Dag 70: Die ekonomiese impak van die Keiservoël op die Suide van Namibië

Ek het lanklaas met my lesers gekommunikeer. Die rede was onverwagse uitdagings wat die publikasieproses van “Die Keiservoël Oor Namaland” met twee weke vertraag het. Ek het inderdaad ‘n proefkopie van die boek in my hand gehad, maar het op sekere veranderinge aangedring. Die boek sal wel binne tien dae beskikbaar wees. Wees asseblief nog ‘n bietjie geduldig.

Ek het baie lank daarna uitgesien om oor vandag se onderwerp te skryf, jare al.

Die Suide van Namibië was oorspronklik ‘n vooruitstrewende en lewendige plek. Daarvoor het Lüderitz se diamante, die visbronne en boerderybedrywighede, veral die karakoelbedryf, gesorg. Mettertyd het die diamantbedryf na Oranjemund geskuif; die visbedryf wat oesters en kreef insluit, het getaan en het die groenes het gesorg dat vrouens nie meer karakoelpelse dra nie. Vandag is die Suide van Namibië ‘n stil, arm plek, waardeur mense jaag op pad Sossusvlei, Swakopmund, Windhoek, Ruacana en Etosha toe. Miskien is die spookdorp Kolmanskop ‘n simbool van die Suide.

Die Suide is die tuiste van die Namas en baie Afrikaanse boere. Verder noord woon die Ovambos, Ovahimbas, Damaras en Hereros. Alhoewel Afrikaans orals gepraat word het die Suide baie spesifiek ‘n Afrikaanse taalkultuur, iets wat ek glo nie genoeg waardeer word deur Suid-Afrika se Afrikaanse mense nie. Ons behoort iets te doen om Afrikaans onder Namibië se mense te bevorder. Meer daaroor later. Die regering van Namibië word oorheers deur Ovambo’s wat nie dieselfde bande met die Afrikaanse kultuur deel nie.

Ek verstout my om te sê dat die Namas vandag nog steeds onder die nagevolge van 1904-1908 se oorlog ly. Daar is oneindig baie maatskaplike en sosiale probleme onder hierdie unieke mense, nasate van die Khoi-Khoin, mense wat Afrikaans praat, ‘n mooi Afrikaans sonder Waterkloof en Garsfontein se anglisismes. Daar is geen ekonomiese vooruitsigte vir hierdie mense want daar is nie werk nie. Dit gaan dus net een pad en dis afdraand.

Ek hoop werklik om op ‘n klein manier ‘n verskil te maak deur middel van “Die Keiservoël Oor Namaland.” Dit is ‘n kultuurhistoriese roman, fiksie gebaseer op feite, en dit verhaal die gebeure tydens die Duitse tydperk wat gestrek het vanaf 1883 tot 1915, ‘n tydperk wat ongekende voorspoed en ook baie hartseer na die streek gebring het. Baie van wat die Duitsers destyds vermag het oefen vandag steeds ‘n positiewe invloed op die mense van daardie wêreld uit, veral in die toerismebedryf.

Die pragtige en ongeskonde natuurskoon en die ryke geskiedenis van die Suide van Namibië bied groot geleenthede vir die toeristebedryf, veral ten opsigte van  die nuwe generasie kultuur-gedrewe toeriste. Die toeristebedryf is die enigste nywerheid wat op groot skaal kan werk skep vir die verarmde mense van die Suide. Daarvan het ek so klein bietjie eerstehandse ondervinding. Ek het gesien hoe ‘n klein storietjie mense vanaf Europa tot op Lüderitz se Haai-eiland en Aus se konsentrasiekamp kan bring.

Ek het gaan gholf speel op St Andrews in Skotland. My gasheer was ‘n kollega van Londen. Ons moes lank wag op Edinburgh se lughawe en toe vertel ek hom maar van die mense en 1904-1908 se gebeure in die Suide van Namibië. Hy was verstom. ‘n Jaar later bel hy my. Hy en sy vriende wil na die plekke waarvan ek hom vertel het kom kyk.

Haai-eiland
Op Haai-eiland in Lüderitz se baai, voor Cornelius Fredericks se gedenksteen.
Tschaukaib
‘n Groep Britse toeriste op die spoorlyn tussen Aus en Lüderitz, op die Tschaukaibvlakte. Hulle het al die pad van Londen gekom om self die wêreld van die Keiservoël te kom beleef.
Oestersaal
Ek verduidelik vir die Britse toeriste wie Therese Luchtenstein was. Die plek is Lüderitz se oesterfabriek. Laas toe ek daar was het hierdie heerlike kuierplek egter nie meer bestaan nie.
vliegtuigpassasiers
Op Aus se aanloopbaan. Die toeriste het spesiaal ingevlieg om na die oorblyfsels van die Eerste Wêreldoorlog se konsentrasiekamp te kom kyk.

