Ek leef voort in die gedagtewêreld van my boek, “Die Keiservoël Oor Namaland.” Hierdie reis wat volg op die publikasie het my heeltemal ingesluk sodat ek daarop moet konsentreer om normale goed te doen. Dit voel soos ’n lekker droom wat net aanhou en aanhou. Gelukkig het ek ’n goeie vrou wat my verdra en laat begaan.
Gister het hoofsaaklik bestaan uit ’n afspraak waarna ek baie lank uitgesien het. Ek het Piet Swiegers, die baas van Klein-Aus Vista, ’n unieke en spesiale gastehuis/hotel, eenmaal, lank terug ontmoet. Verlede jaar het hy ons op ’n toer van Aus en omgewing, met spesifieke klem op die ossewaroetes van die laat 1800’s en vroeg 1900’s, geneem. Daarna het hy aangebied dat ons ’n nag in die wildernis op hulle massiewe groot Namibplaas deurbring, in die mooi Leopardenschlucht.
Piet se verduidelikings, tesame met sy verwysing na Dora Bolz se boek, “Hard soos Kameeldoringhout,” het my in staat gestel om vir die eerste keer regtig te verstaan hoe die transportryers dit destyds reggekry het om die onherbergsame en waterlose Namib te deurkruis met ’n span osse.
Daar was egter nog een bron van inligting wat ek ook reeds jare gelede gefotografeer het en van vergeet het, ’n kaart wat sommige van die ossewaroetes aandui. Ek het hierdie kaart in Kolmanskop buite Lüderitz se museum gesien. Verlede jaar, terug by die huis het ek dit in my argiewe opgespoor en daarmee gaan sit, met Dora Bolz se boek en Piet se inligting en begin dink en droom. Dit het my gedwing om groot dele van die boek oor te skryf om dit meer getrou te maak.
Gisteroggend het ons dus die Kameel se neus ooswaarts gedraai, rigting Aus, om vir Piet die boek te gaan wys. Die pad tussen Lüderitz en Aus sal my vir altyd mesmeraais, soos Eugene Marais sou sê.
’n Klein entjie uit Lüderitz het ’n sin uit die boek hom in my verbeelding aangemeld: “Ernst, steeds in sy soldaat-uniform, stap heel agter, kop onderstebo. Elke kort-kort kyk hy terug oor die baai na die skilpadeiland, Haai-eiland.” Ek stop die Kameel, my ou bakkie, langs die pad en kyk terug na Lüderitz en sien die baai waar die “dramatiese gebeure” van daardie dag en jare, soos vertel deur myself, afgespeel het. Hier lê die baai nog steeds, net soos destyds, stil en ongestoord, met miljoene mense oor die wêreld onbewus van dit wat hier gebeur het.
Ons het gou eers by Kolmanskop ingedraai en ek kon nie die versoeking weerstaan om weer die kaart af te neem nie, net sodat ek dit nie weer sal vergeet nie. Die plan is om hierdie ou kaart te gebruik om die binnekant van die buiteblaaie van die hardebandweergawe, mee te illustreer, soos wat dit in die ou tyd gedoen is. Op hierdie stadium is slegs die sagteband boeke beskikbaar.
Ons ry verder, betower deur die grootsheid, stilte, eensaamheid en die wonderwerk van die Namibwoestyn. Hierdie woestyn het my hoofkarakter gevorm tot die man wat hy uiteindelik was. Hy het aangekom en gedink dat die woestyn net dooie sand was, maar… Lees liewer self die boek.
Ons sien van ver af ’n vorm wat eensaam langs die spoorlyn staan. ’n Gemsbok. Ek hou stil en stap nader, Nikon in die hand. Die gemsbok draf weg en poseer mooi. Nog ’n sin uit die boek doem op:
“Selfs die ooswind is moeg, sy sissende geloei uitgewoed. Die Namib se hemel is spierwit. Ernst luister na die stilte. Hy buk af om met sy hande die sand deur sy vingers te laat vloei, soos water uit ’n kruik. Toe hy opkyk sien hy ver bokant hom ’n gemsbok, reg bo-op die kim van die hoogste duin. Hy is verstom deur die dier se skoonheid en sy spiesagtige horings. Die dier staan fier en kyk na die menslike bedrywighede onder in die vallei. Ernst staar betower na die dier se prag, omring deur die strakke woestyn. Hierdie woestyn het lewe in hom, dink hy, regte lewe. Die woestyn haal asem, sy hart klop en sy hande voel.”
Die pad tussen Lüderitz en Aus word vergesel van ’n spoorlyn aan die een kant. Hierdie spoorlyn is in 1906-1908 deur die krygsgevange Namas en Herero’s gebou, onder dwang van hulle Duitse meesters. In 1914 val die Unie van Suid Afrika onder Louis Botha Duits-Suidwes-Afrika op vier fronte, een van hulle Lüderitz, binne. Botha se soldate marsjeer ooswaarts en die Duitsers vlug. So ver as wat hulle vlug blaas hulle die spoorlyn op sodat die Unie-soldate nie daarvan gebruik kan maak nie. Die Unie-soldate herstel die spoorlyn, maar tot vandag kon niemand dit nog ooit weer regkry om daardie spoorlyn ordentlik te bedryf nie. Daarvoor is die Namib net té kwaai.
Ons hou ook stil by Garub, ’n spoorweghalte naby die besigtigingspunt van Aus se wilde perde. Die wildeperde verkeer tans weens die droogte en ’n bende van elf gevlekte hiënas onder geweldige druk. Mense spekuleer dat die wildeperde selfs kan uitsterf. Hulle oorleef van voer wat geskenk word.
In my boek laat ek die trein met sy karakters ook by Garub stop, sodat die stoomtrein kan water inneem en Regina, die perdevrou, die perde kan bewonder. Iewers het ek gelees dat daardie water vir die trein op ironiese wyse deur ’n ossewa aangekarwei is.
Op Aus wag Piet en Christine vir ons. Piet het vanjaar die Cape Epic fietswedren meegemaak. Hy is ’n taai, klipharde boorling van die Namib met ’n sagte hart, vol liefde vir Namibië en sy mense.
Ek oorhandig die boek, die voltooiing van nog ’n sirkel.
Ek is wyle Dora Bolz se jongste sal graag jou boek wil lees
LikeLike
An extraordinary description of the vastness of the Namib desert!
LikeLike