Rooiwyn het nog nooit so lekker gesmaak elfuur in die oggend nie. Nadat ek en Ingrid in Desember in Lüderitz gekuier het en op Cornelius Fredericks en die wilde perde en Louis Botha se spore op die Tschaukaibvlakte geloop het, het my kop Windhoek toe gestaan. Giel het gesê hy ken ‘n direkte afstammeling van Bethanië se Frederickse. Ek wou hierdie afstammeling, pastoor Isak Fredericks van Windhoek, ontmoet. Twee maande later was ek in Windhoek, vir dié doel en vir ander navorsing, maar die hoogtepunt van my besoek was ongetwyfeld my ontmoeting met die legendariese Doc Immelman, skrywer van meer as veertig boeke.
‘n Vriend, Gunther von Schuhmann, van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging het my na Doc toe geneem en daar maak die groot, kort man vir ons ‘n heerlike bottel Cabernet oop, want die “baas” (mevrou) was by die kinders in Margate. Vir ‘n volle twee ure het ek aan Doc se lippe gehang. Hy het die een na die ander staaltjie uitgeryg en my laat skater van die lag.
Soos so vele ander van die vriende wat ek gemaak het tydens die skryfproses van “Die Keiservoël oor Namaland” is Doc ook nie meer met ons vandag nie, maar ek sal hom nooit vergeet nie. Dit was net ‘n heerlike kuier, tussen al die harde werk in die biblioteek en argiewe en die onderhoude.