Die groep van agt vriende het van Heathrow tot op Kaapstad gevlieg waar hulle op ‘n gehuurde Pilatus PC 12 geklim het. Ons het mekaar op Lüderitz ontmoet. Hulle het die volgende paar dae, en baie geld, in Lüderitz spandeer. Ek het hulle na Haai-eiland, die Tschaukaibvlakte en Kolmanskop geneem en baie van die stories vertel, soos ‘n regte toeristegids, sonder die fooitjies natuurlik. Die laaste dag het hulle sommer na Aus se aanloopbaan reg langs die destydse konsentrasiekamp gevlieg waar ek hulle die paar oorblyfsels kon wys. Vandaar is hulle noord, Swakop toe.

Daardie ondervinding het my oortuig om aan te hou om my storie te vertel. Ek hoop dat “Die Keiservoël Oor Namaland” nog baie toeriste na die Suide toe sal bring en op ‘n manier ‘n verskil in daardie mense, veral die Afrikaanssprekende Namas, se lewens sal maak.

Die geleenthede is oneindig. Aus se konsentrasiekamphuisies moet herbou word as gastehuise. Al daardie pragtige huisies en die geskiedenis lê en wag onder die grond om te herrys en nuwe geld na Aus toe te lok.

Die geskiedkundige plek, //Khauxa!nas, geleë op die plase Gugunas en Skanse (Schanzen) is werklik die moeite werd om te besoek, mits mens verstaan waaroor dit gaan. “Die Keiservoël Oor Namaland” vertel hierdie verhaal breedvoerig.

Dit is my groot droom om eendag ‘n regte ossewa-tog vanaf Keetmanshoop na Lüderitz te onderneem, miskien as bemarking vir die boek, maar ook om moontlik die grondslag te lê vir een of ander vindingryke entrepreneur om ‘n nuwe toeristebedryf, ” ‘n dag of nag in ‘n ossewa,” te skep.

Die gedagte van ‘n televisie-reeks oor die boek draai voortdurend in my kop en ek het reeds ‘n konsep draaiboek van dertien episodes daaroor geskryf. So ‘n reeks kan baie bydra tot die ontwikkeling van toerisme.

Op ‘n persoonlike noot sal ekself geld betaal vir ‘n helikopter, of ‘n muil, om my na luitenant Thilo von Trotha se graf in die Visriviercanyon te vervoer, want ek moet tot my skande erken dat ek hierdie onherbergsame plek nog nie kon bereik nie.

Dag 69: Annerlike Afrikaans se Keiservoël

Ek het in die laaste inskrywing vertel hoe ek ‘n antieke Nama-woordeboek gebruik het. Vandag wil ek vertel van wyle dr Anton Prinsloo se kosbare rol in die ontwikkeling van “Die Keiservoël Oor Namaland,” my historiese roman.

My doel met die Nama-woorde en sinsnedes was om aan te toon dat die Namas ‘n eie taal en kultuur, die van die Khoi-Khoin, gehad het. Met die koms van die witmense het hulle die witmense se kultuur aangeneem en uiteindelik begin Afrikaans praat. Vandag is hulle die grootste groep inheemse Afrikaanses buite die grense van die RSA. Desnieteenstaande geniet hulle as volk geen erkenning of ondersteuning van SA se Afrikaners nie. In hulle eie land, Namibië, is hulle ook ‘n minderheidsgroep, en soos die ander mense in Namibië word hulle feitlik gedwing om te verengels. Begin dit bekend te klink?

Vir die eerste paar jaar wat ek aan die boek gewerk het was die titel “Maar Ons Het Nie Geweet Nie,”‘n verwysing na ‘n sin van een van die Duitse offisiere na aanleiding van die gruweldade in die konsentrasiekamp op Haai-eiland tydens die Nama-oorlog. Dit is mos hoe baie mense hulleself verontskuldig het na die Tweede Wêreldoorlog se Joodse Holocaust. En moontlik ook na Vlakplaas en so aan. “Maar ons het nie geweet nie.”

Ek het dr Anton Prinsloo se woordeboek oor kontreitaal in die hande gekry en letterlik deurgelees. Die Namas van Namibië het hulle eie unieke dialek van Afrikaans. Prof Hans Du Plessis wat die Griekwa Psalms geskryf het, het ook vir ses maande navorsing oor die Namas se Afrikaans gedoen. Ek het na die Namas geluister en lief geword vir hulle annerlike Afrikaans.

En toe kom ek in dr Anton se woordeboek af op die duitsevlag oftewel die Keiservoël, die Namas se baie oorspronklike naam vir die rooiborslaksman, Laniarius atrococcineus. Die Namas is deur die Duitse Schutztruppe verslaan en baie het in die onmenslike konsentrasiekampe gesterf. Dit is een van die temas in die boek. Ek kon nie anders as om die titel te verander na “Die Keiservoël Oor Namaland” nie. Die ironie van die laksman en die Duitse vlag was oorweldigend. Die effek van die Duitse Ryk op Namaland was finaal.

My gedagtes het verder op loop gegaan en ek het die ander voëls van Namibië ook begin bestudeer. Dit het tot ‘n heel ander storie gelei; later meer daaroor.

Die Namas se Afrikaans is mooi en suiwer, want hulle ken (nog nie) so baie Engels soos Pretoria se kinders nie. Dr Anton se woordeboek bevat nog baie ander voorbeelde. Ek het baie daarvan gebruik. Wie weet dat ‘n kikvors ‘n padda is? Of dat kaveer en kewel stry  en protesteer beteken? Of dat hulle praat van ‘n gensbok in plaas van ‘n gemsbok? Of dat florsies flenterskoene is?

