Eendag lank gelede, het die Muse geknipoog. Dit was terwyl ek deur dr Anton Prinsloo se woordeboek, “Annerlike Afrikaans” geblaai het. Dit is maar die Muse se manier om in boeke wegkruipertjie te speel. Skielik het ek die titel waarna ek jare reeds gesoek het, gevind, weggesteek in die mitologie en geskiedenis van Namaland: “Die Keiservoël Oor Namaland.”
Die boek het gehandel oor die oorlog tussen die Duitse Ryk en die Namas, die afstammelinge van die Khoi-Khoin, die eerste ware grondeienaars van Suidelike Afrika. Die Namas noem die rooiborslaksman die Duitse Vlag, of Keiservoël, vanweë die helder swart en rooi kleure, net soos die destydse Duitse vlag. Hierdie Keiservoël is dus ‘n simbool van die Duitse oorheersing. Baie van die ou Duitsers groet tot vandag die rooiborslaksman met die saluut “Heil Reichsvogel!” veral as hulle ‘n glasie schnapps agter die blad het.
Ek het vriende gemaak met die voëls van Namaland en nog ‘n paar van hulle genooi as karakters, veral die hoëveldskaapwagter, die duinlewerik, die grootheuningswyser en die woestynspekvreter. Ek moes myself deeglik vergewis van die voëls se gewoontes, verspreidingsgebiede en veral hulle klanke. Die feit dat die duinlewerik Namibië se enigste ware endemiese voël is, het my uitstekend gepas. So ook die spekvretertjies wat destyds die ossewaens agtervolg het in ‘n hoop om ‘n bietjie varkvet in die hande te kry. Oorspronklik is Stockholmteer gebruik om die ossewaens se wiele te smeer, maar voorrade daarvan het nie bestaan nie. Die teerputs, die klein vaatjie vol Stockholmteer wat onder die ossewa gehang het, is toe noodwendig gevul met varkvet, die beste plaasvervanger en die spekvretertjies het dikwels rondom hierdie teerputs gedartel.
Die grootheuningwyser kom in Namibië net in ‘n beperkte gebied voor en ek het hulle gaan soek, maar die geluk was nie aan my kant nie. Dit beteken egter nie dat hulle nie daar is nie. Veral beteken dit nie dat hulle nooit daar was nie. Niks in die natuur, net soos in die kultuur, is staties nie.
Ek gebruik al die voëls se karakters om elk, op subtiele wyse, iets te sê oor daardie tydperk in die “land van woede” se ontwikkeling, maar ek laat die lesers eerder toe om dit self te ontdek, sodra die boek uiteindelik, hopelik baie binnekort verskyn.
Ek is baie dank verskuldig aan dr Johan Grobbelaar vir die gebruik van sy foto’s van die rooiborslaksman, die grootheuningwyser, hoëveldskaapwagter en duinlewerik. Ek was baie gelukkig om eendag op die pad tussen Lüderitz en Aus op die woestynspekvreter af te kom.





