
Ons kuier in die Kaap. Ek kon nie nalaat om tannie Marge Luctenstein te gaan besoek nie. Sy is die jongste dogter van Ernst en Regina Luchtenstein, twee van die hoofkarakters in “Die Keiservoël Oor Namaland,” wat in Maart verskyn.
Soos altyd het sy mooi stories vertel. Een daarvan het my hart warm gemaak vir redes wat my lesers mettertyd sal agterkom. Haar pa, Ernst was ‘n vermoënde man, Joods van afkoms, uit Pruise. Aan die einde van sy lewe het die rabbi hom besoek en gesê dat hy nie moet vergeet om iets vir die Joodse gemeenskap na te laat nie. Hy het geantwoord dat sy geld sal gaan aan die mense van Suidwes, want hy was in die eerste plek ‘n Suidwester, en in die tweede plek ‘n Jood.
Ernst se ma, Therese is vroeg oorlede en sy pa, Joseph was ‘n moeilike man. Hy is grootgemaak deur ‘n Skot, Robert McKay en sy Nama-vrou, Gertruida. Wie was Ernst Luchtenstein? Jood, Duitser, Skot, Nama, Suidwester? Lees die boek, een van die dae, om uit te vind.
Behalwe tannie Marge, leef twee susters, Therese en Ilse nog, maar albei is erg verswak. Hulle broer George Herbert, oftewel Tudi, en suster Bettie is reeds oorlede.