In die boek verklaar ek die moeiliker Nama Afrikaans , soos die Nama-woorde met voetnotas.

Dag 68: Die 100 Jaar oue Nama-woordeboek

Nama2Nama.jpg

‘n Glimlag so groot en wyd soos die Karasberge het hom tuisgemaak op my gesig. My opgewondenheid oor “Die Keiservoël Oor Namaland” hardloop weg, want oor bietjie meer as ‘n week sal lesers kan deel in die afgelope agt en ‘n half jaar se navorsing, skryf, herskryf en proeflees. Ek het vanoggend gesien hoe die finale produk gaan lyk…

Intussen deel ek nog ‘n paar stukkies interessante agtergrondinligting.

‘n Mens kan nie oor die Namas praat as jy nie iets van hulle taal weet nie, maar hoe maak mens as jy hierdie ou taal nie ken nie? Gelukkig het sendeling Johannes Olpp, daar was twee, senior en junior, meer as ‘n honderd jaar gelede ‘n Nama-Duits woordeboek opgestel en dit is later deur die “Inboorling-taalburo van die Departement van Bantoe-onderwys” in ‘n Nama-Afrikaanse woordeboek omgeskakel. Ek het hierdie woordeboek van Amazon se kantoor in Londen bestel en dit bestudeer. Dit het my bemagtig om verskeie Nama sinne en woorde in die teks van “Die Keiservoël Oor Namaland” te gebruik. Ek verklaar hierdie Nama-teks onderaan die bladsye met voetnotas. Kritici sal seker redeneer dat ek dit voor of agter in die boek met ‘n lang lys verklarings moes doen, maar ek het geredeneer dat dit makliker lees as mens net jou oog na die onderkant van die bladsy moet rig eerder as om elke keer vorentoe of agtertoe te blaai.

Die doel met die gebruik van die Nama-taal is om die boodskap dat die Namas nié kleurlinge is nie, maar ‘n afsonderlike, unieke volk, met hulle eie taal en kultuur, te beklemtoon. Ek het dit voorheen genoem, maar dit verduur herhaling om weer te sê dat die Namas afstammelinge van die Khoi-Khoin is; hulle is ook nie sogenaamde Khoi-San nie, ‘n wangebruik van ‘n skeldnaam, as daar al ooit een was. Die Khoi-San is Boesmans. Gaan vra hulle self, soos wat ek gedoen het.

Ek wil veral hê dat lesers moet besef dat die Namas Khoi-Khoin, rofweg vertaal “eerste mense” of “regte mense” was, juis om hulle te onderskei van die Boesmans en moontlik ander swart nasies. Daarmee wil ek juis ook die punt maak dat hulle, die Namas, die eerste grondbesitters van Suidelike Afrika was, en dit trek ‘n dik swart streep dwarsdeur die grondeise van die Zoeloes, Xhosa en andere. Af en toe lees ons in die koerante van ‘n vae groep daar in Kaapstad wat hulleself Khoi-San noem, protesteer en “demand.” Hulle is opportuniste, na my mening.

Daar is natuurlik die mense van die Richtersveld (Khoi-Khoin) wat wel ‘n suksesvolle grondeis ingedien het. Die enigste probleem is dat hulle sukkel om hulle geld uit Alexkor (dink ek) te kry.

Vandag praat Namibië se Namas merendeels Afrikaans. Daaraan het ek ook aandag gegee en dit ook ingeweef, maar op ‘n ander wyse waarvan ek in ‘n volgende aflewering sal vertel.

Dag 67: Klein Kubub en ‘n nag in Leopardenschlucht

Aha_nag

Gister het ek vertel hoe ek vir jare gesukkel het om te verstaan hoe en waarlangs die ou transportryers met hulle ossewaens getrek het tussen Aus en Lüderitz, ‘n afstand van 120 kilometer teen die opdraendes, ooswind, immer-skuiwende sandduine, hitte, koue, en sonder water. Uiteindelik het ek uitgevind waar die bietjie  brakwater by Tschaukaib, Kaukasib en Ukamas was, maar hierdie is plekke wat in die Spergebied lê en nie maklik om te besoek nie.

Een van die mense wat my op die regte spore gelei het, is Piet Swiegers van Klein Aus Vista, die lieflike lodge by Aus. Hy het ons in sy Landcruiser gelaai en gaan wys waar Klein Kubub is, ‘n paar kilometer suid van Aus. Destyds het alle (ossewa-) paaie na Klein Kubub gelei, want dit was waar die water was. Klein Kubub was die laaste drinkplek vir die osse voordat hulle die tog deur en oor die barre Namib Lüderitz toe moes aanpak, en natuurlik die eerste drinkplek na die ontberings van weke op die inkomende roete.

