Dag 81:Die Keiservoël sprei sy vlerke

FransjohanPretorius
Professor Fransjohan Pretorius (links) neem ‘n kopie van “Die Keiservoël Oor Namaland” in ontvangs. Hy het my gehelp met belangrike historiese inligting.

Ons reis deur Namibië twee weke gelede is nou ‘n aangename herinnering aan ‘n droom wat waar geword het. Dit bly steeds half onwerklik, maar elke dag gebeur iets wat my daaraan herinner dat agt jaar se harde werk bekroon is.

Professor Fransjohan Pretorius, geskiedkundige van die Universiteit van Pretoria en die wêreld se grootste kenner van die Anglo-Boere-oorlog (ABO) het my op twee maniere gehelp om “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n fiktiewe roman, gegrond op ware gebeure rondom die Duitse tydperk in Namibië, ongeveer 1883-1918, op oortuigende wyse te skryf en aan te bied. Die boek handel veral oor die Nama-oorlog van 1904-1908 en oor die persoon van Ernst Luchtenstein.

Eerstens het ek ‘n paar jaar gelede bewus geraak van die inskripsie op die monument by Dalmanutha, by Belfast, Mpumalanga, ter herdenking van die Slag van Berg en Dal tydens die ABO. Die inskripsie dui ‘n aantal gesneuweldes aan Boerekant aan as afkomstig “Vanaf Witbooi.” My verbeelding het op loop gegaan en ek was gereed om ‘n hele nuwe storielyn in die roman in te skryf. Dink net hoe lekker dit sou wees om te romantiseer oor die soldate wat die grote Hendrik Witbooi gestuur het om sy buurman, Paul Kruger, te help om die Engelse invallers uit Afrika te verdryf! Ek het professor Fransjohan gekontak vir nadere inligting en binne ‘n paar dae het hy met die meer vervelige waarheid uitgekom. Die Witbooi waarna die inskripsie verwys is ‘n distrik in die Lydenburg omgewing en het geen verbintenis met die vryheidsvegter en leier van die Namas, Hendrik Witbooi, nie. Ek moes toe maar vergeet van daardie storielyn…

‘n Ander storielyn wat wel oorleef het en wat sentraal tot die hele verhaal staan, is dié van die Duitse vrywillligers wat aan Boerekant geveg het. Professor Pretorius het vir my ‘n paar foto’s van hierdie vrywilligers verskaf wat wel in die die boek verskyn.

Ek het Vrydag die voorreg gehad om ‘n kopie van die boek aan hom te oorhandig by Graffiti Boekwinkel, Lynnwood Bridge.

Ander nuus is dat die vertaling van die boek in Engels reeds begin het en dat ek hoop om ‘n Engelse weergawe op die rak te hê voor Kersfees. Een van die groot uitdagings is om die Nama-Afrikaanse idioom korrek in Engels weer te gee. Daar is net iets aan Afrika wat nie so maklik is om in Engels te vertel nie.

Die belangstelling uit Namibië en uit lande soos Amerika en Nieu-Seeland verstom en verheug my. Bestellings en korrespondensie kom steeds in. Vir my is die belangrikste dat die boodskap van die boek wêreldwyd uitgedra moet word sodat niemand kan sê, “Maar ons het nie geweet nie.”

Ek het ook ‘n versoek uit amptelike kringe in Namibië vir ‘n skenking van 400 boeke ontvang. Ek vertrou dat so ‘n skenking uiteindelik tot ‘n uitbou van die leeskultuur, spesifiek in Afrikaans, onder die inheemse mense van Namibië sal lei.

Dag 80: Tsauchab se wildevy: soos Afrikaans

Een van my lesers reageer op die nuus dat Namibië se skole terugkeer tot Afrikaans deur daarop te meld dat dit slegs tot by Graad 3 is en dat Afrikaans ‘n keusevak tot matriek is.  Dit het my aan die dink gesit. Ons het ‘n wonderlike twee dae by Tsauchab River Lodge deurgebring wat my baie tyd om te dink gegee het. Hierdie wonderlike plek van Johan en Nicky Steyn verdien ‘n volledige reisverslag, eintlik ‘n hele boekie, en ek sal later meer vertel, maar vandag moet ek fokus op Johan se mooi insig.

Tsauchab is teen die Namib Naukluft Park geleë. Johan en Nicky bied al die dienste wat ‘n besoeker mag nodig kry, selfs WiFi. Hulle koop toe ook terstond ‘n kopie van “Die Keiservoël Oor Namaland” wat die gesprek in die rigting van Afrikaans stuur. Hy weet dat Afrikaans in Suid Afrika bedreig word en antwoord laggend: “Alles wat verdruk word, groei mos net sterker.”

Die mooiste en lekkerste van Tsauchab is die kampplekke wat so netjies, groot en privaat is. Elke kampplek het sy eie badkamer en opwasgeriewe en die meeste het sommer op die koop toe  ekstra buitelugbad- en toiletgeriewe. Elke kamp het eintlik twee ekstra staanplekke sodat ‘n groot groep een kamp heel gerieflik kan deel.

Johan het party kampplekke se badkamers sommerso teen of half binne in ‘n wildevyboom gebou en op ‘n duur manier sy les geleer. ‘n Wildevy laat nie teen hom druk nie. As jy styf teen hom bou dan druk hy terug. Op die wyse het dit nou nodig geraak dat hy party van sy kampbadkamers elke drie jaar moet herbou, of ten minste gedeeltelik. Die wildevy groei en druk teen enige versperring in sy pad. So lig hy uiteindelik die teëls op en druk die deuurraam sommer skeef.

