Dag 57: Die Namas se skedels in Berlyn

Skedels1
Die kop van ‘n Namakrygsgevangene voor verwerking. Die skedels is skoongemaak en na Berlyn versend waar dit bestudeer is en sekere bevindinge gemaak is.

Skedels2

 

In Dag 56 het ek vertel hoe dr Eugen Fischer in 1906 na Lüderitzbucht gereis het om navorsing te kom doen. Een deel van sy navorsing het gehandel oor die Namas se genetika. Hy het sy bevindinge in Zeitschrift für Morphologie und Anthropologie gepubliseer en soos in Dag 56 berig het hy dit ook gebruik in die twee teksboeke wat hy geskryf het. Laasgenoemde is deur Adolf Hitler gelees en het hom geïnspireer om Mein Kampf te skryf.

Gedurende die Nama-oorlog van 1904-1908 was daar baie Herero en Nama krygsgevangenes op Haai-eiland, oftewel Shark Island, oftewel Haifisch Insel in die hawe van Lüderitz. Daar is baie min bekend oor hierdie konsentrasiekamp, maar daar is wel twee kontemporêre geskrifte waarvan ek weet en wat ek gebruik het in my navorsing. Lüderitz se weer is ongenaakbaar en Haai-eiland is blootgestel aan die elemente. Ek daag enigiemand uit om ‘n nag daar te gaan deurbring as die wind waai. Die gevangenes het in hulle honderde, of duisende gesterf. Baie is tereggestel. Dit was ‘n probleem om van al die lyke ontslae te raak en baie is sommer onder die hoogwatermerk begrawe. ‘n Paar jaar gelede het ‘n aantal beendere oopgespoel.

Sommige skedels is skoongemaak en na die Kaiser Wilhelm Instituut in Berlyn versend waar dr Fischer dit bestudeer het. Die skedels is vandag nog daar. Die Namibiese regering is al jare daaroor besorg en dring aan op ‘n verskoning en op vergoeding. Miskien kan die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” die historiese roman wat die onderwerp van hierdie dagboek is en wat eersdaags verskyn, eendag hierin ‘n rol speel.

Dr Fischer se beweringe is van so aard dat ek dit moeilik vind om dit in die “blog” te herhaal sonder om aanstoot te gee, maar ek hanteer dit deeglik in die roman. Genoeg om te sê dat hulle menswaardigheid ontken word. Die treurige gebeure het juis daartoe aanleiding gegee dat hulle alle menswaardigheid verloor het, en as ‘n volk tot vandag nog daaronder ly.

Ek hoop dat hierdie boek op ‘n baie klein manier weer waardigheid aan Namibië en Suid-Afrika se Namas, afstammelinge van die Khoi-Khoin, die oorspronklike grondbesitters van hierdie mooi wêreld sal verleen.

Dag 56: Lüderitzbucht se Nazi konneksie

Hoofstuk-26

Hierdie dagboek,”blog,” handel oor “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat binnekort verskyn en waaraan ek meer as agt jaar al werk.

Iewers in 1906 kom ‘n vreemde man in Lüderitzbucht, vandag se Lüderitz aan. Sy naam is dr Ernst Fischer. Hy kom doen navorsing, tweërlei van aard. Switserse farmaseutiese maatskappye borg sy werk in verband met voorbehoedmiddels en ander geneesmiddels, maar dit lewer niks positiefs op nie.

Dr Fischer se belangstelling lê eintlik by sy antropologiese navorsing. Hy is baie nuuskierig oor Afrika se mense en baie spesifiek oor die Namas, Khoi-Khoin nasate. Hy versamel ‘n klomp Nama-skedels, afkomstig van die Nama-krygsgevangenes van die Nama-oorlog, 1904-1908, wat op Haai-eiland in Lüderitzbucht onder haglike omstandighede aangehou word. Party van die krygsgevange vroue word getaak om die skedels met glasskerwe skoon te krap. Hulle verpak en versend die skedels na die Kaiser Wilhelm Instituut in Berlyn waar Fischer dit bestudeer en vandag nog gehou word. Hy bevind dat hulle ‘n minderwaardige ras is. Het hy die vermiste skakel gevind? Kon die mensdom hulle beskou as “nie regte mense nie?”

Dr Fischer skryf twee boeke na aanleiding van sy navorsing, Principles of Human Heredity and Racial Hygiene en Racial Origin and the Racial History of the Hebrews. Adolf Hitler lees hierdie boeke en toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek stel hy dr Fischer aan as hoof van die “rassehigiëneprogram” by Auschwitz. Dr Fischer ontkom die Nüremburgverhore deurdat hy as Nazi “gerehabiliteer” word.

In my boek is dr Fischer natuurlik die skurk en dui ek die navorsing aan as die begin van dit wat dertig jaar later in Europa gebeur het. Tydens ‘n besoek aan Windhoek in 2010 waar ek met een van die ander karakters se nasate gesels het, het dit aan die lig gekom dat hierdie karakter inderdaad destyds op Haai-eiland vergiftig is, en nie opgehang is nie.

Dit is nie vergesog om te spekuleer dat die Jodeslagting van 1939-1945 sy oorsprong by Lüderitzbucht gehad het nie.

Op die internet het ek op bespiegelinge afgekom dat dr Fischer ‘n ander student gehad het. Sy naam was Hendrik Frensch Verwoerd. Ek het hierdie storie diep nagevors, maar kon geen bewyse daarvoor vind nie. Dr Verwoerd was wel in Berlyn in ongeveer 1923 en hy was ook ‘n sosioloog, maar ek kon geen verbintenis tussen hom en Fischer opspoor nie. Ek het ook met die Boshoffs van Orania gekorrespondeer en hulle ontken dit ten sterkste.

Dag 55: WA de Klerk se “Die Gésel van Namaland,” sestig jaar gelede

Die afgelope week het ’n aantal ongelooflike “toevallighede” opgelewer. Elke dag kontak mense my, van oraloor. Almal wil weet wanneer “Die Keiservoël Oor Namaland” dan sal verskyn. Ek is bly, maar ook verleë omdat die publikasieproses baie stadig verloop. Ek het gehoop vir Kersfees 2016, maar sal bly wees as dit voor die winter gebeur. Wees maar bietjie geduldig asseblief.

Verlede week kontak ’n oud-Suidwester my uit New York. Ons het lank oor die foon gepraat en dit blyk dat sy oupa twee jaar na die held van my boek in Lüderitz voet aan wal gesit het, in 1908. Sy oupa het ook, nes Ernst Luchtenstein ’n winkel in Keetmanshoop bedryf. Die persoon het egter reeds in 1968 na Amerika ge-emigreer, maar volg hierdie dagboek (“blog”) Afrikaans soos dit is, getrou. My nuwe vriend vertel toe van ‘n boek wat hy as kind gelees het waarvan hy nie eers die naam kan onthou nie. Hy onthou net dat dit oor die oorlog in die Suide gehandel het, deur ’n bekende Afrikaanse skrywer geskryf is, en dat dit ’n groot indruk op hom gemaak het. Hy wens dat hy dit weer te lees kon kry.