Die naam Klein Kubub word op die kaart hieronder aangedui as Kl Kubub, regs onder Kumsis.Net links daarvan staan Kl Fontein (Klein Aus).kaart2

Klein Kubub was ‘n bedrywige plek. Vandag is dit verlate. Klein Kubub se fontein is groot en deeglik met klip uitgemessel, maar weens die droogte so droog soos die bas van die massiewe peperboom wat bo-oor toring:

put

Langs die fontein is oorblyfsels van die krippe waaruit die duisende dorstige diere gedrink het. Let veral op hoe breed die krip was, om genoeg water te hou en om dit sterk genoeg te maak om die krag van die osse te weerstaan:

krip

‘n Entjie verder weg is die relatief ongeskonde oorblyfsels van die klipkrale waar duisende osse moes oornag:

kraal

 

‘n Vreemde spookagtigheid hang oor die omgewing wat eens die hartklop van die Suide se vervoernetwerk was, miskien nog een van vele simbole van die stagnasie, indien nie agteruitgang nie, van hierdie mooi streek.

Piet het ons gou, voor donker gaan wys waar Klein Kubub se eenrigting ossewaroetes se spore vandag nog sigbaar is. Die omgewing is bergagtig en die kontoere styl. Dit was nodig om die inkomende en uitkomende ossewaens te skei, want hulle kon nie direk langs mekaar veby gery het soos op die woestyn se vlaktes nie. Op die foto onder kan mens regs vaagweg die roete binneland, Keetmanshoop toe sien , en links, die roete vanaf die binneland na Klein Kubub toe:

wapadpano

Net voor donker is ons na die bopunt van ‘n klein klofie, reg rondom verskans met klipkranse. Leopardenschlucht, Luiperdskloof, is die naam. Ver onder sien mens die groen mos waaruit ‘n paar druppels vog nog hulle weg uit ‘n klipskeur veg. In beter tye sal hier ‘n stroompie water vloei. Leopardenschlucht is ‘n skilderagtig mooi wegkruipplek, kompleet met netjiese sandstrand.

Op Piet se uitnodiging bevind ons onsself twee aande later weer in Leopardenschlucht, om te kamp en die nag deur te bring.

Aha

Piet het ons eers op subtiele wyse, of miskien was dit nie subtiel nie, ‘n paar foto’s van regte luiperds wat sy opgestelde outomatiese kamera digby Leopardenschlucht geneem het, gewys. Ek het koue rillings ervaar, vir meer as een rede, een daarvan die rol van ‘n luiperd in my boek, wat ek ter wille van lesersgenot hier sal verswyg.

Leopardenschlucht is nie ‘n kampplek met gemaklike storte en toilette nie. Daar is geen geriewe nie. Ons moes alles saambring.

Ek sal daardie nag nooit vergeet nie. Vir een nag kon ek myself op ‘n klein manier in die lewe van ‘n transportryer indink. Ons was alleen, weliswaar met die geriewe van ons kampyskas en vrieskas, gaswarmwaterverhitters, kampstort en neonligte, maar ons was soos van ouds blootgestel aan die elemente. Telkens wanneer ek uit die kring van die lig beweeg het, het ek gedink aan die diere wat hulle naam aan die mooi plek geleen het, en het daar ‘n rilling deur my bors geseil.

Dag 66: Ossewa-paaie in die Namib

 

Garub-

Die publikasieproses van “Die Keiservoël Oor Namaland” is ‘n marathon, min of meer soos ‘n ossewa-trek deur die Namibwoestyn. Vir meer as agt jaar werk  ek aan en droom ek van hierdie projek. Nou lê die laaste paar meter voor my. Lesers moet asseblief nog ‘n week of twee geduldig wees.

Vandag bied aan my die geleentheid om iets te vertel van my navorsing oor die roetes wat die transportryers met hulle ossewaens gevolg het in die ou dae. Wat daardie harde manne deurgemaak het was so ongelooflik dat ek dit aanvanklik nie kon glo nie, wat nog te sê onder die woord bring.

Keetmanshoop was destyds (1890-1914) die hoofstad van die suide, en is dit trouens steeds, maar destyds was die suide van Duits-SWA ‘n welvarende en snel ontwikkelende plek, anders as vandag. Daarvoor het diamante, beeste en karakoelskape gesorg. Lüderitz se hawe was die poort, letterlik, tot die suide se rykdom, maar daar was nog geen treine of vragmotors wat na Keetmanshoop geloop het nie. Al die goedere, mense en lewende hawe wat by Lüderitz ontskeep is, moes per ossewa oor 320 kilometer vervoer word. Die grootste uitdaging was die 120 kilometer vanaf Lüderitz na Aus: Die Namib se sand, gebrek aan voer en water, die hitte, koue, opdraendes, ooswind en vyandige Namas het alles saamgewerk om te sorg dat so ‘n ossewa-tog ‘n bomenslike uitdaging was. Wanneer mens deur daardie wêreld ry in ‘n lugverkoelde motor, of bo-oor vlieg in ‘n vliegtuig, kan mens jouself kwalik indink hoe dit moes gevoel het om dit per voet en per ossewa te moes doen.

Ek moes presies dit doen: Myself indink in die lewens, emosies, ervaringe en gewoontes van die destydse transportryers en hulle passasiers. Ek kon nie anders nie want ek wou ‘n boek daaroor skryf, die boek wat eersdaags gaan verskyn.

