Dag 62: Ernst Luchtenstein

Ernst

Hierdie blog oor “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne weke verskyn, beleef sy 62e dag, maar ek het lesers nog nie amptelik aan die hoofkarakter voorgestel nie.

Hy is Ernst Luchtenstein, gebore in Schmalkalden, Duitsland, ‘n dorpie waarvan min inligting aan my bekend is. Hy het skool gegaan in Tilsit, ‘n ewe onbekende dorpie en as jong seun het hy saam met sy gesin na Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) geïmmigreer. Sy ouers was Joseph, oor wie ek later meer sal vertel, en Therese wat kort na hulle aankoms in DSWA oorlede is. Sy suster was Charlotte en daar was ander broers, Ewald, en nog twee ander uit ‘n vorige huwelik van Joseph, maar hulle het in Duitsland agtergebly. Ek vergun hulle geen rol in Keiservoël nie omdat daar reeds te veel karakters is. Baie jare later met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Ernst gepoog om sy twee broers uit Duitsland te laat ontsnap, maar dit was te laat. Hulle is vermoedelik in die Joodse konsentrasiekampe oorlede. Ewald het self op Keetmanshoop gewoon.

Nadat Ernst se ma, Therese, oorlede is, is hy en sy suster in die sorg van ‘n Skot, Robert McKay en sy Nama-vrou, ek noem haar Gertruida, geplaas. Hulle het op die plaas Paradys noord van Keetmanshoop gewoon. Jare later skryf Ernst self hoe hy die Nama-taal by haar aangeleer het en altyd goed met die Namas oor die weg gekom het, ‘n feit wat ek goed kon gebruik.

Ernst beskryf self ook in die ou SWA Joernaal hoe hulle met die ossewaens tussen Lüderitz en Keetmanshoop getrek het en hoe hy eenkeer alleen, met net die geselskap van ‘n Nama, drie weke alleen in die woestyn moes oorleef. Dit was goeie materiaal om baie kleur aan die roman  te verleen.

Ernst was ‘n jong man toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek. Alle weerbare mans in DSWA is opgekommandeer om teen Louis Botha se Uniemagte te veg. Die uiteinde was ‘n onvoorwaardelike oorgawe van die Duitsers en konsentrasiekampe, maar Ernst het ontsnap en vir 18 maande in die Karasberge oorleef deur met ‘n kettie en slingervel dassies en tarentale te jag. Op ‘n dag het hy ook ‘n luiperd met ‘n kierie doodgeslaan.

Tydens sy alleendae het hy die Karasberge goed leer ken en ook die reënpatrone bestudeer. Na die oorlog het hy ‘n suksesvolle ossewa-transportryer geword en begin boer. Hy was een van die pioniers van die karakoelbedryf in Suidwes-Afrika (SWA). Op een stadium was hy (of Sam Cohen?) die rykste man, of dan ten minste die grootste privaat grondbesitter in SWA.

Daar is min inligting oor hierdie enigmatiese man bekend. Ek het alles gelees wat daar oor hom geskryf is en onderhoude gevoer met tannie Marge en wyle oom Tudi, twee van sy kinders, maar die een storie wat sentraal tot die verhaal staan is deur Lawrence Green gedokumenteer. ‘n Effens ander weergawe daarvan is deur wyle oom Dicky Strauss, seun van Ernst se suster Charlotte aan my vertel.

Nadat die Luchtensteins per skip in Lüderitzbucht aangekom het, het hulle per ossewa vertrek binneland toe. Tydens hierdie tog het ‘n Nama-patrollie hulle oorval. Dit was midde in die Nama-oorlog van 1904-1908. Ernst se ma, Therese, het op haar knieë geval en die Nama-kaptein gesmeek om haar kinders nie kwaad aan te doen nie. Die Nama-kaptein het van sy perd afgeklim, sy hoed gelig, haar opgehelp en in perfekte Duits gesê: “Mevrou, kniel voor God alleen. Die Namas maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.”

Oorspronklik is hierdie insident aan Simon Koper of Hendrik Witbooi toegedig, maar ek kon met behulp van navorsing, ‘n proses van eliminasie en ‘n bietjie geluk tot die slotsom kom dat hierdie Nama-leier niemand anders as Cornelius Fredericks van Bethanië, kaptein van die !Aman was.

Ek het hierdie verhaal en Ernst se eie woorde in die SWA Joernaal gebruik om ‘n beeld te skep van ‘n goeie verhouding tussen Ernst en die Namas.

Tannie Marge, Ernst se jongste dogter, het my baie stories vertel wat ek nie kon gebruik nie, omdat dit eers in sy latere lewe gebeur het. Dit is egter duidelik dat hy ‘n ruimhartige man was wat nie gehuiwer het om liefdadigheid te doen nie. Hy het selfs ander kerke soos die Rooms-Katolieke kerk en die NG Kerk ondersteun, ten spyte daarvan dat hy Joods was.

Een van die ander gepubliseerde (SWA Joernaal) stories wat ek noodwendig uit die finale teks moes snoei, was toe hy as jong touleier in McKay se diens by ‘n Duitse kamp aangekom het en gaan kyk het hoe die soldate skyfskiet. Hyself was toe al ‘n uiters bedrewe skut, maar die soldate het nie daarvan geweet nie. Hulle gee hom toe ‘n paar lesse en laat hom skiet. Aldrie skote was kolskote. Toe sê die sersant, ewe verontwaardig, dat hy moet probeer om hom na te doen. Die sersant laat drie bottels in die lug ingooi en skiet hulle in die lug raak. Ernst sê goed, hulle kan maar gooi, hy sal sommer ‘n paar klippe gebruik. Hulle gooi die bottels en Ernst gooi aldrie bottels met die klippe raak, met die effens onwyse woorde: “Ek sal nie goeie koeëls op bottels mors nie.” Die sersant het nie daarvan gehou nie en het die einde van Ernst se kontrak om gras aan te ry beteken.

Ernst het die liefde van sy lewe, Regina Klube, ‘n weeskind, ontmoet. Hulle het vyf kinders gehad. Die ander drie is Therese, Ilse (oorlede) en Bettie. As volwassene kry hy polio en slyt sy laaste jare in ‘n rolstoel. Hy gooi egter nie moed op nie en begin houtwerk doen. Hy maak pragtige meubels en skilde, een met die wapen van Keetmanshoop op. ‘n Paar voorbeelde is in die besit van sy kleindogter, Antoinette Oosthuysen van Koes en sy skoondogter, tannie Annatjie Luchtenstein van Bethal, Mpumalanga.

Ernst Luchtenstein sterf in 1972.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s