Hierdie is vir my ‘n pragtige foto van ‘n hardkoppige ou man, Joseph Luchtenstein, die pa van die hoofkarakter, Ernst Luchtenstein, in “Die Keiservoël Oor Namaland” wat binne twee weke beskikbaar sal wees.
Ek het so baie stories oor Joseph gehoor, maar uit respek vir sy nasate verkies ek om dit nie alles te vertel nie. Aanvanklik het ek hom in die boek geskilder as ‘n uiters negatiewe karakter, maar later het ek die ruwe kante bietjie gladder poleer.
Joseph het in ongeveer 1903 na Duits-SWA gekom. Een weergawe was dat hy aanvanklik ‘n soldaat was, en die ander weergawe was dat hy van die begin af ‘n transportryer, soos ons hom in die boek leer ken, was. Hoe dit ookal sy, hy moes noodgedwonge sy gesin in Duitsland agterlaat om ‘n nuwe lewe in Afrika te kom soek. Na drie jaar het hy hulle laat kom.
Weereens is daar twee weergawes van wat toe gebeur het, maar ek verkies om te vertel hoedat hy self vanaf Keetmanshoop getrek het, na Lüderitzbucht, vandag se Lüderitz, en die gesin op die hawe ingewag het. Vandaar het hulle per ossewa na Keetmanshoop gereis. Die ander weergawe was dat die gesin met ‘n ander, vreemde transportryer gereis het.
Joseph se vrou, Therese is gou hierna oorlede en die kinders is toe deur Robert McKay, ‘n eenoog Skot en sy Nama-vrou grootgemaak. Joseph was ‘n moeilike man en hy het ‘n verhouding met alkohol gehad, maar in sy later jare het sy seun Ernst tog na hom omgesien. Een van die legendes wat ek wel wil vertel is dat hy sy plaas Hariros drie maal aan Ernst verkoop het. Elke keer het hy “vergeet” dat Ernst hom reeds betaal het en dan het Ernst maar weer sy hand in sy sak gesteek.
Die ander hoofkarakter in die boek is Cornelius Fredericks. Sy pa was Josef Fredericks. Die twee Josefs, oftewel die een Joseph en die ander Josef het my heelwat probleme gegee omdat ekself foute gemaak het, totdat ek dit eindelik begin uitbuit het in die ontwikkeling van Ernst se karakter op ‘n subtiele wyse. Ek wonder hoeveel lesers gaan dit raaklees.