Op ’n dag, nadat ek reeds goed op dreef was met die skryf van die teks van “Die Keiservoël oor Namaland” drentel ek in die boekwinkel Hemingways in Hermanus rond. Ek kom af op ’n dun boekie, The Lonely Grave in the Fish River Canyon, deur CNL van Huysteen. Dit vertel hoe ’n jong Duitse soldaat, Thilo von Trotha, die vierde geslag von Trotha wat in die militêre professie opgelei is, op ’n dag besluit het om na avontuur in Afrika te kom soek. Hy wou saam met die Boere van die ZAR teen die magtige Britse Ryk kom veg. Hy vertrek SA toe op ’n skip, ontmoet ’n jong Duitse verpleegster wat hier kom werk het as militêre verpleegster, en veg teen Engeland. Uiteindelik word hy gevang en na Ceylon toe gestuur as krygsgevangene.
Na die oorlog trou hulle en ’n jaar later breek die oorlog tussen die Duitsers en die Herero’s uit. Die hunkering na Afrika is te sterk en hy kom na Duits Suidwes Afrika. Sy oom, generaal Lothar von Trotha is die bevelvoerder van die Duitse magte in Duits Suidwes Afrika.
Thilo neem bevel van ’n seksie Nama-verkenners onder leiding van Cornelius Fredericks, skoonseun van Hendrik Witbooi. Hulle volg die Herero’s en stuur inligting na die hoofkwartier. Hulle raak in gevegte teen die Herero’s betrokke en ontwikkel ‘n hegte vriendskap.
Na die Slag van Waterberg en Lothar von Trotha se verskriklike uitwissing van die Herero’s, verklaar Hendrik Witbooi oorlog teen dieselfde Duitsers saam met wie hy en Cornelius geveg het. Cornelius neem die vroue en kinders van Bethanië na die Visriviercanyon om van die Duitsers te ontkom, maar Thilo besluit om sy vriend Cornelius te gaan soek en oor vrede te onderhandel.
Thilo het nie in ’n geveg omgekom nie. Hy was ongewapen en besig om met Cornelius te gesels toe een van Cornelius se soldate hom van agter in die rug geskiet het.
Dit is sekerlik nie te betwyfel nie dat die Duitsers met alle mag en mening sou terugbaklei na so ’n verraderlike daad.
Met die lees van hierdie boekie het ek skielik tot die besef gekom dat Cornelius die Nama-leier was waarvan oom Dicky my vertel het. Hy het die naam van Simon Koper, “of een van daai” genoem, maar hy was verkeerd. Ek kon ’n naam by die legende plaas, want ek het deur middel van navorsing presies geweet waar elkeen van daardie leiers op daardie stadium was. Die datum van Thilo von Trotha se dood is ’n 14 Junie 1905. Daarna sou Cornelius nog agt maande voortveg voor sy ontmoeting met die Luchtensteins.
Elke moedige stapper wat al die Visriviercanyon gestap het, stap by daardie graf verby.