Dag 72: Die Keiservoël het geland

 

Bykans nege jaar gelede het ek die eerste keer die pen opgeneem om die storie van Ernst Luchtenstein en die Nama-oorlog van 1904-1908 te vertel. Vandag het die droom waar geword toe ek die eerste eksemplaar van die boek, “Die Keiservoël Oor Namaland,” van die uitgewer, Cordis Trust Publikasies, ontvang het.

Buiteblad
Die voor-en agterblad van “Die Keiservoël Oor Namaland.”
FanieMarais
Die uwe, links, en regs dr Fanie Marais, hoof van die uitgewers Cordis Trust Publikasies.  Ek het vandag die eerste eksemplaar van my nuwe boek, “Die Keiservoël Oor Namaland” ontvang.

In hierdie nege jaar het die kort storietjie gegroei tot ‘n epos oor die tyd, mense en gebeure wat Namaland verander het, eers in Duits-Suidwes-Afrika, en later in Suidwes-Afrika. My navorsing het my op vele reise geneem, meestal na Namibië, maar ook na die Kaap en Mpumalanga. Ek het geskryf en gelees, gesoek en geraai, weer geskryf, oorgeskryf, gesny en weer geskryf. Hoe meer ek geleer het, hoe meer kompleks het die intriges geraak. Name wat ek nie eers kon uitspreek nie, het later van my tong af gerol. My karakters het gegroei totdat hulle met my begin praat het. Die boek het ‘n persoonlikheid ontwikkel wat ek met al meer en meer respek behandel het. Die kreatiewe proses het hom keer op keer aan my opgedring sodat nuwer temas telkens die boek binnegedring het. Dan moes ek weer voor begin skryf en herskryf. Aan die einde was ek self verbaas oor die wyse waarop die aanvanklike losse drade hulleself saamgevleg het tot ‘n koherente, logiese ontknoping.

Uiteindelik het Cordis Trust die stap geneem om “Die Keiservoël Oor Namaland” uit te gee. Aanvanklik het ek gedink dis ‘n maklike taak, maar ek moes leer van boekformate, lettertipes, boekuitleg, drukprosesse en papier. Veral het ek kennis gemaak met proeflees en nogmaals proeflees. Die laaste drie weke was ‘n beproewing, maar om ‘n sin uit die boek te leen, “ons moes almal skouer aan die wiel sit om die wa deur die drif te trek.”

Die “Keiservoël”is uniek in ‘n paar opsigte. Dit is ‘n fiktiewe werk, maar geskoei op werklike mense en gebeure. Die aard van fiksie is vryheid van verbeelding, maar ek gebruik byvoorbeeld die werklike name van die karakters. Met moderne woordverwerkingstegnologie was en is dit moontlik om op enige tydstip sulke name binne minute te verander, maar die boek se karakter het vereis dat ek by die regte name bly. Die boek het onder andere juis ten doel om sekere misdade en gruwels wat vir meer as ‘n eeu onder die sand begrawe gelê het te ontbloot. Hierdie verhale is geskiedkundige, gedokumenteerde feite, maar dit is nog nooit aan die groot klok gehang nie. My bronnelys agter in die boek is spesifiek bedoel om te wys dat die feite reeds gepubliseer is, maar dat dit niks gedoen het om die inligting aan die algemene publiek bekend te stel nie. Deur ‘n “storie” (fiksie) te vertel hoop ek om die waarheid aan ‘n groter gehoor bekend te maak. In die proses het ek my verbeelding ook gebruik. Ek hoop dat hierdie “digterlike vryheid” so aangewend is dat die leser nie sal weet waar die grenslyn tussen feit en fiksie loop nie. Uiteindelik het alles net een doel – om die groter waarheid te dien.

Die boek bevat ongeveer 60 egte foto’s van mense, plekke en gebeure, iets wat vreemd is in ‘n fiktiewe roman. Dit onderstreep en omraam die verhale en skep ‘n atmosfeer waarbinne die leser die konteks van Namaland van 110 jaar gelede kan ervaar en verstaan. Party kritici sê die teks en die teks alleen moet dit doen, maar die drama, pyn, verlies en hartstog van 1883-1917 verdien om op die beste moontlike manier verbeeld en verwoord te word. Die “ongelooflike” aard van sekere insidente, betwyfel deur skeptici, kry nuwe betekenis deur die foto’s sodat die leser hopelik deur die ware waarheid meegesleur sal word.

Die foto’s het uitdagings met hulle saamgebring. Die meeste van die foto’s is ouer as 100 jaar. Party is vanuit ou geskrifte gekopieer.  Die kwaliteit is in sommige gevalle minder goed, maar die historiese waarde is so groot dat hulle wel ingesluit moes word.

Die foto’s het ongelukkig ook groot kostes meegebring. Dit is nie ‘n goedkoop boek nie, maar ek werk onverpoosd aan ‘n Kindle weergawe wat ek mettertyd teen ‘n baie goedkoop prys sal beskikbaar maak. Ek kan glad nie aanvaar dat e-boeke so duur is nie.

Ek betree nou ‘n nuwe fase. Ons vertrek Woensdag volgende week op ‘n pelgrimstog na “Namaland” om die boek bekend te stel, daar waar alles gebeur het. Iets dryf my om weer die lug, lig, velde, berge, strande en die see van Keetmanshoop, Aus, Bethanië en Lüderitz te gaan beleef. Ek gaan ou vriende opsoek en hopelik ‘n paar nuwes maak. Ek wil my boek vir hulle gaan wys en miskien ‘n paar kopieë verkoop. Ek wil gaan begin om op klein manier ‘n verskil te maak aan die mense van die Suide se lewe. Soos wat die reis vorder sal ek my lesers op hoogte hou. Hou hierdie ruimte dop.

Dit sal nog ‘n rukkie duur voordat die boek op boekwinkels se rakke verskyn, maar haastige lesers kan die boek nou bestel deur ‘n e-pos te stuur aan bestellings@kaiserbird.com Bankbesonderhede en instruksies sal aangestuur word en die boek sal aan u gepos word sodra bevestiging van betaling ontvang is. Die koste is R350 per eksemplaar wat posgeld binne die grense van die RSA sal insluit. Posgeld na oorsese en buurlande sal bygereken word.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s