Dag 29: “Die Keiservoël oor Namaland” Dennis en Marge van Rooyen, Somerset Wes

Ek moes uitvind of daar nog enige van Ernst Luchtenstein se kinders leef. Op ‘n dag sit ek op my stoep in Pretoria en stap ‘n verlangse kennis, John Fourie, verby.

“Wat is al daai papiere daar rondom jou?” vra John.

“Ek probeer ‘n boek skryf.”

“Waaroor?”

So begin die gesprek, gewoonlik.

John sê iets wat my oë laat rek: “Ek weet van daai mense. Ons het langs die een dogter in die Kaap gebly, Margaret van Rooyen.”

So gebeur dit dat ek kontak maak, per telefoon, met twee van die wonderlikste en gaafste mense in die Kaap, Dennis en Margaret van Rooyen. Margaret is Ernst en Regina Luchtenstein se jongste dogter.

Weer klim ek op die vliegtuig, Kaap toe hierdie keer, om die van Rooyens in lewende lywe te gaan ontmoet. Ek het baie vrae.

DennisMarge

Ons kuier lank en lekker. Dit is die begin van ‘n besondere vriendskap. Tannie Marge vertel my dosyne stories en ek leer die mense Ernst en Regina, nou lank reeds saliger, ken. My vermoedens word bevestig. Haar ouers was spesiale mense.

‘n Paar jaar later, tydens ‘n kuier in Windhoek, sterf oom Dennis in die nag, op die bed langs tannie Marge. Hy het nooit die finale produk gesien nie, maar ek gebruik sy laaste woorde aan tannie Marge daardie aand in Windhoek twee maal in my boek. Die woorde is daar weggebêre in die teks, my en tannie Marge se “geheim.”

Dag 28: Pastoor Isak Fredericks, Windhoek, direkte afstammeling van Cornelius

IsakFredericks

Februarie 2010; ek was in Windhoek om navorsing te doen vir “Die Keiservoël oor Namaland,” die roman waaraan ek geskryf het en wat eersdaags verskyn. Een van die hoofkarakters in my boek was Cornelius Fredericks, Nama kaptein van Bethanië tydens die oorlog tussen die Namas en Duitsland, 1904-1908. Die vorige Desember in Lüderitz het fotograaf Giel du Toit my vertel van ‘n direkte afstammeling van Cornelius. Terug in Pretoria het ek kontak gemaak met pastoor Isak Fredericks van Windhoek en ‘n besoek geskeduleer.

Ek het baie vrae gehad, maar na die ontmoeting was daar nog meer. Oom Isak (Pastoor Fredericks) het my baie vriendelik ontvang. Hy was bly dat iemand belanggestel het in hierdie stuk verlore geskiedenis. Hy was volkome op hoogte met die verhale van die onregte op Haai-eiland, van die skedels wat na Berlyn verskeep is, en wat vandag steeds in ‘n polemiek gewikkel is. Die Namas en Hereros eis vandag nog steeds reparasie vir destyds se gebeure.

Oom Isak het vertel dat Josef Fredericks nooit self kinders gehad het nie, maar dat hy en sy vrou vir Cornelius en “Paul” aangeneem het. Hulle biologiese ouers was Ruben, Josef se broer, en Elizabeth. Hierdie besonderhede het ek gerieflikheidshalwe uit die roman weggelaat. Die feit dat ander historiese dokumente Cornelius se broer as Daniel aangedui het, het my genoop om eerder “Daniel” as “Paul” te gebruik. Oom Isak het self vertel dat part van die gegewens effens onduidelik was, soos al die wel en weë van die Namas na die oorlog.

Oom Isak het ‘n punt daarvan gemaak om aan my die verskil tussen die Khoi-Khoin en die Boesmans (Khoi-San) te verduidelik, te wete die “Eerste mense,” “Regte mense,” (Khoi-Khoin) en die “slegte mense,” “struikrowers,” (Khoi-San). Ander bronne bevestig hierdie onderskeid. Dit is hoekom Boesmans die naam “Boesman” bo Khoi-San verkies.

Dit is hartseer om by iemand soos pastoor Fredericks te hoor dat die Namas eintlik besig is om uit te sterf, as gevolg van ondertrouery met ander rasse, en dat in die proses die volksverhale en kultuurgebruike besig is om in die vergetelheid te verdwyn.

