Een van die opdragte waarmee ‘n keurder of redakteur ‘n skrywer se lewe versuur is die bykans sadistiese “Kill your darlings.” Hierdie woorde word aan baie skrywers toegedig: Wilde, Faulkner, en Chekov, maar blykbaar was die eerste man wat dit gesê het, Arthur Quiller-Couch, ‘n minder bekende skrywer. Dit beteken dat die skrywer sekere “mooi” stukkies skryfwerk en “oulike maar onnodige” karakters moet elimineer.
Tydens die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland” moes ek massamoord pleeg, in opdrag van my meerderes. Die lekkerte van hierdie dagboek (hoekom gebruik ons die lelike “blog” wat soos iets wat stink en op die grond moet val klink?) is dat ek bietjie meer kan vertel van baie van my “darlings” wat ek moes doodmaak, dit wil sê uit die teks moes uitsny. Agterna, nou, kan ek wel goed verstaan hoekom dit nodig was.
Nadat ons lekker in Lüderitz gekuier het en Cornelius Fredericks se gedenkplaat “ontdek” het, soos gister vertel, het ons gids/gasheer Giel du Toit, aangebied om ons die wilde perde van Aus te gaan wys. Vanselfsprekend het die perde een van my “darlings” geword en het ek in die vroeëre teks heelwat uitgewei oor die perde se oorsprong. Later sou ek hulle moes “doodmaak.”
Aus is sowat 125 kilometer vanaf Lüderitz. In die tyd waarin my verhaal afspeel het dit my held Ernst Luchtenstein tydens een rampspoedige geleentheid amper ses weke geneem om hierdie afstand met sy ossewa af te lê, maar met Giel se Toyota bakkie was ons daar binne ‘n uur. Eintlik is die besigtigingspunt Garub sowat 20 kilometer duskant Aus. In die ou dae was daar ‘n treinstasie en my held en sy vrou Regina het wel op die stasie stilgehou en raai wat? Hulle het na die perde gekyk. Ek het dus nie heeltemal van die perde ontslae geraak nie.
Ekke by een van die “mak” wilde perde van Aus.
Ek, Giel en Ingrid het piekniek gehou onder die houtafdak en baie foto’s geneem. Die perde is eintlik baie mak en sal uit jou hand eet. Hulle wildheid verwys na die feit dat hulle onafhanklik van mense in die harde Namibwoestyn oorleef, maar dit is nie heeltemal waar nie. Die watergat by Garub is hulle hoofbron van water. Verskeie mense en instansies onderhou hierdie watergat waarsonder hulle nie sal oorleef nie.
Die perde het verskeie vyande onder andere hiënas en jakkalse, maar op die oomblik, laat in 2015, gaan die Namib onder ‘n ernstige droogte gebuk. Verslae insinueer dat die perde selfs kan uitsterf indien hulle nie nou gevoer word nie.
Daar is drie teorieë oor die perde se oorsprong. Die mees waarskynlike teorie is dat hulle afstammelinge van die Namas se perde is. Die romantiese teorie is dat hulle eintlik van Duwisib se perde is. Duwisib is die kasteel naby Maltahöhe wat in 1909 deur baron Hans Heinrich von Wolf vir sy Amerikaanse vrou Jayta gebou is. In 1914 was hulle in Europa tydens die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hans-Heinrich het by die Duitse magte aangesluit en is gou doodgeskiet. Die treurende Jayta het nooit weer haar voete in Afrika gesit nie; die perde is later losgelaat en het wild geword, of so word vertel. Die derde teorie is dat die perde oorspronklik deel van die invallende SA Unie-magte tydens die Eerste Wêreldoorlog was en dat hulle vir die bomme wat luitenant Fiedler en kaptein von Scheele bo vanuit hulle vliegtuie op hulle laat reën het, geskrik het en weggehardloop het. Hierdie is ‘n ander lekker “darling” storie vir ‘n ander dag.