Dag 24: Die eerste lugaanval in Afrika, nié in “Die Keiservoël oor Namaland” nie.

Een van die eienaardighede van Namibië is die feit dat die land die toneel was van die eerste suksesvolle veldtog van die Geallieerde magte tydens die Eerste Wêreldoorlog, of dan ten minste van een van die kolonies, naamlik die Unie van Suid Afrika.

MuskietvliegtuigDie Roland vliegtuig met luitenant Paul Fiedler aan die stuur styg op vanaf Aus.

Tydens hierdie veldtog het ‘n gemotoriseerde vliegtuig ook die eerste suksesvolle lugaanval op ‘n vyandelike mag in die geskiedenis van oorlogvoering uitgevoer. Dit was egter nie die Geallieerdes, lees Unie, wat hierdie lugaanval uitgevoer het nie, maar die Duitse “lugmag,” bestaande uit die twee vliegtuie van luitenante Fiedler en Von Scheele, ‘n Aviatik en Roland Taube.

Ek het met die eerste konsep-skrywe van die boek probeer om hierdie verhaal in te weef, maar dit moes later sneuwel as ‘n slagoffer van my “Kill your darlings” herskrywes. Ek moes erken dat dit nie deel was van die hart en siel van my storie nie.

Die Unie-magte onder bevel van die Unie se eerste minister, generaal Louis Botha, het Duits Suidwes Afrika op vier fronte binnegeval: suid vanaf Ramansdrif, wes vanaf Lüderitz, noord vanaf Walvisbaai en Swakopmund,Fiedler  Luitenant Paul Fiedler, regs, by sy Roland Taube Doppeldecker vliegtuig.

en oos vanaf Rietfontein. Die troepe vanaf Lüderitz het op die Tschaukaibvlakte saamgetrek. Die Duitsers het vanaf Lüderitz voor die Unie-magte gevlug en so ver as wat hulle gevlug het die spoorlyn tussen Lüderitz en Aus opgeblaas, daardie selfde spoorlyn wat hulle in 1906-07 binne rekordtyd gebou het. Die Duitsers het hulle op Aus, sowat 50 kilometer verder ingegrawe en mooi skanse gebou. Daardie skanse is vandag nog te sien, op Klein Aus Vista, een van Namibië se bekostigbare spoghotelle.

Terwyl die Unie-magte op die Tschaukaib gelê en wag het, het luitenante Fiedler en von Scheele in hulle vliegtuie opgestyg en kanonkoeëls met die hand op die Unie-soldate neergegooi. Drie soldate het gesneuwel. Dit was as gevolg van hierdie bomaanvalle wat die perde glo so geskrik en gevlug het, en wild geraak het. Vandaar die wilde perde, oftewel die tweede teorie soos op Dag 23 beskryf.

lugaanvalHierdie foto is deur luitenant von Scheele geneem vanuit sy vliegtuig en wys hoedat die bomme wat hy op die Unie-troepe gegooi het, ontplof het.

In my boek noem ek die Tschaukaib as een van die drie bekende ossewaroetes wat die transportryers destyds gebruik het. Die enigste water op die Tschaukaib is die sogenaamde “bankwasser,” oppervlakswater as gevolg van reën. “Bankwasser” was maar min en die manne moes merendeels die suidelike roetes oor Ukamas of Kaukasib volg. Hierdie twee plekke het fonteine met brak water gehad. Vandag is al hierdie plekke ontoeganklik, onder andere omdat dit diamantvelde is.

Dit is eers wanneer mens self op die Tschaukaibvlakte staan, in die versengende hitte, dat jy besef hoe moeilik dit moes gewees het om hier met ‘n ossewa te trek, of om vir weke lank op generaal Louis Botha se bevel om aan te val te moes wag.

Daar lê tot vandag nog allerhande rommel, onder andere jenewerbottels en koeldrankbottels, op sekere plekke op die Tschaukaib rond, monumente van ‘n vergete veldtog.

DSC_6399_3910

Ingrid en Giel du Toit op die Tschaukaibvlakte waar die lugaanvalle op die Unie-soldate plaasgevind het.

