
Gereelde lesers van hierdie blog weet dat dit handel oor die storie agter die storie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat besig is om deur die publikasieproses te draf. Nog net ‘n paar weke, dan is meer as agt jaar se swoeg en sweet verby. Alhoewel die boek fiksie is, is dit op ‘n aantal werklike gebeure, vreemder as fiksie geskoei.
Ek het twee verhale inmekaar geweef om een groot waarheid oor te vertel. Ek laat dit aan my lesers oor om self die ontdekking te maak. Een van die twee verhale is dié van die Nama-oorlog van min of meer 1904-1908. Die ander verhaal is die wedervaringe van Ernst Luchtenstein, ‘n jong Duitse, Joodse seun wat saam met sy ouers in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) aangekom het in 1906, midde in die Nama-oorlog.
Vandag stel ek lesers van die blog bekend aan Therese Luchtenstein, moeder van Ernst, en vrou van Joseph, waarvan ek in ‘n volgende aflewering sal vertel. Eintlik het dit so gebeur: Joseph was reeds vir drie jaar in DSWA waar hy ‘n lewe as transportryer gemaak het. Uiteindelik kon hy vir Therese en die kinders wat in Duitsland gewag het laat uitkom, per skip natuurlik. Joseph het hulle in Lüderitzbucht (vandag se Lüderitz) ingewag vanwaar hy hulle per ossewa na Keetmanshoop, hulle nuwe tuiste, sou neem.
Dink nou net vir ‘n oomblik hoe dit vir ‘n fyn Duitse vroutjie wat die Duitse beskawing en stede gewoond was, moes voel om voet aan wal te sit in die woesterny wat DSWA was en haar man wat sy drie jaar laas gesien het weer te sien. Direk daarna moes sy op ‘n vreemde ossewa klim en die Namibwoestyn aandurf. Dit was werklik vir my moeilik om hierdie dialoog en emosies te verwoord. Op een stadium het ek die aanvanklike dialoog tussen Therese en Joseph in Duits (met verklarende voetnotas) vertaal omdat dit dan nie so stokkerig geklink het nie, maar toe het ek dit weer terugvertaal en verwerk na Afrikaans, met ‘n taamlike mate van sukses, durf ek sê. Terloops, in die teks verwys ek na Afrikaans as “die Boere se taal,” omdat Afrikaans destyds nog besig was om amptelik gebore te word en wat sou die mense van DSWA destyds tog van hierdie geboorteproses geweet het?
Ek weet bittermin van die werklike Therese behalwe dat sy kort na haar aankoms in die nuwe land oorlede is. Ek het haar graf in Keetmanshoop se begraafplaas besoek en die gebruiklike klippie op die linkervoet, volgens die Joodse tradisie, neergesit. Sy is nie in die Joodse begraafplaas begrawe nie, heel moontlik omdat Keetmanshoop destyds (1906) nog nie met ‘n Joodse begraafplaas geseën was nie. Daar is twee grafstene, ‘n nuwe een en ‘n oue wat langsaan plat op die grond lê. Dit het my verbeelding op loop gesit en tot ‘n storielyn met ‘n kinkel gelei.
My Grandmother. This is the first picture of her that I have ever seen . I have a picture of Joseph, my Gandfather , on my desk at home . Very emotional. Thank you
LikeLiked by 1 person