Hierin is die les vir Afrikaans uitgebeitel. As jy Afrikaans aanhou druk, sal hy ook terugdruk en vir hom ‘n pad oopkap. Dit maak nie saak of Afrikaans net tot graad 3 verpligtend is of wat ookal nie. Ons moet aanhou druk, stil, stadig, sterk en doelbewus.

Wildevy
Ons kampplek van die afgelope twee dae. Daardie geboutjie in die middel van die wildevy is die badkamer. Die wildevy druk die struktuur sodat die teels elke paar jaar vervang moet word.

 

IngridenJohan
Johan Steyn, eienaar van Tsauchab River Lodge, staan reg om te groet toe ons vanoggend daarvandaan vertrek. Johan sê enigiets wat onderdruk word, word net sterker, soos die wildevy en Afrikaans.

Ons reis het vanoggend in Windhoek ge-eindig. Hier het ek die geleentheid gehad het om Angela Hofmeyr van Namibia Book Market, http://www.namibiabooks.com bereikbaar by contact@namibniabooks.com , +264236938, Posbus 6870 Windhoek, Namibië, te ontmoet.

Namibia Book Market sal “Die Keiservoël Oor Namaland” dwarsoor Namibië beskikbaar stel. Skakel, e-pos of skryf dadelik om jou kopie te bekom.

Ek groet voorlopig met twee mooi foto’s wat ek by Tsauchab geneem het.

klipspringer
Ingrid se heel gunsteling dier het vir ons geknipoog.
_DSC0330
More-oggend vlieg ons terug SA toe. Die Kameel wag vir ons tot ons weer kom kuier. Ich liebe Südwest!

 

Dag 79: Ons begin groet, maar daar is ’n verrassing

Die Kameel ry noord. Hierdie bakkie van my sou voor die einde van die dag vir ’n verstommende wending sorg, een waarvan ek sedert 2007 gedroom het.

Ons is stadig maar seker op pad Windhoek toe om Sondag huistoe te vlieg. Agter ons lê die hart van Namaland, Keetmanshoop, Aus en Lüderitz, waar my gedagtes die afgelope nege jaar gedraal het, maar in die noorde is ’n paar plekke waar ek nog wil uitkom, onder andere Gibeon, tuiste van Hendrik Witbooi en ook die toneel van die laaste groot veldslag van generaal Louis Botha se Unie-magte teen die vlugtende Duitse Schutztruppe. Hier het die Duitsers moedig en nodeloos geveg teen ’n groot oormag.

Ons draai links in by Gibeon en ry deur die arm dorpie. Een advertensiebord trek my oog: “Mencia’s Oms.” Aha, Mencia se huis, lei ek af. Ek het mos die Namataal bestudeer en gebruik die woord //haru oms, matjieshuis, dikwels in “Die Keiservoël Oor Namaland.” Stadig kruie die Kameel deur die ou dorpie. Dit is Hemelvaart en stil. Die mense gaap ons bietjie aan, maar wuif beleefd. In die begraafplaas is daar vele Witboois, maar natuurlik nie die groot man s’n nie. Hy wat vandag op Namibië se banknote pryk is iewers op die gebied Vaalgras begrawe in Oktober 1905 na ’n skermutseling waarin hy gewond is, Bybel op sy bors. Sy seuns het alle tekens van sy rusplek gekamoefleer sodat die Duitse agtervolgers dit nie sou vind nie. Tot vandag toe weet niemand waar nie.

Ons draai terug en hou stil by die stasie langs die hoofpad waar die gedenknaald langs die klomp grafte opgerig is. Die Slag van Gibeon op 27 April 1915. Dit tref my skielik dat hier soveel mense op een dag dood is, eintlik onnodig, die resultaat van hardkoppige politici en gierigheid.

Net voor Mariental draai ons links, rigting Maltahöhe. Ek verlang al klaar na die verre Suide, sy mense, sy geskiedenis en sy tonele wat so deel van my geword het, maar dit is tyd vir nuwe avonture en een dag van vakansie hou. Ons bestemming is Tsauchab-kamp in die Naukluft. Eers hou ons stil by Maltahöhe om die Kameel se dors te les.

’n Jong, donker man staan nader. Beleefd groet hy en begin dadelik Toyota bakkies gesels. Die Kameel het daardie effek op mense. Hard, betroubaar en sterk staan bo-oor hierdie geslag Toyotas geskryf. Ek merk iets anders aan die man. Hy praat daardie mooi, suiwer Afrikaans wat mens al minder in Pretoria hoor.

studeerkamerEk kyk hom reguit in die oë en vra: “Is jy ’n Nama?”

“Ja, wel half Nama. My pa was ’n Herero. Maar my aard is Nama.” antwoord hy.

“Soos Jakob Morenga,” sê ek.

Sy gesig verhelder. Dit lui die noodwendige gesprek in.

Basie Swartbooi het grootgeword in tannie Hellie van Rensburg se huis hier op Maltahöhe waar sy ma as bediende gewerk het. Hy het saam met tannie Hellie se dogter Sonja na die Afrikaanse skool gegaan en as tannie Hellie vir Sonja twee worsies ingepak het vir middagete, dan het hy ook presies twee sulke worsies in sy kosblik gekry, ewe lank. Hy is haar ewig dank verskuldig. Vandag is hy ’n sakeman in Walvisbaai met ’n plaas aan die buitewyke van Mariental. Sy een seun is ’n geoktrooieerde rekenmeester en sy ander kinders op skool in Walvisbaai.

