Die begin van die skryfproses: “Keiservoël”

Antjie Krog skryf “want sy is woedend.” Iets het my gedryf, van kleins af om te skryf. Daardie iets het my oorweldig in 2007. Ek kon nie anders nie, en het gaan sit en begin skryf.

Luderitzbucht-1903

My storie begin in die hawe van Lüderitzbucht, vandag se Lüderitz, op 27 Maart 1906 met die aankoms van ‘n stoomskip wat die Luchtenstein-gesin bestaande uit Ernst, sy ma Therese, en sussie Charlotte, later oom Dicky se ma (sien vroeëre dagboekinskrywings). Omdat dit ‘n roman, maar gebaseer op werklike gebeure is, het ek twee half-broers wat ek aanvanklik ingesluit het, in latere herskrywes weggelaat.

Hierdie foto, wat ek in die argiewe van die Namibiese Wetenskaplike Vereniging se argiewe ontdek en gedupliseer het, wys die toneel, soos ek dit geskets het, behalwe vir die konsentrasiekamp, wat eers ‘n jaar na hierdie foto gekom het.

Daar is die lendelam houtkaai, ‘n groot stoomboot, soos die Gertrud Woermann, kleiner walvisjagskepe, roeibote en selfs ‘n drie-mas seilskip, wat ek nie beskryf het nie. In die agtergrond kan Haai-eiland ook gesien word. Hier het Ernst met die afklimslag byna verdrink.

Die toneel lyk redelik kalm, maar onthou dit is Lüderitz, die windfabriek. Deesdae kom die wêreld se beste windplankryers elke jaar na Lüderitz vir die Spoed Uitdaging. Elke jaar verbeter hulle die rekords. Wanneer die wind waai raak die see onstuimig.

Om in hierdie woeste waters ‘n groot stoomskip se passasiers af te laai was ‘n gevaarlike besigheid. Vandag is daar ‘n ordentlike hawe.

Dag 10: Navorsing: “Die Keiservoël oor Namaland”

Ek is lief vir Namibië. Die land het my oorweldig, soveel so dat ek eergister trane in die oë gekry het toe ek gekyk het hoe moedig Jacques Burger en sy span Welwitschias teen Tonga gespeel het.

Tydens die skryfproses het ek dikwels Namibië toe gereis om te gaan navorsing doen, in een jaar sommer vyf keer.

Op die foto sit ek en my vrou, terwyl ons ontbyt eet, sommer langs die pad, en staar na die Karasberge. Dit is nie iets wat mens sommer in ons eie SA kan doen nie.

Die twee bergspitse voor ons is Lordheuwel en Schroffenstein, waar Ernst Luchtenstein tydens die Eerste Wêreldoorlog weggekruip het. Hier het hy vir agtien maande stoksielalleen gebly en van die veld geleef. Dit is byna ondenkbaar, maar die waarheid. Na die oorlog het hy baie plase in hierdie omgewing gekoop.

Karasberge

Al inligting wat ek oor sy verblyf in die berge kon opspoor was wat in die SWA Journal en Lawrence Green se boeke verskyn het, want hy het nie graag daaroor gepraat nie. Gelukkig kon ek my eie studie van die natuur doen en dit gebruik om die boek te skryf.

Hoe meer mens oor Namibië leer, hoe liewer raak jy vir die plek. Ai, ek hoop die Welwitschias wen Georgië volgende (vollende soos die Namas sê) week.