, soos wat ek gedoen het.

Ek wil veral hê dat lesers moet besef dat die Namas Khoi-Khoin, rofweg vertaal “eerste mense” of “regte mense” was, juis om hulle te onderskei van die Boesmans en moontlik ander swart nasies. Daarmee wil ek juis ook die punt maak dat hulle, die Namas, die eerste grondbesitters van Suidelike Afrika was, en dit trek ‘n dik swart streep dwarsdeur die grondeise van die Zoeloes, Xhosa en andere. Af en toe lees ons in die koerante van ‘n vae groep daar in Kaapstad wat hulleself Khoi-San noem, protesteer en “demand.” Hulle is opportuniste, na my mening.

Daar is natuurlik die mense van die Richtersveld (Khoi-Khoin) wat wel ‘n suksesvolle grondeis ingedien het. Die enigste probleem is dat hulle sukkel om hulle geld uit Alexkor (dink ek) te kry.

Vandag praat Namibië se Namas merendeels Afrikaans. Daaraan het ek ook aandag gegee en dit ook ingeweef, maar op ‘n ander wyse waarvan ek in ‘n volgende aflewering sal vertel.

Dag 67: Klein Kubub en ‘n nag in Leopardenschlucht

Aha_nag

Gister het ek vertel hoe ek vir jare gesukkel het om te verstaan hoe en waarlangs die ou transportryers met hulle ossewaens getrek het tussen Aus en Lüderitz, ‘n afstand van 120 kilometer teen die opdraendes, ooswind, immer-skuiwende sandduine, hitte, koue, en sonder water. Uiteindelik het ek uitgevind waar die bietjie  brakwater by Tschaukaib, Kaukasib en Ukamas was, maar hierdie is plekke wat in die Spergebied lê en nie maklik om te besoek nie.

Een van die mense wat my op die regte spore gelei het, is Piet Swiegers van Klein Aus Vista, die lieflike lodge by Aus. Hy het ons in sy Landcruiser gelaai en gaan wys waar Klein Kubub is, ‘n paar kilometer suid van Aus. Destyds het alle (ossewa-) paaie na Klein Kubub gelei, want dit was waar die water was. Klein Kubub was die laaste drinkplek vir die osse voordat hulle die tog deur en oor die barre Namib Lüderitz toe moes aanpak, en natuurlik die eerste drinkplek na die ontberings van weke op die inkomende roete.

Die naam Klein Kubub word op die kaart hieronder aangedui as Kl Kubub, regs onder Kumsis.Net links daarvan staan Kl Fontein (Klein Aus).kaart2

Klein Kubub was ‘n bedrywige plek. Vandag is dit verlate. Klein Kubub se fontein is groot en deeglik met klip uitgemessel, maar weens die droogte so droog soos die bas van die massiewe peperboom wat bo-oor toring:

put

Langs die fontein is oorblyfsels van die krippe waaruit die duisende dorstige diere gedrink het. Let veral op hoe breed die krip was, om genoeg water te hou en om dit sterk genoeg te maak om die krag van die osse te weerstaan:

krip

‘n Entjie verder weg is die relatief ongeskonde oorblyfsels van die klipkrale waar duisende osse moes oornag:

kraal

 

‘n Vreemde spookagtigheid hang oor die omgewing wat eens die hartklop van die Suide se vervoernetwerk was, miskien nog een van vele simbole van die stagnasie, indien nie agteruitgang nie, van hierdie mooi streek.

Piet het ons gou, voor donker gaan wys waar Klein Kubub se eenrigting ossewaroetes se spore vandag nog sigbaar is. Die omgewing is bergagtig en die kontoere styl. Dit was nodig om die inkomende en uitkomende ossewaens te skei, want hulle kon nie direk langs mekaar veby gery het soos op die woestyn se vlaktes nie. Op die foto onder kan mens regs vaagweg die roete binneland, Keetmanshoop toe sien , en links, die roete vanaf die binneland na Klein Kubub toe:

wapadpano

Net voor donker is ons na die bopunt van ‘n klein klofie, reg rondom verskans met klipkranse. Leopardenschlucht, Luiperdskloof, is die naam. Ver onder sien mens die groen mos waaruit ‘n paar druppels vog nog hulle weg uit ‘n klipskeur veg. In beter tye sal hier ‘n stroompie water vloei. Leopardenschlucht is ‘n skilderagtig mooi wegkruipplek, kompleet met netjiese sandstrand.