Ek staan verstom en luister na sy bekommernis oor die maatskaplike en sosiale probleme van sy mense, die Namas. Hy is desperaat om iets daaraan te doen. Vier-en-twintig uur tevore het ek dieselfde sentimente by Dorette Vos op Bethanië gehoor.

Basie vra of ek nie een van die boeke het om vir hom te wys nie. Hy blaai deur die boek en draai in sy spore om geld te gaan trek by die “tiekieboks” (ATM in Pretoria) en betaal vir die boek. Hy vra of ek nie wil terugkom Namibië toe om sy mense te kom vertel van “Die Keiservoël Oor Namaland” nie. Hy wil hê sy mense moet iets hê om op trots te wees, hulle moet eerder boeke lees as om in die strate rond te drentel. Lees is die antwoord, reken hy. Die groot euwels is drank en ledigheid.

Terwyl Basie praat dink ek aan al die dae en nagte wat ek met presies dieselfde vrae gesukkel het. Ek kan nie glo dat hierdie man wat hier voor my staan my eie gevoelens met sulke mooi Afrikaans verwoord nie. Dit is my droom dat die boek op een of ander manier ’n klein vuurtjie in Namaland sal aansteek.

Ek dink aan Jakob Morenga, ook half-Nama, half-Herero, een van die groot karakters in my boek. Hy is opgevoed deur die Roomse priesters, moontlik vader Malinowski tydens sy vroeër verblyf by Pella en hy kon goed skryf. Daar is geskiedkundiges wat beweer dat Morenga ook tyd in Duitsland deurgebring het. Hy was ’n groot held onder sy mense en ’n doring in die Schutztruppe se vlees, maar het net soos Hendrik Witbooi in die veld gesterf. Vandag weet min mense van hom. In “Die Keiservoël” lees ons baie oor sy optrede.

Terwyl ons verder ry Tsauchab toe glimlag ek en Ingrid kort-kort vir mekaar. Hierdie reis het op verrassende wyse eindeloos meer voortgebring as waarop ons gehoop het. Ek dink aan Liesbet van Kiriis Wes, aan Nadia, ontvangsdame van die Schützenhaus en aan Basie, almal Namas wat die boek in hulle hande het en nou rede het om anders te dink.

Waarom die beheptheid met die Namas, wonder baie mense. Is dit dan ’n boek net vir hulle? Hoekom word die boek aan hulle opgedra?

Dit gaan alles oor Afrikaans. Die boek is geskryf vir die ernstige leser met ’n belangstelling in geskiedenis. Daar is wel dieper temas, maar dit is veronderstel om terselfdertyd ’n lekkerlees storie ook te wees. Die “beheptheid” met die Namas is die bewondering vir hulle manier van Afrikaans praat, vir hulle suiwer Afrikaans en vir die feit dat hulle in die buiteland, Namibië, woon. In Suid Afrika word Afrikaans op verskeie fronte bedreig, maar in Namibië is pas teruggekeer na Afrikaans as onderrigmedium. Ons as Afrikaners is verplig om hierdie Namas te ondersteun, letterlik met woord en daad. Deur die taal onder hulle te bevorder, beskerm ons ons eie grootste kleinnood. Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen Kaaps oftewel Kaapse Afrikaans en die Namas se Afrikaans. Die Namas se Afrikaans bring ’n broodnodige balans. 

Ek beplan om binnekort terug te keer met nog boeke om aan skole en biblioteke te oorhandig.

Vanaand is ons laaste aand in die Naukluft se stilte.

Sal later nog foto’s plaas. Internet is te stadig, seker die hitte.

Dag 78: Bethanië, simbool van hoop

Gister het begin met my skip wat nié ingekom het nie, maar het ge-eindig met ’n skat wat veel groter is, ’n ligtoring van hoop in ’n deurmekaar wêreld.

Ons was in Lüderitz, wagtende op die MSC Synphonia, die reuse plesierboot met duisende RSG Oppiwaterfeesgangers aan boord. Hierdie jaarlikse kunstefees het kunstenaars soos Laurika Rauch en Jak de Priester ingesluit en die bekendstelling van “Die Keiservoël Oor Namaland” was ook op die program geskeduleer. Dit het redelike delikate voetwerk gekos om te reël en sou by Kolmanskop geskied, maar op die laaste oomblik het die kaptein van die Synphonia besluit dat dit té gevaarlik sou wees om Lüderitz binne te vaar, net soos my boek begin. In die boek lê die Gertrud Woermann, groot Duitse skip aan anker buite die baai en wag om die baai binne te vaar, in Maart 1906. Die volgende oggend is daar wind en mis en so byna ’n tragedie, maar ek kan nie die storie hier weggee nie…

Gister se kansellasie was vir ons nogal ’n teleurstelling, maar niks in vergelyking met die sakemense van Lüderitz s’n nie. Hulle het gister baie geld verloor terwyl die Synphonia rustig verby geseil het Kaapstad toe. Vir ons het daar egter ’n groot verrassing later die dag gewag.

