
Die vernietigende lugaanval op Guruchas op 29 Mei 1922 wat ongeveer 100 Bondelswarts sterftes tot gevolg gehad het, lei tot ’n kort artikel in die Londense Times van 30 Mei. Ander internasionale koerante volg op en Generaal Jan Smuts word in die Suid-Afrikaanse parlement gepeper met vrae, wat hy weier om te antwoord. Ook die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen Sir Edgar Walton loop deur, veral onder die aanslae van die Anti-Slawerny Vereniging se JH Harris. Laasgenoemde skryf briewe aan die New Statesman koerant, besoek Sir Walton persoonlik, en laat ’n vraag in die Britse parlement vra. Hulle is vasbeslote om nie toe te laat dat die saak onder die mat gevee word nie. Die Anti-Slawerny Vereniging dring aan op ’n bespreking van die voorval deur die Permanente Mandaatskommissie van die Volkebond.
Die kommunistiese koerant The International in Suid-Afrika skryf dat die skynheilige imperialiste altyd die heilige plig van kerstening sal versaak en met die wapen sal reageer wanneer die inheemse bevolking in opstand kom. Smuts besef dat hy in die moeilikheid is en stel ’n kommissie van ondersoek aan, hoofsaaklik om sy kritici stil te kry. Hy gaan sover om sy vriend, Gysbert Hofmeyr, administrateur van SWA wat die ekspedisie na Guruchas gelei het vooraf te waarsku.
Die Volkebond is in 1920 na die Eerste Wêreldoorlog gestig met die doel om oorloë te voorkom. Sy grootste mislukking sou natuurlik die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 wees, maar in Julie 1923 in Geneva, tydens die Bond se derde sitting word die Bondelswarts Affair breedvoerig bespreek in twaalf van die Kommissie se drie-en-dertig sessies.
Suid-Afrika loop kwaai deur onder die afgevaardigdes se tonge, maar ’n snaakse ding gebeur: Die debat verval in ’n meningsverskil oor die aard van kolonialisme teenoor die beginsel van ’n mandaatgebied. Gaandeweg kom die afgevaardigdes onder die besef dat die blanke inwoners van SWA volledig oortuig is van die noodsaak om die inboorlinge te onderdruk. Tydens die Vierde vergadering in September 1922 word SA weereens veroordeel, maar in Desember van dieselfde jaar, tydens die Vyfde vergadering, word ’n sagter resolusie aanvaar.
Van daar af het die druk op Suid-Afrika egter net al hoe sterker geword. Die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke Organisasie sou uiteindelik sorg dat Namibië onafhanklik word.
Wat is die betekenis van die Bondelswarts-opstand in die algemeen, en spesifiek in die konteks van hierdie dagboek, “blog,” oor die “Die Keiservoël Oor Namaland”?
Die Nama-oorlog het in 1904 in die gebied van die Bondelswarts begin toe die Duitse offisier luitenant Walther Jobst en die Bondelswarts leier Jan Christiaan doodgeskiet is. ’n Formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi sou eers in Oktober 1904 volg, maar die skade was reeds met die dood van Jobst en Christiaan gedoen. Tydens die oorlog sou Witbooi, Marengo en Fredericks sterf en Simon Koper na Betsjoeanaland vlug. Die enigste noemenswaardige vegtende leier wat sou oorbly was Abraham Morris, ’n dapper en vernuftige krygsman. Dit is hy wat teruggekeer het en die opstand aangevuur en gelei het. Hy kon nooit gedink het dat hy die magtige Unie sou oorwin nie, maar hy het nogtans geveg, net vir een ding-vir vryheid. Die Bondelswarts se grond is nooit deur Duitsland of die Unie van Suid-Afrika gekoop nie. Na die Eerste Wêreldoorlog is hulle grond eenvoudig by wyse van dekreet weggevat en daarmee is hulle lewenswyse vernietig.
Die vernietigende lugaanval en afbrand van Guruchas in 1922 was in my oë die ware einde van die Nama-oorlog, wat in 1904 begin het. Die gees van die laaste oorblyfsels van die Namas, die Bondelswarts, was finaal gebreek.
Dit is maklik in vandag se tyd om krities te wees, maar destyds was dit aanvaarbaar om so te dink oor die lewe. Selfs in die Volkebond is hierdie mening deur sommiges gehuldig. Die blankes was die oorwinnaars en daarom moes die “Hottentotte” soos hulle genoem is, hulle slawe of bediendes wees. Die idee van grondbesit vir die “Hottentotte” was belaglik.
Vandag is die blankes in Suid-Afrika op ’n manier die slagoffers van die mag van die meerderheid. Vandag is dit die blankes en Afrikaners veral wat voel hoe dit voel om hulle grond te verloor. Die ironie is juis dat vandag se nuwe grondeisers minder regte as die Khoi-Khoin daartoe het. Die Khoi-Khoin is die oorspronklike grondeienaars van suidelike Afrika, nie die Xhosas of Zoeloes nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie argument uitgebuit moet word in die gronddebat.
Abraham Morris is ’n mindere karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland” en ek noem die Bondelswarts Affêre slegs in die epiloog. ’n Volledige relaas daaroor sou ’n vervelige herhaling van die pyn en swaarkry van mense soos Ernst, Fredericks en die Herero’s wees. Morris was egter ’n dapper en slim held, ’n intelligente man. Selfs die man wat hom agtervolg en uiteindelik doodgeskiet het, kaptein Prinsloo, het so gesê. Om Morris se nalatenskap te ignoreer sou verkeerd wees.