

Die laaste veldslag van die Nama-oorlog is relevant vir baie redes wat ek mettertyd sal aandui. Ek wil eers verduidelik wat gebeur het. In Dag 41 van hierdie dagboek het ek ’n opsomming gegee van die gebeure. My bron was hoofsaaklik die artikel, “Simon Kopper and the Kalahari Expedition of 1908. The Forgotten Story of the Final Battle of the Nama War and its Results,” deur Wulf D Haacke, (groot herpetoloog, slangkenner) wat in Volume 44 van die Joernaal van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in 1993/1994 verskyn het op bladsye 41-65.
Verskeie ander outeurs het polities gekleurde, geromantiseerde, of fabelagtige/leuenagtige weergawes oor die gebeure geskryf, maar Haacke het noukeurige navorsing gedoen en probeer om ’n ware beeld daar te stel. Op bladsy 95-120 van Hannes Kloppers se “Gee my ’n man” vertel Kloppers juis sy polities gekleurde relaas. Dit is jammer dat dit dramaties verskil van Haacke se wetenskaplike artikel. Kloppers vertel byvoorbeeld dat Simon Koper self aan die veldslag deelgeneem het terwyl Haacke skryf dat Simon Koper ure voor die veldslag reeds vertrek het en nie self deelgeneem het nie. Kloppers begin sy weergawe ook met ’n redelik simplistiese, en ten dele heeltemal valse verduideliking van die oorsaak van die Nama-oorlog. Kloppers se verkeerde spelling van die name van verskeie offisiere werp nog ’n skadu op die akkuraatheid van sy navorsing.
Ekself het natuurlik in “Die Keiservoël oor Namaland” die gebeure romanmatig aangebied en heelwat fiksie ingeweef, let wel in my eie soeke na die waarheid. Ek weet van ten minste een klein “onakkuraatheid” wat ek doelbewus gelaat het.
Haacke begin sy artikel deur te skryf dat die presiese ligging van die veldslag en die grafte vandag onbekend is. Dit is juis een van die punte wat die storie relevant maak. Duitsland eer sy gevalle krygers, maar in hierdie geval is die grafstene van die gevalle offisiere vandag nog op Gochas, meer as honderd kilometer vanaf die verlore slagveld. Dit is redelik insiggewend dat Duitsland destyds nie die moeite gedoen het om die grafsteen op die regte plek te gaan oprig nie. Die veldslag het op 16 Maart 1908 plaasgevind en die Eerste Wêreldoorlog het eers in 1914 begin, ses jaar later. In daardie ses jaar was daar nog baie oorlewendes wat maklik by die slagveld en grafte sou kon uitkom. Die eerste dilemma was natuurlik dat die Duitse Schutztruppe baie ver in Britse grondgebied in moes trek agter Simon Koper aan, moontlik sonder Britse goedkeuring. Dit was dus ’n politieke verleentheid.
Simon Koper se van se spelling word ook as Kopper, Kooper of Cooper aangedui. Ek het die eenvoudige Koper gekies. Soos in Dag 41 vermeld het hy en sy stam, die sogenaamde Fransmanne in die Kalahariwoestyn rondgeswerf as nomade. Kloppers vertel dat die Fransmanne voor die Nama-oorlog naby Gochas gewoon het, wat as dit waar is, my vertelling dat hulle nomade was verkeerd kan maak.
Ongelukkig is die een waarheid wat onteenseglik waar is, dat die Nama-oorlog die Namas se kultuur so vernietig of geknak het, dat sekere dele van hulle geskiedenis en kultuur volledig verdwyn het en vandag in misterie gehul is. Die ironie is dat hulle vandag meestal Afrikaans praat. As ’n groep is hulle moontlik die grootste groep inheemse Afrikaanstaliges, buite Suid-Afrika se landsgrense. Ek dink ons behoort hulle bydrae tot ons taal te koester.
In my volgende aflewering wil ek vertel van die voorbereiding vir die groot veldslag.