‘n Ossewa kan maksimum 25 kilometer per dag aflê, maar dit is in gunstige terrein. Die moeilikste deel was die deel tussen Lüderitz en Aus. Ek het hierbo die uitdagings gelys, maar dit vertel nie die hele storie nie. Aus is meer as 4000 voet hoër as Lüderitz. Dit is dus heelpad opdraande. Die woestynwind is ook nie ‘n gewone wind nie. Die wêreldkampioenskapstoernooi in vlieërplankry vind elke jaar in Lüderitz plaas, met goeie rede. Daardie wind kan wáái.

Die sandduine tussen Lüderitz en Grassplatz skuif voortdurend rond as gevolg van die wind en is tot vandag die probleem wat die moderne spoorverbinding telkens troef. Natuurlik het baie mense en diere destyds nie hierdie togte wat tot ses weke en langer kon duur, oorleef nie. Dink net daaraan: Daar is nie juis water in die Namibwoestyn nie. Hoe moes daardie osse wat die waens getrek het vir ses weke oorleef?

Dit was een van die vrae wat ek vir myself moes beantwoord alvorens ek dit sou kon beskryf. Ek moes ter wille van my lesers uitvind hoe hulle dit gedoen het. Ten eerste moes ek uitvind waarlangs die ossewaens getrek het en waar hulle water gekry het.

Bittermin mense ken die antwoorde op hierdie vrae, en die antwoorde het my ook lank ontwyk. Lank gelede reeds het ek met ‘n ligte vliegtuig oor die roetes gevlieg. Ek wys vandag ‘n paar foto’s van die destydse vlug, maar hou in gedagte dat die blote vlug nie veel inligting kon oplewer nie. Die roetes is vandag nog sigbaar uit die lug, maar mens kan nie plekname en of watergate uit die lug waarneem nie.

Dit is eienaardig om selfs een of twee moderne wonings of plaashuise te sien.

Ek het gelukkig die boek van Dora Bolz, “Hard soos kameeldoringhout” bekom. Daarin gee sy so bietjie inligting oor die roetes.

My groot deurbraak het gekom toe ek ‘n paar foto’s wat ek in Kolmanskop se museum geneem het van nader beskou het. Vir jare het die foto’s net op my hardeskyf gelê, maar eendag het ek die foto’s mooi bekyk. Daarin het ek onder die name Kaukasib, Ukamas en Tschaukaib gesien. Hierdie inligting kon ek eindelik korreleer met inligting wat ek by Piet Swiegers van Klein Aus Vista gekry het en kon ek vir die eerste keer werklik visualiseer hoe die manne destyds hulle ding gedoen het.

Die ou kaarte is merkwaardig. Hulle dui die area rondom Lüderitz aan as Lüderitzland, iets wat ek nêrens anders teëgekom het nie. Dit dui Klein Aus ook aan as Kleinfontein, iets waaroor ek lank getwyfel het. Die plek Klein Kubub wat nie op moderne kaarte voorkom, word ook presies aangedui.

Ek vertel graag môre verder, met ‘n interessante foto, presies hoe die ossewaens deur en om Klein Kubub gery het, en hoe ek en my vrou ‘n onvergeetlike nag daar deurgebring het.

Dag 65: Joseph Luchtenstein

Hoofstuk-38

Hierdie is vir my ‘n pragtige foto van ‘n hardkoppige ou man, Joseph Luchtenstein, die pa van die hoofkarakter, Ernst Luchtenstein, in “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne twee weke beskikbaar sal wees.

Ek het so baie stories oor Joseph gehoor, maar uit respek vir sy nasate verkies ek om dit nie alles te vertel nie. Aanvanklik het ek hom in die boek geskilder as ‘n uiters negatiewe karakter, maar later het ek die ruwe kante bietjie gladder poleer.

Joseph het in ongeveer 1903 na Duits-SWA gekom. Een weergawe was dat hy aanvanklik ‘n soldaat was, en die ander weergawe was dat hy van die begin af ‘n transportryer, soos ons hom in die boek leer ken, was. Hoe dit ookal sy, hy moes noodgedwonge sy gesin in Duitsland agterlaat om ‘n nuwe lewe in Afrika te kom soek. Na drie jaar het hy hulle laat kom.

Weereens is daar twee weergawes van wat toe gebeur het, maar ek verkies om te vertel hoedat hy self vanaf Keetmanshoop getrek het, na Lüderitzbucht, vandag se Lüderitz, en die gesin op die hawe ingewag het. Vandaar het hulle per ossewa na Keetmanshoop gereis. Die ander weergawe was dat die gesin met ‘n ander, vreemde transportryer gereis het.

Joseph se vrou, Therese is gou hierna oorlede en die kinders is toe deur Robert McKay, ‘n eenoog Skot en sy Nama-vrou grootgemaak. Joseph was ‘n moeilike man en hy het ‘n verhouding met alkohol gehad, maar in sy later jare het sy seun Ernst tog na hom omgesien. Een van die legendes wat ek wel wil vertel is dat hy sy plaas Hariros drie maal aan Ernst verkoop het. Elke keer het hy “vergeet” dat Ernst hom reeds betaal het en dan het Ernst maar weer sy hand in sy sak gesteek.