Bewus van die feit dat “ons skip nie sou inkom nie,” het ons die geleentheid gehad om bietjie oefening te kry en het ons die hele dorpie platgestap. Dit was weereens hoe ek twee tonele in die boek beskryf het, ’n wandeling deur die mooi Duitse dorpie op ’n rare windlose dag, vir die egpaar, met die verskil dat ek en Ingrid 40 jaar getroud is. In die boek is die egpaar Luchtenstein presies een dag getroud. Ons het deur Haai-eiland gestap en vir oulaas hierdie geskiedkundige rotskoppie-eiland gegroet. Dit sal altyd vir my effens aardig voel om mense wat rustig kosmaak op hulle skottelbraaie en kampvure in hierdie netjiese kampterrein te sien terwyl ek weet dat die plek ’n voorloper tot Hitler se konsentrasiekampe was.

Met die Kameel se rug gepak tot net voor die laaste strooi was ons gereed om die terugtog aan te pak. Ons besluit om eers die Goerke-huis, n pragtige woning gebou met diamantgeld, hoog teen die Lüderitzkoppie te besoek. Ons kon dit nog nooit binnegaan nie, omdat dit soos baie plekke in Lüderitz op vakansiedae, naweke en die meeste ander tye gesluit is vir die publiek. Vandag was dit weer so en ons stap maar net weer rondom hierdie pragtige gebou. Die 21e eeu het nog nie in Lüderitz aangebreek nie.

Goerke-huis

Weereens het ons op die betowerende B4 Aus toe geklim en stadig ooswaarts gekruie. Ek sal nie gou moeg raak vir hierdie landskap nie. Naby Garub sien ons ’n paar wildeperde en hou stil. Die toestand van die perde is skokkend, met geen jong vulletjies teenwoordig nie. Hierdie perde is die nageslag van die Namas se rydiere, die Unie-soldate van 1914 en 1915 se vlugtende perde na Fiedler en Von Scheele se lugaanvalle en Jayta von Wolff, weduwee van baron Hans-Heinrich, “koning” van die Duwisibkasteel, se diere. Dit lyk werklik of hierdie diere nou gaan uitsterf. Is daar nie iewers in SA ’n Pick’nPay of SAB of enigiemand wat nog bietjie geld oorhet om hulle van uitwissing te red nie?

wildeperde

By Goageb, ’n verlate, geruïneerde spookdorpie draai mens noord Bethanië toe. Bethanië was eens die setel van die Fredericksdinastie, die leiers van die !Aman-stam van Namas. Hulle bly steeds hier, maar onder swak omstandighede. Eens was hulle die heersers en grondbesitters, maar in 1883 en 1884 verkoop Josef Fredericks, wat hy gedink het is ’n klein stukkie grond, aan Adolph Lüderitz, maar laasgenoemde verkul hom wat Fredericks is. Hierdie is ’n historiese feit wat goed gedokumenteer is en waarvan die bewyse in Windhoek se argiewe bewaar word.

Die sendelinge het vroeg in die 19e eeu, lank voor Lüderitz se transaksie, ’n sendingstasie in Bethanië opgerig en die tweetoringkerk en die Schmelenhuis is vandag nog bekende toeristebakens. Pastoor Bam wat ’n karakter in die boek is, en vir Josef Fredericks gewaarsku het teen die “vuurwater” se graf is in die kerkhof neffens die kerk. (Hierdie “profesie” wat ’n produk van my verbeelding is blyk tot vervulling gekom het.)

Mettertyd lei die Namas se ontevredenheid en hulle onversoenbaarheid met die blanke boere tot die Nama-oorlog (1904-1908) en die vernietiging van hulle kultuur en, ek glo tot die sosiale en maatskaplike probleme wat mens vandag oral in Namaland, maar veral in Bethanië waarneem. Drank en dwelms is allesoorheersend.

Ons parkeer die Kameel in die koel en aanloklike parkeerterrein van die Bethanië Gastehuis, die enigste een op die dorp, waar ons oorval word met vriendelikheid deur Lambert en Dorette Vos. Tydens ons kuier hier verlede jaar was Dorette se ma, Lydia nog aan stuur van sake, maar nou het hierdie twee vriendelike mense wat vir elf jaar in Wapadrand, so naby ons eie huis in Pretoria, gebly het, sonder dat ons van mekaar geweet het, beheer oorgeneem.

Lydia (Dorette se ma) se voorsate van die plaas Swartmodder was toevallig die eerste slagoffers van die Nama-oorlog, die bekende Smit-moorde, verewig deur WA de Klerk in sy boek, “Die Gésel van Namaland.” Lydia en Dorette het dus moontlik goeie rede om ’n wrok te koester, maar daar is geen teken daarvan nie. Die teendeel openbaar homself mettertyd.

koerantberig

Ons kuier en gesels lank, ook oor “Die Keiservoël Oor Namaland,” waarvan groot dele in Bethanië afspeel. Koue rillings kruip oor my lyf toe Dorette begin vertel van haar drome en visie vir Bethanië se mense, veral die kinders. Sy en ’n paar vriende werk onverpoosd onder die mense. Hulle bedien die gemeenskap op geestelike en praktiese vlak met verskeie projekte. Sy haas haar om ons te herinner dat Bethanië die enigste plek in Israel was waar Jesus Christus ’n vriendelike ontvangs gekry het en dat Hy daarvandaan opgevaar het hemel toe, die dag wat ons ook “toevallig” vandag herdenk.

Dorette is die draer van nog ’n stukkie goeie nuus. Sy lig ons in dat die owerhede besluit het om Afrikaans as onderrigtaal terug te bring in die Namibiese skole. Hulle het besef dat Engels nie werk nie en dat die kinders daaronder ly. Dit is heuglike nuus, baie beter as enige skip wat in enige hawe kan invaar. Met so ’n regering en mense soos Dorette en Lambert is daar hoop vir onderwys, hoop vir die kinders, hoop vir die toekoms en hoop vir Afrikaans.