Oom Isak het vertel dat Cornelius deur Johannes Christiaan Goliath, Nama kaptein van Berseba verraai is, gevang is, en later te voet na Lüderitz aangejaag is, soos ‘n dier. In die boek het ek Goliath se rol uitgelaat, maar die deel oor die tog na Lüderitz nie. Ek het gedink aan oom Dicky se vertelling van Ernst Luchtenstein se pa, Joseph, wat die gevange Cornelius in die tronk in Keetmanshoop besoek het, “totdat hy opgehang is.” Daaruit het ek die afleiding gemaak dat Cornelius eers Keetmanshoop toe geneem is, en toe Lüderitz toe, waar hy uiteindelik dood is.

Die stukkie inligting uit oom Isak se mond wat my hare laat rys het was die volgende: Cornelius is nooit opgehang nie, hy is vergiftig. Daaroor was oom Isak baie seker. Hierdie was nie een van die wasige stories van lank vergete se tye nie. Die Frederickse van Bethanië was dit eens: Hulle legendariese leier is op Haai-eiland vergiftig, nie opgehang nie.

Toe ek ‘n rukkie later lees oor die eksperimente, geborg deur ‘n Switserse farmaseutiese maatskappy, op Haai-eiland, het ek verstaan, en het my verbeelding begin gons. Dinge het begin sin maak.

Dag 27: Kuier by Doc Immelman

Dit was Februarie 2010 en Gunther von Schuhmann van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging het my na Doc Immelman geneem vir ‘n kuier. Eintlik moes mens hom oom Doc noem, nie net omdat hy nie ‘n dokter was nie, maar omdat hy groter as groot was.

Hy het oorspronklik by die Poskantoor gewerk as morsekode operateur en het na Suidwes Afrika verhuis vir gesondheidsredes. Daar het hy begin boeke skryf, en nooit opgehou nie. My persoonlike gunsteling karakter was Kurt Mauser, ons eie James Bond/MacGyver.

Doc was ook ‘n ywerige jagter en was veral lief vir Angola.

doc3Doc en Gunther von Schuhmann

doc4 ‘n Legende aan die gesels.

Doc5Doc se morsekode-apparaat

doc6Gunther von Schuhmann, ywerige bestuurslid van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging, in Doc se “man cave.”

doc7Doc was lief om te vlieg, saam met sy vriende. Let op die datum, 1956.

doc8Doc Immelman langs ‘n Piper Cub.

Dag 26: Ek ontmoet Namibië se legendariese skrywer

Rooiwyn het nog nooit so lekker gesmaak elfuur in die oggend nie. Nadat ek en Ingrid in Desember in Lüderitz gekuier het en op Cornelius Fredericks en die wilde perde en Louis Botha se spore op die Tschaukaibvlakte geloop het, het my kop Windhoek toe gestaan. Giel het gesê hy ken ‘n direkte afstammeling van Bethanië se Frederickse. Ek wou hierdie afstammeling, pastoor Isak Fredericks van Windhoek, ontmoet. Twee maande later was ek in Windhoek, vir dié doel en vir ander navorsing, maar die hoogtepunt van my besoek was ongetwyfeld my ontmoeting met die legendariese Doc Immelman, skrywer van meer as veertig boeke. Doc1

‘n Vriend, Gunther von Schuhmann, van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging het my na Doc toe geneem en daar maak die groot, kort man vir ons ‘n heerlike bottel Cabernet oop, want die “baas” (mevrou) was by die kinders in Margate. Vir ‘n volle twee ure het ek aan Doc se lippe gehang. Hy het die een na die ander staaltjie uitgeryg en my laat skater van die lag.

Doc2

Soos so vele ander van die vriende wat ek gemaak het tydens die skryfproses van “Die Keiservoël oor Namaland” is Doc ook nie meer met ons vandag nie, maar ek sal hom nooit vergeet nie. Dit was net ‘n heerlike kuier, tussen al die harde werk in die biblioteek en argiewe en die onderhoude.

Dag 25: Die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.”

Ek moes 50 000 van die oorspronklike 150 000 woorde sny om die boek ‘n realistiese kans op publikasie te gee. Die een lang verhaal wat geval het voor die snoeiskêr was die rol van die Duitse vliegtuie gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die destydse Duits Suidwes-Afrika.

