Een van die eienaardighede van Namibië is die feit dat die land die toneel was van die eerste suksesvolle veldtog van die Geallieerde magte tydens die Eerste Wêreldoorlog, of dan ten minste van een van die kolonies, naamlik die Unie van Suid Afrika.
Die Roland vliegtuig met luitenant Paul Fiedler aan die stuur styg op vanaf Aus.
Tydens hierdie veldtog het ‘n gemotoriseerde vliegtuig ook die eerste suksesvolle lugaanval op ‘n vyandelike mag in die geskiedenis van oorlogvoering uitgevoer. Dit was egter nie die Geallieerdes, lees Unie, wat hierdie lugaanval uitgevoer het nie, maar die Duitse “lugmag,” bestaande uit die twee vliegtuie van luitenante Fiedler en Von Scheele, ‘n Aviatik en Roland Taube.
Ek het met die eerste konsep-skrywe van die boek probeer om hierdie verhaal in te weef, maar dit moes later sneuwel as ‘n slagoffer van my “Kill your darlings” herskrywes. Ek moes erken dat dit nie deel was van die hart en siel van my storie nie.
Die Unie-magte onder bevel van die Unie se eerste minister, generaal Louis Botha, het Duits Suidwes Afrika op vier fronte binnegeval: suid vanaf Ramansdrif, wes vanaf Lüderitz, noord vanaf Walvisbaai en Swakopmund,
Luitenant Paul Fiedler, regs, by sy Roland Taube Doppeldecker vliegtuig.
en oos vanaf Rietfontein. Die troepe vanaf Lüderitz het op die Tschaukaibvlakte saamgetrek. Die Duitsers het vanaf Lüderitz voor die Unie-magte gevlug en so ver as wat hulle gevlug het die spoorlyn tussen Lüderitz en Aus opgeblaas, daardie selfde spoorlyn wat hulle in 1906-07 binne rekordtyd gebou het. Die Duitsers het hulle op Aus, sowat 50 kilometer verder ingegrawe en mooi skanse gebou. Daardie skanse is vandag nog te sien, op Klein Aus Vista, een van Namibië se bekostigbare spoghotelle.
Terwyl die Unie-magte op die Tschaukaib gelê en wag het, het luitenante Fiedler en von Scheele in hulle vliegtuie opgestyg en kanonkoeëls met die hand op die Unie-soldate neergegooi. Drie soldate het gesneuwel. Dit was as gevolg van hierdie bomaanvalle wat die perde glo so geskrik en gevlug het, en wild geraak het. Vandaar die wilde perde, oftewel die tweede teorie soos op Dag 23 beskryf.
Hierdie foto is deur luitenant von Scheele geneem vanuit sy vliegtuig en wys hoedat die bomme wat hy op die Unie-troepe gegooi het, ontplof het.
In my boek noem ek die Tschaukaib as een van die drie bekende ossewaroetes wat die transportryers destyds gebruik het. Die enigste water op die Tschaukaib is die sogenaamde “bankwasser,” oppervlakswater as gevolg van reën. “Bankwasser” was maar min en die manne moes merendeels die suidelike roetes oor Ukamas of Kaukasib volg. Hierdie twee plekke het fonteine met brak water gehad. Vandag is al hierdie plekke ontoeganklik, onder andere omdat dit diamantvelde is.
Dit is eers wanneer mens self op die Tschaukaibvlakte staan, in die versengende hitte, dat jy besef hoe moeilik dit moes gewees het om hier met ‘n ossewa te trek, of om vir weke lank op generaal Louis Botha se bevel om aan te val te moes wag.
Daar lê tot vandag nog allerhande rommel, onder andere jenewerbottels en koeldrankbottels, op sekere plekke op die Tschaukaib rond, monumente van ‘n vergete veldtog.

Ingrid en Giel du Toit op die Tschaukaibvlakte waar die lugaanvalle op die Unie-soldate plaasgevind het.