Op Piet se uitnodiging bevind ons onsself twee aande later weer in Leopardenschlucht, om te kamp en die nag deur te bring.

Aha

Piet het ons eers op subtiele wyse, of miskien was dit nie subtiel nie, ‘n paar foto’s van regte luiperds wat sy opgestelde outomatiese kamera digby Leopardenschlucht geneem het, gewys. Ek het koue rillings ervaar, vir meer as een rede, een daarvan die rol van ‘n luiperd in my boek, wat ek ter wille van lesersgenot hier sal verswyg.

Leopardenschlucht is nie ‘n kampplek met gemaklike storte en toilette nie. Daar is geen geriewe nie. Ons moes alles saambring.

Ek sal daardie nag nooit vergeet nie. Vir een nag kon ek myself op ‘n klein manier in die lewe van ‘n transportryer indink. Ons was alleen, weliswaar met die geriewe van ons kampyskas en vrieskas, gaswarmwaterverhitters, kampstort en neonligte, maar ons was soos van ouds blootgestel aan die elemente. Telkens wanneer ek uit die kring van die lig beweeg het, het ek gedink aan die diere wat hulle naam aan die mooi plek geleen het, en het daar ‘n rilling deur my bors geseil.

Dag 66: Ossewa-paaie in die Namib

 

Garub-

Die publikasieproses van “Die Keiservoël Oor Namaland” is ‘n marathon, min of meer soos ‘n ossewa-trek deur die Namibwoestyn. Vir meer as agt jaar werk  ek aan en droom ek van hierdie projek. Nou lê die laaste paar meter voor my. Lesers moet asseblief nog ‘n week of twee geduldig wees.

Vandag bied aan my die geleentheid om iets te vertel van my navorsing oor die roetes wat die transportryers met hulle ossewaens gevolg het in die ou dae. Wat daardie harde manne deurgemaak het was so ongelooflik dat ek dit aanvanklik nie kon glo nie, wat nog te sê onder die woord bring.

Keetmanshoop was destyds (1890-1914) die hoofstad van die suide, en is dit trouens steeds, maar destyds was die suide van Duits-SWA ‘n welvarende en snel ontwikkelende plek, anders as vandag. Daarvoor het diamante, beeste en karakoelskape gesorg. Lüderitz se hawe was die poort, letterlik, tot die suide se rykdom, maar daar was nog geen treine of vragmotors wat na Keetmanshoop geloop het nie. Al die goedere, mense en lewende hawe wat by Lüderitz ontskeep is, moes per ossewa oor 320 kilometer vervoer word. Die grootste uitdaging was die 120 kilometer vanaf Lüderitz na Aus: Die Namib se sand, gebrek aan voer en water, die hitte, koue, opdraendes, ooswind en vyandige Namas het alles saamgewerk om te sorg dat so ‘n ossewa-tog ‘n bomenslike uitdaging was. Wanneer mens deur daardie wêreld ry in ‘n lugverkoelde motor, of bo-oor vlieg in ‘n vliegtuig, kan mens jouself kwalik indink hoe dit moes gevoel het om dit per voet en per ossewa te moes doen.

Ek moes presies dit doen: Myself indink in die lewens, emosies, ervaringe en gewoontes van die destydse transportryers en hulle passasiers. Ek kon nie anders nie want ek wou ‘n boek daaroor skryf, die boek wat eersdaags gaan verskyn.

‘n Ossewa kan maksimum 25 kilometer per dag aflê, maar dit is in gunstige terrein. Die moeilikste deel was die deel tussen Lüderitz en Aus. Ek het hierbo die uitdagings gelys, maar dit vertel nie die hele storie nie. Aus is meer as 4000 voet hoër as Lüderitz. Dit is dus heelpad opdraande. Die woestynwind is ook nie ‘n gewone wind nie. Die wêreldkampioenskapstoernooi in vlieërplankry vind elke jaar in Lüderitz plaas, met goeie rede. Daardie wind kan wáái.

