Aan wie behoort SA se grond? Wie is die Namas? Khoi-Khoin? Khoi-San? Boesmans? Mag ek die woord Boesman hoegenaamd nog gebruik? Die speltoetser van die NWU kry ‘n beroerte as hy Boesman sien. ‘n “Aanstootlike” woord, soos die k-woord, min of meer, so dink die speltoetser.
Die Khoi-Khoin, meervoud van Khoi-Khoi, en die Khoi-San is verwant, maar nie dieselfde nie. Hulle tale stem ooreen, veral ten opsigte van die klieke en klakke. Die enigste inheemse taal met soortgelyke klieke en klakke is Xhosa, wat ook op een of ander verband kan dui.
Die twee groepe het saam, maar afsonderlik vanaf die noorde migreer, honderde jare voordat Jan van Riebeeck of die Zoeloes hier was. Harry en sy strandloper-vriende was afstammelinge van die oorspronklike Khoi-Khoin. Hulle het eerste die grond beset, lank voor president Jacob Zuma se voorsate.
Die Khoi-Khoin het versprei na Namakwaland, Noord Kaap, die Oos Kaap, en die suide van Namibië. Hulle is in vandag se terme die mense van die Richtersveld, Korannas, Griekwas en die Namas.
Nog een van oom Dicky se werkers, ‘n Nama, afstammeling van die Khoi-Khoin.
Hierdie mense is van oudsher af veeboere. Hulle het lang tye op plekke gebly, huise gebou en selfs bietjie landbou toegepas.
Saam met die Khoi-Khoin het hulle verlangse familie die Khoi-San, suid getrek, heel moontlik weg van oorheersing deur swart volke. Die woord San beteken sleg of struikrower. Dit is omdat hierdie mense, die Boesmans, as ek die naam mag gebruik, en ek dink ek mag, jagters was. Hulle het alles in terme van kos gesien. Alles het aan almal behoort. As jy kos op vier bene sien loop, dan maak jy dit dood en eet dit want dit behoort aan almal en aan niemand.
Mens kan verstaan dat die Khoi-Khoin, die skaapboere, nie baie ingenome daarmee was nie, en dat hulle hulle nefies, die San, as struikrowers beskou het.
Hierdie Boesmans was minder plekgebonde, aardsgebonde, as die Khoi-Khoin. Hulle het rondgeswerf en van die veld geleef. Die begrip van eiendomsreg was swak ontwikkel by hulle, soos ek bo genoem het. Daarom val die Khoi-San se sporadiese optogte in Kaapstad en hulle grondeise vreemd op die oor. Hulle het nooit eiendomsreg erken nie, waarom nou?
As daar enige volk in SA is wat werklik op eiendomsreg op grond kan aanspraak maak, dan is dit die Khoi-Khoin, soos die Namas van die suide van Namibië.
Ek skryf hierdie tong in die kies, want die hele grondkwessie in SA het hande uitgeruk. Die aansprake van sekere groepe is belaglik. Laat hulle eers my ewe moontlike belaglike argument omseil.
Ek het die Boesmans self gevra watter naam hulle verkies. Die regte Boesmans, die wat die taal nog kan praat, dink dit is ‘n growwe belediging om hulle Khoi-San te noem. Hulle verkies Boesman. Ongelukkig is daar baie mense van onseker afkoms wat vir hulleself ‘n toekoms gesien het in die politiek van hierdie groep mense en toe besluit het op die benaming van Khoi-San. Hulle kan nie eers meer die taal praat nie.