DoretteLambertVos

Miskien kan “Die Keiservoël Oor Namaland” ’n klein of ’n groot rol speel deur die stimulering van ’n liefde vir lees en vir geskiedenis en vir Afrikaans onder een van die mees agtergeblewe gemeenskappe in hierdie mooi land.

Dag 77: Die pad tussen Lüderitz en Aus

Ek leef voort in die gedagtewêreld van my boek, “Die Keiservoël Oor Namaland.” Hierdie reis wat volg op die publikasie het my heeltemal ingesluk sodat ek daarop moet konsentreer om normale goed te doen. Dit voel soos ’n lekker droom wat net aanhou en aanhou. Gelukkig het ek ’n goeie vrou wat my verdra en laat begaan.

Gister het hoofsaaklik bestaan uit ’n afspraak waarna ek baie lank uitgesien het. Ek het Piet Swiegers, die baas van Klein-Aus Vista, ’n unieke en spesiale gastehuis/hotel, eenmaal, lank terug ontmoet. Verlede jaar het hy ons op ’n toer van Aus en omgewing, met spesifieke klem op die ossewaroetes van die laat 1800’s en vroeg 1900’s, geneem. Daarna het hy aangebied dat ons ’n nag in die wildernis op hulle massiewe groot Namibplaas deurbring, in die mooi Leopardenschlucht.

Piet se verduidelikings, tesame met sy verwysing na Dora Bolz se boek, “Hard soos Kameeldoringhout,” het my in staat gestel om vir die eerste keer regtig te verstaan hoe die transportryers dit destyds reggekry het om die onherbergsame en waterlose Namib te deurkruis met ’n span osse.

Daar was egter nog een bron van inligting wat ek ook reeds jare gelede gefotografeer het en van vergeet het, ’n kaart wat sommige van die ossewaroetes aandui. Ek het hierdie kaart in Kolmanskop buite Lüderitz se museum gesien. Verlede jaar, terug by die huis het ek dit in my argiewe opgespoor en daarmee gaan sit, met Dora Bolz se boek en Piet se inligting en begin dink en droom. Dit het my gedwing om groot dele van die boek oor te skryf om dit meer getrou te maak.

Gisteroggend het ons dus die Kameel se neus ooswaarts gedraai, rigting Aus, om vir Piet die boek te gaan wys. Die pad tussen Lüderitz en Aus sal my vir altyd mesmeraais, soos Eugene Marais sou sê.

’n Klein entjie uit Lüderitz het ’n sin uit die boek hom in my verbeelding aangemeld: “Ernst, steeds in sy soldaat-uniform, stap heel agter, kop onderstebo. Elke kort-kort kyk hy terug oor die baai na die skilpadeiland,  Haai-eiland.” Ek stop die Kameel, my ou bakkie, langs die pad en kyk terug na Lüderitz en sien die baai waar die “dramatiese gebeure” van daardie dag en jare, soos vertel deur myself, afgespeel het. Hier lê die baai nog steeds, net soos destyds, stil en ongestoord, met miljoene mense oor die wêreld onbewus van dit wat hier gebeur het.

haai-eiland

Ons het gou eers by Kolmanskop ingedraai en ek kon nie die versoeking weerstaan om weer die kaart af te neem nie, net sodat ek dit nie weer sal vergeet nie. Die plan is om hierdie ou kaart te gebruik om die binnekant van die buiteblaaie van die hardebandweergawe, mee te illustreer, soos wat dit in die ou tyd gedoen is. Op hierdie stadium is slegs die sagteband boeke beskikbaar.

kaartKIKolmanskop

Ons ry verder, betower deur die grootsheid, stilte, eensaamheid en die wonderwerk van die Namibwoestyn. Hierdie woestyn het my hoofkarakter gevorm tot die man wat hy uiteindelik was. Hy het aangekom en gedink dat die woestyn net dooie sand was, maar… Lees liewer self die boek.

Ons sien van ver af ’n vorm wat eensaam langs die spoorlyn staan. ’n Gemsbok. Ek hou stil en stap nader, Nikon in die hand. Die gemsbok draf weg en poseer mooi. Nog ’n sin uit die boek doem op:

“Selfs die ooswind is moeg, sy sissende geloei uitgewoed. Die Namib se hemel is spierwit. Ernst luister na die stilte. Hy buk af om met sy hande die sand deur sy vingers te laat vloei, soos water uit ’n kruik. Toe hy opkyk sien hy ver bokant hom ’n gemsbok, reg bo-op die kim van die hoogste duin. Hy is verstom deur die dier se skoonheid en sy spiesagtige horings. Die dier staan fier en kyk na die menslike bedrywighede onder in die vallei. Ernst staar betower na die dier se prag, omring deur die strakke woestyn. Hierdie woestyn het lewe in hom, dink hy, regte lewe. Die woestyn haal asem, sy hart klop en sy hande voel.”

gemsbok

Die pad tussen Lüderitz en Aus word vergesel van ’n spoorlyn aan die een kant. Hierdie spoorlyn is in 1906-1908 deur die krygsgevange Namas en Herero’s gebou, onder dwang van hulle Duitse meesters. In 1914 val die Unie van Suid Afrika onder Louis Botha Duits-Suidwes-Afrika op vier fronte, een van hulle Lüderitz, binne. Botha se soldate marsjeer ooswaarts en die Duitsers vlug. So ver as wat hulle vlug blaas hulle die spoorlyn op sodat die Unie-soldate nie daarvan gebruik kan maak nie. Die Unie-soldate herstel die spoorlyn, maar tot vandag kon niemand dit nog ooit weer regkry om daardie spoorlyn ordentlik te bedryf nie. Daarvoor is die Namib net té kwaai.