Die sandduine tussen Lüderitz en Grassplatz skuif voortdurend rond as gevolg van die wind en is tot vandag die probleem wat die moderne spoorverbinding telkens troef. Natuurlik het baie mense en diere destyds nie hierdie togte wat tot ses weke en langer kon duur, oorleef nie. Dink net daaraan: Daar is nie juis water in die Namibwoestyn nie. Hoe moes daardie osse wat die waens getrek het vir ses weke oorleef?

Dit was een van die vrae wat ek vir myself moes beantwoord alvorens ek dit sou kon beskryf. Ek moes ter wille van my lesers uitvind hoe hulle dit gedoen het. Ten eerste moes ek uitvind waarlangs die ossewaens getrek het en waar hulle water gekry het.

Bittermin mense ken die antwoorde op hierdie vrae, en die antwoorde het my ook lank ontwyk. Lank gelede reeds het ek met ‘n ligte vliegtuig oor die roetes gevlieg. Ek wys vandag ‘n paar foto’s van die destydse vlug, maar hou in gedagte dat die blote vlug nie veel inligting kon oplewer nie. Die roetes is vandag nog sigbaar uit die lug, maar mens kan nie plekname en of watergate uit die lug waarneem nie.

Dit is eienaardig om selfs een of twee moderne wonings of plaashuise te sien.

Ek het gelukkig die boek van Dora Bolz, “Hard soos kameeldoringhout” bekom. Daarin gee sy so bietjie inligting oor die roetes.

My groot deurbraak het gekom toe ek ‘n paar foto’s wat ek in Kolmanskop se museum geneem het van nader beskou het. Vir jare het die foto’s net op my hardeskyf gelê, maar eendag het ek die foto’s mooi bekyk. Daarin het ek onder die name Kaukasib, Ukamas en Tschaukaib gesien. Hierdie inligting kon ek eindelik korreleer met inligting wat ek by Piet Swiegers van Klein Aus Vista gekry het en kon ek vir die eerste keer werklik visualiseer hoe die manne destyds hulle ding gedoen het.

Die ou kaarte is merkwaardig. Hulle dui die area rondom Lüderitz aan as Lüderitzland, iets wat ek nêrens anders teëgekom het nie. Dit dui Klein Aus ook aan as Kleinfontein, iets waaroor ek lank getwyfel het. Die plek Klein Kubub wat nie op moderne kaarte voorkom, word ook presies aangedui.

Ek vertel graag môre verder, met ‘n interessante foto, presies hoe die ossewaens deur en om Klein Kubub gery het, en hoe ek en my vrou ‘n onvergeetlike nag daar deurgebring het.

Dag 65: Joseph Luchtenstein

Hoofstuk-38

Hierdie is vir my ‘n pragtige foto van ‘n hardkoppige ou man, Joseph Luchtenstein, die pa van die hoofkarakter, Ernst Luchtenstein, in “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne twee weke beskikbaar sal wees.

Ek het so baie stories oor Joseph gehoor, maar uit respek vir sy nasate verkies ek om dit nie alles te vertel nie. Aanvanklik het ek hom in die boek geskilder as ‘n uiters negatiewe karakter, maar later het ek die ruwe kante bietjie gladder poleer.

Joseph het in ongeveer 1903 na Duits-SWA gekom. Een weergawe was dat hy aanvanklik ‘n soldaat was, en die ander weergawe was dat hy van die begin af ‘n transportryer, soos ons hom in die boek leer ken, was. Hoe dit ookal sy, hy moes noodgedwonge sy gesin in Duitsland agterlaat om ‘n nuwe lewe in Afrika te kom soek. Na drie jaar het hy hulle laat kom.

Weereens is daar twee weergawes van wat toe gebeur het, maar ek verkies om te vertel hoedat hy self vanaf Keetmanshoop getrek het, na Lüderitzbucht, vandag se Lüderitz, en die gesin op die hawe ingewag het. Vandaar het hulle per ossewa na Keetmanshoop gereis. Die ander weergawe was dat die gesin met ‘n ander, vreemde transportryer gereis het.