Advertisements

Dag 23: Die wilde perde van Aus en “Die Keiservoël oor Namaland”

Een van die opdragte waarmee ‘n keurder of redakteur ‘n skrywer se lewe versuur is die bykans sadistiese “Kill your darlings.” Hierdie woorde word aan baie skrywers toegedig: Wilde, Faulkner, en Chekov, maar blykbaar was die eerste man wat dit gesê het, Arthur Quiller-Couch, ‘n minder bekende skrywer. Dit beteken dat die skrywer sekere “mooi” stukkies skryfwerk en “oulike maar onnodige” karakters moet elimineer.

Tydens die skryf van “Die Keiservoël oor Namaland” moes ek massamoord pleeg, in opdrag van my meerderes. Die lekkerte van hierdie dagboek (hoekom gebruik ons die lelike “blog” wat soos iets wat stink en op die grond moet val klink?) is dat ek bietjie meer kan vertel van baie van my “darlings” wat ek moes doodmaak, dit wil sê uit die teks moes uitsny. Agterna, nou, kan ek wel goed verstaan hoekom dit nodig was.

Nadat ons lekker in Lüderitz gekuier het en Cornelius Fredericks se gedenkplaat “ontdek” het, soos gister vertel, het ons gids/gasheer Giel du Toit, aangebied om ons die wilde perde van Aus te gaan wys. Vanselfsprekend het die perde een van my “darlings” geword en het ek in die vroeëre teks heelwat uitgewei oor die perde se oorsprong. Later sou ek hulle moes “doodmaak.”

Wildeperde1

Aus is sowat 125 kilometer vanaf Lüderitz. In die tyd waarin my verhaal afspeel het dit my held Ernst Luchtenstein tydens een rampspoedige geleentheid amper ses weke geneem om hierdie afstand met sy ossewa af te lê, maar met Giel se Toyota bakkie was ons daar binne ‘n uur. Eintlik is die besigtigingspunt Garub sowat 20 kilometer duskant Aus. In die ou dae was daar ‘n treinstasie en my held en sy vrou Regina het wel op die stasie stilgehou en raai wat? Hulle het na die perde gekyk. Ek het dus nie heeltemal van die perde ontslae geraak nie.

wildeperde2

Ekke by een van die “mak” wilde perde van Aus.

Ek, Giel en Ingrid het piekniek gehou onder die houtafdak en baie foto’s geneem. Die perde is eintlik baie mak en sal uit jou hand eet. Hulle wildheid verwys na die feit dat hulle onafhanklik van mense in die harde Namibwoestyn oorleef, maar dit is nie heeltemal waar nie. Die watergat by Garub is hulle hoofbron van water. Verskeie mense en instansies onderhou hierdie watergat waarsonder hulle nie sal oorleef nie.

Die perde het verskeie vyande onder andere hiënas en jakkalse, maar op die oomblik, laat in 2015, gaan die Namib onder ‘n ernstige droogte gebuk. Verslae insinueer dat die perde selfs kan uitsterf indien hulle nie nou gevoer word nie.

Daar is drie teorieë oor die perde se oorsprong. Die mees waarskynlike teorie is dat hulle afstammelinge van die Namas se perde is. Die romantiese teorie is dat hulle eintlik van Duwisib se perde is. Duwisib is die kasteel naby Maltahöhe wat in 1909 deur baron Hans Heinrich von Wolf vir sy Amerikaanse vrou Jayta gebou is. In 1914 was hulle in Europa tydens die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Hans-Heinrich het by die Duitse magte aangesluit en is gou doodgeskiet. Die treurende Jayta het nooit weer haar voete in Afrika gesit nie; die perde is later losgelaat en het wild geword, of so word vertel. Die derde teorie is dat die perde oorspronklik deel van die invallende SA Unie-magte tydens die Eerste Wêreldoorlog was en dat hulle vir die bomme wat luitenant Fiedler en kaptein von Scheele bo vanuit hulle vliegtuie op hulle laat reën het, geskrik het en weggehardloop het. Hierdie is ‘n ander lekker “darling” storie vir ‘n ander dag.