Die volgende dag drentel ek by die Pioniersmuseum se Boeremark rond en tussen ’n klomp ou boeke kom ek af op twee kopieë van WA de Klerk se “Die Gésel van Namaland.” Asof die woord “Namaland” nie genoeg is om die bloed in my kop te laat raas nie, lees ek daar die naam van Hendrik Witbooi (Die Gésel van Namaland) en ’n verwysing na die berugte Smit-moorde ten aanvang van die Nama-oorlog raak. Ek het terstond die twee boekies, gemerkte ou voorgeskrewe werke, gekoop en dit die afgelope twee dae verslind. My vriend in New York bevestig ook dat dit die boek is waarna hy soek.

Alhoewel dit eintlik jeuglektuur is, wat weliswaar met die Scheepersprys bekroon is, het ek die lees daarvan intens geniet. Telkens as ek op nuwe inligting oor die Nama-oorlog afkom vrees ek dat dit een of ander fout of gebrek in my teks sal ontbloot. Met die lees van “Die Gésel van Namaland” was dit nie anders nie, maar ek kon uiteindelik ontspan. My feite het ook die toets van hierdie vroeë werk deurstaan.

Waar ek wel ’n bietjie geskud was, was oor die perspektief, die Boere-perspektief. Eintlik sou mens verwag dat ek gegewe my afkoms, waarop ek trots is, dieselfde perspektief as WA de Klerk sou gehad het, maar dit is glad nie die geval nie. My perspektief is vanuit ’n heel ander hoek.

“Die Gésel van Namaland” handel oor ’n paar insidente aan die begin van die Nama-oorlog met die hoogtepunt die Slag van Kub waar ’n vyftigtal Boere Hendrik Witbooi se oormag van ongeveer 2000 verdryf het. Een van die insidente wat hierdie veldslag voorafgegaan het was die befaamde Smit-moorde waaroor ek op  Dag 36geskryf het:

“Bethanië is klein en daar is baie min om te doen, maar die gastehuis, die oudste hotel in Namibië, is ‘n heerlike oase waar ek die heel koudste Windhoek Lager ooit gedrink het, lekker wildsbiefstuk geëet het, en diep gedink het.

Soos mens maak in Namibië raak ek incognito aan die gesels met die eienaar van die gastehuis. Sy vertel my baie heftig en driftig hoe Witbooi haar voorvaders, die Smitte, uitgemoor het. Sy wys my ook die koerantuitknipsel wat vertel hoedat die een oorlewende, ene Dirk Smit, as klein seuntjie, ontkom het aan die wrede moordenaars. Dit is honderd jaar later, maar ek bespeur dieselfde emosies by haar wat vandag nog loop in sekere Boere-kringe oor die “verdomde Ingilse.”

Sy wys vir my die netjiese uitstalling van tonteldose, Bybels en Psalmboeke, stiebeuels en ander goed wat die vrouens van die vermoorde manne maande later by die plaasopstal kom optel het.

By die lees van die berig, deur die bekende Jan Spies, van Spies en Plessis-faam, kon ek nie anders as om te wonder oor die akkuraatheid van die inligting nie. Spies se opsomming van die oorsake van die Nama-oorlog is simplisties ten beste en verkeerd, ten slegste. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Hendrik Witbooi persoonlik by hierdie moorde betrokke was. Dit het my net meer vasbeslote gemaak om my verhaal die lig te laat sien.

Wat ek nie kon verstaan is hoekom die Namas hierdie mans, burgerlikes wat nie Duitsers was nie, dan vermoor het. Die antwoorde, dink ek het ek net daar teen die muur gekry.

Eerstens, die insident het plaasgevind reg aan die begin van die uitbreek van die oorlog. Dit is bekend dat die Namas aanvanklik wyd geroof en gemoor het, tot Hendrik Witbooi se ergernis. Die Smitmoorde het op 10 Oktober 1904 plaasgevind, enkele dae na Witbooi se oorlogsverklaring. Daarna sou dit nie weer op groot skaal gebeur nie.

Tweedens, op die een foto staan die drie Smitte, netjies uitgedos in militêre uniforms. Hoekom? Was hulle nie soldate, miskien in die reserwemag nie? Het dit hulle nie juis wettige teikens in ‘n oorlog gemaak nie?”

In “Die Gésel van Namaland” lees ek dat Hendrik Smit die leier van die Boere in die suide was. Die verhaal wat ek in die koerantuitknipsel, netjies geraam teen die muur gelees het, en waarvan ek ’n foto geneem het, stem ooreen met WA de Klerk se geromantiseerde weergawe. Die bitterheid wat ek by die dame aan stuur van sake van Bethanië se hotel waargeneem het stem eweneens ooreen met dié van die karakters in “Gésel.” Dit is duidelik dat die Boere en die “Hottentotte” of Witkams nie ooghare vir mekaar gehad het nie.

Op bladsy 154 neem die verhaal egter ’n ompad wat my laat vinniger asemhaal. Een van die hoofkarakters, Wynand Maree, vyftien jaar oud, verwoord skielik die idee dat Hendrik Witbooi “eintlik ook maar ’n vryheidsheld” is. Dit stem sy Boere-luisteraars natuurlik ongedurig en hy moet baie spot verduur. Met hierdie insident skilder de Klerk die Namas as iets meer as “vrybuiters,” ’n term wat dikwels gebruik word om na hulle te verwys. Meester Kooy, die Hollandse onderwyser weet hoe slim Wynand is en kom tot sy redding: “Nou!” besluit Meester Kooy dan eindelik: “Die klein debat is voorlopig afgehandel. Die besluit: “Die oue Hendrik is ’n Vryheidsheld van die Namavolk- maar ons is gebonde om hom teen te gaan. So is die wet van die lewe.”

Die patriarg ou oom Maans sê dan: “Ja boeties, Meester het nou gelyk: was ons nou ganselik volmaak, dan was daar seker op die ou wêreld plek vir ons almal. Maar ag…so kom dit my ammelee voor: hier beneden is het niet.”

Wyse woorde, woorde wat die perspektiewe van “Gésel” en “Keiservoël” aan mekaar vasknoop.

Dag 54: Die Swart Napoleon

Hoofstuk-34
Jabob Morenga, die Swart Napoleon, 1875-1907

Die Nama-oorlog van 1904-1908, of 1903-1907, afhangende van jou vertolking, is die agtergrond van my roman, “Die Keiservoël oor Namaland,” wat binnekort verskyn. Een van die Nama-leiers, ’n karakter in die boek, is Jakob Morenga, ook gespel as Jacob, Marenga, Morengo of Marengo.

Hy was nie ’n gewone plaaswerker of boer nie. Gebore in 1875, uit ’n Herero ma en Bondelswarts-Nama pa van Warmbad, het hy skoolgegaan in die Kolonie (Kaapprovinsie) oorkant die Garieprivier, dus nie in wat vandag Namibië is nie. Hy het moontlik ook tyd in Duitsland deurgebring. As jongeling het hy op ’n myn in Okiep in die noord-Kaap gewerk.

In 1903 het ’n struweling tussen die Duitsers en die Bondelswarts Namas uitgebreek. Een Duitse soldaat en ’n Bondelswart leier sterf in ’n skietgeveg, maar goewerneur Leutwein slaag daarin om vrede te kom maak. Een van die bepalings van die vredesverdrag is dat Jakob Morenga moet padgee, Kolonie toe. Hy moes dus deel van die bakleiery gewees het. Op watter wyse weet ek nie.

