Gister het ek vertel hoe ek vir jare gesukkel het om te verstaan hoe en waarlangs die ou transportryers met hulle ossewaens getrek het tussen Aus en Lüderitz, ‘n afstand van 120 kilometer teen die opdraendes, ooswind, immer-skuiwende sandduine, hitte, koue, en sonder water. Uiteindelik het ek uitgevind waar die bietjie brakwater by Tschaukaib, Kaukasib en Ukamas was, maar hierdie is plekke wat in die Spergebied lê en nie maklik om te besoek nie.
Een van die mense wat my op die regte spore gelei het, is Piet Swiegers van Klein Aus Vista, die lieflike lodge by Aus. Hy het ons in sy Landcruiser gelaai en gaan wys waar Klein Kubub is, ‘n paar kilometer suid van Aus. Destyds het alle (ossewa-) paaie na Klein Kubub gelei, want dit was waar die water was. Klein Kubub was die laaste drinkplek vir die osse voordat hulle die tog deur en oor die barre Namib Lüderitz toe moes aanpak, en natuurlik die eerste drinkplek na die ontberings van weke op die inkomende roete.
Die naam Klein Kubub word op die kaart hieronder aangedui as Kl Kubub, regs onder Kumsis.Net links daarvan staan Kl Fontein (Klein Aus).
Klein Kubub was ‘n bedrywige plek. Vandag is dit verlate. Klein Kubub se fontein is groot en deeglik met klip uitgemessel, maar weens die droogte so droog soos die bas van die massiewe peperboom wat bo-oor toring:
Langs die fontein is oorblyfsels van die krippe waaruit die duisende dorstige diere gedrink het. Let veral op hoe breed die krip was, om genoeg water te hou en om dit sterk genoeg te maak om die krag van die osse te weerstaan:
‘n Entjie verder weg is die relatief ongeskonde oorblyfsels van die klipkrale waar duisende osse moes oornag:
‘n Vreemde spookagtigheid hang oor die omgewing wat eens die hartklop van die Suide se vervoernetwerk was, miskien nog een van vele simbole van die stagnasie, indien nie agteruitgang nie, van hierdie mooi streek.
Piet het ons gou, voor donker gaan wys waar Klein Kubub se eenrigting ossewaroetes se spore vandag nog sigbaar is. Die omgewing is bergagtig en die kontoere styl. Dit was nodig om die inkomende en uitkomende ossewaens te skei, want hulle kon nie direk langs mekaar veby gery het soos op die woestyn se vlaktes nie. Op die foto onder kan mens regs vaagweg die roete binneland, Keetmanshoop toe sien , en links, die roete vanaf die binneland na Klein Kubub toe:
Net voor donker is ons na die bopunt van ‘n klein klofie, reg rondom verskans met klipkranse. Leopardenschlucht, Luiperdskloof, is die naam. Ver onder sien mens die groen mos waaruit ‘n paar druppels vog nog hulle weg uit ‘n klipskeur veg. In beter tye sal hier ‘n stroompie water vloei. Leopardenschlucht is ‘n skilderagtig mooi wegkruipplek, kompleet met netjiese sandstrand.
Op Piet se uitnodiging bevind ons onsself twee aande later weer in Leopardenschlucht, om te kamp en die nag deur te bring.
Piet het ons eers op subtiele wyse, of miskien was dit nie subtiel nie, ‘n paar foto’s van regte luiperds wat sy opgestelde outomatiese kamera digby Leopardenschlucht geneem het, gewys. Ek het koue rillings ervaar, vir meer as een rede, een daarvan die rol van ‘n luiperd in my boek, wat ek ter wille van lesersgenot hier sal verswyg.
Leopardenschlucht is nie ‘n kampplek met gemaklike storte en toilette nie. Daar is geen geriewe nie. Ons moes alles saambring.
Ek sal daardie nag nooit vergeet nie. Vir een nag kon ek myself op ‘n klein manier in die lewe van ‘n transportryer indink. Ons was alleen, weliswaar met die geriewe van ons kampyskas en vrieskas, gaswarmwaterverhitters, kampstort en neonligte, maar ons was soos van ouds blootgestel aan die elemente. Telkens wanneer ek uit die kring van die lig beweeg het, het ek gedink aan die diere wat hulle naam aan die mooi plek geleen het, en het daar ‘n rilling deur my bors geseil.