Nadat ek vir oom Dennis en tannie Marge van Rooyen, dogter van Ernst en Regina Luchtenstein, in Somerset Wes gaan kuier het, was dit maklik om by haar broer, George Herbert (Tudi) Luchtenstein uit te kom. Vroeër was hy nie gemaklik om met my te praat nie, want het hy gesê, sy pa het toe hy nog gelewe het nooit publisiteit gesoek nie. Tannie Marge het ‘n goeie woordjie vir my gedoen en ek het die pad vol slaggate Bethal toe gevat.
Dit was ‘n vreemde gewaarwording om oom Tudi , sy ouers se enigste seun, te ontmoet. Hy en sy vrou tannie Annatjie het by hulle dogter gewoon. Ek was verbaas om te hoor dat sy met ‘n ou kennis van my getroud was.
Weereens het ek lekker gekuier en is bederf met ‘n heerlike bord boerekos. En die stories het nie uitgebly nie. Tannie Annatjie het ‘n lêer met koerantuitknipsels, almal ouer as 50 jaar, opgediep. Een van die uitknipsels het die verhaal vertel wat ek toe al ‘n paar maal uit verskillende oorde gehoor het, die storie van Namaland se vlieënde slang, soos vertel deur die ooggetuie Ampie Esterhuizen. Dit sou my die moed van my oortuiging gee om hierdie mitologie deeglik te ontgin en in my verhaal in te weef.
Daar was ook baie ander stories, die meeste wat ek nie sou gebruik nie, maar dit het my ‘n dieper insig in die karakters, Ernst en Regina Luchtenstein gegee. Ek het ook onder andere gehoor dat oom Tudi langs Manie Maritz geboer het en dat die Luchtensteins die eerste boere was wat Brahmane na Suidwes-Afrika toe gebring het.
Teen die muur het ‘n skildery gehang. Hierdie skildery was een van twee wat saam hulle eie diep storie het. Daarvan vertel ek graag volgende keer.