Damaraland se gesig van gierigheid
Damaraland se landskappe en sy mense is hard, mooi, vreemd en eensaam. Groot dele is ongerep en selfs onbeskaaf, maar mense was nog altyd teenwoordig. Sommiges beskou die Damaras as die oudste, eerste, ware inwoners van Namibië. Die Namas en Hereros was laatkommers, sê hulle. Hierdie laatkommers het hulle baie min aan die Damaras gesteur, hulle as minderwaardig beskou, en selfs verkneg. Tot vandag is die Damaras se gelate aanvaarding van hulle dorre lot opvallend. Dit maak hulle spesiale mense, maar ongelukkig ook dikwels slagoffers.
Tydens ons onlangse reis deur Damaraland het ek die goed en die sleg gesien, van die mens en sy doen en late, veral van sy gierigheid, maar ek het ook ’n vonkie hoop gesien.
Damaraland is, saam met Kaokoland, die laaste tuiste van wilde olifante, swartrenosters en leeus, buite die grense van geproklameerde wildtuine. Jy klim in jou kar, ’n goeie viertrek met sterk nuwe bande moet dit wees, en jy ry soontoe. Daar is nie ’n hek of ’n grens waar jy moet betaal nie. Daar is nie ’n bordjie wat sê hoe stadig jy moet ry nie, die klippe sorg self daarvoor, en daar is nie ’n reël wat sê jy mag nie uit jou kar klim nie of hout optel nie. Damaraland is nog vry, en redelik verniet. Jy kan daarmee maak wat jy wil, en baie mense buit dit uit, ten koste van Damaraland, en op die ou einde hulleself.
Volg jy die droë bedding van die Ugabrivier kom jy uiteindelik by die Ugab Rhino Kamp uit, waar ’n sestal aparte basiese kampplekke op jou wag. Jy moet wel betaal, ’n volle R80 per persoon, maar daarvoor kry jy elke aand ’n warm stort en hou die personeel die opelugtoilette, goed afgeskort, netjies en skoon. Jy kan nie bespreek nie, en meestal hoef jy nie, want die eensaamheid en afgesonderdheid is te veel vir die meeste toeriste. Jy daag net op en besluit op een van die kampplekke. Daarna kan jy begin ontspan, foto’s neem, wild kyk, sterre kyk, en ontspan, altyd op jou hoede vir ’n onverwagse besoeker met groot voete of skerp tande en ’n groot brul.
Damaraland is soos ek reeds gesê het grootliks ongerep. Mens kan honderde kilometers ry sonder om enige tekens van mense te sien. Dit is ’n mooi en ruwe wêreld en oor elke bult wag ’n nuwe landskap wat jou asem wegslaan. Die mooi word oortref alleen deur die oënskynlike afwesigheid van plante.
Dit lyk letterlik of daar niks, maar absoluut niks groei nie, maar tog beur en stoei die enkele bossies en boompies hier en daar vir hulle ’n lewe oop in die woestyn. Daarvan is die enkele gemsbokke, volstruise, bergkwaggas en springbokke die getuies. Mens staan in stomme verwondering oor die wonder van hierdie geharde diere se oorlewingsvermoë in hierdie barre klipwoestyn.
Een of ander tyd gaan jy agterkom dat al jou kamptakies afgehandel is en dat jy bietjie tyd het om die omgewing te verken. Dan mag dit gebeur dat jy die pad vat en by die ou tinmyn uitkom. Aanvanklik sien jy net die omgedolwe grond met hier en daar geroeste blikke en gebreekte bottels, maar dan slaan jou asem weg as jy skielik met die groot verlate myn gekonfronteer word. Die eensaamheid en die volledige afwesigheid van enige teken van lewe tref jou tussen die oë, maar die oorheersende indruk is die skade wat die mens op die omgewing gelaat het. Dit staar jou in die gesig, sonder skroom, sonder apologie. Jy sien die diep kwarries, jy sien die reusagtige tonnel wat amper ’n kilometer onderdeur die berg loop, jy sien die groot betonstrukture wat gebou is om die grond te stut, jy sien die ruïnes van die kantore, die bourommel, die omgevalle mure, die ongebruikte stormwaterpype, die paaie en die lelike krapmerke van grondverskuiwing op die gesig van Damaraland.
Dan volg jy die pad en kom jy op die perseel van die werkers se dorp af. Daar staan nie meer een muur nie, maar in netjiese rye lê die betonfondamente en vloere van die huise met stukkies gebreekte glas en selfs ’n paar vloerteëls tussenin. Voor die grootste huis staan twee stamme van wat eens metershoë palms was, morsdood, gereed om te vergaan.