Dag 22: Cornelius Fredericks op Haai-eiland

Cornelius2

‘n Koue rilling het oor my rug geseil toe ek hierdie gedenksteen sien. Die inskrywing het my vermoedens bevestig. Dit was Cornelius Fredericks wat betrokke was by die Luchtenstein-gesin se aanval. Dit was dieselfde Cornelius van wie van Huyssteen in The Lonely Grave in the Fish River Canyon geskryf het. Met ander woorde, hierdie man was die vriend, soos deur van Huyssteen vertel, van luitenant Thilo von Trotha, broerskind van generaal Adrian Dietrich Lothar von Trotha. Dit was hierdie man voor wie Therese Luchtenstein op haar knieë geval het en om genade gesmeek het. Dit was hy wat vir haar gesê het “Kniel voor God alleen, nie voor ‘n mens nie. Ons Namas maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.” Dit was hy met wie Thilo in die Visriviercanyon oor vrede onderhandel het, toe twee van sy soldate hom, Thilo, in die rug geskiet het. Dit was hy wat net na die Luchtenstein-aanval gevange geneem is, en “opgehang is,” volgens oom Dicky, maar met die verskil dat hy hier op Haai-eiland dood is, en nie in Keetmanshoop nie.

Saam met hom is daar 167 manne, 97 vroue en 66 kinders ook hier dood, volgens die inskrywing op die gedenksteen. Later sou ek uitvind dat hierdie syfer erg onderskat is. Die getal moes etlike duisende gewees het, as die ander bronne betroubaar is.

Maar hoe is Cornelius en die ander mense dood? Opgehang of wat? Ek moes weet.

“Ek ken ‘n direkte afstammeling van Fredericks,” verklaar Giel, my gids. “Hy is pastoor Isak Fredericks van Windhoek.”

Ek het geweet dat ek met pastoor Fredericks moet praat, maar eers kon ons nog ‘n paar interessante dae in Lüderitz en omgewing spandeer.

Dag 21: Die Skryf van: “Die Keiservoël oor Namaland” Op soek na Cornelius.

Ek was weer in Lüderitz, agtien maande nadat ek vir die eerste keer van die Nama-oorlog en van Ernst Luchtenstein gehoor het, hoe sy gesin in die woestyn deur ‘n Nama-bende oorval en deur ‘n onbekende Nama-leier begenadig is. Ek het nuwe inligting gehad, uit CNL van Huyssteen se boekie, The Lonely Grave in the Fish River Canyon, wat daarop gedui het dat hierdie leier Cornelius Fredericks, seun van Josef Fredericks, kaptein van die !Aman stam van Bethanië was.

Ons gids was Giel du Toit, ‘n kenner van Lüderitz. Hy het geweet van die konsentrasiekamp op Haai-eiland en het ons soontoe geneem. Agtien maande vroeër het ons net vinnig deur die eiland gery, onbewus van die tragedie van 102-107 jaar tevore.

Haai-eiland was oorspronklik ‘n regte eiland, baie naby aan die kus, maar die Duitsers het dit aan die vasteland verbind deur ‘n grondwal. Vandag is daar geen teken van die konsentrasiekamp nie. Dit is ‘n bar rotskoppie, blootgestel aan die wind en koue met feitlik geen plantegroei nie, met ‘n karavaankamp waar menige kampeerder al moes vlug voor die wind.

Giel het ons na die hoogste punt op die koppie laat klim en na ‘n betonblad gewys. “Die galg se platform,” het hy droog opgemerk. Ek moes sluk. Hier waar ek gestaan het is mense opgehang.

galg-Haai-eilandGiel en Ingrid op die platform van die galg.

‘n Entjie verder het ons die gedenktekens gesien, die opmerklikste een ‘n gedenkplaat van Adolph Lüderitz, ‘n man van twyfelagtige karakter.

adolphluderitzAdolph Lüderitz

Nog so entjie verder wys Giel vir ons iets wat soos ‘n graf lyk, ‘n wit klip met ‘n man se beeld daarop geskilder. Die naam: Cornelius Fredericks! Die man wat Ernst Luchtenstein, sy ouers en gesin oorval het en begenadig het, luitenant Thilo von Trotha se vriend, soos vertel in The Lonely Grave in the Fish River Canyon van van Huyssteen.

Cornelius

Wat daar nog op die “graf” geskilder is spook vandag nog by my.