Jakob trek egter diep in die Kalahari in, heel moontlik tot by //Khauxa!nas waarvan ek in Dag 51-53 geskryf het. Vandaar begin hy die Duitsers terroriseer. Terwyl Hendrik Witbooi en Cornelius Fredericks nog saam met die Duitsers teen die Herero’s veg, in 1904 (onthou Morenga is half Herero) swerf Jakob Morenga en sy paar manne rond en beroof die Duitsers en ook die boere op die plase. Daar is geen rekord dat hy ooit ’n burgerlike kwaad aangedoen het nie, maar hy verwerf gou ’n reputasie dat hy ’n bekwame guerillavegter is.

Morenga is ’n charismatiese man. Hy begin sy kampanje met 11 man, maar teen die einde van die oorlog het hy tussen 300 en 600 man onder die geweer. Hulle leef van dit wat hulle van die vyand kan roof en van die veld. Hy word ’n paar maal gewond, maar ontvlug elke keer, tot een dag. Die Duitsers vang hom en deporteer hom na die Kolonie (Suid-Afrika). Na ’n rukkie word hy vrygelaat op voorwaarde dat hy nie weer na Duits-Wes terugkeer nie, ’n voorwaarde wat hy natuurlik onmiddelik ignoreer.

Hy word die onderwerp van baie bespiegelinge en sy aksies dwing selfs een keer ’n spesiale stemming in die Duitse Reichstag af. Sy bynaam is die Swart Napoleon. Hy steel partykeer die Duitse soldate se perde onder hulle neuse uit. Een keer laat hy vir hulle ’n briefie agter waarin hy hulle vra om asseblief beter te kyk na hulle perde, want hy sukkel te veel met hulle as hulle so maer is. Hy neem deel aan meer as 50 veldslae, die meeste waarvan hy as oorwinaar uit die stryd tree.

Hy word die onderwerp van diplomatieke onderhandelinge tussen die Duitsers en Britte en uiteindelik trek ’n Britse mag, ondersteun deur enkele Duitse soldate hom vas op die plaas Eensaamheid in die noord-Kaap. Hy en ’n paar manne sterf op 24 September 1907.

Later jare skryf een van sy teenstanders, kaptein Maximillian Bayer: “Hy het die oorlog uitgerek deur middel van kruis en dwars maneuvers, slim verrassingsaanvalle, en bowenal deur die invloed van sy uitstaande persoonlikheid op sy volgelinge. Daardeur het hy ons onberekenbare skade aangedoen… Sy manier van oorlogsvoering was groots, grandieus, van aard, ver beter as dié van die ander inboorlingleiers. Hy was ’n uitstaande soldaat vir wie ons as die vyand die hoogste respek gehad het.”

As beloning vir hulle oorwinning reik Keiser Wilhelm II die spesiale Kalahari-medalje aan die 105 Britse (SA) soldate wat aan die slag van Eensaamheid, deelgeneem het, en waar Jakob gesterf het, uit. Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek beveel koning Edward VII dat daardie soldate nie meer die medaljes mag dra nie, omdat Duitsland nou die vyand is.

Jakob Morenga was die laaste van die Nama-leiers en volkshelde, behalwe vir Simon Koper, hy wat nooit gevang of oorwin is nie, maar wat weet die die gemiddelde Namibiër of Suid-Afrikaner vandag van hulle, of selfs Hendrik Witbooi? Die antwoord is min of niks. My betoog het niks met politieke korrektheid te doen nie, maar met die feit dat die geskiedenis deur die oorwinnaars geskryf en vertolk word. Vandag is Namibië se “helde” die SWAPO vryheidsvegters, soos in Suid-Afrika die ANC “vegters.” Deur die rol van ander helde uit minderheidsgroepe te belig hoop ek om ’n meer ewewigtige geskiedenis te vertel.

My boek is fiksie, gegrond op werklike gebeure, maar ek probeer om deurentyd die groter waarheid te belig.

Dag 53: Die gordyn sak oor //Khauxa!nas

bakrivier
Die poel in die Bakrivier waar die slottoneel van “Die Keiservoël Oor Namaland” afspeel. Die bergvesting //Khauxa!nas lê weggestek bo-op die kranse en het tydens twee episodes ‘n eeu uitmekaar, wegkruipplek aan die Namas gebied. 
klausdierks
Dr Klaus Dierks het //Khauxa!nas in 1987 herontdek. Hy is in 2005 oorlede en sy grafsteen is bo-op die kranse aangebring.

Hierdie dagboek/blog volg nie die  gebeure soos dit afspeel in “Die Keiservoël Oor Namaland” in chronologiese volgorde nie. Die boek self eindig wel in ’n toneel wat afspeel op //Khauxa!nas, net soos dit die einde van die Namavolk se kultuur simboliseer, maar vandag se vertelling is glad nie die einde van die dagboek nie. Ek sal nog heelwat te sê hê oor die skryf, navorsing en betekenis van die boek.

Die betowering van //Khauxa!nas, soos ek reeds gemeld het lê onder andere daarin dat dit so ’n “geheime” plek was, een wat tydens twee episodes, een eeu uitmekaar, skuiling gebied het aan die Namas en dat tydens hierdie geskiedkundige gebeure die agtervolgers nooit die plek kon opspoor nie. Die twee episodes was die oorspronklike vlug van Klaas, Jonker en Titus Afrikaner na die Pienaar-moord in 1796 en die ander een die Nama-oorlog van 1904-1908.

Die misterie is verder verdonker deur die feit dat daar wel vredesamesprekinge op //Khauxa!nas self plaasgevind het in in die vroeë fase van die Nama-oorlog, in April 1905. Die vredesameprekinge is deur Vader Malinowski, ’n Rooms-Katolieke priester, geïnisieer. Malinowski, luitenant von Koppy en Jakob Marengo was teenwoordig. Hierdie “feit,” as daar enige feite rondom //Khauxa!nas bestaan, is bevestig deur luitenant von Koppy in ’n amptelike verslag, in briewe deur Malinowski, en deur mondelikse vertellinge deur twee onafhanklike Nama ooggetuies, ene Klaas Dausab en Johannes Louw, aan twee boere, AJ Smit en JA Smith, van die omgewing. Von Koppy en Malinowski het albei geskryf hoe hulle moes sukkel om tot bo-op die vesting te klim en te klouter.

Die samesprekinge het plaasgevind in ’n reghoekige struktuur, moontlik Jakob Morenga se woning, en die reghoekige plat klip wat as tafel gedien het was tagtig jaar later steeds teenwoordig. Die samesprekings het misluk en Marengo het aangehou met sy aanvalle op die Schutztruppe. Die groot vraag is hoekom kon die Schutztruppe toe nie weer hulle pad soontoe vind nie? Ek hanteer die antwoord op hierdie vraag op kreatiewe wyse in my boek.

Die slottoneel van “Die Keiservoël oor Namaland” speel af in die diep waterkuil in die Bakrivier onderkant die kranse wat die bergvesting //Khauxa!nas beskerm. Ek wil nie die einde verklap nie, maar hoop dat lesers dit soveel sal geniet soos wat ek het toe ek dit geskep het.