Eens op ’n tyd, besef jy het hier mense gewoon en gewerk. Hulle het braaivleis gehou, geleef, gekuier, baklei, liefde gemaak, af en toe het een doodgegaan of is ’n egpaar geskei. Skielik het iets gebeur en het die myn eenvoudig toegemaak. Almal het die plek verlaat. Agterna moes ’n paar menslike aasvoëls die sinkplate, bakstene, deurkosyne en vensters kom verwyder vir verdere gebruik. Al wat oorgebly het is een reusagtige litteteken van die mense se gierigheid. Dit sal duisende jare neem voordat die laaste spoor daarvan verdwyn het, maar intussen moet besoekers dit aanvaar, of vermy. Die Ugabmyn se ontwikkelaars se nalatenskap is onuitwisbaar, ’n ewige skandvlek. Die bietjie geld wat die myn destyds geskep het is lankal weg, soos ’n voëltjie wat weggevlieg het. Al wat oorbly is die letsels van gierigheid.
Sou mens ’n halwe dag hê kan jy jou viertrek se neus terugdraai na die ooste, na die binnelandse hart van Damaraland, waar die Brandberg soos ’n troon bokant die plat omgewing toring. Die hoogste punt van die Brandberg heet die Königstein, wat die hoogste punt in gans Namibië is. Die Brandberg heet so omdat hy soos ’n brandende vuur vertoon wanneer die son se strale reg val.
Die Brandberg is die tuiste van 50 000 boesmanrotstekeninge, maar die bekendste is die sogenaamde “White Lady” wat alles behalwe ’n vrou verteenwoordig. Daarvoor is die penisskede die bewys. Die oorspronklike ontdekker het dit misgekyk.
Met ons aankoms in die hitte van die dag, word ons vriendelik begroet deur ’n Damara wat homself voorstel as professor Markus van die Brandberg. Hy is ’n amptelike gids. Toeriste mag nie die “White Lady” op hulle eie besoek nie, iets wat later baie sin sal maak. Ons wil betaal, maar “prof” Markus wil niks daarvan weet nie.

“Nee, Menere en Mevroue. Die olifante pla vandag. Ons moet eers gaan kyk of ons vir julle die White Lady kan wys. As die olifante ons keer dan kan ons mos nie julle geld vat nie.”
Geen sprake van gierigheid hier nie. “Professor” Markus weet nie hoe graag ons sal betaal net vir die voorreg om die olifante te sien nie.
Ons begin stap, onder “Prof Markus” se leierskap, sonder water. Die son brand in die diep kloof wat na die “White Lady” lei. Om elke draai verwag ons die olifante of dan ten minste die “White Lady” maar die paadjie kronkel al verder en die son brand al warmer tot dit later voel asof jy nie meer kan nie. Die amptelike inligting is dat dit ’n 2,5 kilometer stappie is, maar dit voel oneindig verder.
Ons kom groepe toeriste van vooraf teë. Die eerste groep se gids, ’n jong Damaravrou, sê dat hulle by die olifante moes omdraai, sonder om die “White Lady” te sien. Die olifante het die pad versper en daar was niks wat hulle daaraan kon doen nie.
’n Ent verder kom ons nog ’n groep teë. Hulle het die olifante suksesvol omseil, maar is toe vir ’n uur lank soort van omsingel deur die groep grootvoete sodat hulle net morsdoodstil moes sit, in die son totdat die olifante eindelik eenkant toe geskuif het.
“Prof” Markus stryk aan, maar aan sy lyftaal sien ons dat hy gespanne is. Skielik sien ons die grys kolos deur die gras. Markus huiwer en begin toe die wal aan ons linkerkant uitklim. Soos bobbejane klouter ons bo-oor groot granietrotse en onderdeur gleuwe en skuifel stil by die olifante verby, maar nie voordat ek ’n paar foto’s geneem het nie. Damaraland se olifante is berug vir hulle kort humeure, maar die groepie van vier koeie is rustig.

Eindelik bereik ons die stel trappies wat na ons doelwit lei. ’n Eenvoudige teken sê dat mens al jou eet- en drinkgoed daar moet laat. Jy neem slegs jou kamera na haar hoogheid se teenwoordigheid. ’n Ander inligtingbord vertel die komplekse verhaal van die ontdekking en interpretasie van die rotstekeninge. Genoeg om te sê dat die destydse toordokters ’n groot rol gespeel het en dat die Boesmans se rituele danse waartydens hulle selfs in ’n beswyming gegaan het deeglik uitgebeeld is. Die toordokter se sweet was beskou as besonder kragtig, as ’n soort van simbool van reën. Die afleiding word gemaak dat die stamlede selfs die sweet opgevang en gedrink het as moetie. Gelukkig was ons dors nog nie so groot nie.