Die ander hoofkarakter in die boek is Cornelius Fredericks. Sy pa was Josef Fredericks. Die twee Josefs, oftewel die een Joseph en die ander Josef het my heelwat probleme gegee omdat ekself foute gemaak het, totdat ek dit eindelik begin uitbuit het in die ontwikkeling van Ernst se karakter op ‘n subtiele wyse. Ek wonder hoeveel lesers gaan dit raaklees.

Dag 64: Therese Luchtenstein

Hoofstuk-21
Therese Luchtenstein, moeder van Ernst en Charlotte en eggenoot van Joseph.

Gereelde lesers van hierdie blog weet dat dit handel oor die storie agter die storie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat besig is om deur die publikasieproses te draf. Nog net ‘n paar weke, dan is meer as agt jaar se swoeg en sweet verby. Alhoewel die boek fiksie is, is dit op ‘n aantal werklike gebeure, vreemder as fiksie geskoei.

Ek het twee verhale inmekaar geweef om een groot waarheid oor te vertel. Ek laat dit aan my lesers oor om self die ontdekking te maak. Een van die twee verhale is dié van die Nama-oorlog van min of meer 1904-1908. Die ander verhaal is die wedervaringe van Ernst Luchtenstein, ‘n jong Duitse, Joodse seun wat saam met sy ouers in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) aangekom het in 1906, midde in die Nama-oorlog.

Vandag stel ek lesers van die blog bekend aan Therese Luchtenstein, moeder van Ernst, en vrou van Joseph, waarvan ek in ‘n volgende aflewering sal vertel. Eintlik het dit so gebeur: Joseph was reeds vir drie jaar in DSWA waar hy ‘n lewe as transportryer gemaak het. Uiteindelik kon hy vir Therese en die kinders wat in Duitsland gewag het laat uitkom, per skip natuurlik. Joseph het hulle in Lüderitzbucht (vandag se Lüderitz) ingewag vanwaar hy hulle per ossewa na Keetmanshoop, hulle nuwe tuiste, sou neem.

Dink nou net vir ‘n oomblik hoe dit vir ‘n fyn Duitse vroutjie wat die Duitse beskawing en stede gewoond was, moes voel om voet aan wal te sit in die woesterny wat DSWA was en haar man wat sy drie jaar laas gesien het weer te sien. Direk daarna moes sy op ‘n vreemde ossewa klim en die Namibwoestyn aandurf. Dit was werklik vir my moeilik om hierdie dialoog en emosies te verwoord. Op een stadium het ek die aanvanklike dialoog tussen Therese en Joseph in Duits (met verklarende voetnotas) vertaal omdat dit dan nie so stokkerig geklink het nie, maar toe het ek dit weer terugvertaal en verwerk na Afrikaans, met ‘n taamlike mate van sukses, durf ek sê. Terloops, in die teks verwys ek na Afrikaans as “die Boere se taal,” omdat Afrikaans destyds nog besig was om amptelik gebore te word en wat sou die mense van DSWA destyds tog van hierdie geboorteproses geweet het?

Ek weet bittermin van die werklike Therese behalwe dat sy kort na haar aankoms in die nuwe land oorlede is. Ek het haar graf in Keetmanshoop se begraafplaas besoek en die gebruiklike klippie op die linkervoet, volgens die Joodse tradisie, neergesit. Sy is nie in die Joodse begraafplaas begrawe nie, heel moontlik omdat Keetmanshoop destyds (1906) nog nie met ‘n Joodse begraafplaas geseën was nie. Daar is twee grafstene, ‘n nuwe een en ‘n oue wat langsaan plat op die grond lê. Dit het my verbeelding op loop gesit en tot ‘n storielyn met ‘n kinkel gelei.

Dag 63: Regina Luchtenstein

Regina

Ek het gister (Dag 62) vertel wie Ernst Luchtenstein, hoofkarakter van “Die Keiservoël Oor Namaland” was. Ek het redelik baie inligting oor hom gehad om my storie te fabriseer. Van sy vrou, Regina, kon ek minder inligting opspoor.

Sy was een van vyf dogters van Duitse immigrante, die Klube egpaar, vermoedelik ook van die Keetmanshoop omgewing. Op ‘n dag het die Klubes besluit hulle drie oudste dogters moet in Duitsland gaan skoolgaan. Die gesin het die lang reis, eers per ossewa tot op Lüderitz, en toe per skip na Duitsland, aangepak. Daar aangekom was dit skool toe. Toe die afskeid kom moes die onderwysers vir Regina en haar twee sussies letterlik van hulle ouers aftrek.

Die Klubes en hulle twee jongste dogters is terug Duits-Suidwes-Afrika toe met die skip, ‘n vaart wat seker so drie, vier weke sou duur. Toe is dit weer terug per ossewa, vanaf Lüderitz, maar die ongeluk tref: Albei die ouers en die twee jongste sussies word siek en sterf en word iewers in die Aus omgewing begrawe. In Duitsland is twee weeskinders.

Die mense van die omgewing kom daarvan te hore en stuur iemand om die drie kinders te gaan haal. Die drie kinders beland in pleegsorg, in verskillende huise. Regina woon by Hauptmann en Frau Göttiger in Haus Streitdam, Aroab, Ida word deur die Brandenburggesin aangeneem en Maragaret deur die bakker Busch.