Joseph se vrou, Therese is gou hierna oorlede en die kinders is toe deur Robert McKay, ‘n eenoog Skot en sy Nama-vrou grootgemaak. Joseph was ‘n moeilike man en hy het ‘n verhouding met alkohol gehad, maar in sy later jare het sy seun Ernst tog na hom omgesien. Een van die legendes wat ek wel wil vertel is dat hy sy plaas Hariros drie maal aan Ernst verkoop het. Elke keer het hy “vergeet” dat Ernst hom reeds betaal het en dan het Ernst maar weer sy hand in sy sak gesteek.

Die ander hoofkarakter in die boek is Cornelius Fredericks. Sy pa was Josef Fredericks. Die twee Josefs, oftewel die een Joseph en die ander Josef het my heelwat probleme gegee omdat ekself foute gemaak het, totdat ek dit eindelik begin uitbuit het in die ontwikkeling van Ernst se karakter op ‘n subtiele wyse. Ek wonder hoeveel lesers gaan dit raaklees.

Dag 64: Therese Luchtenstein

Hoofstuk-21
Therese Luchtenstein, moeder van Ernst en Charlotte en eggenoot van Joseph.

Gereelde lesers van hierdie blog weet dat dit handel oor die storie agter die storie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat besig is om deur die publikasieproses te draf. Nog net ‘n paar weke, dan is meer as agt jaar se swoeg en sweet verby. Alhoewel die boek fiksie is, is dit op ‘n aantal werklike gebeure, vreemder as fiksie geskoei.

Ek het twee verhale inmekaar geweef om een groot waarheid oor te vertel. Ek laat dit aan my lesers oor om self die ontdekking te maak. Een van die twee verhale is dié van die Nama-oorlog van min of meer 1904-1908. Die ander verhaal is die wedervaringe van Ernst Luchtenstein, ‘n jong Duitse, Joodse seun wat saam met sy ouers in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) aangekom het in 1906, midde in die Nama-oorlog.

Vandag stel ek lesers van die blog bekend aan Therese Luchtenstein, moeder van Ernst, en vrou van Joseph, waarvan ek in ‘n volgende aflewering sal vertel. Eintlik het dit so gebeur: Joseph was reeds vir drie jaar in DSWA waar hy ‘n lewe as transportryer gemaak het. Uiteindelik kon hy vir Therese en die kinders wat in Duitsland gewag het laat uitkom, per skip natuurlik. Joseph het hulle in Lüderitzbucht (vandag se Lüderitz) ingewag vanwaar hy hulle per ossewa na Keetmanshoop, hulle nuwe tuiste, sou neem.

Dink nou net vir ‘n oomblik hoe dit vir ‘n fyn Duitse vroutjie wat die Duitse beskawing en stede gewoond was, moes voel om voet aan wal te sit in die woesterny wat DSWA was en haar man wat sy drie jaar laas gesien het weer te sien. Direk daarna moes sy op ‘n vreemde ossewa klim en die Namibwoestyn aandurf. Dit was werklik vir my moeilik om hierdie dialoog en emosies te verwoord. Op een stadium het ek die aanvanklike dialoog tussen Therese en Joseph in Duits (met verklarende voetnotas) vertaal omdat dit dan nie so stokkerig geklink het nie, maar toe het ek dit weer terugvertaal en verwerk na Afrikaans, met ‘n taamlike mate van sukses, durf ek sê. Terloops, in die teks verwys ek na Afrikaans as “die Boere se taal,” omdat Afrikaans destyds nog besig was om amptelik gebore te word en wat sou die mense van DSWA destyds tog van hierdie geboorteproses geweet het?

Ek weet bittermin van die werklike Therese behalwe dat sy kort na haar aankoms in die nuwe land oorlede is. Ek het haar graf in Keetmanshoop se begraafplaas besoek en die gebruiklike klippie op die linkervoet, volgens die Joodse tradisie, neergesit. Sy is nie in die Joodse begraafplaas begrawe nie, heel moontlik omdat Keetmanshoop destyds (1906) nog nie met ‘n Joodse begraafplaas geseën was nie. Daar is twee grafstene, ‘n nuwe een en ‘n oue wat langsaan plat op die grond lê. Dit het my verbeelding op loop gesit en tot ‘n storielyn met ‘n kinkel gelei.