Wanneer mens ‘n roman oor ware gebeure in die geskiedenis skryf, loop jy noodwendig die gevaar om op tone te trap. Jy neem ‘n standpunt in, maar is jy reg? Daar is altyd ‘n ander kant. So was dit ook met die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland.” Dit was op einste Bethanië waar ek diep bewus geraak het van die storie van die “ander kant.”
Eerstens moet ek sê dat ek juis probeer het om vir ‘n slag die storie van die “ander, ander kant” te vertel. Oorlog is nooit mooi nie, en die Nama-oorlog van 1904-1908 was geen uitsondering nie. Dit het uiteindelik neerslag gevind in wrede eksperimente en navorsing op Haai-eiland in Lüderitz en jare later in Hitler se volksmoord op die Jode. Ten tye van hierdie Nama-oorlog was daar goed gedokumenteerde insidente waar die Namas met eer en waardigheid teenoor hulle vyande se vroue en kinders opgetree het, onder andere teenoor die Luchtensteins. Dit was die storie wat ek wou vertel. Dit het die gevaar geskep dat ek die Namas sou ophemel en die Duitsers sou beswadder, wat ook nie die volle waarheid sou wees nie. Ek wou net by die waarheid uitkom.
Bethanië is klein en daar is baie min om te doen, maar die gastehuis, die oudste hotel in Namibië, is ‘n heerlike oase waar ek die heel koudste Windhoek Lager ooit gedrink het, lekker wildsbiefstuk geëet het, en diep gedink het.
Soos mens maak in Namibië raak ek incognito aan die gesels met die eienaar van die gastehuis. Sy vertel my baie heftig en driftig hoe Witbooi haar voorvaders, die Smitte, uitgemoor het. Sy wys my ook die koerantuitknipsel wat vertel hoedat die een oorlewende, ene Dirk Smit, as klein seuntjie, ontkom het aan die wrede moordenaars. Dit is honderd jaar later, maar ek bespeur dieselfde emosies by haar wat vandag nog loop in sekere Boere-kringe oor die “verdomde Ingilse.”
Sy wys vir my die netjiese uitstalling van tonteldose, Bybels en Psalmboeke, stiebeuels en ander goed wat die vrouens van die vermoorde manne maande later by die plaasopstal kom optel het.
By die lees van die berig, deur die bekende Jan Spies, van Spies en Plessis-faam, kon ek nie anders as om te wonder oor die akkuraatheid van die inligting nie. Spies se opsomming van die oorsake van die Nama-oorlog is simplisties ten beste en verkeerd, ten slegste. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Hendrik Witbooi persoonlik by hierdie moorde betrokke was. Dit het my net meer vasbeslote gemaak om my verhaal die lig te laat sien.
Wat ek nie kon verstaan is hoekom die Namas hierdie mans, burgerlikes wat nie Duitsers was nie, dan vermoor het. Die antwoorde, dink ek het ek net daar teen die muur gekry.
Eerstens, die insident het plaasgevind reg aan die begin van die uitbreek van die oorlog. Dit is bekend dat die Namas aanvanklik wyd geroof en gemoor het, tot Hendrik Witbooi se ergernis. Die Smitmoorde het op 10 Oktober 1904 plaasgevind, enkele dae na Witbooi se oorlogsverklaring. Daarna sou dit nie weer op groot skaal gebeur nie.
Tweedens, op die een foto staan die drie Smitte, netjies uitgedos in militêre uniforms. Hoekom? Was hulle nie soldate, miskien in die reserwemag nie? Het dit hulle nie juis wettige teikens in ‘n oorlog gemaak nie.
Wat wel onverskoonbaar is, is die moord op die seuntjies, maar dit onderstreep ook op snaakse wyse die menslikheid van die Namas wat ten minste die vrouens en dogtertjies laat wegkom het.
Oorlog is altyd verkeerd.