Hierdie dagboek (“blog”) handel oor die skryfproses van “Die Keiservoël oor Namaland” wat eersdaags verskyn. Dit vertel die baie lang storie agter die storie.
Dit sou onvanpas wees om oor die Namas (Khoi-Khoin) en Boesmans (Khoi-San) te skryf sonder om na hulle geesteswêreld te verwys. Natuurlik is en was die meeste Namas christene in die Duitse tydperk in Namibië, maar eeue gelede het hulle ’n ander geloof gehad. In die verband kan mens nie anders as om na Andre P Brink se werk, Bidsprinkaan te verwys nie.
Ek gebruik twee mites in die Khoi tradisie, die verhaal oor die hasie en die maan, en die mitiese waterslang, Groot Slang, of Keinaus, om dit te illustreer. Soos ek voor in die boek skryf, is die stories op die waarheid, “vreemder as fiksie” gebaseer. Ook hier het oom Dicky se stories my gehelp. Hy het my vertel van hoe iemand op Kiriis Wes eendag ’n groot vlieënde slang gesien het en dat die polisie dit kom ondersoek het. Later het professor JLB Smith, van selekantfaam ook na die spore kom kyk en gesê dat “hier heel moontlik ’n reuse reptiel geleef het, maar dat die kanse een uit ’n miljoen is dat mens hom ooit weer sou sien.”
Ek was baie opgewonde toe ek jare later by oom Tudi Luchtenstein, seun van Ernst en Regina, in Bethal, Mpumalanga afskrifte van ’n tydskrifartikel te sien gekry het. Inderdaad vreemder as fiksie. Die waarheid? Besluit self.