Dag 59: Die Joodse Holocaust Museum in Kaapstad

Herero
‘n Groep Herero krygsgevangenes. Heel links is ‘n Nama-soldaat met sy geweer. Enkele maande later siou die Namas self in ‘n oorlog met Duitsland gewikkel gewees het.
Holocaust1
‘n Groepie krygsgevangenes. Langsaan verskyn generaal Lothar von Trotha se uitwissingsbevel.
holocaust2
Die joodse Holocaustmuseum in Kaapstad is ‘n moet vir elke denkende mens.

holocaust3

holocaust4
Dr Joseph Mengele links onder.
holocaust5
Diettrich Bonhoefer het met sy lewe betaal vir sy teenkanting van die Nazi’s.

Nadat ek gister by tannie Marge Luchtenstein van Rooyen gehoor het van hierdie museum kon ek nie wag om vanoggend daar uit te kom nie.

Die bitter ironie druk jou vas as jy in Hatfieldstraat 88 die knoppie druk en die sekuriteitsdeure gly vir jou oop om by die Joodse Slagting (Holocaust) Museum in Kaapstad in te stap. Alles aan jou word geskandeer en ek moe tmy Switserse Leër knipmessie agterlaat voordat ek deur die volgende deur kan gaan. Eers met my vertrek kan ek weer die messie in ontvangs neem. Onwillekeurig dink mens aan ses miljoen mense wat teen hulle wil saamgehok word en stelselmatig van hulle besittings, menswaardigheid en uiteindelik van die lewe self gestroop word.

Binne heers ’n vreemde, vriendelike hartseer. Orals is Jode en ander mense stilweg aan die gang. Groepe skoolkinders, netjies aangetrek beweeg geruisloos en oopmond, vol ongeloof oor wat hulle hier sien. Kan mense regtig so wreed wees, lees ek die vrae in hulle gesigte.

Die tannie agter die toonbank is 85 en baie vriendelik. Later praat ons lekker Afrikaans. Sy verlos my van my swaar kamerasak op my rug en beduie my na die uitstallingsaal.

Die heel eerste uitstalling is ’n plakkaat met foto’s en ’n kort verwysing na die Herero-oorlog en generaal Lothar Von Trotha se berugte uitwissingsbevel. Ek is grimmig bly, want dit bevestig een van die temas in “Die Keiservoël Oor Namaland,” dat die Jodeslagting van 1939-1945 eintlik in Duits-Suidwes-Afrika begin het, tydens die Nama en Herero-oorloë van 1904-1908.

Ek stap stadig deur die uitstalling en neem foto’s, maar later haas ek myself al meer. Hierdie wreedhede is oorweldigend. Mens weet daarvan, maar niks kan jou voorberei vir die gewetenloosheid, boosheid, en aakligheid van hierdie stelselmatige uitwissing van ’n groep gewone mense.

In “Die Keiservoël Oor Namaland” vertel ek van vader Laaf, Roomse priester van Lüderitzbucht se geringe poging om die destydse wreedhede op Haai-eiland teen te gaan, en ook van Griffiths, koerantman van die Cape Times se pogings om dit aan die lig te bring. Dietrich Bonhoeffer was nie so gelukkig om sy weerstand teen die Nazi’s 40 jaar later te oorleef nie.

In die biblioteek help die mense my gou en kom ek op wonderlike bronne af. Ek vind die bevestiging van baie van die bewerings wat ek en ander bronne maak, bewerings wat nie maklik getoets kan word deur ’n Google-soektog nie. In my hande hou ek ’n Engelse kopie van Hitler se Mein Kampf en ek sit vir ’n paar minute en blaai deur die bladsye. Later voel ek vuil.

Ek betaal twee rand vyftig vir my kopiëerafdrukke, groet en stap in die sonlig uit, dankbaar vir die son, my land, die wind, vryheid, en genade. Die wag oorhandig my messie en ek stap deur die Kompanjiestuine. Om my sien ek mense, party baie snaaks, selfs potensieel gevaarlike mense, maar hulle is mense. Ek sien die standbeelde van mense wat vir vryheid geveg het en kom uiteindelik by die parlement aan. Voor die gebou waar Julius weer een van die dae vir arme JZ gaan verniel staan die standbeeld van ou koningin Victoria, rustig en ongestoord. Oorkant haar, ’n ent weg, sit ’n swart vrou en voer die duiwe.

Later, in die restaurant op die Waterfront is daar baie mense, vanoor die hele wêreld, minder as vyf kilometer vanaf die museum in Hatfieldstraat.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s