Ek is lief vir Namibië. Die land het my oorweldig, soveel so dat ek eergister trane in die oë gekry het toe ek gekyk het hoe moedig Jacques Burger en sy span Welwitschias teen Tonga gespeel het.
Tydens die skryfproses het ek dikwels Namibië toe gereis om te gaan navorsing doen, in een jaar sommer vyf keer.
Op die foto sit ek en my vrou, terwyl ons ontbyt eet, sommer langs die pad, en staar na die Karasberge. Dit is nie iets wat mens sommer in ons eie SA kan doen nie.
Die twee bergspitse voor ons is Lordheuwel en Schroffenstein, waar Ernst Luchtenstein tydens die Eerste Wêreldoorlog weggekruip het. Hier het hy vir agtien maande stoksielalleen gebly en van die veld geleef. Dit is byna ondenkbaar, maar die waarheid. Na die oorlog het hy baie plase in hierdie omgewing gekoop.
Al inligting wat ek oor sy verblyf in die berge kon opspoor was wat in die SWA Journal en Lawrence Green se boeke verskyn het, want hy het nie graag daaroor gepraat nie. Gelukkig kon ek my eie studie van die natuur doen en dit gebruik om die boek te skryf.
Hoe meer mens oor Namibië leer, hoe liewer raak jy vir die plek. Ai, ek hoop die Welwitschias wen Georgië volgende (vollende soos die Namas sê) week.