Daar het ook ’n ander einde op //Khauxa!nas gebeur. Vir agt dekades het die geeste van //Khauxa!nas eensaam gerou oor die tragedies wat daar afgespeel het. Niemand het van die plek geweet nie totdat dr Klaus Dierks (www.klausdierks.com) die plek na ’n lang soektog herontdek het. Hy het later ’n verhandeling daaroor geskryf. Ek het dit in die biblioteek van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in Windhoek gelees. Dr Dierks is in 2005 oorlede en sy grafsteen bewaak vandag die kranse van //Khauxa!nas.

Daar is ‘n legende wat onder sommige van die ou Namas van die omgewing vertel word. Hulle beweer dat “na die oorlog” ‘n aantal Nama-soldate met stukke telefoondraad aan die kameeldoringbome onderkant die kranse van //Khauxa!nas opgehang is. Persoonlik wonder ek of dit nie die drie Fryer seuns waarvan ek in Dag 52 vertel het was nie. Hulle is na die Slag van Gugunas opgehang. Ek wil graag teruggaan na //Khauxanas en Gugunas om na hulle grafte te gaan soek.

Wanneer toeriste Namibië besoek dink hulle hoofsaaklik aan Sossusvlei, Windhoek, Swakopmund en Etosha, maar die suide van Namibië met sy ryke geskiedenis bied soveel vir die kulturele toeris wat die konteks van plekke soos Lüderitz, Warmbad, Aus, Keetmanshoop, //Khauxa!nas, Koes, Duwisib, Bethanië, Hoornkrans, Garub, Grassplatz, Waterberg, Okahandja en dosyne ander plekke wil leer ken. Die natuurlike skoonheid van die suide van Namibië is ongeskonde en uiters fotogenies.

Dit is my vurige wens dat my boek, “Die Keiservoël oor Namaland” wat eersdaags sal verskyn, die begin sal wees van ’n herlewing in die belangstelling oor Namaland, ’n plek met baie sosiale probleme en armoede onder sy mense, mense wat ons taal en kultuur deel en baie kleur daaraan verleen het. Mens mag redeneer dat baie van hulle probleme sy oorsprong het in die dramatiese gebeure van Shark-eiland en die oorlog van destyds soos ek dit vertel het. Dit sal wonderlik wees as hierdie probleme aangespreek kan word deur die streek op verantwoordelike wyse te ontwikkel as toeriste-aantreklikheid. Daar is oneindige potensiaal waaroor ek later sal skryf. Mense soos Piet Swiegers van Klein Aus Vista het dit lank reeds raakgesien en benut, maar veel meer kan nog gedoen word.

In die heel eerste plek is dit belangrik dat die Namas self van hulle geskiedenis sal kennis neem. Ek kan nie help om te dink aan my eie volk en sy geskiedenis, wat ook besig is om stadigaan in die vergetelheid te verdwyn.

Dag 52: Die drama en romantiek van //Khauxa!nas

ingridkyk
Ingrid langs die ringmuur van //Khauxa!nas.

Lees Maandag verder. Hierdie dagboek handel oor “Die Keiservoël oor Namaland,” ’n historiese roman, fiksie gegrond op ware gebeure, wat binnekort sal verskyn.

kooskyk
Ek sit in die karige skaduwee en kyk na die diep kuil van die Bakrivier, die enigste standhoudende oppervlakswater in die suidooste. Die stad //Khauxa!nas se ruïnes is agter my rug.

Hoe spreek mens //Khauxa!nas uit? Die Namataal met sy klieke en klakke is moeilik maar //Khauxa!nas is die een woord wat ek kán uitspreek. Eerstens dui die // simbool die geluid aan wat mens met jou tong maak as jy ’n perd wil aanspoor. Tweedens is die ! uitroepteken die geluid wat mens maak as jy die oopmaak van ’n bottel sjampanje wil namaak. Die x word so min of meer as ’n g uitgespreek. Dus, sit net al die geluide en letters bymekaar en daar het jy dit.

Die enigste swart taal wat soortgelyke klieke en klakke as Nama het, is Xhosa. Toe die Khoi-Khoin eeue gelede suidwaarts migreer het, het ’n groep juis tot in die Oos-Kaap getrek. Daar is dus heel moontlik ’n sterk verbintenis tussen die Khoi-Khoin en die Xhosas. Dit bevestig juis my teorie dat die Khoi-Khoin die eerste en ware grondbesitters van Suidelike Afrika was. Indien die gronddebat tot sy logiese einde gevolg word, is hulle die mense wat gekompenseer moet word.

In Dag 51 (gister 7 Januarie) het ek lesers bekendgestel aan //Khauxa!nas en vertel dat die Afrikaners, Klaas, Jager en Titus saam met hulle volgelinge daar aangekom het in ongeveer 1796. Hulle het ’n vestingstad gebou wat nooit deur die Britse koloniale strafekspedisies (1796-1805) of deur die Duitse Schutztruppe tydens die Nama-oorlog (1904-1908) gevind kon word nie. Die Namas was altyd veilig daar, behalwe vir een onbevestigde legende wat mondelings oorvertel is. Meer daaroor later.

Die Nama-Afrikaners het //Khauxa!nas in die middel 1800’s verlaat en daar is getuienis dat hulle plek oorgeneem is deur ’n ander Namastam die Velskoendraers, oftewel die //Hawoben. Later het ook hulle //Khauxa!nas verlaat en agter die Afrikaners aangetrek Windhoek toe. Op 8 Junie 1886, drie jaar na die koop en/of anneksasie van Lüderitz en omgewing deur einste Lüderitz, verkoop ’n //Hawoben leier, Karel Hendrik, die plaas Kora Orap vir 350 pond sterling aan Alfred Fryer, ’n blanke man, vermoedelik ’n Skot. Hy trou met ’n Nama-vrou en hulle het drie seuns, Charlie, Frederick en Lutz. Die landmeter von Quitzow meet die plaas op en sertifiseer die grootte as 94000 hektaar. Dit is een van die heel eerste plase in suid-oos Namibië wat opgemeet word. Die plase Schansen en Gugunas waar //Khauxa!nas geleë is, is deel van die destydse Kora Orap, Alfred Fryer se groot plaas.

Teen die einde van 1903 is daar onrus onder die verre suide se Bondelswarts. Twee mense sterf, Jan Christiaan, Bondelleier en luitenant Walther Jobst, ’n Duitse soldaat. Goewerneur Leutwein kom maak inderhaas vrede met die Bondelswarts, maar ondertussen breek die Herero-oorlog in die noorde in Okahandja se wêreld uit. Dit gebeur gelyk in Januarie 1904. Een van die Bondelswarts se leiers, Jakob Morenga, half Herero en half Bondelswarts-Nama, ’n geleerde man, word uit die land verban as deel van hierdie vredesooreenkoms. Hy vlug egter in die Karasberge in met ’n groepie volgelinge. Hy trek orals rond en voer strooptogte uit. Hy ontwapen baie boere maar doen hulle geen persoonlike leed aan nie. Sy basis is //Khauxa!nas.

