Ek was weer in Lüderitz, agtien maande nadat ek vir die eerste keer van die Nama-oorlog en van Ernst Luchtenstein gehoor het, hoe sy gesin in die woestyn deur ‘n Nama-bende oorval en deur ‘n onbekende Nama-leier begenadig is. Ek het nuwe inligting gehad, uit CNL van Huyssteen se boekie, The Lonely Grave in the Fish River Canyon, wat daarop gedui het dat hierdie leier Cornelius Fredericks, seun van Josef Fredericks, kaptein van die !Aman stam van Bethanië was.
Ons gids was Giel du Toit, ‘n kenner van Lüderitz. Hy het geweet van die konsentrasiekamp op Haai-eiland en het ons soontoe geneem. Agtien maande vroeër het ons net vinnig deur die eiland gery, onbewus van die tragedie van 102-107 jaar tevore.
Haai-eiland was oorspronklik ‘n regte eiland, baie naby aan die kus, maar die Duitsers het dit aan die vasteland verbind deur ‘n grondwal. Vandag is daar geen teken van die konsentrasiekamp nie. Dit is ‘n bar rotskoppie, blootgestel aan die wind en koue met feitlik geen plantegroei nie, met ‘n karavaankamp waar menige kampeerder al moes vlug voor die wind.
Giel het ons na die hoogste punt op die koppie laat klim en na ‘n betonblad gewys. “Die galg se platform,” het hy droog opgemerk. Ek moes sluk. Hier waar ek gestaan het is mense opgehang.
Giel en Ingrid op die platform van die galg.
‘n Entjie verder het ons die gedenktekens gesien, die opmerklikste een ‘n gedenkplaat van Adolph Lüderitz, ‘n man van twyfelagtige karakter.
Nog so entjie verder wys Giel vir ons iets wat soos ‘n graf lyk, ‘n wit klip met ‘n man se beeld daarop geskilder. Die naam: Cornelius Fredericks! Die man wat Ernst Luchtenstein, sy ouers en gesin oorval het en begenadig het, luitenant Thilo von Trotha se vriend, soos vertel in The Lonely Grave in the Fish River Canyon van van Huyssteen.
Wat daar nog op die “graf” geskilder is spook vandag nog by my.