Die lewe in Aus se konsentrasiekamp tydens die eerste Wêreldoorlog was draaglik vir die Duitse krygsgevangenes. Hulle het selfs hulle eie witblits of mampoer gestook, skelm natuurlik. Alles het goed gegaan totdat 1918 se berugte griep toegeslaan het.
Verreweg die meeste sterftes in die kamp, 109 (59 krygsgevangenes en 50 Unie-soldate) vind plaas in die Oktober-November 1918 tydperk. Gedurende die hele 1915-1919 tydperk van die kamp se bestaan was daar 129 sterftes, 69 gevangenes en 60 soldate, dus slegs 20 sterfgevalle as gevolg van ander oorsake as die Groot Griep.
Vir my is die heel mooiste storie van Aus se kamp dié van Breeza Nelson, vrou van majoor Nelson, kamp-adjudant. Alhoewel sy die eggenote van ‘n SA offisier in beheer van die Duitse krygsgevangenes was, het sy die siek gevangenes verpleeg en versorg, totdat sy self siek geword en gesterf het. Haar grafsteen in die Aus kampkerkhof getuig “She gave her life to others.”
Breeza Nelson is ‘n heldin, soos Emily Hobhouse, maar is nog nooit as sodanig vereer nie. Ek het haar as karakter gebruik om op beskeie manier hulde te bring.
Vandag is die terrein verlate met slegs hier en daar nog stukkies ruïnes van die krygsgevangenes se huisies. Ek het wel ‘n stukkie van die dak van een huisie opgetel. Mens kan nog sien hoe die paraffienblikkies of boeliebiefblikkies platgeslaan en aanmekaar gelas is om “dakplate” te vorm.
Dit is nodig dat hierdie terrein bewaar word en dat ‘n paar huisies herbou word om as blyplek vir toeriste te dien, maar meer daaroor later.




