Hierdie dagboek (“blog”, reisjoernaal, joernaal) handel oor die geskiedenis, navorsing, wedervaringe en agtergrond tot die skryf en publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland,” ‘n historiese roman wat afspeel teen die agtergrond van die Duitse tydperk in vandag se Namibië, met spesifieke verwysing na die Nama-oorlog van 1904-1908.
Vandag het swaar gedra aan die simboliek van hierdie reis. Ek kon telkens maar net glimlag.
Vanoggend vroeg was ons reeds op die Rietfontein grenspos (Klein Manasse, moet dit nie Menasse wees nie? aan die Namibië kant.) Verlede jaar is ons verwelkom deur die hoëveldskaapwagter (“capped wheatear”) en ek het juis gister geskryf dat ek wonder of hy weer daar gaan wees. Dit was toe ook so. Die klein voëltjie het bo-op ‘n waterkraan gesit, maar voordat ek die kamera kon uithaal was hy weer weg. Terwyl ek besig was met die doeane en immigrasie formaliteite hoor ek heeltyd ‘n ander bekende gekwetter, maar sukkel om die oorsprong te vind, tot ‘n polisieman my die woestynspekvreter wys, hoog bo op ‘n lamppaal. Wat ‘n belewenis. Beide hierdie voëltjies, regte LBJ’s, speel rolle in my boek, en hier is nie net een, maar sommer twee van hulle, by die Namibiese grenspos, gereed om my te verwelkom. Lesers van die boek sal weet dat die spekvreter se liedjie een van die lewe se groot vrae vra, ‘n vraag wat op die einde beantwoord word. (Ek hoop op verrassende wyse.)
Aroab is die eerste dorp aan Namibiese kant. Ons is vroeg daar en doen navraag oor Haus (Huis) Streitdam, grootwordhuis van Regina Klube, destyds onder toesig van Hauptmann en mevrou Göttiger, soos akkuraat beskryf in die boek. Ek het voorheen die huis afgeneem, maar wou graag die huidige eienaars ontmoet. Ongelukkig is hulle op reis na die VSA, maar nietemin doen ons daar aan.

Ek neem my foto’s onder die wakende oog van Deon Coetzee, die Nama oppasser. Deon sê, “Dis net ‘n Duitser wat so kan bou. Dit lyk dan net soos Narubis se Travelodge.” Ek groet en kry my ry.
Sestig kilometer verder op een van die beste grondpaaie in die wêreld groet ‘n ander dierasie ons reg voor die plaas Kiriis Wes, ‘n reuse likkewaan. Ek kan nie anders as om hardop te lag nie. Die gedierte lyk dan nes ‘n monster. Was dit nie wat die jonge Michael Esterhuise in 1943 gesien het nie? ‘n Massiewe likkewaan wat hom aangeval het nie? Is dit nie waar die legende van die vlieënde slang vandaan kom nie? Miskien ‘n springende reuse likkewaan? Maar dan onthou ek weer die foto’s van die reuse spore en prof JLB Smith se woorde: “Dit is heel moontlik dat dit die spore van een of ander reuse reptiel kan wees.” Dit was net hier waar die voorval destyds plaasgevind het, en net hier sien ek vandag van alle dae die groot likkewaan. Toevallig?
Hier het alles begin in die winter van 2007. Oom Dicky Strauss was ons gasheer tydens ‘n jagtog en hy het my vertel van ‘n paar insidente, wat vandag ontwikkel het tot hierdie volwaardige roman oor die geskiedenis van die Nama-oorlog en die die wel en weë van die Luchtensteingesin. Vandag is oom Dicky nie meer met ons nie, maar ek kry die geleentheid om ‘n eksemplaar van die boek aan die plaaswerkers te oorhandig. Elisabeth Kaptein is baie geinteresseerd en kan nie die boek uitlos nie. Sy onthou my nog goed van ons vorige besoek.Ek hoop vuriglik dat ten minste een van hulle sal lees oor die destydse Nama-helde en hulle kultuur en taal. Ek moes die Nama-taal bestudeer met behulp van ‘n baie ou woordeboek en het baie Nama-woorde en frases in die boek gebruik. Ek gebruik die geleentheid om my Nama-kennis te toets teen hierdie groepie en is aangenaam verras. Ek dink dat hulle egter tien maal meer verras is deurdat hierdie witman hoegenaamd kennis geneem het van hulle taal. Die boek het sy ontstaan aan hierdie plaas te danke en dit is reg dat ek vandag hier moes stilhou en ‘n eksemplaar aan hierdie groepie eenvoudige plaaswerkers, nasate van die oorspronklike Khoi-Khoin, met wie ek my eie taal deel, oorhandig.
Die skok-effek van ‘n paar foto’s in die boek gaan nie verlore op hulle nie. Ek hoop werklik dat dit hulle sal aanspoor om die boek te lees en dat hulle uiteindelik die dieper boodskap sal ontdek.
Willem neem ons na Tweelingkop waar oom Dicky se gedenksteen opgerig is. Van hier kan mens baie ver sien. Ek neem spesiaal ‘n boek saam om “vir oom Dicky te wys.”
Hierdie deel van ons reis eindig in Keetmanshoop, in die Schützenhaus, ‘n hotel wat in 1907 opgerig is en ook ‘n paar keer voorkom in die verhaal. Ons het al ‘n paar maal voorheen hier tuisgegaan en wonderlike diens beleef, en vandag sou geen uitsondering wees nie. Ek het lank voor die tyd reeds met die eienaar, Ingo Klitzke, gereël om vanaand ‘n paar vriende hier te onthaal. Ou vriend Willem Kotze wat ek in die boek bedank as die”wandelende biblioteek” van Keetmanshoop, tannie Memoireé Strauss, oom Dicky se weduwee en tannie Judy van der Merwe, oom Dicky se suster, kom spesiaal om die publikasie van “Die Keiservoël Oor Namaland” te vier. Ingo is die perfekte gasheer.



Teen die einde van die aand groet ons met een vraag: “Hoekom weet ons so min van die ou dinge?”
Koos, what a wonderful description of your journey from Pretoria to Keetmanshoop. I felt that I am travelling in the car with you and your wife and seeing what you see at every stop. I am VERY excited to read your book! Best regards, Avrim
LikeLike