Haus_Streitdam
Haus Streitdam op Aroab, waar Regina Klube as weeskind deur Hauptmann Bruno Göttiger en sy vrou Frieda grootgemaak is.

Regina kon baie goed perdry, ‘n feit wat ek in my storie uitgebuit het. Sy en Ernst ontmoet, trou, het vyf kinders en ‘n lang gelukkige lewe, so anders as die ongelukkige, tragiese verhaal van haar kinderjare.

Dag 62: Ernst Luchtenstein

Ernst

Hierdie blog oor “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne weke verskyn, beleef sy 62e dag, maar ek het lesers nog nie amptelik aan die hoofkarakter voorgestel nie.

Hy is Ernst Luchtenstein, gebore in Schmalkalden, Duitsland, ‘n dorpie waarvan min inligting aan my bekend is. Hy het skool gegaan in Tilsit, ‘n ewe onbekende dorpie en as jong seun het hy saam met sy gesin na Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) geïmmigreer. Sy ouers was Joseph, oor wie ek later meer sal vertel, en Therese wat kort na hulle aankoms in DSWA oorlede is. Sy suster was Charlotte en daar was ander broers, Ewald, en nog twee ander uit ‘n vorige huwelik van Joseph, maar hulle het in Duitsland agtergebly. Ek vergun hulle geen rol in Keiservoël nie omdat daar reeds te veel karakters is. Baie jare later met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Ernst gepoog om sy twee broers uit Duitsland te laat ontsnap, maar dit was te laat. Hulle is vermoedelik in die Joodse konsentrasiekampe oorlede. Ewald het self op Keetmanshoop gewoon.

Nadat Ernst se ma, Therese, oorlede is, is hy en sy suster in die sorg van ‘n Skot, Robert McKay en sy Nama-vrou, ek noem haar Gertruida, geplaas. Hulle het op die plaas Paradys noord van Keetmanshoop gewoon. Jare later skryf Ernst self hoe hy die Nama-taal by haar aangeleer het en altyd goed met die Namas oor die weg gekom het, ‘n feit wat ek goed kon gebruik.

Ernst beskryf self ook in die ou SWA Joernaal hoe hulle met die ossewaens tussen Lüderitz en Keetmanshoop getrek het en hoe hy eenkeer alleen, met net die geselskap van ‘n Nama, drie weke alleen in die woestyn moes oorleef. Dit was goeie materiaal om baie kleur aan die roman  te verleen.

Ernst was ‘n jong man toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek. Alle weerbare mans in DSWA is opgekommandeer om teen Louis Botha se Uniemagte te veg. Die uiteinde was ‘n onvoorwaardelike oorgawe van die Duitsers en konsentrasiekampe, maar Ernst het ontsnap en vir 18 maande in die Karasberge oorleef deur met ‘n kettie en slingervel dassies en tarentale te jag. Op ‘n dag het hy ook ‘n luiperd met ‘n kierie doodgeslaan.

Tydens sy alleendae het hy die Karasberge goed leer ken en ook die reënpatrone bestudeer. Na die oorlog het hy ‘n suksesvolle ossewa-transportryer geword en begin boer. Hy was een van die pioniers van die karakoelbedryf in Suidwes-Afrika (SWA). Op een stadium was hy (of Sam Cohen?) die rykste man, of dan ten minste die grootste privaat grondbesitter in SWA.

Daar is min inligting oor hierdie enigmatiese man bekend. Ek het alles gelees wat daar oor hom geskryf is en onderhoude gevoer met tannie Marge en wyle oom Tudi, twee van sy kinders, maar die een storie wat sentraal tot die verhaal staan is deur Lawrence Green gedokumenteer. ‘n Effens ander weergawe daarvan is deur wyle oom Dicky Strauss, seun van Ernst se suster Charlotte aan my vertel.

Nadat die Luchtensteins per skip in Lüderitzbucht aangekom het, het hulle per ossewa vertrek binneland toe. Tydens hierdie tog het ‘n Nama-patrollie hulle oorval. Dit was midde in die Nama-oorlog van 1904-1908. Ernst se ma, Therese, het op haar knieë geval en die Nama-kaptein gesmeek om haar kinders nie kwaad aan te doen nie. Die Nama-kaptein het van sy perd afgeklim, sy hoed gelig, haar opgehelp en in perfekte Duits gesê: “Mevrou, kniel voor God alleen. Die Namas maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.”

Oorspronklik is hierdie insident aan Simon Koper of Hendrik Witbooi toegedig, maar ek kon met behulp van navorsing, ‘n proses van eliminasie en ‘n bietjie geluk tot die slotsom kom dat hierdie Nama-leier niemand anders as Cornelius Fredericks van Bethanië, kaptein van die !Aman was.

Ek het hierdie verhaal en Ernst se eie woorde in die SWA Joernaal gebruik om ‘n beeld te skep van ‘n goeie verhouding tussen Ernst en die Namas.

