Die mitiese figuur van die sogenaamde waterslang kom wydverspreid onder bevolkingsgroepe in Afrika voor, maar daar bestaan baie min literatuur daaroor. Ekself het my verlaat op die vertellinge van oom Dicky en enkele artikels.
Baie eienskappe word aan die waterslang toegedig, onder andere dat hy kan vlieg, dat daar ’n groot diamant of robyn op sy voorkop ingebed is, en dat hy by die watergate lê en wag vir die jong meisies. Daar word selfs vertel dat daar ’n ooreenkoms bestaan in gevolge waarvan ’n paar meisies elke tien jaar aan hom ge-offer sou word, in ruil waarvoor hy die volk sou beskerm.
Mens kan jouself indink dat die diep gewortelde vrees vir krokodille en ook vir luislange tot hierdie legendes kon aanleiding gee. Selfs NP van Wyk Louw het die wonderlike Raka oor hierdie vreeslike gedierte geskryf.
Op een of ander wyse is die waterslang dan ’n simbool van mag, boosheid of ’n ander wêreld, die geesteswêreld. Dit is binne hierdie konteks wat ek Groot Slang gebruik het. Nêrens beskryf ek ’n ooggetuie-verslag nie; ek suggereer bloot die bestaan van die dierasie, en laat die res aan die verbeelding oor. ’n Rasionele mens kan mos nie in sulke nonsens glo nie, of kan hy?
Ek buit selfs die storie van die diamant in die kop uit, maar laat ook ’n agterdeur oop vir die koel en kalm wetenskaplike brein. Na alles het professor Smith daardie gaping gelaat.
Mettertyd raak die meeste Nama krygsgevangenes op Haai-eiland ontnugter met hulle bygeloof, en geloof, behalwe Magdalena, dogter van Hendrik Witbooi, en vrou van Cornelius Fredericks. Wanneer mens jou geloof verloor, het jy letterlik alles verloor. Ek dink dit is min of meer waar die mense van Namaland in 1908 was.