Van veel groter belang is die wyse waarop die “White Lady” aan die toeriste vertoon word. In ’n moderne, gierige wêreld sou mens verwag dat daar lankal ’n pad vir voertuie tot by die “White Lady” geskraap sou wees. Dan kon mens sommer vinnig daar aandoen en die rotstekening sien, jou foto neem en weer die pad vat. Gelukkig het wysheid geseëvier. Dit kos werklik inspanning om daar te kom. Op die manier bly onge-ergde toeriste weg. Die rotstekening is ook met tralies afgeskort sodat mens nie daaraan kan raak nie. Die grondoppervlak is met gruis bedek sodat die stof nie kan opstuif en die tekeninge beskadig nie. “Professor Markus” se rol is onder andere om toe te sien dat onverskillige toeriste die reëls gehoorsaam en dat die tekeninge behoue bly. Daarvoor verdien die nederige Damara ’n karige salaris wat toeriste gelukkig aanvul met fooitjies.
Markus lei ons weer veilig by die olifante verby en ons stap gemaklik terug in die stille wete dat ons slegs ons voetspore agtergelaat het. Terug by die ontvangskantoor wag daar yskoue water en bier (laasgenoemde in ons karre se yskaste). Ons betaal met groot graagte ons fooie en geen ook aan Markus ’n fooitjie waarvoor hy opreg dankie sê.
Om eerlik te wees moet mens erken dat die “White Lady” nie jou asem wegslaan nie. Dit is eintlik die omgewing en die agtergrondsverhaal wat mens aangryp. Vir my is die manier waarop die mense van die Brandberg hierdie kosbare skat bewaar, maar gebruik, sonder om letsels te laat, wat die mooiste van die eenvoudige Boesmantekening is. Hulle gebruik hulle enigste bate om ’n inkomste te genereer. Duisende toeriste besoek elke jaar die “White Lady” en daardeur verseker hulle ’n inkomstestroom vir die werkers en hulle afhanklikes. Hulle doen dit sonder om een klip te verwyder of ’n graaf grond om te dolwe, heel anders as die “beskaafde” myners van die Ugabmyn. “Professor Markus” en die ander personeel voeg waarde toe aan iets wat op sy eie nie sensasioneel is nie. Dit lok die toeriste vanoor die hele wêreld. Doen jy 10 kilometer verder by die pragtige “White Lady Lodge” aan vir ’n middagete, of bly jy selfs daar oor, besef jy hoe groot die impak van die rotstekening regtig is. Tot ’n baie groot mate bestaan die grote lodge slegs omdat die toeriste na die “White Lady” kom kyk. Op dié manier verskaf die “White Lady” indirek werk en kos aan ’n horde ander mense. Dit sal aanhou solank mense die “White Lady” beskerm, bewaar en oppas, soos hulle dit tans doen.
Heelwat later, suid van Hentiesbaai, by die wrak van die Zeila, kom ek weer ’n paar Damaras teë. Die Zeila het agt jaar gelede hier gestrand en sedertdien kom kyk duisende toeriste na die onaardige gesig. Met my eerste poging kom ek tot minder as 200 meter van die wrak, maar sien dit nie deur die digte misgordyn nie. Toe ek ’n paar uur later, na ’n Henties-ontbyt, terugkom, lê die wrak daar in al sy onglorie.
Die Damaras sak op ons toe, beleefd, maar tog dringend. Hulle verkoop kristalle, wat hulle sê hulle self gemyn het in Damaraland se ruwe vlaktes en berge. Aha! Op hulle beskeie manier doen hulle wat die Ugabmyners gedoen het, maar sonder tegnologie. Met hamer en beitel kap hulle die ametis, die toermalyn, rooskwarts, jaspis en ander stene uit Damaraland se lyf uit. Dan kom verkwansel hulle dit hier aan die toeriste wat na die Zeila kom staar.
Veral een Damara kan my nie uitlos nie. Hy hou aan en aan. “Aag Meneer, my Baas. Help tog hierdie arme ou Damaratjie om terug te gaan. Ek het my ma so lanklaas gesien. Vat sommer die hele boks klippe vir R500.”