Die Herero-oorlog se hoogtepunt, is die bloedige slagting op Waterberg op 12 Augustus 1904. Iewers in dieselfde maand daag Luitenant Nikolai von Stempel en 32 Schutztruppe op in die omgewing van Kora Orap, ongeveer 600 kilometer suid van Waterberg. Hy soek na Jakob Morenga en sy manne. Jakob val hulle aan op die grond wat vandag Gugunas genoem word en skiet von Stempel en nog drie van sy manne dood. Dit is ’n vernederende neerlaag vir die Duitsers. Die Duitsers stuur versterkings. Hulle verdink Alfred Fryer van verraad, arresteer hom en sy seuns en verhoor hulle met ’n krygsraad onder leiding van Majoor von Lengerke. Alfred Fryer se drie gekleurde seuns by sy Nama-vrou, Charlie, Frederick en Lutz word summier tereggestel. Fryer self, omdat hy ’n blanke was, word na Keetmanshoop geneem vir sy verhoor en hy word weens gebrek aan getuienis onskuldig bevind en ontslaan. By verstek kan mens redeneer dat sy drie seuns dus ook onskuldig was. Jare later, in 1910, skryf Fryer hoedat hy self deur Morenga ontwapen was en dat hy vergeefs probeer het om vir von Stempel te waarsku voor die Slag van Gugunas.

Luitenant von Stempel was self voor en tydens die Slag van Gugunas op die plaas Kora Orap en majoor von Lengerke was ook daar, albei dus geografies naby aan //Khauxa!nas, maar nie een van hulle twee patrollies kon //Khauxa!nas vind nie. Dit is moontlik dat Alfred Fryer self nie eers geweet het van die vesting of die teenwoordigheid van Morenga op sy grond nie. Hoe dit ookal sy is dit wreed om drie seuns waarvan die jongste, Lutz, slegs 16 jaar oud was, sommer net so dood te maak, moontlik omdat hulle Namabloed gehad het.

Verlede jaar, tydens my pelgrimstog na //Khauxa!nas het ek op Aroab ’n polisieman, kaptein Fryer, ’n trotse Nama en Namibiër, ontmoet. Hy is daar gebore en iewers in die verre verlede moet daar ’n Skotse voorsaat met die van Fryer wees. Aroab is slegs 80 kilometer vanaf //Khauxa!nas op die destydse Kora Orap, maar kaptein Fryer wis niks van //Khauxa!nas, die teregstelling van drie jong Fryers, of die Nama-oorlog nie.

Tussen Augustus en Oktober 1904 is daar soort van vrede in Duits-Suidwes-Afrika. Hendrik Witbooi se manne het aan die kant van die Duitsers geveg teen die Herero’s, tot in Augustus, terwyl Jakob Morenga en sy bende in die Karasberge en in //Khauxa!nas se omgewing besig was om ’n laegraadse terroriste-oorlog te voer. Sy sukses spoor Hendrik Witbooi aan om op 5 Oktober 1904 oorlog te verklaar teen Duitsland, ’n daad wat tot die uiteindelike vernietiging van Namaland se mense en kultuur sou lei.

Lees Maandag verder. Hierdie dagboek handel oor “Die Keiservoël oor Namaland,” ’n historiese roman, fiksie gegrond op ware gebeure, wat binnekort sal verskyn.Vanselfsprekend gee ek nie die storielyn op die Dagboek/blog weg nie, maar vertel net hoe dit gebeur het dat ek die ongelooflike verhaal aanmekaar kon slaan. Een van die dae kan jy die hele storie in die boek lees.

As jy laat gekom het, begin by Dag 1 en lees die opeenvolgende hoofstukke. Teken asseblief in op die webblad. Jy sal dan elke keer ‘n e-pos kry sodra ek ‘n nuwe Dag/hoofstuk gepubliseer het. 

Dag 51: //Khauxa!nas: Die mites, feite, legendes en simboliek

_DSC3131
Die ruïne van een van die huise op //Khauxa!nas
muur2
Die ringmuur strek vir meer as ‘n kilometer rondom //Khauxa!nas

 

 

ringmuur
Die ringmuur rondom //Khauxa!nas het beskerming teen ‘n vyandelike aanval gebied, maar die vyand kon in elk geval nooit hierdie vesting opspoor nie.

My boek, ’n historiese roman met die titel “Die Keiservoël oor Namaland,” handel oor die Duitse tydperk van Namibië, of meer korrek Duits-Suidwes-Afrika. Voor die koloniale era (1883-1915) het die suide van Namibië as Namaland bekend gestaan, met verskeie Namastamme wat almal baie trots en onafhanklik van mekaar gelewe het en mekaar gereeld die stryd aangesê het. Al hierdie Namas was die afstammelinge van die Khoi-Khoin wat baie eeue gelede suid getrek het vanaf die Zambezi en selfs verder noord.

Party het tot in die Kaap getrek en het later as die strandlopers bekend gestaan. Ander het net tot in Namakwaland getrek en ander het suidoos getrek tot in Griekwaland. Nog andere soos die Groot Dode en die Topnaars het in Namibië agtergebly.

Party van die Strandlopers en Namakwalandse Khoi-Khoin het in konflik met die Kaapse, Hollandse en Britse, blanke setlaars gekom en party het terug na die noorde, dit wil sê Namibië, gevlug of getrek. Hierdie groep was goed bekend met die blankes se kultuur, veral die gewere, godsdiens, drank en perde. Hulle was die Oorlams. ’n Groep van hulle het die van “Afrikaner” gedra.

Een van die Afrikaners, Oude Ram was op Robbeneiland aangehou, nogal soos Nelson Mandela. Sy seun Klaas het twee seuns gehad, Jager en Titus. Laasgenoemde drie, Klaas, Jager en Titus het in die Hantamdistrik vir of saam met ’n boer, Pieter Pienaar, gewerk en geboer. Hulle het ook saam jagekspedisies en strooptogte oorkant die rivier in Namibië uitgevoer. Uiteindelik iewers in 1796 het ’n stryery ontstaan en het hulle Pienaar doodgemaak. Mens kan dit ’n plaasmoord noem. Die drie Afrikaners en hulle gesinne moes vlug, gevolg deur ’n paar honderd Oorlams.

Hulle kruis die Garieprivier en trek noordoos, tot oos van die Karasberge waar hulle op ’n standhoudende rivier onder ’n koppie afkom. Hulle begin bou aan klipskanse bo-op die koppie, bo ’n lang ry kranse langs die rivier. Hulle bou ook ander permanente strukture soos stalle en huise en ’n kilometerlange ringmuur. Hierdie kompleks bo-op die koppie vorm as’t ware ’n ondeurdringbare fort met uitstekende uitsig in alle windrigtings. Hier kan die Afrikaners ongestoord bly. Hulle noem die plek //Khauxa!nas.

Die Kaapse koloniale regering stuur vyf strafekspedisies om die Afrikaners te gaan vang, maar hulle moet telkens onverrigter sake teruggaan, want hulle kan //Khauxa!nas nooit kry nie.

Iewers rondom 1840, bykans 50 jaar nadat die plek gevestig is, het die mense van //Khauxa!nas wel kontak met die buitewêreld want een van die sendelinge Benjamin Ridsdale beskryf //Khauxa!nas redelik akkuraat in die enigste skriftelike verwysing voor 1987, toe //Khauxa!nas amptelik herontdek is deur dr Klaus Dierks.

