Dag 66: Ossewa-paaie in die Namib

 

Garub-

Die publikasieproses van “Die Keiservoël Oor Namaland” is ‘n marathon, min of meer soos ‘n ossewa-trek deur die Namibwoestyn. Vir meer as agt jaar werk  ek aan en droom ek van hierdie projek. Nou lê die laaste paar meter voor my. Lesers moet asseblief nog ‘n week of twee geduldig wees.

Vandag bied aan my die geleentheid om iets te vertel van my navorsing oor die roetes wat die transportryers met hulle ossewaens gevolg het in die ou dae. Wat daardie harde manne deurgemaak het was so ongelooflik dat ek dit aanvanklik nie kon glo nie, wat nog te sê onder die woord bring.

Keetmanshoop was destyds (1890-1914) die hoofstad van die suide, en is dit trouens steeds, maar destyds was die suide van Duits-SWA ‘n welvarende en snel ontwikkelende plek, anders as vandag. Daarvoor het diamante, beeste en karakoelskape gesorg. Lüderitz se hawe was die poort, letterlik, tot die suide se rykdom, maar daar was nog geen treine of vragmotors wat na Keetmanshoop geloop het nie. Al die goedere, mense en lewende hawe wat by Lüderitz ontskeep is, moes per ossewa oor 320 kilometer vervoer word. Die grootste uitdaging was die 120 kilometer vanaf Lüderitz na Aus: Die Namib se sand, gebrek aan voer en water, die hitte, koue, opdraendes, ooswind en vyandige Namas het alles saamgewerk om te sorg dat so ‘n ossewa-tog ‘n bomenslike uitdaging was. Wanneer mens deur daardie wêreld ry in ‘n lugverkoelde motor, of bo-oor vlieg in ‘n vliegtuig, kan mens jouself kwalik indink hoe dit moes gevoel het om dit per voet en per ossewa te moes doen.

Ek moes presies dit doen: Myself indink in die lewens, emosies, ervaringe en gewoontes van die destydse transportryers en hulle passasiers. Ek kon nie anders nie want ek wou ‘n boek daaroor skryf, die boek wat eersdaags gaan verskyn.

‘n Ossewa kan maksimum 25 kilometer per dag aflê, maar dit is in gunstige terrein. Die moeilikste deel was die deel tussen Lüderitz en Aus. Ek het hierbo die uitdagings gelys, maar dit vertel nie die hele storie nie. Aus is meer as 4000 voet hoër as Lüderitz. Dit is dus heelpad opdraande. Die woestynwind is ook nie ‘n gewone wind nie. Die wêreldkampioenskapstoernooi in vlieërplankry vind elke jaar in Lüderitz plaas, met goeie rede. Daardie wind kan wáái.

Die sandduine tussen Lüderitz en Grassplatz skuif voortdurend rond as gevolg van die wind en is tot vandag die probleem wat die moderne spoorverbinding telkens troef. Natuurlik het baie mense en diere destyds nie hierdie togte wat tot ses weke en langer kon duur, oorleef nie. Dink net daaraan: Daar is nie juis water in die Namibwoestyn nie. Hoe moes daardie osse wat die waens getrek het vir ses weke oorleef?

Dit was een van die vrae wat ek vir myself moes beantwoord alvorens ek dit sou kon beskryf. Ek moes ter wille van my lesers uitvind hoe hulle dit gedoen het. Ten eerste moes ek uitvind waarlangs die ossewaens getrek het en waar hulle water gekry het.

Bittermin mense ken die antwoorde op hierdie vrae, en die antwoorde het my ook lank ontwyk. Lank gelede reeds het ek met ‘n ligte vliegtuig oor die roetes gevlieg. Ek wys vandag ‘n paar foto’s van die destydse vlug, maar hou in gedagte dat die blote vlug nie veel inligting kon oplewer nie. Die roetes is vandag nog sigbaar uit die lug, maar mens kan nie plekname en of watergate uit die lug waarneem nie.

Dit is eienaardig om selfs een of twee moderne wonings of plaashuise te sien.

Ek het gelukkig die boek van Dora Bolz, “Hard soos kameeldoringhout” bekom. Daarin gee sy so bietjie inligting oor die roetes.

My groot deurbraak het gekom toe ek ‘n paar foto’s wat ek in Kolmanskop se museum geneem het van nader beskou het. Vir jare het die foto’s net op my hardeskyf gelê, maar eendag het ek die foto’s mooi bekyk. Daarin het ek onder die name Kaukasib, Ukamas en Tschaukaib gesien. Hierdie inligting kon ek eindelik korreleer met inligting wat ek by Piet Swiegers van Klein Aus Vista gekry het en kon ek vir die eerste keer werklik visualiseer hoe die manne destyds hulle ding gedoen het.

Die ou kaarte is merkwaardig. Hulle dui die area rondom Lüderitz aan as Lüderitzland, iets wat ek nêrens anders teëgekom het nie. Dit dui Klein Aus ook aan as Kleinfontein, iets waaroor ek lank getwyfel het. Die plek Klein Kubub wat nie op moderne kaarte voorkom, word ook presies aangedui.

Ek vertel graag môre verder, met ‘n interessante foto, presies hoe die ossewaens deur en om Klein Kubub gery het, en hoe ek en my vrou ‘n onvergeetlike nag daar deurgebring het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s