Ons hou ook stil by Garub, ’n spoorweghalte naby die besigtigingspunt van Aus se wilde perde. Die wildeperde verkeer tans weens die droogte en ’n bende van elf gevlekte hiënas onder geweldige druk. Mense spekuleer dat die wildeperde selfs kan uitsterf. Hulle oorleef van voer wat geskenk word.

In my boek laat ek die trein met sy karakters ook by Garub stop, sodat die stoomtrein kan water inneem en Regina, die perdevrou, die perde kan bewonder. Iewers het ek gelees dat daardie water vir die trein op ironiese wyse deur ’n ossewa aangekarwei is.

Garub

Op Aus wag Piet en Christine vir ons. Piet het vanjaar die Cape Epic fietswedren meegemaak. Hy is ’n taai, klipharde boorling van die Namib met ’n sagte hart, vol liefde vir Namibië en sy mense.

Swiegers

Ek oorhandig die boek, die voltooiing van nog ’n sirkel.

Dag 76: Lüderitz toe

Ons het bietjie té lekker gekuier in Keetmanshoop se Schützenhaus en het gisteroggend die vorige nag se “skade” probeer regdokter met die Schütz se beroemde omelette. Baie dankie Ingo Klitzke!

Ingo
Ingo Klitzke, Keetmanshoop se laaste Duitser, voor die Schützenhaus.

Ek kon nie uit Keetmanshoop wegry sonder om by die Joodse begraafplaas stil te hou nie. (Regte Jode mág blykbaar nie by ‘n begraafplaas verbyry sonder om te “groet” nie.) Ek was al dikwels voorheen hier, maar een van die getroue lesers van hierdie joernaal wat in New York woon, se oupa lê ook hier begrawe. Hy en Joseph Luchtenstein was groot pelle. Dié lê net so paar grafte noord. Soos gebruiklik het ek die klippie by die linkervoet neergesit. Lechaim of is dit mazeltov, Avrim?

Twee insidente op die pad Lüderitz toe gister illustreer iets van die gees van Namibië. ‘n Motor van voor se ligte flikker en die bestuurder beduie woes. Ons hou stil. “Is julle nie dalk op pad Seeheim toe nie,” kom die vraag. So eindig ons op die Seeheim Hotel se stoep om ‘n kamersleutel wat iemand vergeet het om terug te gee. Die ou reis deur die land met ‘n fiets en hy het die motoris gevra om die sleutel terug te gee en so raak dit my taak, wat ek toe vier met ‘n koue Windhoek, net so ter gedagtenis aan die Schützenhaus.

Ons ry verder met die Kameel en kom ‘n motoris met ‘n stilstaande voertuig wat iets beduie teë. Hou weer stil en die ou, Russell Kuhn van Knysna, vertel dat hy nou sy derde pap band van sy reis het en kan ons nie dalk help met ‘n kompressor nie. Ons maak so en leen vir hom die instrument. Hy ry agter ons aan Lüderitz toe en stop elke 20 kilometer om sy pap band te pomp.

Dit is hoe dit werk in Namibië.

Ons ry reguit Haai-eiland toe. Dit is ‘n vreemde plek, met hoegenaamd geen teken van die tragedies wat tussen 1904 en 1908 hier afgespeel het. Vir my is dit ‘n emosionele oomblik. Hoeveel dae en nagte het my gedagtes nie daar doer in Pretoria en orals waar ek aan die boek gewerk het op hierdie rotskoppie gedwaal nie? Presies net hier het iets gebeur wat jare later in Auschwitz en die ander helkampe weerklank gevind het. Ek moes die wêreld vertel, en nou het ek. Ek het my deel gedoen. Miskien maak dit ‘n verskil.

Corneliussteen
Regs agter is die gedenksteen opgerig ter herinnering aan Cornelius Fredericks, belangrike karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland.” Gegewens op die steen is onakkuraat.
LBaai
In hierdie baai het die Luchtensteingesin in 1906 geland.

Die monument en gedenksteen wat hier opgerig is, is baie onakkuraat, onvolledig en miskien misleidend, so asof die instansie wat dit opgerig het, doelbewus probeer het om die waarheid te versluier. Teen ‘n lae muurtjie is ‘n veertigtal name van gesneuwelde Duitse soldate sonder enige verduideliking van die konteks. Daar het vele meer gesneuwel tydens die oorlog. Hoekom net hierdie name? Op Cornelius se gedenksteen is ook ‘n paar getalle van mans, vrouens en kinders wat omgekom het, maar eweneens vertel dit nie naastenby die volle verhaal nie.

Ek maak darem een moontlik betekenisvolle “ontdekking.” Een van die Duitse gesneuweldes is ene von Quitzow. Tydens die Anglo-Boere-oorlog, ‘n paar voor die Herero- en Nama-oorloë, was daar twee  kompanies Duitse vrywilligers, een van hulle onder bevel van ‘n von Quitzow! Luitenant Thilo von Trotha, ‘n belangrike karakter in “Die Keiservoël Oor Namaland” het onder von Quitzow gedien. Albei het dus tydens die Nama-oorlog gesneuwel. ‘n Foto van Von Quitzow uit Vallentin se boek verskyn ook in “Die Keiservoël Oor Namaland.”

