Agt jaar later sien ek nou uit na die bekendstelling van hierdie boek. Ek het nooit besef hoe groot die omvang van die taak was wat ek aangepak het toe ek in 2007 daaraan begin skryf het nie.
Vir meer as ‘n jaar het ek geskryf, en geskryf. In die tweede helfte van 2009 het ek besef dat daar te veel onopgeloste raaisels was. My skryfwerk en skryflus het vasgeval, soos ‘n ossewa in die Namib. Ek het al die inligting wat ek op die internet en in ou geskrifte en boeke kon vind gelees en weer gelees, maar nie antwoorde op my vrae gekry nie. Naons vroeëre besoek aan oom Dicky en tannie Memoiree Strauss van Kiriis Wes in 2007 wás ons op Lüderitz, maar ons verblyf daar het verbygegaan sonder dat ek die volle betekenis van Haai-eiland waardeer het. Ek het besef dat ek weer Namibië toe moet gaan.
In Desember 2009 het ek Lüderitz toe gevlieg, as gas van die eksentrieke Giel du Toit, ‘n fotograaf van Kolmanskop. Hoog bo uit die lug op sestienduisend voet bo seespieël, suidwes van Aroab en suidoos van Keetmanshoop kon ons die bouvalle van //Khauxa!nas waarneem, en met ‘n selfoon selfs ‘n foto neem. Hierdie magiese plek sou vir baie jare in my kop bly draal en beelde optower. Gelukkig het ek dr Klaus Dierks se verhandeling, foto’s en tuisblad tot my beskikking gehad. (Ek sou eers in Maart 2015 met my voete op //Khauxa!nas kon rondloop, lank nadat ek die plek in die fynste detail probeer beskryf het. Ek moes eenvoudig die plek sien en ervaar voordat ek regtig die boek kon voltooi. Hierdie droom kon eers vanjaar waar word.)
Mense sê dat die suidooste van Namibië die ylste bevolkte deel in Afrika suid van die Sahara is. Dit mag so wees. Hierdie bouvalle is eers in 1987 deur dr Dierks herontdek en daar is selfs mense wat beweer dat dit die Verlore Stad van die Kalahari is wat deur Farini beskryf is.
Ons het ‘n paar maal bo-oor //Khauxa!nas gesirkel, verder gevlieg, op Lüderitz waar Giel vir ons gewag het, geland en by die lieflike Nest Hotel ingetrek. Die volgende dag sou ons Cornelius Fredericks se spoor op Haai-eiland gevat het.