Fliegermontage

Hierdie dagboek gee my die kans om daardie storietjie te vertel.

Ek het reeds op Dag 23 en Dag 24 vertel van luitenante Fiedler en von Scheele se twee vliegtuie. Hulle het oneindige probleme en ook ‘n paar ongelukke met die vliegtuie gehad en het op een stadium die vliegtuig op ‘n ossewa gelaai en Keetmanshoop toe vervoer vir herstelwerk. Hierdie is gedokumenteerde geskiedkundige feite.

Ek het hierdie “geleentheid” met altwee my tikvingers aangegryp en my held, Ernst Luchtenstein, ingespan (jammer!) om as transportryer op te tree vir hierdie ossewatog. Dit was immers sy nering. In Keetmanshoop het ek hulle na McKay se plaas, Paradys, laat trek en ‘n nuwe skroef (“propellor”) uit tafelpote laat maak. Die nuwe skroef was natuurlik alles verbeeldingsvlugte (jammer, alweer!) van die uwe.

Uiteindelik moes ek hierdie hele verhaal sny, om by die regte storie uit te kom, maar twee jaar gelede kom ek in ‘n restaurant in Klein Windhoek aan die buitewyke van Windhoek, op hierdie foto af. Hier sit en staan die soldate rondom ‘n skroef van een van Fiedler of von Scheele se vliegtuie, so asof hulle nou net daaraan gewerk het. Ek het koue rillings gekry, want dit lyk kompleet asof die manne vir my glimlag.

Hou in gedagte dat die Wright broers die eerste vlug in ‘n vliegtuig presies 10 jaar tevore uitgevoer het. Dit is merkwaardig dat die tegnologie ‘n dekade later reeds in Afrika as oorlogstuig aangewend is.

Dag 24: Die eerste lugaanval in Afrika, nié in “Die Keiservoël oor Namaland” nie.

Een van die eienaardighede van Namibië is die feit dat die land die toneel was van die eerste suksesvolle veldtog van die Geallieerde magte tydens die Eerste Wêreldoorlog, of dan ten minste van een van die kolonies, naamlik die Unie van Suid Afrika.

MuskietvliegtuigDie Roland vliegtuig met luitenant Paul Fiedler aan die stuur styg op vanaf Aus.

Tydens hierdie veldtog het ‘n gemotoriseerde vliegtuig ook die eerste suksesvolle lugaanval op ‘n vyandelike mag in die geskiedenis van oorlogvoering uitgevoer. Dit was egter nie die Geallieerdes, lees Unie, wat hierdie lugaanval uitgevoer het nie, maar die Duitse “lugmag,” bestaande uit die twee vliegtuie van luitenante Fiedler en Von Scheele, ‘n Aviatik en Roland Taube.

Ek het met die eerste konsep-skrywe van die boek probeer om hierdie verhaal in te weef, maar dit moes later sneuwel as ‘n slagoffer van my “Kill your darlings” herskrywes. Ek moes erken dat dit nie deel was van die hart en siel van my storie nie.

Die Unie-magte onder bevel van die Unie se eerste minister, generaal Louis Botha, het Duits Suidwes Afrika op vier fronte binnegeval: suid vanaf Ramansdrif, wes vanaf Lüderitz, noord vanaf Walvisbaai en Swakopmund,Fiedler  Luitenant Paul Fiedler, regs, by sy Roland Taube Doppeldecker vliegtuig.

en oos vanaf Rietfontein. Die troepe vanaf Lüderitz het op die Tschaukaibvlakte saamgetrek. Die Duitsers het vanaf Lüderitz voor die Unie-magte gevlug en so ver as wat hulle gevlug het die spoorlyn tussen Lüderitz en Aus opgeblaas, daardie selfde spoorlyn wat hulle in 1906-07 binne rekordtyd gebou het. Die Duitsers het hulle op Aus, sowat 50 kilometer verder ingegrawe en mooi skanse gebou. Daardie skanse is vandag nog te sien, op Klein Aus Vista, een van Namibië se bekostigbare spoghotelle.