Dag 20: Die Skryf van: “Die Keiservoël oor Namaland” Op soek na Cornelius.

Agt jaar later sien ek nou uit na die bekendstelling van hierdie boek. Ek het nooit besef hoe groot die omvang van die taak was wat ek aangepak het toe ek in 2007 daaraan begin skryf het nie.

Vir meer as ‘n jaar het ek geskryf, en geskryf. In die tweede helfte van 2009 het ek besef dat daar te veel onopgeloste raaisels was. My skryfwerk en skryflus het vasgeval, soos ‘n ossewa in die Namib. Ek het al die inligting wat ek op die internet en in ou geskrifte en boeke kon vind gelees en weer gelees, maar nie antwoorde op my vrae gekry nie. Naons vroeëre besoek aan oom Dicky en tannie Memoiree Strauss van Kiriis Wes in 2007 wás ons op Lüderitz, maar ons verblyf daar het verbygegaan sonder dat ek die volle betekenis van Haai-eiland waardeer het. Ek het besef dat ek weer Namibië toe moet gaan.

In Desember 2009 het ek Lüderitz toe gevlieg, as gas van die eksentrieke Giel du Toit, ‘n fotograaf van Kolmanskop. Hoog bo uit die lug op sestienduisend voet bo seespieël, suidwes van Aroab en suidoos van Keetmanshoop kon ons die bouvalle van //Khauxa!nas waarneem, en met ‘n selfoon selfs ‘n foto neem. Hierdie magiese plek sou vir baie jare in my kop bly draal en beelde optower. Gelukkig het ek dr Klaus Dierks se verhandeling, foto’s en tuisblad tot my beskikking gehad. (Ek sou eers in Maart 2015 met my voete op //Khauxa!nas kon rondloop, lank nadat ek die plek in die fynste detail probeer IMG00056-20100825-0956beskryf het. Ek moes eenvoudig die plek sien en ervaar voordat ek regtig die boek kon voltooi. Hierdie droom kon eers vanjaar waar word.)

Mense sê dat die suidooste van Namibië die ylste bevolkte deel in Afrika suid van die Sahara is. Dit mag so wees. Hierdie bouvalle is eers in 1987 deur dr Dierks herontdek en daar is selfs mense wat beweer dat dit die Verlore Stad van die Kalahari is wat deur Farini beskryf is.

Ons het ‘n paar maal bo-oor //Khauxa!nas gesirkel, verder gevlieg, op Lüderitz waar Giel vir ons gewag het, geland en by die lieflike Nest Hotel ingetrek. Die volgende dag sou ons Cornelius Fredericks se spoor op Haai-eiland gevat het.

Dag 19: Die Driehoek van die Dood, in die tyd van “Die Keiservoël oor Namaland.”

01288Die drie groot leiers en rolspelers in die magstryd om grond en beheer in die laat negentiende eeu. Hier is hulle vreedsaam bymekaar, maar na Samuel Maharero (regs) se dood sou oorlog uitbreek tussen sy volgelinge en Duitsland.

’n Paar dekades gelede tydens die Grensoorlog het die gebied tussen Grootfontein, Tsumeb en Otavi bekend gestaan as die Driehoek van die Dood, omdat die terroriste elke jaar daar toegeslaan het. ’n Interessante boek daaroor het onlangs verskyn onder die titel, Tannie Pompie se Oorlog.

In die vroeë geskiedenis van Duits Suidwes-Afrika was daar ook ’n driehoek van die dood, maar tussen mense, die Herero’s, Namas en Duitsers. Hulle was die magshebbers van daardie tyd en daar was onderlinge oorloë, vredes, verdrae en verraad tussen die drie volke.

Meegaande foto wys die drie leiers, Hendrik Witbooi, Samuel Maherero, en Theodor Leutwein. Terwyl Samuel Maherero nog geleef het was daar minder onvrede. In daardie tyd was die Duitse mag in Duits Suidwes-Afrika nog baie klein met slegs enkele soldate. Sou die Namas en Herero’s wou kon hulle baie maklik van die Duitsers ontslae geraak het. Dit is veilig om te sê dat beide die Herero’s en die Namas afsonderlik, en heimlik gedink het dat hulle die Duitsers sou kon gebruik om die ander inheemse volk permanent te oorwin. Samuel Maharero het gedink die Duitsers sou gawe bondgenote wees om van die lastige Hendrik Witbooi ontslae te raak en andersom.

