

Hierdie dagboek/blog volg nie die gebeure soos dit afspeel in “Die Keiservoël Oor Namaland” in chronologiese volgorde nie. Die boek self eindig wel in ’n toneel wat afspeel op //Khauxa!nas, net soos dit die einde van die Namavolk se kultuur simboliseer, maar vandag se vertelling is glad nie die einde van die dagboek nie. Ek sal nog heelwat te sê hê oor die skryf, navorsing en betekenis van die boek.
Die betowering van //Khauxa!nas, soos ek reeds gemeld het lê onder andere daarin dat dit so ’n “geheime” plek was, een wat tydens twee episodes, een eeu uitmekaar, skuiling gebied het aan die Namas en dat tydens hierdie geskiedkundige gebeure die agtervolgers nooit die plek kon opspoor nie. Die twee episodes was die oorspronklike vlug van Klaas, Jonker en Titus Afrikaner na die Pienaar-moord in 1796 en die ander een die Nama-oorlog van 1904-1908.
Die misterie is verder verdonker deur die feit dat daar wel vredesamesprekinge op //Khauxa!nas self plaasgevind het in in die vroeë fase van die Nama-oorlog, in April 1905. Die vredesameprekinge is deur Vader Malinowski, ’n Rooms-Katolieke priester, geïnisieer. Malinowski, luitenant von Koppy en Jakob Marengo was teenwoordig. Hierdie “feit,” as daar enige feite rondom //Khauxa!nas bestaan, is bevestig deur luitenant von Koppy in ’n amptelike verslag, in briewe deur Malinowski, en deur mondelikse vertellinge deur twee onafhanklike Nama ooggetuies, ene Klaas Dausab en Johannes Louw, aan twee boere, AJ Smit en JA Smith, van die omgewing. Von Koppy en Malinowski het albei geskryf hoe hulle moes sukkel om tot bo-op die vesting te klim en te klouter.
Die samesprekinge het plaasgevind in ’n reghoekige struktuur, moontlik Jakob Morenga se woning, en die reghoekige plat klip wat as tafel gedien het was tagtig jaar later steeds teenwoordig. Die samesprekings het misluk en Marengo het aangehou met sy aanvalle op die Schutztruppe. Die groot vraag is hoekom kon die Schutztruppe toe nie weer hulle pad soontoe vind nie? Ek hanteer die antwoord op hierdie vraag op kreatiewe wyse in my boek.
Die slottoneel van “Die Keiservoël oor Namaland” speel af in die diep waterkuil in die Bakrivier onderkant die kranse wat die bergvesting //Khauxa!nas beskerm. Ek wil nie die einde verklap nie, maar hoop dat lesers dit soveel sal geniet soos wat ek het toe ek dit geskep het.
Daar het ook ’n ander einde op //Khauxa!nas gebeur. Vir agt dekades het die geeste van //Khauxa!nas eensaam gerou oor die tragedies wat daar afgespeel het. Niemand het van die plek geweet nie totdat dr Klaus Dierks (www.klausdierks.com) die plek na ’n lang soektog herontdek het. Hy het later ’n verhandeling daaroor geskryf. Ek het dit in die biblioteek van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in Windhoek gelees. Dr Dierks is in 2005 oorlede en sy grafsteen bewaak vandag die kranse van //Khauxa!nas.
Daar is ‘n legende wat onder sommige van die ou Namas van die omgewing vertel word. Hulle beweer dat “na die oorlog” ‘n aantal Nama-soldate met stukke telefoondraad aan die kameeldoringbome onderkant die kranse van //Khauxa!nas opgehang is. Persoonlik wonder ek of dit nie die drie Fryer seuns waarvan ek in Dag 52 vertel het was nie. Hulle is na die Slag van Gugunas opgehang. Ek wil graag teruggaan na //Khauxanas en Gugunas om na hulle grafte te gaan soek.
Wanneer toeriste Namibië besoek dink hulle hoofsaaklik aan Sossusvlei, Windhoek, Swakopmund en Etosha, maar die suide van Namibië met sy ryke geskiedenis bied soveel vir die kulturele toeris wat die konteks van plekke soos Lüderitz, Warmbad, Aus, Keetmanshoop, //Khauxa!nas, Koes, Duwisib, Bethanië, Hoornkrans, Garub, Grassplatz, Waterberg, Okahandja en dosyne ander plekke wil leer ken. Die natuurlike skoonheid van die suide van Namibië is ongeskonde en uiters fotogenies.
Dit is my vurige wens dat my boek, “Die Keiservoël oor Namaland” wat eersdaags sal verskyn, die begin sal wees van ’n herlewing in die belangstelling oor Namaland, ’n plek met baie sosiale probleme en armoede onder sy mense, mense wat ons taal en kultuur deel en baie kleur daaraan verleen het. Mens mag redeneer dat baie van hulle probleme sy oorsprong het in die dramatiese gebeure van Shark-eiland en die oorlog van destyds soos ek dit vertel het. Dit sal wonderlik wees as hierdie probleme aangespreek kan word deur die streek op verantwoordelike wyse te ontwikkel as toeriste-aantreklikheid. Daar is oneindige potensiaal waaroor ek later sal skryf. Mense soos Piet Swiegers van Klein Aus Vista het dit lank reeds raakgesien en benut, maar veel meer kan nog gedoen word.
In die heel eerste plek is dit belangrik dat die Namas self van hulle geskiedenis sal kennis neem. Ek kan nie help om te dink aan my eie volk en sy geskiedenis, wat ook besig is om stadigaan in die vergetelheid te verdwyn.