Von-Quitzow

Ons groet Haai-eiland en besluit om die res van die middag net te ontspan. Ons ry na Grossebucht en aanskou die pragtige pienk flaminke wat in die vlak branders wei. Laatmiddag klouter ons op na die Diaskruis. Bartholomeus Dias was hoogs waarskynlik verantwoordelik vir die oorspronklike naam van Lüderitz, Angra Pequena.

dias
Lüderitz se beroemde Diaskruis. Dit is ‘n replika.

Flamink

 

Dag 75: Terug by die begin

Hierdie dagboek (“blog”, reisjoernaal, joernaal) handel oor die geskiedenis, navorsing, wedervaringe en agtergrond tot die skryf en publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat afspeel teen die agtergrond van die Duitse tydperk in vandag se Namibië, met spesifieke verwysing na die Nama-oorlog van 1904-1908.

Vandag het swaar gedra aan die simboliek van hierdie reis. Ek kon telkens maar net glimlag.

Vanoggend vroeg was ons reeds op die Rietfontein grenspos (Klein Manasse, moet dit nie Menasse wees nie? aan die Namibië kant.) Verlede jaar is ons verwelkom deur die hoëveldskaapwagter (“capped wheatear”) en ek het juis gister geskryf dat ek wonder of hy weer daar gaan wees. Dit was toe ook so. Die klein voëltjie het bo-op ‘n waterkraan gesit, maar voordat ek die kamera kon uithaal was hy weer weg. Terwyl ek besig was met die doeane en immigrasie formaliteite hoor ek heeltyd ‘n ander bekende gekwetter, maar sukkel om die oorsprong te vind, tot ‘n polisieman my die woestynspekvreter wys, hoog bo op ‘n lamppaal. Wat ‘n belewenis. Beide hierdie voëltjies, regte LBJ’s, speel rolle in my boek, en hier is nie net een, maar sommer twee van hulle, by die Namibiese grenspos, gereed om my te verwelkom. Lesers van die boek sal weet dat die spekvreter se liedjie een van die lewe se groot vrae vra, ‘n vraag wat op die einde beantwoord word. (Ek hoop op verrassende wyse.)

Aroab is die eerste dorp aan Namibiese kant. Ons is vroeg daar en doen navraag oor Haus (Huis) Streitdam, grootwordhuis van Regina Klube, destyds onder toesig van Hauptmann en mevrou Göttiger, soos akkuraat beskryf in die boek. Ek het voorheen die huis afgeneem, maar wou graag die huidige eienaars ontmoet. Ongelukkig is hulle op reis na die VSA, maar nietemin doen ons daar aan.

streitdam
Haus Streitdam, Aroab.

Ek neem my foto’s onder die wakende oog van Deon Coetzee, die Nama oppasser. Deon sê, “Dis net ‘n Duitser wat so kan bou. Dit lyk dan net soos Narubis se Travelodge.” Ek groet en kry my ry.

Sestig kilometer verder op een van die beste grondpaaie in die wêreld groet ‘n ander dierasie ons reg voor die plaas Kiriis Wes, ‘n reuse likkewaan. likkewaanEk kan nie anders as om hardop te lag nie. Die gedierte lyk dan nes ‘n monster. Was dit nie wat die jonge Michael Esterhuise in 1943 gesien het nie? ‘n Massiewe likkewaan wat hom aangeval het nie? Is dit nie waar die legende van die vlieënde slang vandaan kom nie? Miskien ‘n springende reuse likkewaan? Maar dan onthou ek weer die foto’s van die reuse spore en prof JLB Smith se woorde: “Dit is heel moontlik dat dit die spore van een of ander reuse reptiel kan wees.” Dit was net hier waar die voorval destyds plaasgevind het, en net hier sien ek vandag van alle dae die groot likkewaan. Toevallig?

Hier het alles begin in die winter van 2007. Oom Dicky Strauss was ons gasheer tydens ‘n jagtog en hy het my vertel van ‘n paar insidente, wat vandag ontwikkel het tot hierdie volwaardige roman oor die geskiedenis van die Nama-oorlog en die die wel en weë van die Luchtensteingesin. Vandag is oom Dicky nie meer met ons nie, maar ek kry die geleentheid om ‘n eksemplaar van die boek aan die plaaswerkers te oorhandig. Elisabeth Kaptein is baie geinteresseerd en kan nie die boek uitlos nie. Sy onthou my nog goed van ons vorige besoek.namasEk hoop vuriglik dat ten minste een van hulle sal lees oor die destydse Nama-helde en hulle kultuur en taal. Ek moes die Nama-taal bestudeer met behulp van ‘n baie ou woordeboek en het baie Nama-woorde en frases in die boek gebruik. Ek gebruik die geleentheid om my Nama-kennis te toets teen hierdie groepie en is aangenaam verras. Ek dink dat hulle egter tien maal meer verras is deurdat hierdie witman hoegenaamd kennis geneem het van hulle taal. Die boek het sy ontstaan aan hierdie plaas te danke en dit is reg dat ek vandag hier moes stilhou en ‘n eksemplaar aan hierdie groepie eenvoudige plaaswerkers, nasate van die oorspronklike Khoi-Khoin, met wie ek my eie taal deel, oorhandig.