Met Maherero se dood het groot onrus onder die verskillende Herero-stamme uitgebreek. Elke Herero-kaptein het gereken dat hy op Samuel se troon geregtig was. Die Duitse mag is uitgebrei en die Herero’s het daarteen in opstand gekom, maar vanweë hulle onderlinge struwelinge was hulle swak ge-organiseer.

Die Duitsers en Namas het verdrae gesluit en het saam oorlog gemaak teen die Herero’s. Net na die vernietigende oorlog het die Namas teen die Duitsers gedraai en oorlog verklaar. Dit sou uiteindelik tot ook hulle vernietiging lei. Vir ’n paar jaar sou vrede heers, tot die Duitsers die knie moes buig voor die Suid-Afrikaanse mag onder leiding van Generaal Louis Botha.

Uiteindelik sit die Swapo-regering, met die Ovambo’s as magsbasis, vandag in die stoel.

Dag 18: Die graf in die Visriviercanyon.

Op ’n dag, nadat ek reeds goed op dreef was met die skryf van die teks van “Die Keiservoël oor Namaland” drentel ek in die boekwinkel Hemingways in Hermanus rond. Ek kom af op ’n dun boekie, The Lonely Grave in the Fish River Canyon, deur CNL van Huysteen. Dit vertel hoe ’n jong Duitse soldaat, Thilo von Trotha, die vierde geslag von Trotha wat in die militêre professie opgelei is, op ’n dag besluit het om na avontuur in Afrika te kom soek. Hy wou saam met die Boere van die ZAR teen die magtige Britse Ryk kom veg. Hy vertrek SA toe op ’n skip, ontmoet ’n jong Duitse verpleegster wat hier kom werk het as militêre verpleegster, en veg teen Engeland. Uiteindelik word hy gevang en na Ceylon toe gestuur as krygsgevangene.

Lonely grave

Na die oorlog trou hulle en ’n jaar later breek die oorlog tussen die Duitsers en die Herero’s uit. Die hunkering na Afrika is te sterk en hy kom na Duits Suidwes Afrika. Sy oom, generaal Lothar von Trotha is die bevelvoerder van die Duitse magte in Duits Suidwes Afrika.

Thilo neem bevel van ’n seksie Nama-verkenners onder leiding van Cornelius Fredericks, skoonseun van Hendrik Witbooi. Hulle volg die Herero’s en stuur inligting na die hoofkwartier. Hulle raak in gevegte teen die Herero’s betrokke en ontwikkel ‘n hegte vriendskap.

Na die Slag van Waterberg en Lothar von Trotha se verskriklike uitwissing van die Herero’s, verklaar Hendrik Witbooi oorlog teen dieselfde Duitsers saam met wie hy en Cornelius geveg het. Cornelius neem die vroue en kinders van Bethanië na die Visriviercanyon om van die Duitsers te ontkom, maar Thilo besluit om sy vriend Cornelius te gaan soek en oor vrede te onderhandel.

Thilo het nie in ’n geveg omgekom nie. Hy was ongewapen en besig om met Cornelius te gesels toe een van Cornelius se soldate hom van agter in die rug geskiet het.

Dit is sekerlik nie te betwyfel nie dat die Duitsers met alle mag en mening sou terugbaklei na so ’n verraderlike daad.

Met die lees van hierdie boekie het ek skielik tot die besef gekom dat Cornelius die Nama-leier was waarvan oom Dicky my vertel het. Hy het die naam van Simon Koper, “of een van daai” genoem, maar hy was verkeerd. Ek kon ’n naam by die legende plaas, want ek het deur middel van navorsing presies geweet waar elkeen van daardie leiers op daardie stadium was. Die datum van Thilo von Trotha se dood is ’n 14 Junie 1905. Daarna sou Cornelius nog agt maande voortveg voor sy ontmoeting met die Luchtensteins.

Elke moedige stapper wat al die Visriviercanyon gestap het, stap by daardie graf verby.