Voor hom hou hy ’n bierkarton met ’n dosyn en ’n half van Damaraland se kristalle wat hyself, so sê hy, uit die grond gekap en gegrawe het. Hy wil net terug Damaraland toe. Ek ook, dink ek heimlik, maar vir ander redes as hy. Hy smeek, pleit, hou aan, gaan feitlik op sy knieë. Ek moet net die boks koop sodat hy kan teruggaan, na sy ma toe.
Ek kyk diep in die “Damaratjie” se oë, soekend vir die tekens van gisteraand se drank, spiritus, dagga of wat ookal, maar al wat ek sien is ’n mens wat iets van my vra. Dis soveel makliker om net om te draai en weg te loop, maar ek kan nie. Iewers skuil daar, vertel ek myself, iets opregs. Maar is dit op die ou einde nie ook maar net die “Damaratjie” se eie gierigheid, weliswaar op ’n ander skaal as die Ugabmyners s’n wat hom hier laat beland het nie? Het hy nie daar doer in Damaraland gesit en drome droom terwyl sy hamer en beitel werk nie? Het hy nie die stories van maklike geld geglo, soos ’n gouddelwer van ouds toe hy sy kristalle uitgegrawe het nie? Nou sit hy hier, volgens sy eie getuienis, as mens dit kan glo, en wens hy kan huistoe gaan. Of miskien lieg hy net, en probeer hy maar net die klomp klippe wat hy wie weet waar gekry het, verkwansel vir nog ’n aand se drank. Gierigheid van ’n ander aard.
Om my gewete te sus koop ek ’n paar van die nuttelose klippe, maar ek bly onrustig oor die man se lot. Eintlik is dit die vae onrus oor die hopeloosheid van soveel ander “Damaratjies,” ook dié met wit velle, in Pretoria, miskien Londen en New York en soveel ander plekke wat die slagoffers van hulle eie gierigheid, moontlik ’n baie gesofistikeerde vorm daarvan, is. Hoeveel mense is daar wat tevrede is met hulle lot? Wat in harmonie met hulle omgewing kan saamleef? Soos professor Markus van die Brandberg.
Iets wat ek in “Die Keiservoël Oor Namaland” geskryf het, en waarvan Marsia Reed so baie hou, meld hom weer by my aan:
“Regina, hierdie land is ’n land van bloed, woede en jaloesie, ’n plek wat nie met hom laat mors nie, maar as jy hom respekteer dan is dit ’n land van liefde en genade. As jy saggies leef en liggies trap, dan maak die land sy hart vir jou oop en druk jou teen sy bors. Dis ’n land wat vir sy mense sorg. Die Namas verstaan dit mooi. Die Topnaars kry elke jaar hulle narra-oes verniet en dis genoeg vir hulle. Simon Koper se Fransman-mense het elke seisoen hulle tsammas gekry en dit was vir hulle genoeg. Partykeer kry jy selfs ’n stukkie heuningkoek.
“Toe ek in die Karasberge gewoon het, was daar altyd genoeg kos en selfs in die woestyn, al was dit eenkeer ’n skubberige horingsman. Hierdie land het nog altyd vir my gesorg omdat ek lief is vir hom. In die berge het hy my toegedraai in sy bergkaros en in die woestyn in sy wit laken.
“Ander mense verstaan dit nie, Regina. Vir hulle is dit net ’n plek om geld te maak, om ryk te word en om op te gebruik. Maar dan staan hierdie land op en hy hang jou op soos die keiservoël ’n akkedis aan ’n doring ophang om uit te droog. As jy hierdie land se gesig met jou gulsigheid krap, sal hy jou laat vrot soos ’n dooie hasie in die veld. Dit is wat met my pa, Joseph Luchtenstein, gebeur het. En met Josef Fredericks. En met Adolph Lüderitz. En die Wandelende Jood, Moses Rosenstein. En al die ander fortuinsoekers wat net vir hulleself wil hê en vat en steel.”
En toe verstaan ekself weereens waaroor die lewe gaan: om te gee en nie om te neem nie. Ek het twee dae later teruggery na die wrak van die Zeila en vir die ou “Damaratjie” nog ’n paar rand in die hand gestop, om te maak daarmee wat hy wil.
Professor Markus en die ander mense van die Brandberg leef saggies, in die teenwoordigheid van hulle Wit Dame. Hulle het genoeg om van te lewe, anders as die spul Damaras by die wrak van die Zeila, soveel anders as die stropers wat besig is om Damaraland se renosters, olifante en leeus te vernietig. Wanneer sal die mens leer om tevrede te wees?
I have a painting of the top photo (without Zebras) titled “Scwartzrand” 1950 by I Voigts
LikeLike
Sjoe – ongelooflik
LikeLike