Die skok-effek van ‘n paar foto’s in die boek gaan nie verlore op hulle nie. Ek hoop werklik dat dit hulle sal aanspoor om die boek te lees en dat hulle uiteindelik die dieper boodskap sal ontdek.

Willem neem ons na Tweelingkop waar oom Dicky se gedenksteen opgerig is. Van hier kan mens baie ver sien. Ek neem spesiaal ‘n boek saam om “vir oom Dicky te wys.”k&I-graf

Hierdie deel van ons reis eindig in Keetmanshoop, in die Schützenhaus, ‘n hotel wat in 1907 opgerig is en ook ‘n paar keer voorkom in die verhaal. Ons het al ‘n paar maal voorheen hier tuisgegaan en wonderlike diens beleef, en vandag sou geen uitsondering wees nie. Ek het lank voor die tyd reeds met die eienaar, Ingo Klitzke, gereël om vanaand ‘n paar vriende hier te onthaal. Ou vriend Willem Kotze wat ek in die boek bedank as die”wandelende biblioteek” van Keetmanshoop, tannie Memoireé Strauss, oom Dicky se weduwee en tannie Judy van der Merwe, oom Dicky se suster, kom spesiaal om die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland” te vier. Ingo is die perfekte gasheer.

memenjudy
Tannie Memoireé Strauss (links) en Tannie Judy van der Merwe (regs).
kenWillem
Willem Kotze is die een mens met die grootste kennis van Keetmanshoop en omgewing se geskiedenis.
keningo
Ingo Klitzke, eienaar en bestuurder van die Schützenhaus in Keetmanshoop is die perfekte gasheer. Die Schützenhaus duik ‘n paar keer op in “Die Keiservoël Oor Namaland.”

Teen die einde van die aand groet ons met een vraag: “Hoekom weet ons so min van die ou dinge?”

Dag 74: Op reis met die Keiservoël

dag-1
Halfpad tussen Vanzylsrus en Askham, met ‘n kameeldoringboom en sy versamelvoëlnes in die agtergrond. Hierdie kortpad is meer as honderd kilometer korter as via Upington, en in redelik goeie toestand.

Ons is vanoggend (dit as nou gister, sonder internet) vroeg met die Kameel, my 17 jaar oue bakkie met die AHA skilpaddophuisie op sy rug, weg uit Pretoria op die eerste been van ons reis na die land van die Keiservoël, Namibië, voorheen Suidwes-Afrika, voorheen, Duits-Suidwes-Afrika, voorheen deels Namaland.

900 Kilometer verder kom die Kameel heel gepas onder die Molopo Kalahari Lodge se kameeldoringbome tot rus. Ons het voorspoedig gereis en baie gehad om oor te gesels en sommer net te dink. Dit was ’n lang reis, vandag, maar ook die voorafgaande agt jaar. Ek het myself vandag gereeld daaraan herinner dat ek nie besig is om swaar te kry nie, net soos ek myself ook ’n klompie jaar gelede vertel het dat ek nie besig was om te ly toe ek besig was om my heel laaste halfmarathon ooit te hardloop nie, want sien, dit alles is niks in vergelyking met wat my arme karakters in die boek moes deurmaak nie.

Om 125 kilometer te trek deur dik sand, met ’n ossewa, sonder water, in die gesig van ’n bose wind en opdraandes is swaarkry en lyding. Ons kla so maklik oor ons “swaarkry,” maar eintlik weet ons nie waarvan ons praat nie.

Ernst Luchtenstein, die hoofkarakter in my boek, vertel self in sy latere jare hoedat hy saam met sy skoonseun in ’n ligte vliegtuig gevlieg het vanaf Lüderitz na Keetmanshoop. Die vlug was so voorspoedig en gemaklik dat hy aan die slaap geraak het. Die afstand tussen Lüderitz en Aus het hulle in ’n halfuur afgelê,  maar as jong touleier het dieselfde reis hom vyftig jaar tevore ses weke met die ossewa geneem.

Ek sit nou heerlik met die ondergaande son op my rug en ’n koel briesie in my gesig en wag vir aandete. Rondom my is dit nie so stil soos ek dit graag wil hê nie, want dit is Saterdagaand op Askham. Die “vuurwater” waarteen sendeling Bam van Bethanië in 1883 sy Nama-gemeentelede gewaarsku het, aldus Die Keiservoël, het reeds vlamgevat onder party nasate. Die vloek van alkohol rus swaar op elke plattelandse dorpie, veral op ’n Saterdagaand. Miskien gaan ek vanaand swaarkry met luide musiek en geskree wat ons rus verstoor. Kan ’n mens hierdie proses ooit omkeer? Kan ’n mens die bendegeweld op die Kaapse Vlakte, die drank- en dwelmmisbruik in Namaland, orals, ooit verander? Of is dit ’n hopelose saak? Is dit nie min of meer die straf op die sondes van die vaders, tot in die derde en vierde geslag nie?

Ek weet nie, maar ons moet probeer. Die plek om dit te doen is by die jeug, hoe vroeër hoe beter. As ons ’n verskil wil maak moet ons by die kleuters begin. Wie gaan hierdie enorme taak aanpak?

Môre neem die Kameel ons oor die Rietfonteingrens. Daar sal ons weer op die uitkyk wees vir die Hoëveldskaapwagter (“capped wheatear”) wat ons ’n jaar gelede daar gesien het. Dit was kompleet asof die klein voëltjie ons in Namibië verwelkom het. Lesers van die boek sal uitvind dat die skaapwagtertjie ’n klein rolletjie speel in die boek.