1909 contract with Simon Kooper (00000003)
Op die vooraand van die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman waarran ek meer as 8 jaar werk, het ek afgekom op ‘n afskrif van ‘n dokument gedateer 20 Februarie 1909 wat die moontlikheid inhou om verrykende gevolge te hê. Om die dokument te lees kliek op die skakel bo.
Hierdie dokument is die ondertekende ooreenkoms tussen Simon Koper, (Kooper gespel) en die koloniale regering van Brittanje. In terme van hierdie kontrak onderneem Simon Koper, kaptein van die Nama-stam ook bekend as die Fransmanne, om nooit weer terug te keer na Duits-Suidwes-Afrika en om saam met sy volgelinge gehoorsame onderdane van die koning te wees. In ruil daarvan ontvang Simon Koper in die eerste jaar die som van eenhonderd pond, die tweede jaar 75 pond, die derde jaar en elke jaar daarna 60 pond tot en met sy dood. Daarby word ‘n spesifieke stuk grond vir hulle opsy gesit: padlangs van Ghukunse tot Chuchwa, ‘n reguit lyn van Chuchwa tot by Kwaai Pan, ‘n reguit lyn van Kwaai Pan tot by Mpa-a-thutlhoa, ‘n reguit lyn vanaf Mpa-a-thutlhoa to by Mahurutlhake Pan op die Kokong Ghukunsi pad, en die grootpad vanaf Mahurutlhake Pan tot by Ghukunsi via Tshane.
Ek het die geskiedenis rondom Simon Koper se doen en late, sy vlug na Betsjoeanaland, die finale veldslag en die uiteinde daarvan kortliks uiteengesit in Dag 41 tot by Dag 45 van hierdie dagboek.
Die hoofbron van my inligting was ‘n wetenskaplike artikel deur Wulf Haacke. Ek het ook ‘n gesprek gevoer met oom Elias le Riche, voormalige parkhoof van die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park. Hy het ‘n werker met die naam Johannes Koper, ‘n direkte afstammeling van Simon Koper, gehad. Dié het eendag na hom gekom met hierdie kontrak in sy hande. Oom Elias het dit aan ‘n professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria voorgelê vir oorweging van akkuraatheid en regsgeldigheid met die oog op restitusie. Die professor is oorlede en sy seun het die dokument saamgeneem na Kanada waar dit vandag nog is. Hy het dit deur middel van oom Elias se seun, dr Kabols le Riche, aan my gestuur.
Toe Botswana onafhanklikheid gekry het is alle voordele be-eindig. Die vraag is: Is Brittanje nie dalk steeds verantwoordelik nie? Ek is seker die nasate van Simon Koper sal baie bly wees as ‘n klein meevallertjie na hulle kant toe kom. Ek sal rede hê om ‘n klein bietjie trots te wees as dit sou gebeur.
Ek sluit ‘n paar foto’s van Simon Koper in, asook ‘n foto van ‘n man met die naam Simon Koper. Ek het hom op die grond van die Khomani San by Askham, baie naby aan die plek wat aan die oorspronklike Simon Koper/Kooper toegeken was, ontmoet.