Terwyl die Unie-magte op die Tschaukaib gelê en wag het, het luitenante Fiedler en von Scheele in hulle vliegtuie opgestyg en kanonkoeëls met die hand op die Unie-soldate neergegooi. Drie soldate het gesneuwel. Dit was as gevolg van hierdie bomaanvalle wat die perde glo so geskrik en gevlug het, en wild geraak het. Vandaar die wilde perde, oftewel die tweede teorie soos op Dag 23 beskryf.

lugaanvalHierdie foto is deur luitenant von Scheele geneem vanuit sy vliegtuig en wys hoedat die bomme wat hy op die Unie-troepe gegooi het, ontplof het.

In my boek noem ek die Tschaukaib as een van die drie bekende ossewaroetes wat die transportryers destyds gebruik het. Die enigste water op die Tschaukaib is die sogenaamde “bankwasser,” oppervlakswater as gevolg van reën. “Bankwasser” was maar min en die manne moes merendeels die suidelike roetes oor Ukamas of Kaukasib volg. Hierdie twee plekke het fonteine met brak water gehad. Vandag is al hierdie plekke ontoeganklik, onder andere omdat dit diamantvelde is.

Dit is eers wanneer mens self op die Tschaukaibvlakte staan, in die versengende hitte, dat jy besef hoe moeilik dit moes gewees het om hier met ‘n ossewa te trek, of om vir weke lank op generaal Louis Botha se bevel om aan te val te moes wag.

Daar lê tot vandag nog allerhande rommel, onder andere jenewerbottels en koeldrankbottels, op sekere plekke op die Tschaukaib rond, monumente van ‘n vergete veldtog.

DSC_6399_3910

Ingrid en Giel du Toit op die Tschaukaibvlakte waar die lugaanvalle op die Unie-soldate plaasgevind het.

Dag 23: Die wilde perde van Aus en “Die Keiservoël oor Namaland”

Een van die opdragte waarmee ‘n keurder of redakteur ‘n skrywer se lewe versuur is die bykans sadistiese “Kill your darlings.” Hierdie woorde word aan baie skrywers toegedig: Wilde, Faulkner, en Chekov, maar blykbaar was die eerste man wat dit gesê het, Arthur Quiller-Couch, ‘n minder bekende skrywer. Dit beteken dat die skrywer sekere “mooi” stukkies skryfwerk en “oulike maar onnodige” karakters moet elimineer.

Tydens die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland” moes ek massamoord pleeg, in opdrag van my meerderes. Die lekkerte van hierdie dagboek (hoekom gebruik ons die lelike “blog” wat soos iets wat stink en op die grond moet val klink?) is dat ek bietjie meer kan vertel van baie van my “darlings” wat ek moes doodmaak, dit wil sê uit die teks moes uitsny. Agterna, nou, kan ek wel goed verstaan hoekom dit nodig was.

Nadat ons lekker in Lüderitz gekuier het en Cornelius Fredericks se gedenkplaat “ontdek” het, soos gister vertel, het ons gids/gasheer Giel du Toit, aangebied om ons die wilde perde van Aus te gaan wys. Vanselfsprekend het die perde een van my “darlings” geword en het ek in die vroeëre teks heelwat uitgewei oor die perde se oorsprong. Later sou ek hulle moes “doodmaak.”

Wildeperde1

Aus is sowat 125 kilometer vanaf Lüderitz. In die tyd waarin my verhaal afspeel het dit my held Ernst Luchtenstein tydens een rampspoedige geleentheid amper ses weke geneem om hierdie afstand met sy ossewa af te lê, maar met Giel se Toyota bakkie was ons daar binne ‘n uur. Eintlik is die besigtigingspunt Garub sowat 20 kilometer duskant Aus. In die ou dae was daar ‘n treinstasie en my held en sy vrou Regina het wel op die stasie stilgehou en raai wat? Hulle het na die perde gekyk. Ek het dus nie heeltemal van die perde ontslae geraak nie.

wildeperde2

Ekke by een van die “mak” wilde perde van Aus.

Ek, Giel en Ingrid het piekniek gehou onder die houtafdak en baie foto’s geneem. Die perde is eintlik baie mak en sal uit jou hand eet. Hulle wildheid verwys na die feit dat hulle onafhanklik van mense in die harde Namibwoestyn oorleef, maar dit is nie heeltemal waar nie. Die watergat by Garub is hulle hoofbron van water. Verskeie mense en instansies onderhou hierdie watergat waarsonder hulle nie sal oorleef nie.