Teen ongeveer 1845 het Jonker Afrikaner, seun van Jager Afrikaner, en ’n paar honderd van sy mense //Khauxa!nas verlaat en noord getrek. Hulle vestig hulleself by ’n plek met ’n sterk fontein en noem dit Winterhoek na die plaas in die Hantam waarvandaan die Afrikaners oorspronklik gekom het. Sy seun Jan Jonker Afrikaner verkoop op 16 Mei 1885 hierdie plek aan Adolph Lüderitz vir eenhonderd pond. Vandag heet die plek Windhoek.

Twintig jaar later breek die Nama-oorlog uit en //Khauxa!nas herleef as die Namas se vestingstad. Verskeie Namastamme en leiers gaan skuil van tyd tot tyd daar. Veral Jakob Morenga  voer verskeie strooptogte uit en gaan skuil dan op //Khauxa!nas. Die Duitse Schutztruppe agtervolg hulle, maar nooit kan hulle die plek kry nie. Daar is die Namas veilig. Hulle het kos en water en die skanse sorg vir beskerming in geval van oorlog.

Ek vermoed dat die grond waarop //Khauxa!nas geleë is destyds aan ’n boer Alfred Fryer behoort het as deel van ’n baie groot plaas, Khora Orap. ’n Baie interessante stukkie geskiedenis waarvan ek binnekort sal vertel, is daaraan verbonde.

//Khauxa!nas is ’n vreemde plek met ’n vreemde geskiedenis. Dit staan sentraal as simbool van die Namas se opstand en weerstand teen onderdrukking, maar ek het nog nooit een Nama ontmoet wat enigiets van die plek weet nie. //Khauxa!nas is eers in 1987 deur dr Dierks herontdek, 80 jaar na die einde van die Nama-oorlog. Hy het ’n verhandeling daaroor geskryf. Op sy webtuiste www.klausdierks.com is daar ook baie foto’s. Ek het al hierdie inligting verslind.

Die feit dat die Duitsers //Khauxa!nas nooit tydens die oorlog kon kry nie, net soos die Kaapse strafekspedisies 100 jaar tevore, het baie draaie met my verbeelding geloop. Ek het dit uitgebuit en baie stories daarom geweef, party die waarheid en ander minder feitelik, maar steeds getrou aan die “groter waarheid.”

In 2010 of 2011 het ek in my eie vliegtuig bo-oor //Khauxa!nas gevlieg en baie swak selfoonfoto’s geneem, maar een jaar gelede het ek met baie moeite my pelgrimstog na //Khauxa!nas onderneem. Ek moes met my eie oë gaan sien en self ervaar hoe hierdie pragtige, eensame, verlate en treurige monument lyk. Ek was nie teleurgesteld nie.

Lees môre verder.

Dag 50: Scotty Smith in “Die Keiservoël Oor Namaland”

Scotty Smith is een van my “darlings” wat ek nie heeltemal kon “kill” in “Die Keiservoël Oor Namaland” nie. (Hierdie boek waaraan ek nou langer as agt jaar werk sal binnekort beskikbaar wees.) Nadat ek woes met die snoeiskêr tekere gegaan het, kon Scotty darem bly voortleef in twee kort, maar veelseggende sinne.

Gebore as George St Leger Gordon Lennox in 1845, die seun van ’n Skotse edelman na ’n nag se passie met een van die diensmeisies, kwalifiseer later as veearts, maar pas nie heeltemal in by die lewe van die koninklikes nie. Hy gaan eers Australië toe, toe Indië toe, en bevind hom uiteindelik in King Williams Town, net betyds vir die grensoorloë. Hy verkies om oorlog te maak eerder as om veearts te speel vir King Williams Town se boere.

Konvensies het nooit vir hom gewerk nie. Hy was iets tussen Robin Hood, James Bond, ons eie Andre Stander en Houdini, ’n struikrower, spioen, dubbelagent, perdedief, jagter, ivoorsmokkelaar, veroordeelde misdadiger en vrybuiter, en op die einde ’n min of meer respektabele inwoner van Upington, eggenoot van sy Afrikaanse vrou en pa van twee seuns en vyf dogters.

Voor, tydens en na die Anglo-Boere-oorlog tree hy as spioen op en verskaf hy inligting aan Lord Kitchener. Een keer stuur die lord hom op ’n sending, maar Scotty protesteer want sy perd is moeg. Kitchener sê “But take one of mine!” bedoelende een van die troepe se perde. Scotty stap by die tent uit en reg voor die tent staan Kitchener se eie manjifieke en beroemde perd, uitgedos met die blinkste saal en toom en “bling.” Hy spring op die perd en verdwyn oor die horison. By sy terugkeer het Kitchener nie ’n woord daaroor gerep nie.

Hy was ’n perdedief by uitnemendheid. Hy kon ’n mooi perd net nie uitlos nie. Een keer woon hy ’n vendusie op Kimberley by, met sy hoed laag oor sy oë getrek. Die afslaer nooi die omstanders uit om die perd uit te probeer. Scotty klim op die perd en jaag weg terwyl die afslaer en toeskouers oopmond toekyk.

Hy was ook ’n veedief en smokkelaar. Hy en sy bende het strooptogte diep in Betsjoeanaland uitgevoer en dan die vee oor die grens gedryf en in Upington en Vryburg gaan verkoop. Een keer vang ’n paar Boere hom en neem hom na Rooigrond in die Wes-Transvaal. Hy word verhoor en ter dood veroordeel, maar hy ontsnap in die nag en neem die twee beste perde en vlug ver weg.

Tydens sy strooptogte het die polisie dikwels Boesmanspoorsnyers agter hom aangestuur. Volgens hardnekkige gerugte het hy baie van hulle doodgeskiet en in die woestyn begrawe. Op een of ander wyse het hy laterjare vorendag gekom, op aanvraag van wetenskaplikes en navorsers, met baie Boesmanskelette, teen die prys van £5 vir ’n skedel en £15 vir ’n volledige geraamte.

Op sy terugreis vanaf die noorde van Betsjoeanaland, met ’n vrag vol ivoor, kom hy af op ’n polisiepatrollie wat gestuur is om hom te vang. Die beteuterde groepie se water is egter op en Scotty red hulle lewe. Hy begelei hulle inderdaad tot by hulle basis op Vryburg. Uit dankbaarheid doen die polisie die eerbare ding en laat vaar alle klagte teen hom.

Met die uitbreek van die Nama-oorlog stuur Scotty sy vennoot Hugo Friedmann na Windhoek met ’n aanbod: Hulle onderneem om teen ’n betaling van £200 000 die Namas te verslaan. Die Duitse regering wou egter nie ’n huursoldaatmag op hulle grond hê nie. Scotty besluit net daar om sy twyfelagtige lojaliteit te verander na dié van die Namas. Hy begin vir hulle wapens en ammunisie verskaf en dit is onder andere in hierdie hoedanigheid waarin my lesers hom in “Die Keiservoël Oor Namaland” ontmoet. Hy het ’n noue verbintenis met die Nama-held Jakob Morenga gehad, maar op een of ander wyse is Jakob se skuilplek verklap en hy doodgeskiet. ’n Mens kan maar net wonder of Scotty ’n rol gespeel het…

Jare later breek die Eerste Wêreldoorlog uit, die rebelle onder Manie Maritz vlug Duits-Suidwes-Afrika toe en generaal Louis Botha maak planne om DSWA binne te val. Weereens maak Scotty Smith ’n aanbod aan die Unie om vir Manie Maritz te gaan vang, teen betaling natuurlik. Ook hierdie aanbod word nie aanvaar nie, maar Scotty self verhoed per geleentheid dat generaal Louis Botha in die Duitsers se hande val.