Tannie Marge, Ernst se jongste dogter, het my baie stories vertel wat ek nie kon gebruik nie, omdat dit eers in sy latere lewe gebeur het. Dit is egter duidelik dat hy ‘n ruimhartige man was wat nie gehuiwer het om liefdadigheid te doen nie. Hy het selfs ander kerke soos die Rooms-Katolieke kerk en die NG Kerk ondersteun, ten spyte daarvan dat hy Joods was.

Een van die ander gepubliseerde (SWA Joernaal) stories wat ek noodwendig uit die finale teks moes snoei, was toe hy as jong touleier in McKay se diens by ‘n Duitse kamp aangekom het en gaan kyk het hoe die soldate skyfskiet. Hyself was toe al ‘n uiters bedrewe skut, maar die soldate het nie daarvan geweet nie. Hulle gee hom toe ‘n paar lesse en laat hom skiet. Aldrie skote was kolskote. Toe sê die sersant, ewe verontwaardig, dat hy moet probeer om hom na te doen. Die sersant laat drie bottels in die lug ingooi en skiet hulle in die lug raak. Ernst sê goed, hulle kan maar gooi, hy sal sommer ‘n paar klippe gebruik. Hulle gooi die bottels en Ernst gooi aldrie bottels met die klippe raak, met die effens onwyse woorde: “Ek sal nie goeie koeëls op bottels mors nie.” Die sersant het nie daarvan gehou nie en het die einde van Ernst se kontrak om gras aan te ry beteken.

Ernst het die liefde van sy lewe, Regina Klube, ‘n weeskind, ontmoet. Hulle het vyf kinders gehad. Die ander drie is Therese, Ilse (oorlede) en Bettie. As volwassene kry hy polio en slyt sy laaste jare in ‘n rolstoel. Hy gooi egter nie moed op nie en begin houtwerk doen. Hy maak pragtige meubels en skilde, een met die wapen van Keetmanshoop op. ‘n Paar voorbeelde is in die besit van sy kleindogter, Antoinette Oosthuysen van Koes en sy skoondogter, tannie Annatjie Luchtenstein van Bethal, Mpumalanga.

Ernst Luchtenstein sterf in 1972.

Dag 61: Simon Koper: ‘n Eis teen Brittanje in 2016?

1909 contract with Simon Kooper (00000003)

Op die vooraand van die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman waarran ek meer as 8 jaar werk, het ek afgekom op ‘n afskrif van ‘n dokument gedateer 20 Februarie 1909 wat die moontlikheid inhou om verrykende gevolge te hê. Om die dokument te lees kliek op die skakel bo.

Hierdie dokument is die ondertekende ooreenkoms tussen Simon Koper, (Kooper gespel) en die koloniale regering van Brittanje. In terme van hierdie kontrak onderneem Simon Koper, kaptein van die Nama-stam ook bekend as die Fransmanne, om nooit weer terug te keer na Duits-Suidwes-Afrika en om saam met sy volgelinge gehoorsame onderdane van die koning te wees. In ruil daarvan ontvang Simon Koper in die eerste jaar die som van eenhonderd pond, die tweede jaar 75 pond, die derde jaar en elke jaar daarna 60 pond tot en met sy dood. Daarby word ‘n spesifieke stuk grond vir hulle opsy gesit: padlangs van Ghukunse tot Chuchwa, ‘n reguit lyn van Chuchwa tot by Kwaai Pan, ‘n reguit lyn van Kwaai Pan tot by Mpa-a-thutlhoa, ‘n reguit lyn vanaf Mpa-a-thutlhoa to by Mahurutlhake Pan op die Kokong Ghukunsi pad, en die grootpad vanaf Mahurutlhake Pan tot by Ghukunsi via Tshane.

Ek het die geskiedenis rondom Simon Koper se doen en late, sy vlug na Betsjoeanaland, die finale veldslag en die uiteinde daarvan kortliks uiteengesit in Dag 41 tot by Dag 45 van hierdie dagboek.

Die hoofbron van my inligting was ‘n wetenskaplike artikel deur Wulf Haacke. Ek het ook ‘n gesprek gevoer met oom Elias le Riche, voormalige parkhoof van die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park. Hy het ‘n werker met die naam Johannes Koper, ‘n direkte afstammeling van Simon Koper, gehad. Dié het eendag na hom gekom met hierdie kontrak in sy hande. Oom Elias het dit aan ‘n professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria voorgelê vir oorweging van akkuraatheid en regsgeldigheid met die oog op restitusie. Die professor is oorlede en sy seun het die dokument saamgeneem na Kanada waar dit vandag nog is. Hy het dit deur middel van oom Elias se seun, dr Kabols le Riche, aan my gestuur.

Toe Botswana onafhanklikheid gekry het is alle voordele be-eindig. Die vraag is: Is Brittanje nie dalk steeds verantwoordelik nie? Ek is seker die nasate van Simon Koper sal baie bly wees as ‘n klein meevallertjie na hulle kant toe kom. Ek sal rede hê om ‘n klein bietjie trots te wees as dit sou gebeur.

Ek sluit ‘n paar foto’s van Simon Koper in, asook ‘n foto van ‘n man met die naam Simon Koper. Ek het hom op die grond van die Khomani San by Askham, baie naby aan die plek wat aan die oorspronklike Simon Koper/Kooper toegeken was, ontmoet.