Hierdie “blog” dek die ontstaan, agtergrond en ontwikkeling van my historiese roman, “Die Keiservoël Oor Namaland” wat vandeesweek deur Cordis Trust gepubliseer is, na meer as agt jaar se trane, sweet, en harde werk.

Vandeesweek was ‘n kop-af gejaag met talle onvoorsiene insidente. Ek sou gister op ‘n pelgrimsreis na die suide van Namibië vertrek, maar moes dit na Saterdag uitstel omdat ek baie boeke wil saamneem. Om boeke Namibië toe te koerier of te pos is baie duur. (Dit is duur orals heen.) Ek het nou die geleentheid om self ‘n paar houers met boeke Namibië toe te neem en dit sou dwaas wees om nie te wag vir die volgende besending van die drukkers af nie.
My besoek aan die geboorteland van hierdie boek is nie in die eerste plek om boeke te gaan verkoop nie. Ek weet dit sal later vanself gebeur. Een of ander byna bonatuurlike drang dwing my om terug te keer na die plek waar Ernst Luchtenstein, Cornelius Fredericks, Hendrik Witbooi en al die ander karakters hulle spore in die Namib en die Kalahari gelaat het. Ek wil met Willem Kotze, Piet Swiegers en Giel du Toit gaan gesels, ek wil weer deur Keetmanshoop se begraafplaas gaan loop, op Haai-eiland in die wind gaan sit, en miskien weer na Aus se vergete konsentrasiekamp gaan kyk. Ek wil Lüderitz se museum en die biblioteek gaan besoek en ‘n kopie aan hulle skenk. Dit is skoolvakansie in Namibië, maar miskien loop ek ‘n skoolhoof raak en kan ek ‘n kopie vir die skool se inligtingsentrum skenk. Miskien lees een van daardie Nama-seuns of dogters eendag die boek en ontdek hulle dat hulle ‘n geskiedenis en helde waarop hulle trots kan wees, het. Of miskien lees ‘n ou Duitse oom die boek en kan hy berusting vind daarin dat “ons nie almal só was nie.”
Ek glo dat die sentrale boodskap van die boek is dat ‘n suksesvolle Namibië moontlik is, as elkeen sy deel doen, maar dat dit onmoontlik is as die gruwels van die verlede nie erken word nie. Party mense probeer vandag nog om die wandade van die Herero-oorlog en die Nama-oorlog te ontken. Ek het hierdie ontkenning eerstehands ervaar. Die regte ding om te doen is om te erken en bevestig dat dit wel gebeur het. Daarna kan mens aangaan, kop optel, mekaar in die oë kyk en sê dit behoort tot die verlede. Kom ons gaan nou aan.
Daar het vandag weereens ‘n interessante artikel in ‘n Namibiese koerant oor die “genocide” verskyn. Dit is deel van die verhaal van “Die Keiservoël Oor Namaland.”
Gisteraand is die eerste van 3 episodes van die program “Klitsgras en Sekelbos” op Radio GrootFM 90.5 waarop ek die gas was uitgesaai. Daarin gesels die deelnemers om die kampvuur oor allerlei goed, dikwels in ligte luim, maar gisteraand het dit grootliks gehandel oor “Die Keiservoël Oor Namaland.” Die program word elke Woensdagaand om 21h00 uitgesaai, op 90.5FM, Kanaal 920 DSTV, en op die internet by http://www.grootfm.co.za Luister die volgende twee weke gerus na die uwe en sy gashere.
Bestellings vir die boek stroom in, ook van die buiteland. Dit is vir my persoonlik ‘n wonderlike gevoel om te weet dat die storie nou in my lesers se koppe nesmaak.
Ek kan nou aankondig dat die boek ook beskikbaar is by Graffiti se 2 takke. Lesers kan wel steeds die boek bestel deur ‘n e-pos te stuur aan: bestellings@kaiserbird.com Besonderhede sal volg.