Scotty was ook ’n weldoener van die armes. Een van die legendes wil dit hê dat ’n man teenoor ‘n vreemdeling (Scotty) gekla het oor geld en dat hy gesê het dat hy wens dat hy die berugte Scotty Smith kon vang en die prysgeld kon eis. Scotty het sy identiteit bekend gemaak en saam met die persoon na die polisiekantoor gegaan waar die geld uitbetaal is. Scotty het ’n paar uur later ontsnap.

Scotty is in 1919 oorlede en in Upington se begraafplaas begrawe as George St Leger Gordon Lennox.

Scotty-familie
Scotty Smith op gevorderde ouderdom saam met sy gesin.
Scotty-se-wa
Scotty Smith by sy waens en kamele tydens een of ander ekspedisie in die Kalahari

Dag 49: SA kry pak in die Volkebond as gevolg van die Bondelswarts

Abraham-Morris
Abraham Morris, leier van die Bondelswarts opstand, in die uniform van die Uniemagte tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die vernietigende lugaanval op Guruchas op 29 Mei 1922 wat ongeveer 100 Bondelswarts sterftes tot gevolg gehad het, lei tot ’n kort artikel in die Londense Times van 30 Mei. Ander internasionale koerante volg op en Generaal Jan Smuts word in die Suid-Afrikaanse parlement gepeper met vrae, wat hy weier om te antwoord. Ook die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen Sir Edgar Walton loop deur, veral onder die aanslae van die Anti-Slawerny Vereniging se JH Harris. Laasgenoemde skryf briewe aan die New Statesman koerant, besoek Sir Walton persoonlik, en laat ’n vraag in die Britse parlement vra. Hulle is vasbeslote om nie toe te laat dat die saak onder die mat gevee word nie. Die Anti-Slawerny Vereniging dring aan op ’n bespreking van die voorval deur die Permanente Mandaatskommissie van die Volkebond.

Die kommunistiese koerant The International in Suid-Afrika skryf dat die skynheilige imperialiste altyd die heilige plig van kerstening sal versaak en met die wapen sal reageer wanneer die inheemse bevolking in opstand kom. Smuts besef dat hy in die moeilikheid is en stel ’n kommissie van ondersoek aan, hoofsaaklik om sy kritici stil te kry. Hy gaan sover om sy vriend, Gysbert Hofmeyr, administrateur van SWA wat die ekspedisie na Guruchas gelei het vooraf te waarsku.

Die Volkebond is in 1920 na die Eerste Wêreldoorlog gestig met die doel om oorloë te voorkom. Sy grootste mislukking sou natuurlik die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 wees, maar in Julie 1923 in Geneva, tydens die Bond se derde sitting word die Bondelswarts Affair breedvoerig bespreek in twaalf van die Kommissie se drie-en-dertig sessies.

Suid-Afrika loop kwaai deur onder die afgevaardigdes se tonge, maar ’n snaakse ding gebeur: Die debat verval in ’n meningsverskil oor die aard van kolonialisme teenoor die beginsel van ’n mandaatgebied. Gaandeweg kom die afgevaardigdes onder die besef dat die blanke inwoners van SWA volledig oortuig is van die noodsaak om die inboorlinge te onderdruk. Tydens die Vierde vergadering in September 1922 word SA weereens veroordeel, maar in Desember van dieselfde jaar, tydens die Vyfde vergadering, word ’n sagter resolusie aanvaar.

Van daar af het die druk op Suid-Afrika egter net al hoe sterker geword. Die Volkebond se opvolger, die Verenigde Volke Organisasie sou uiteindelik sorg dat Namibië onafhanklik word.

Wat is die betekenis van die Bondelswarts-opstand in die algemeen, en spesifiek in die konteks van hierdie dagboek, “blog,” oor die “Die Keiservoël Oor Namaland”?

Die Nama-oorlog het in 1904 in die gebied van die Bondelswarts begin toe die Duitse offisier luitenant Walther Jobst en die Bondelswarts leier Jan Christiaan doodgeskiet is. ’n Formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi sou eers in Oktober 1904 volg, maar die skade was reeds met die dood van Jobst en Christiaan gedoen. Tydens die oorlog sou Witbooi, Marengo en Fredericks sterf en Simon Koper na Betsjoeanaland vlug. Die enigste noemenswaardige vegtende leier wat sou oorbly was Abraham Morris, ’n dapper en vernuftige krygsman. Dit is hy wat teruggekeer het en die opstand aangevuur en gelei het. Hy kon nooit gedink het dat hy die magtige Unie sou oorwin nie, maar hy het nogtans geveg, net vir een ding-vir vryheid. Die Bondelswarts se grond is nooit deur Duitsland of die Unie van Suid-Afrika gekoop nie. Na die Eerste Wêreldoorlog is hulle grond eenvoudig by wyse van dekreet weggevat en daarmee is hulle lewenswyse vernietig.

Die vernietigende lugaanval en afbrand van Guruchas in 1922 was in my oë die ware einde van die Nama-oorlog, wat in 1904 begin het. Die gees van die laaste oorblyfsels van die Namas, die Bondelswarts, was finaal gebreek.

Dit is maklik in vandag se tyd om krities te wees, maar destyds was dit aanvaarbaar om so te dink oor die lewe. Selfs in die Volkebond is hierdie mening deur sommiges gehuldig. Die blankes was die oorwinnaars en daarom moes die “Hottentotte” soos hulle genoem is, hulle slawe of bediendes wees. Die idee van grondbesit vir die “Hottentotte” was belaglik.

Vandag is die blankes in Suid-Afrika op ’n manier die slagoffers van die mag van die meerderheid. Vandag is dit die blankes en Afrikaners veral wat voel hoe dit voel om hulle grond te verloor. Die ironie is juis dat vandag se nuwe grondeisers minder regte as die Khoi-Khoin daartoe het. Die Khoi-Khoin is die oorspronklike grondeienaars  van suidelike Afrika, nie die Xhosas of Zoeloes nie. Ek is oortuig daarvan dat hierdie argument uitgebuit moet word in die gronddebat.

Abraham Morris is ’n mindere karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland” en ek noem die Bondelswarts Affêre slegs in die epiloog. ’n Volledige relaas daaroor sou ’n vervelige herhaling van die pyn en swaarkry van mense soos Ernst, Fredericks en die Herero’s wees. Morris was egter ’n dapper en slim held, ’n intelligente man. Selfs die man wat hom agtervolg en uiteindelik doodgeskiet het, kaptein Prinsloo, het so gesê. Om Morris se nalatenskap te ignoreer sou verkeerd wees.

Dag 48: 1922 se skandvlek op SA: Die einde van ’n kultuur.

Guruchas
Guruchas. Op 29 Mei 1922 het Suid-Afrikaanse bomwerpers hierdie nedersetting vernietig, ‘n voorval wat vir jare later nog opspraak sou verwek.

