
Op ’n dag, ’n paar maande nadat ek aan “Die Keiservoël Oor Namaland” begin skryf het, drentel ek in een van my gunsteling boekwinkels in die wêreld, Hemingway’s in Hermanus, en koop ek so klein, dun boekie met die titel, “The Lonely Grave in the Fish River Canyon.” Die Visriviercanyon is mos juis daar in die verlate suide van Namibië waar my verhaal hom afspeel.
Ek was besig om die wel en weë van Ernst Luchtenstein, soos oorspronklik aan my vertel deur oom Dickie Strauss van Kirriis-Wes, oos van Keetmanshoop, na te vors. Ernst en sy ouers, Duitse Joodse immigrante, was per ossewa van Lüderitz na Keetmanshoop op pad toe hulle deur ’n Nama-kommando oorval is. Frau Therese Luchtenstein, Ernst se ma, het op haar knieë geval voor die Namakaptein en om genade gesmeek, maar die kaptein het van sy perd geklim, sy hoed gelig, en verklaar, “Mevrou, staan op asseblief. Kniel voor God alleen. Ons maak nie oorlog teen vroue en kinders nie.” Hierdie gebeurtenis is ’n onomstootlike geskiedkundige feit wat deur verskeie bronne bevestig is en bring balans na ’n geskiedenis wat redelik eensydig vertel is.
Die Namas het die ossewa geplunder (dit was aljimmers midde in die Nama-oorlog, 1904-1908) maar die Luchtensteins ongedeerd laat wegkom, net om self die volgende dag in die hande van die Duitse Schutztruppe te val. Volgens oom Dicky is die Nama-kaptein in die tronk gestop, maar Ernst se pa, Joseph Luchtenstein het gereeld vir hom brandewyn in die sel gebring. Uiteindelik het die Schutztruppe hom opgehang, of so het oom Dicky geglo. Hy was nie seker wie die Nama-kaptein was nie. “Seker maar Sikon Koper of Jakob Morenga,” het hy gesê.
Ek het “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” bestudeer en so ook baie ander geskrifte. Uiteindelik het ’n persoonlike ontmoeting met iemand in Windhoek my vermoedens finaal bevestig: dit was Cornelius Fredericks, leier van die Khowesin Namas van Bethanië.
In die klein boekie kon ek lees hoedat die einste Cornelius Fredericks en sy manne eers saam met die Duitsers teen die Herero’s geveg het, en slegs twee maande na die vernietigende Slag van Waterberg téén die Duitsers geveg het, na ’n formele oorlogsverklaring deur Hendrik Witbooi.
Op ’n kol bevind Cornelius hom in die Visriviercanyon. Die Duitse soldaat onder wie hy teen die Herero’s geveg het, kom soek hom om vrede te praat, maar een van Cornelius se manne vermoor hom, Thilo von Trotha. Vandaar die graf in die Visriviercanyon, wat elke stapper wat hierdie roete al gestap het, ken.
Die inligting in “The Lonely Grave in the Fish River Canyon” het nie net substansie aan my verhaal verleen nie, maar ook ’n pragtige sirkel van menslike emosies van liefde, verraad, eerbaarheid en hartseer voltooi. Ek is die skrywer CNL van Huyssteen ewig dankbaar.
Verlede week het ek spesiaal Hermanus toe gery om nog ’n sirkel te voltooi, die oorhandiging van my boek aan Hemingway’s. Groot was my verbasing toe ek Cuan Elgin agter die toonbank ontmoet, want sien hyself is passievol oor die geskiedenis en het ’n geskiedkundige roman, Bulala, die lig laat sien. Voortaan sal die mense van Hermanus en die Wes-Kaap “Die Keiservoël Oor Namaland” by Hemingway’s kan koop.
Die boek neem my op vreemde paaie in die volgende week of twee. Ek is uitgenooi om deel te hê aan ’n optog en opening van ’n uitstalling in Kaapstad se Kasteel, eerskomende Saterdag. Die uitstalling handel oor die verskriklike wreedhede wat gevolg het op die gebeure in my boek toe allerhande eksperimente op die Nama-krygsgevangenes op Haai-eiland in Lüderitz se hawe uitgevoer is. Een van die betrokke Duitse dokters het daarna twee boeke geskryf waarin hy die Namas as ’n minderwaardige ras beskryf het. Hitler het dit gelees, die dokter bevriend, en Mein Kampf geskryf. Net na die Nama-oorlog het Duitse psigiaters begin om hulle pasiënte te steriliseer en dood te maak, ’n direkte voorloper tot die Jodeslagting van 1939-1945. Die Duitse Psigiatriese Vereniging het eers in 2010 erken dat hulle voorgangers hieraan skuldig was.
Volgende week besoek ek Maltahöhe waar ek 400 van die boeke aan die Namibiese minister van kuns, kultuur en onderwys en die goewerneurs van die Hardap- en Karasstreke sal oorhandig. Hierdie skenking is moontlik gemaak deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Windhoek se Lithon Foundation en my uitgewer, Cordis Trust.
Laastens kan ek noem dat ek baie hard besig is met die Engelse vertaling. Ek het tot dusver die hulp van drie persone gehad en tans werk ek en die eerste redakteur nou weer deur die teks. Watch this space!