Die perde het verskeie vyande onder andere hiënas en jakkalse, maar op die oomblik, laat in 2015, gaan die Namib onder ‘n ernstige droogte gebuk. Verslae insinueer dat die perde selfs kan uitsterf indien hulle nie nou gevoer word nie.

Daar is drie teorieë oor die perde se oorsprong. Die mees waarskynlike teorie is dat hulle afstammelinge van die Namas se perde is. Die romantiese teorie is dat hulle eintlik van Duwisib se perde is. Duwisib is die kasteel naby Maltahöhe wat in 1909 deur baron Hans Heinrich von Wolf vir sy Amerikaanse vrou Jayta gebou is. In 1914 was hulle in Europa tydens die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hans-Heinrich het by die Duitse magte aangesluit en is gou doodgeskiet. Die treurende Jayta het nooit weer haar voete in Afrika gesit nie; die perde is later losgelaat en het wild geword, of so word vertel. Die derde teorie is dat die perde oorspronklik deel van die invallende SA Unie-magte tydens die Eerste Wêreldoorlog was en dat hulle vir die bomme wat luitenant Fiedler en kaptein von Scheele bo vanuit hulle vliegtuie op hulle laat reën het, geskrik het en weggehardloop het. Hierdie is ‘n ander lekker “darling” storie vir ‘n ander dag.

Dag 22: Cornelius Fredericks op Haai-eiland

Cornelius2

‘n Koue rilling het oor my rug geseil toe ek hierdie gedenksteen sien. Die inskrywing het my vermoedens bevestig. Dit was Cornelius Fredericks wat betrokke was by die Luchtenstein-gesin se aanval. Dit was dieselfde Cornelius van wie van Huyssteen in The Lonely Grave in the Fish River Canyon geskryf het. Met ander woorde, hierdie man was die vriend, soos deur van Huyssteen vertel, van luitenant Thilo von Trotha, broerskind van generaal Adrian Dietrich Lothar von Trotha. Dit was hierdie man voor wie Therese Luchtenstein op haar knieë geval het en om genade gesmeek het. Dit was hy wat vir haar gesê het “Kniel voor God alleen, nie voor ‘n mens nie. Ons Namas maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.” Dit was hy met wie Thilo in die Visriviercanyon oor vrede onderhandel het, toe twee van sy soldate hom, Thilo, in die rug geskiet het. Dit was hy wat net na die Luchtenstein-aanval gevange geneem is, en “opgehang is,” volgens oom Dicky, maar met die verskil dat hy hier op Haai-eiland dood is, en nie in Keetmanshoop nie.

Saam met hom is daar 167 manne, 97 vroue en 66 kinders ook hier dood, volgens die inskrywing op die gedenksteen. Later sou ek uitvind dat hierdie syfer erg onderskat is. Die getal moes etlike duisende gewees het, as die ander bronne betroubaar is.

Maar hoe is Cornelius en die ander mense dood? Opgehang of wat? Ek moes weet.

“Ek ken ‘n direkte afstammeling van Fredericks,” verklaar Giel, my gids. “Hy is pastoor Isak Fredericks van Windhoek.”

Ek het geweet dat ek met pastoor Fredericks moet praat, maar eers kon ons nog ‘n paar interessante dae in Lüderitz en omgewing spandeer.

Dag 21: Die Skryf van: “Die Keiservoël oor Namaland” Op soek na Cornelius.

Ek was weer in Lüderitz, agtien maande nadat ek vir die eerste keer van die Nama-oorlog en van Ernst Luchtenstein gehoor het, hoe sy gesin in die woestyn deur ‘n Nama-bende oorval en deur ‘n onbekende Nama-leier begenadig is. Ek het nuwe inligting gehad, uit CNL van Huyssteen se boekie, The Lonely Grave in the Fish River Canyon, wat daarop gedui het dat hierdie leier Cornelius Fredericks, seun van Josef Fredericks, kaptein van die !Aman stam van Bethanië was.