Die Bondelswarts-Namas het 1904-1908 se oorlog teen die Duitsers oorleef. Hulle was ook deel van 1914-1915 se veldtog van generaal Louis Botha wat die Duitse juk van hulle skouers afgeskud het. Tydens hierdie konflik werk Bondelswarts-leier Abraham Morris nou saam met kaptein Prinsloo van die Uniemagte. Hy, die kaptein, is ’n seun van ’n Boere-offisier wat in die Anglo-Boere-oorlog gesneuwel het en deur sy Britse opponente vereer is vir sy dapperheid. Prinsloo leer ken Morris as ’n dapper en eerbare man, “n man deur en deur.” Die Bondelswarts hoop dat hulle samewerking met die Uniemagte sou meebring dat sekere onregte van die Duitsers reggestel sou word, maar die teenoorgestelde het gebeur. Die Unie het eerder nog verdere laste op hulle gelê. Gaandeweg het dit duidelik geword dat die Unie van Suid-Afrika die Duitse filosofie gedeel het- hulle, die nasate van die Khoi-Khoin, die Namas, die oorspronklike grondbesitters van suidelike Afrika, was nou tweedeklas inwoners met mindere regte. Al waarvoor hulle goed genoeg geag was, was as arbeiders.

In Suid-Afrika was daar vroeg in 1922 soortgelyke ontevredenheid. Duisende verarmde Afrikaners en swartes moes ’n heenkome op die Witwatersrand se myne vind. Daar was hulle ook niks anders as goedkoop arbeid nie. Dit lei tot ontevredenheid, ’n staking, en geweld. Die onverbiddelike generaal Jan Smuts stuur sy masjiengewere en aanvalsvliegtuie om die stakers te verjaag en baie sterf. Dit is vreemd dat iemand wat gedurende die Anglo-Boere-oorlog eerstehands die wreedhede van Kitchener se verskroeide aarde en konsentrasiekampe beleef het, nou dieselfde soort wreedheid teenoor sy eie mense sou pleeg.

In April 1922 keer Abraham Morris terug na sy mense, die Bondelswarts van Guruchas in die verre suide van Suidwes-Afrika. Kaptein Prinsloo, nou hoof van die Miltêre polisie op Keetmanshoop  reis in opdrag van sy meerderes na Guruchas om Abraham Morris te vang, maar Abraham glip betyds oor die Garieprivier. Prinsloo volg hom en voer selfs ’n gesprek met hom. Hy waarsku Morris om nie na Guruchas terug te keer nie. ’n Paar dae later kruis Morris willens en wetens die rivier om permanent by sy mense aan te sluit. ’n Ander polisieman, ene van Niekerk gaan probeer om Morris te arresteer weens “onwettige immigrasie,” maar die oudstryder en sy troue volgelinge sit hulle teë.

Dit was nou die einde van Mei 1922 en die Bondelswarts onder leiding van Abraham Morris neem die wapen op. Daar was ongeveer 1200 weerbare manne met slegs ’n beraamde 200 gewere tussen hulle. Skaars 7 jaar tevore was hierdie einste Bondelswarts die ooggetuies van die reusagtige Uniemag, op een stadium 60 000 man, wat die Duitsers oorwin het. Hoe kon hulle ooit dink dat hulle enige kans teen die Unie sou staan? Sekere geskiedskrywers glo dat die Bondelswarts van die begin af geweet het dat hulle sou verloor, maar dat die rebellie ’n laaste, desperate en fatalistiese aksie van ’n klein groepie mense wat reeds alles verloor het, was. Hulle het slegs geveg ter wille van hulle trots.

In Windhoek besluit die administrateur, Gysbert Reitz Hofmeyr, ’n man met geen militêre ondervinding, om self die strafekspedisie te lei. Hy stel homself aan as kolonel, ’n stap wat later baie gekritiseer is. Die Uniemagte beweeg suid, per trein, tot by Kalkfontein, vandag se Karasburg. Een van die offisiere is ’n Windhoekse advokaat, CM (Toon) van den Heever, die latere beroemde digter en skrywer.

Op 29 en 30 Mei val die Uniemagte Guruchas aan. Dit is ’n slagting hoofsaaklik weens die twee bomwerpers, waarvan die een vlieënier ene Pierre van Ryneveld is. Die vliegtuie werp honderde bomme neer op die nedersetting Guruchas, waar baie vroue en kinders skuilhou. Die Unie-soldate steek al die hutte en geboue wat die bomaanvalle oorleef het aan die brand.

Meer as 100 Bondelswarts sterf en die meeste van die ander moes oorgee, maar Abraham Morris vlug met ongeveer driehonderd bittereinders die klowe en berge in. Hierdie wêreld is wild en onherbergsaam, selfs meer nog as die soortgelyke Richtersveld suid van die Garieprivier. Die vlugtende Bondelswarts het net een voordeel. Hulle ken die veld, geheime waterplekke en veldkos. Hulle word nou agtervolg deur die einste kaptein Prinsloo, hy wat so groot respek vir Abraham Morris, sy vyand, het. Die vliegtuie help baie want hulle verklap telkens Abraham en sy manne se beweging. Verskeie kere land die vlieëniers naby die agtervolgers om opdragte, kos en water te bring.

Na ’n paar verskriklike dae van hitte, koue, dors, honger, gevegte, vlug, agtervolg en pyn skiet Prinsloo Abraham op ’n lang afstand raak. Abraham, swaar gewond, laat sy manne sweer dat hulle hom self sou doodskiet, eerder as dat hy deur die Uniemagte gevange geneem sou word. Gelukkig beswyk Morris in die nag en sy verslae manne begrawe sy lyk onder ’n stapel klippe. Die volgende dag gee hulle hulleself ver van die graf af oor. Die Bondelswarts is finaal verslaan, maar Prinsloo besef dat hy nie sal rus voordat hy Morris se lyk gesien het nie. Hy neem twee gevange Bondelswarts en ’n paar uitgeruste soldate en gaan soek die graf. Hulle verwyder die klipstapel en sien dat dit werklik Morris is. Hulle pak die klippe netjies terug.

Later skryf Prinsloo in sy verslag dat geen voertuig nader as 30 myl aan die plek waar Morris begrawe is kan kom nie. Dit is hoogs waarskynlik dat Morris se graf vandag nog net so lê en dat daar nog nooit weer ’n mens was nie. Indien iemand wel weet waar die plek is, sal ek dit graag wil besoek.

Guruchas is vandag ’n verlate spikkel op die landkaart, suid van die M22 tussen Karasburg en Noordoewer en die Bondelswarts, soos die ander Namas, weet niks of baie min van hulle roemryke verlede. Die kultuur van die Khoi-Khoin, ook geminag deur die uiteindelike, huidige oorwinnaars, die Ovambos se SWAPO, kwyn.

Hierdie verhaal is verewig in James Ambrose Brown se roman, The Return.

Lees môre hoe die wêreld op hierdie treurige gebeure gereageer het.

Kaart_Guruchas
‘n Kaart uit Richard Freislich se “The Last Tribal War.” Dit dui die area van Abraham se laaste gevegte teen Kaptein Prinsloo en sy manne aan.