Ons gids was Giel du Toit, ‘n kenner van Lüderitz. Hy het geweet van die konsentrasiekamp op Haai-eiland en het ons soontoe geneem. Agtien maande vroeër het ons net vinnig deur die eiland gery, onbewus van die tragedie van 102-107 jaar tevore.

Haai-eiland was oorspronklik ‘n regte eiland, baie naby aan die kus, maar die Duitsers het dit aan die vasteland verbind deur ‘n grondwal. Vandag is daar geen teken van die konsentrasiekamp nie. Dit is ‘n bar rotskoppie, blootgestel aan die wind en koue met feitlik geen plantegroei nie, met ‘n karavaankamp waar menige kampeerder al moes vlug voor die wind.

Giel het ons na die hoogste punt op die koppie laat klim en na ‘n betonblad gewys. “Die galg se platform,” het hy droog opgemerk. Ek moes sluk. Hier waar ek gestaan het is mense opgehang.

galg-Haai-eilandGiel en Ingrid op die platform van die galg.

‘n Entjie verder het ons die gedenktekens gesien, die opmerklikste een ‘n gedenkplaat van Adolph Lüderitz, ‘n man van twyfelagtige karakter.

adolphluderitzAdolph Lüderitz

Nog so entjie verder wys Giel vir ons iets wat soos ‘n graf lyk, ‘n wit klip met ‘n man se beeld daarop geskilder. Die naam: Cornelius Fredericks! Die man wat Ernst Luchtenstein, sy ouers en gesin oorval het en begenadig het, luitenant Thilo von Trotha se vriend, soos vertel in The Lonely Grave in the Fish River Canyon van van Huyssteen.

Cornelius

Wat daar nog op die “graf” geskilder is spook vandag nog by my.

Dag 20: Die Skryf van: “Die Keiservoël oor Namaland” Op soek na Cornelius.

Agt jaar later sien ek nou uit na die bekendstelling van hierdie boek. Ek het nooit besef hoe groot die omvang van die taak was wat ek aangepak het toe ek in 2007 daaraan begin skryf het nie.

Vir meer as ‘n jaar het ek geskryf, en geskryf. In die tweede helfte van 2009 het ek besef dat daar te veel onopgeloste raaisels was. My skryfwerk en skryflus het vasgeval, soos ‘n ossewa in die Namib. Ek het al die inligting wat ek op die internet en in ou geskrifte en boeke kon vind gelees en weer gelees, maar nie antwoorde op my vrae gekry nie. Naons vroeëre besoek aan oom Dicky en tannie Memoiree Strauss van Kiriis Wes in 2007 wás ons op Lüderitz, maar ons verblyf daar het verbygegaan sonder dat ek die volle betekenis van Haai-eiland waardeer het. Ek het besef dat ek weer Namibië toe moet gaan.

In Desember 2009 het ek Lüderitz toe gevlieg, as gas van die eksentrieke Giel du Toit, ‘n fotograaf van Kolmanskop. Hoog bo uit die lug op sestienduisend voet bo seespieël, suidwes van Aroab en suidoos van Keetmanshoop kon ons die bouvalle van //Khauxa!nas waarneem, en met ‘n selfoon selfs ‘n foto neem. Hierdie magiese plek sou vir baie jare in my kop bly draal en beelde optower. Gelukkig het ek dr Klaus Dierks se verhandeling, foto’s en tuisblad tot my beskikking gehad. (Ek sou eers in Maart 2015 met my voete op //Khauxa!nas kon rondloop, lank nadat ek die plek in die fynste detail probeer IMG00056-20100825-0956beskryf het. Ek moes eenvoudig die plek sien en ervaar voordat ek regtig die boek kon voltooi. Hierdie droom kon eers vanjaar waar word.)

Mense sê dat die suidooste van Namibië die ylste bevolkte deel in Afrika suid van die Sahara is. Dit mag so wees. Hierdie bouvalle is eers in 1987 deur dr Dierks herontdek en daar is selfs mense wat beweer dat dit die Verlore Stad van die Kalahari is wat deur Farini beskryf is.

Ons het ‘n paar maal bo-oor //Khauxa!nas gesirkel, verder gevlieg, op Lüderitz waar Giel vir ons gewag het, geland en by die lieflike Nest Hotel ingetrek. Die volgende dag sou ons Cornelius Fredericks se spoor op Haai-eiland gevat het.